

Die Vrees van die Here - Die Vermiste Skakel van ons Geestelike Lewens!
Job 28:28 - “Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” (klem verskaf)
Deur regverdige Job, wat meer as 4000 jaar gelede geleef het, sê God aan ons om te "Kyk" na die onderwerp van die vrees van die HERE want dit behels "wysheid" en "verstand". Wysheid en verstand is vandag baie skaars in ons samelewing!
'n Dieper kyk na hierdie onderwerp wys dat die vrees van die HERE ook temake het met heiligmaking en met dissipelskap. Beide is onderwerpe wat 'n kern deel vorm van noodsaaklike geestelike voorbereiding vir elke opregte Christen gelowige.
2 Korinthiers 7:1 - “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (klem verskaf)
Die getroue Christen gelowige, wat homself afsonder van afgodery (2 Kor 6:17) het die wonderlike belofte dat God met hom sal tabernakel en vir hom 'n Vader sal wees. In die lig van hierdie beloftes sal hy in die vrees van die HERE homself van alles wat sy vlees en gees besoedel "reinig", en die "heiligmaking volbring" ('n stand van volledige heiligheid). Sonder godsvresendheid sal heiligheid, heiligmaking en reinheid van die vlees en die gees nie plaasvind nie.
Openbaring 14:7 - “En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” (klem verskaf)
Hierdie skrifgedeelte herinner die Nuwe Testament gelowige dat hierdie oer oue liefdevolle aanmaning nog dieselfde erns dra as toe Job dit aangekondig het. "Vrees God" is een van die drie eise in hierdie skrifgedeelte. Hierdie studie bring aan die lig dat al drie eise saamgevat word binne die woorde: Vrees God.
God sê as't ware vir Sy skepsels: “Kyk weer! Kyk baie sorgvuldig... want die vrees van die HERE is die sleutel waarna julle soek... die vermiste skakel van jul geestelike lewens!"
Daniel 12:10 “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.”
Hierdie skrifgedeelte handel oor die eindtyd kort voor die Wederkoms van die Here. Hier in die skrifgedeelte het ons twee groepe mense: Die “baie” wat gereinig, gesuiwer en gelouter word (die godsvresendes) en daarom die verstandiges wat van kwaad weggedraai het, en die ander groep mense… "die goddeloses", wat goddeloos handel en wat "nie verstaan nie."
Om God te vrees is die sleutel tot reinheid, suiwerheid, om gelouter te wees en om verstandig te wees. Kyk weer!
WAT IS DIE VREES VAN DIE HERE?
Hebreers 12:28 - "Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en [godsvrugtige] vrees." (klem verskaf)
Hier kry ons ‘n leidraad wanneer dit ons die opdrag gee om God “met eerbied en [godsvrugtige] vrees” te dien. “Godsvrugtige vrees” (soos in die KJV as "godly fear" beskryf word) hou verband met “eerbied”, wat gedefinieer word as “die toon van groot eer of diep ontsag, aanbidding en respek."
Hierdie “eerbied” vir God is die POSITIEWE VREES waarvan die Bybelskrywers regdeur die Ou en Nuwe Testament praat.
DIE VREES VAN DIE HERE IS POSITIEF EN VREUGDEVOL!
Hierdie godsvrugtige vrees van die HERE is plegtig, positief, maar ook vreugdevol.
Psalms 2:11 "Dien die Here met vrees, en juig met bewing." (klem verskaf)
Ons kan “juig met bewing” terwyl ons die Here dienend vrees. Eerbied vir die HERE is om nie net in bewondering van God se mag en krag te wees nie, maar ook in bewondering wees vir Sy liefde, trou en barmhartigheid.
Jeremia 33:9 - “En die stad sal vir My wees 'n vreugdevolle roem, 'n lof en 'n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys.”
Deur die profeet Jeremia het God geopenbaar dat wanneer Hy Juda en Israel van hulle sondes sou vergewe en reinig, hulle “sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys.”
Bybelse vrees en bewing neem nie ons vreugde weg nie. Vrees en bewing weerspieël nie ‘n gelowige wat versteen is deur vrees vir oordeel nie, maar weerspieël eerder ‘n gelowige wat oorweldigend dankbaar is vir God se liefde en vergifnis… wat onverdiend is!
HOEKOM MOET ONS GOD VREES?
Psalms 33:6-8 - "Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. Hy versamel die waters van die see soos 'n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. Laat die hele aarde vir die Here vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees.”
Die woord "bedug" in Engels is "to stand in awe". Bedug is eintlik om "ontsag" vir God te hê want God is die Skepper en ons is Sy skepsels. Ontsag bevat die eienskap van bewondering - 'n gepaste reaksie op die wonder van God se skeppings-werk en mag!
