top of page

WAT HET GOD AAN OORWINNAARS BELOWE?

2 Tim 4:8 

“Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee;  en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.”

Almal wat die goeie stryd stry en wag dat Jesus op die wolke sal verskyn met Sy wederkoms, sal die kroon van die Geregtigheid ontvang.

1 Pet 5:4  

“En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.”

Jesus is die Hoofherder van al sy skape (gelowiges wat op Hom vertrou). Wanneer Jesus, op die wolke verskyn, sal ons die onverwelklike kroon van die heerlikheid ontvang (die ewige lewe).

Kol 3:23,24   

“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.”

Omdat ons die Here Jesus dien as ons enigste Here en Verlosser, sal ons die ewige lewe van ons hemelse Vader ontvang.

Openb 2:10 

“Vrees vir niks wat jy sal ly nie.  Kyk die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word;  en julle sal tien dae lank verdrukking hê.  Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
 
Jesus verwag dat elkeen wat Hom belei, getrou sal bly aan Hom, maak nie saak hoe groot jou beproewing is nie, al lei dit tot die dood. Die kroon van die ewige lewe sal die moeite werd wees vir elkeen wat standvastig bly glo, totdat Hy kom om ons te kom haal.

HOE KAN ONS DIE NUWE AARDE BEËRWE?

1 Pet 1:3-5  

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.”

Deur die wedergeboorte (‘n simbool van die opstanding van Jesus uit die dood) verkry ons 'n lewende hoop - ons opstanding uit die dood. Hierdie geloof in Jesus sal vir ons 'n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis gee. Die erfenis (die ewige lewe saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem) word vir ons in die hemel in bewaring gehou, tot by die Wederkoms van Jesus, waarna ons dit in besit sal neem.

Tit 3:4-7  

“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het - nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”
 
Om erfgename van die ewige lewe te wees, moet ons gered word deur die bad van wedergeboorte (onderdompelingsdoop) en die Heilige Gees wat die gebooie van God in ons harte skryf, sodat ons aan God se wil gehoorsaam kan wees. Deur die Doop en die invulling van die Heilige Gees word ons geregverdig, geheilig en verseël.

Hebr 12:28   

“Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.”

Is u dankbaar vir die wonderlike koninkryk wat u s'n is, gewaarborg deur die bloed van Jesus? God vra dat ons dit sal bewys deur Hom te dien met eerbied (ontsag) en vrees (respek en gehoorsaamheid). Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as vir die wêreld (Hand 4:19; 5:29).

God se verlange is dat alle mense gered moet word. Om hierdie rede is die Verlossingsplan alreeds voor die sondeval uitgewerk, sodat elkeen wat God se plan uit eie vrye keuse aanvaar, die ewige lewe kan hê.

God se Verlossingsplan is nie ‘n wetenskap, teorie, of idee nie, maar ‘n Persoon, Jesus Christus die gekruisigde Lam van God, wat die sonde van die wêreld weg geneem het. Elkeen wat Hom aanvaar as die Verlosser van die sonde, en Hom as sy nuwe Meester in hierdie lewe aanvaar, sal wedergeboorte ondervind en as simbool van sy nuwe verhouding met Jesus as Meester van sy lewe, deur onderdompeling gedoop word. Daarna sal hy die gewaarborgde ewige lewe in ontvangs neem van Jesus by sy beloofde wederkoms, wat nie meer ver is nie.
 

WIL U GRAAG DEEL WEES VAN GOD SE VERLOSSINGSPLAN OM DIE PêRELPOORT BINNE TE STAP DEUR GOD SE GENADE?

 

IS U BEREID OM JESUS AS U ENIGSTE MEESTER TE DIEN, EN ENIGE ANDER TE VERSAAK WAT MAG MEEDING OM JOU HART?


Gaan na die volgende afdeling:  27. Die Sewendedag Sabbat

bottom of page