top of page

DIE BELOOFDE STAD

Vir baie mense is die idee van 'n hemelse stad net beeldspraak en bestaan daar nie werklik so iets nie. Is dit waar? Wat leer die Bybel?

Openb 21:2,3,5    
“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon,  en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
 
In die beskrywing dat alles nuut gemaak sal word, word daar ook verwys na die Nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal.  Johannes vertel: "En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar." Volgens God is die Nuwe Jerusalem nie 'n foefie, of beeldspraak nie, maar 'n werklike Stad!

Openb 21:9,10
“En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.  En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.”
 
Een van die engele wat gemoeid is met die sewe laaste plae, het Johannes die Heilige Stad getoon, wat na die 1000 Jaar, uit die hemel na die aarde sou neerdaal. Die Stad is al gereed en wag reeds om bewoon te word deur Jesus se volgelinge.

Openb 21:11,23    
“En dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.  En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”

Die Skepper se karakter is so rein en heilig, dat die Bybel God as ‘n Lig beskryf (1 Tim 6:16; Joh 8:12). Die stad word verlig en weerkaats die heerlikheid van God se reinheid en heilige karakter. Dus is dag en nag nooit nodig nie.

Openb 21:15-17    
“En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet.  En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte.  En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl;  sy lengte en breedte en hoogte was gelyk.  En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens 'n mens se maat, wat die maat van 'n engel is.”
 
As ons Johannes se beskrywing reg verstaan, is die vorm van die stad soos die van 'n kubus, sy hoogte, lengte en breedte is dieselfde afstand. Johannes wil met die gee van mates vir die Stad, die werklikheid van die Stad se bestaan, tot ons tuis bring. Baie het al probeer om die oppervlakte wat die Stad beslaan, uit te werk. Menige het tot die gevolgtrekking gekom dat al sou al die mense wat ooit geleef het, vanaf Adam tot nou, die Stad binnegaan, daar nóg plek oor sal wees. Het Jesus dan nie gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings,” nie? Daar is oorgenoeg plek vir u en my.

Openb 21:18-20    
“En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas.  En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes.  Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag;  die vyfde sardóniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrisopraas, die elfde hiasint , die twaalfde ametis.”

Die hele stad is van goud gemaak met die muur van Jaspis. Volgens Pliny ('n antieke natuurkundige), was die edelgesteente Jaspis, bekend vir die skitterende kleure wat daardeur flits wanneer lig daarop val. Die muur bestaan uit twaalf lae, ingeset met verskillende edelgesteentes, elk met sy eie skakerings van kleur.

Openb 21:12-14,21a    
“En dit het 'n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.  Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte.  En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. ...En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel...”
 
Die stad het twaalf poorte, drie aan elke kant van die stad se muur. Elkeen bestaand uit ‘n soliede pêrel. Die poorte sal nooit gesluit word nie, terwyl engele by die poorte waghou (v.25). Die Name van die twaalf stamme van Israel (die geestelike nageslag van Abraham, wat die sonde oorwin het deur geloof in Jesus as hul Verlosser - Rom 9:6-8; Gal 3:29) is op die Pêrelpoorte gegraveer (Openb 3:12).

Elk van die twaalf lae of fondamente, het 'n naam van een van die apostels verkry. Saam met Jesus (wat Self die Hoeksteen is), het hulle die grondslag van die Christelike geloof gevorm en so sal hulle vir ewig deur God vereer word (1 Kor 3:10,11; Efe 2:20; Hebr 6:1).

Openb 21:21b    
“...en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.”
 
Die Stad het 'n hoofstraat van suiwer goud, wat in voorkoms lyk soos deurskynende glas. Daar is geen onsuiwerheid in dié goud nie.

Openb 21:3,22
“En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”

Toe Jesus met die Samaritaanse vrou in gesprek was oor die “regte plek” van aanbidding, het Jesus dit duidelik gemaak, dat die plek nie so belangrik is as die manier waarin dit gedoen sou word nie (Joh 4:21-24). Vir God is die manier van gees en waarheid baie belangrik en albei is in Homself gesetel. In die Godstad sal daar nie 'n Tempel wees waar ons bymekaar sal kom nie, want waar God teenwoordig is, daar is die Tempel, die Kerk en die Aanbiddingsplek.
 
Openb 22:3,1    
“En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.”

Die Troon van God en van die Lam is in die Stad en al die verlostes sal altyd in God se teenwoordigheid wees.

Uit die Troon van God vloei 'n rivier met die Water van die Lewe, helder soos kristal. God en Jesus is die Voedingsbron van die ewige lewe vir al die verlostes (Joh 4:10,14; 7:37-39; 1 Kor 10:4).

Openb 22:2    
“In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.”
 
Die Boom van die Lewe, met sy vrugte (Gen 3:22) wat in die tuin van Eden gestaan het, sal weer tot die heiliges se beskikking wees. Sy vrugte en blare sal genesing (ewige jeug en eenheid) tot gevolg hê.

1 Kor 2:9,10    
“Maar soos geskrywe is:  Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.”

God berei die ondenkbare voor - Die Gees openbaar dit vir ons in sy Woord. Menslike taal sal egter nooit die werklike prag van die Nuwe Jerusalem kan verklaar nie, elke mens moet dit self sien om dit te kan waardeer. Elkeen wat Jesus liefhet, sal die voorreg hê om die Stad met sy eie oë te aanskou.

 

Gaan na die volgende studie:  WIE MAG IN DIE HEILIGE STAD VERTOEF?

bottom of page