top of page

WAT LAAT DIE HERE MY NIE TOE OM OP DIE SABBAT TE DOEN NIE?
 
Ex 34:21

“Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus.  In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.”

Die Here bly konsekwent regdeur die Bybel t.o.v. die Sabbat - ses dae moet jy werk, maar die sewendedag, is die Sabbat van die Here, dan moet jy rus. Nêrens leer die Bybel dat ‘n mens toegelaat word om enige ses dae van jou keuse te werk en dan ‘N SEWENDEDAG af te neem en te rus nie.

Die redenasie dat jy enige dag as ‘n Sabbat kan huldig, is strydig met die betekenis van die Sabbat. Die moderne mens met sy stywe tydskedule mag maklik redeneer dat ons ‘n besige tyd het aan die einde van die maand, of jaarlikse voorraadopname wat moet gedoen word. Vir die kind van die Here, is die enigste moet, gehoorsaamheid aan die Here.

Vir die landbouer, is oestyd en ploegtyd, seker die belangrikste tyd, maar selfs dan, sê die Here, moet jy rus. Deur na die stem van die Here te luister, bewys dat jy Hom respekteer as jou Skepper, Verlosser en Heer. Deur jou eie gang te gaan, ontken jy sy heerskappy in jou lewe en bevestig jy dat ‘n ander god jou lewe beheer - jou baas, jou geld, jou werk, ens. Dit is een ding om die Here met die lippe te bely en ‘n totaal ander ding, om Hom met jou hele lewe te dien.

Neh 10:31

“...en as die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die sabbat of op ‘n heilige dag nie; en dat ons in die sewende jaar die land braak sou laat lê en van elke skuldvordering afsien.”

Nehemia maak ‘n onderskeid tussen die sewendedag Sabbat en die seremoniele sabbatte. Maar hy erken die beginsel, dat ‘n mens nie op die Sabbat van die Here enige besigheidstransaksie mag aangaan nie. Volgens die Here is die Voorbereidingsdag nie verniet daar gestel nie. Enige iets wat ons nodig mag hê op die Sabbat, moet ons alreeds die vorige dag gekoop en of voorberei het.

Jes 58:13,14

“As jy jou voet terughou van die sabbat - om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die Here het dit gespreek.”

Selfs in die Ou Testament was daar mense wat die Sabbat van die Here vertrap het deur hulle eie ding te doen. God verwag van sy kinders om nie hulle sake op Sy heilige dag te doen nie. Baie dink dat jy maar ‘n koerant of melk of brood op die Sabbat mag koop. Maar dit is om jou eie sake op God se dag te doen. Dit is ‘n aanduiding dat ons so besig is met ons eie dinge, dat die Here nie regtig ‘n belangrike rol in my lewe speel nie. Indien ek regtig aandag skenk aan my verhouding met die Here, dan sal ek op die voorbereidingsdag alreeds alles doen, of koop, of bak, of kook, sodat ek die tyd wat Hy afgesonder het, as heilig, sal respekteer.

Twee keer in die teksgedeelte verwys die Here na die Sabbat as Sy heilige dag, die dag van die Here, en nie daarna as die Joodse Sabbat nie. Jesus het Self ook na die Sabbat verwys as Sy dag (Mark 2:28) en dat die dag gemaak is vir die mens (Mark 2:27). God het die dag ook aan die mens gegee om te rus van sy arbeid en tyd met sy God deur te bring, nie om leeg te lê, televisie te kyk, of in die dorp “window shopping” te gaan doen nie.

Daar is godsdienstige leiers wat sê, dat Sondag, die dag van die Here is, maar nêrens kan so ‘n bewys in die skrif gevind word nie - dit is ‘n valse uitvindsel van die Roomse Kerk. Enige Protestant wat so ‘n teorie wil aanneem, dat Sondag die dag van die Here is, erken daarmee dat hy die merkteken van die Dier aanvaar, in stryd met dit wat die Bybel sê.

Kyk hoe die 4de Gebod verdraai en vertap word.

 

Gaan na die volgende studie:  WAT LAAT DIE HERE MY TOE OM OP DIE SABBAT TE DOEN?

bottom of page