top of page

WIE MAG IN DIE HEILIGE STAD VERTOEF?

Openb 21:27    
“En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

Jesus het die hele wêreld gekoop met Sy eie bloed aan die Kruis, maar enigiets wat met sonde besoedel bly, sal nie in die Stad toegelaat word nie. Slegs dié wie se Name in die Boek van die Lewe (van die Lam) verskyn, sal toegang tot die stad verkry. Elkeen wat Jesus aanvaar as sy of haar persoonlike Verlosser en Hom as hul enigste Meester dien, word gereining van sonde en hulle name word in die boek van die Lam geskrywe.

Openb 22:15    
“Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.”

Elkeen wat die leuen en die sonde liefhet, en nie bereid is om daarvan afstand te doen op God se voorgeskrewe manier nie, sal nie in die stad toegelaat word nie. Hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel (die Tweede Dood) (Openb 21:8).
 
Openb 22:14    
“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.”


Elkeen wat God se gebooie doen, (hulle wat God gehoorsaam en die geloof in Jesus bewaar) sal die reg hê om in die Stad in te gaan (Openb 12:17; 14:12; 19:10). Die onderhouding van God se gebooie, het nie te doen met werksheiligheid (redding deur werke) nie, maar met lojaliteit aan Jesus, die Meester wie gedien word.
 
Openb 2:7    
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om, te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”

Hy wat die sonde oorwin, deur aanvaarding van die bloed en gehoorsaamheid aan Jesus se wil, sal van die Boom van die lewe mag eet wat binne-in die godstad is.

Openb 3:12    
“Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”

Hy wat die sonde oorwin, sal wees soos ‘n pilaar in God se Tempel en sal verseël word met God se, die Stad se, en Jesus se nuwe Naam.
 
ONS EWIGE TUISTE NA DIE 1000 JAAR

2 Pet 3:13    
“Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

God het ons ‘n nuwe Hemele en Aarde belowe waarin ware geregtigheid sal heers. Op die huidige oomblik is ongeregtigheid aan die orde van die dag, want ons is steeds in Satan se koninkryk.

Matt 5:5        
"Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe."
 
Jesus het belowe dat die sagmoediges die aarde sal beërwe. Dit is die wat hulself aan die wil van God onderwerp en die eie-ek versaak. Ons hemelse tuiste sal verruil word vir ‘n permanente aardse tuiste.

Openb 21:1,2    
" En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.”

Na die 1000 Jaar sal die Nuwe Jerusalem afdaal na die aarde toe. Op die nuutgeskepte aarde sal die regverdiges vir ewig bly.

Openb 21:3,4   

“En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê:  Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon,  en hulle sal sy volk wees;  en God self sal by hulle wees as hulle God.  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie;  ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Johannes bou op die beloftes van die OT wat aandui dat God die nuwe hemele en 'n aarde sal skep, en dat die eerste (sondige) dinge verby sal gaan. (Jes 11:6-9; 65:21-25, selfs die diere sal in harmonie met mekaar saamleef en elke mens sal 'n eie tuiste hê om in te woon.)

Jes 66:22, 23  

“Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.  En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.”
 
Na die skepping van die nuwe hemele en aarde sal alle vlees elke week op die Sabbat bymekaar kom in die Nuwe Jerusalem, om hul Verlosser en Skepper te aanbid.

WAARSKUWING TEEN VERSLAPPING VAN DIE GELOOF

Baie mense verloor deesdae moed in hul Christelike geloof. Die dinge van die lewe druk so swaar op hulle neer dat hulle die beloftes van Jesus uit die oog begin verloor. Sommige verruil selfs hulle geloof in Jesus vir leringe van duiwels. Ons leef in moeilike tye. Tog gee die Bybel vir ons raad.

Luk 21:34-36   

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.  Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”


Ons grootste vyand, buiten Satan, is onsself. Deur swelgery (onmatige etery en drinkery), dronkenskap (verslaafdheid aan drank en dwelms) en sorge van die lewe (pogings om te oorleef volgens wêreldse standaarde) kan maak dat ons God se plan vir ons, uit die oog verloor. Hoeveel tyd bestee u aan Bybelstudie en hoeveel aan TV en ander vermaak? Is u liefde vir die wêreld groter as u liefde vir Jesus?

Hebr 12:1-3   

“Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”
 
Ons word gou moeg as ons altyd om ons kyk na wat andere doen en vermag. Instede daarvan, moet ons oë gevestig wees op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Hoe meer ons aandag op Hom en Sy soendood aan die Kruis gevestig is, hoe minder sal ons verslap in ons eie geestelike lewe. Slegs Hy kan ons aanspoor.

Jesus het verby die Kruis gekyk na die baie wat gered sou word, omdat hulle in Hom sou glo tot verlossing. Ons moet verby dié wêreld kyk, na Jesus, die verlossing wat Hy vir ons moontlik gemaak het en die beloning wat vir ons elkeen wag, wat Hom getrou met liefde dien.

Hebr 12:12-16   

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie;  dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.”

Ons word vermaan om ons slap houding aangaande geestelike dinge eenkant toe te skuif en met hernude erns na die toekoms te kyk. Die ewige lewe, saam met Jesus, is op die spel en ons kan nie toelaat dat dit deur enigiets of iemand van ons weggeroof word nie.

Hebr 10:37-39  

“Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.  Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.  Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”

Nog 'n kort tydjie voor Jesus kom. Die Ewigheid is op die spel! Ons moet bly glo dat Jesus sal terugkeer om Sy kinders (u en my inkluis), te kom haal met Sy Wederkoms. Indien andere u van Jesus wil weglok, raak van hulle vriendskap ontslae - Jesus is die beste Vriend wat ‘n mens ooit kan hê. Hy het immers Sy lewe vir u gegee en saam met Sy vriendskap, sal u nóg meer ontvang, wanneer Hy kom.

 

Gaan na die volgende studie:  WAT HET GOD AAN OORWINNAARS BELOWE?

bottom of page