Jesaja 57:15 - "Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes." (klem verskaf)
Nog ‘n rede hoekom ons God behoort te vrees is omdat God groot en verhewe is, wat woon in ewigheid, wie se Naam heilig is en wat woon in die hoogte en in die heilige plek – VERSEKER is Hy diepgaande respek, ontsag, eerbied en aanbidding waardig. Maar dis nie al nie. Hierdie groot en verhewe Opperwese woon ook by die verbryselde en nederige van gees, met die kosbare doel om herlewing te bewerk. Wat 'n bewonderingwaardige God!
Ons vrees God want ons onderskei Sy oneindige grootheid en ons besef verder dat Hy persoonlik teenwoordig is. Hy is daar, oral… maar ook nou hier. Hy is ver maar ook naby, of, God is buite of bo die omvang van normale of fisiese menslike ervaring maar tog ook "op hande" (Engels: imminent). Hy kom persoonlik in kontak met Sy skepping en wil intiem met ons verkeer. Weereens, wat 'n bewonderingwaardige God!
KONING SALOMO STEM SAAM MET JOB
Spreuke 9:10 “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand.”
Koning Salomo bevestig dat sonder die vrees van die HERE is ons sonder wysheid en sonder verstand. Ons het nog nie eers tot by die eerste trappie van wysheid uitgekom as ons nie hierdie positiewe vrees van die HERE het nie!!
Die vrees van die HERE sluit in dat ons kennis van die Heilige sal toeneem wat dan sal lei tot ‘n versaking van die kwaad, en dít is verstand!
UIT ONSSELF KAN ONS NIE GOD VREES NIE
Jeremia 32:40 - “En Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.” (klem verskaf)
Ons kan nie uit onsself God op 'n positiewe manier vrees nie maar Hy belowe dat Hy sy vrees in ons harte sal gee. Daar is egter 'n voorwaarde!
Nehemia 1:11 - “Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees…” (klem verskaf)
God gee nie net vir sommige sy vrees en nie vir ander nie. Diegene wat wel die vrees van die HERE in hul hart ontvang is diegene wat verlang (of kies) dat God sy vrees in hul harte plant. Ons moet daarvoor vra! Dit is hoekom Jakobus ons aanmoedig om daarvoor te vra: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Jakobus 1:5
Onthou die vrees vir die HERE is wysheid (Job 28:28; Spreuke 9:10), so as ons vra vir wysheid dan vra ons na die vrees van die HERE.
WAT IS DIE METODE HOE GOD SY VREES IN ONS HARTE PLANT?
Psalms 34:10 - “Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die Here leer.” (klem verskaf)
God wil sy vrees vir elkeen gee en ons moet daarna verlang en daarna vra. Maar ons moet “kom” en "luister"... dan sal Hy ons dit leer. Ons kom na God deur ‘n daaglikse verhouding met Hom te hê en so sal Hy ons Sy vrees leer.
HOE KOSBAAR IS DIE VREES VAN DIE HERE?
Spreuke 15:16 - “Liewer 'n bietjie in die vrees van die Here, as 'n groot skat en onrus daarby.”
Die vrees van die HERE is veel kosbaarder as enige aardse skat of rykdom! Koning Salomo was baie ryk en uit ervaring kon hy hierdie akkurate stelling maak.
MATTHÉÜS 19:21 - "Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My."
Jesus se wyse raad aan die ryk jong man was om die vrees van die HERE sy enigste fokus en kosbaarste skat te maak deur Jesus getrou te volg.
WAT LEER DIE BYBEL WAT DIE VREES VAN DIE HERE IS?
Die vrees van die HERE is verstommend kosbaar en God plant Sy vrees binne in sy kinders se harte deur hulle te leer soos hulle daagliks in ‘n verhouding na Hom kom.
DEUTERONÓMIUM 13:4 - "Julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na Sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang." (klem verskaf)
Die positiewe vrees van die HERE beteken om intiem met God te wees. Hy nooi ons om Hom na te volg, Sy gebooie te hou, na Sy stem te luister, Hom te dien en Hom aan te kleef (soos 'n man wat sy ouers verlaat en sy vrou intiem aankleef.) Al hierdie woorde is sinonieme en is ‘n oproep om intiem met God te verkeer. Al hierdie woorde praat van dissipelskap en van 'n weg... 'n weg van heiligheid en heiligmaking.
DEUTERONÓMIUM 28:58-59 - "As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam (Engels: glorious and fearful name), DIE HERE JOU GOD, te vrees nie, … dan… sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes." (klem verskaf)
In die vorige vers het ons gesien dat om God positief te vrees is om Hom na te volg, Sy gebooie hou, na Sy stem luister, Hom te dien en Hom aan te kleef. In hierdie vers brei Moses uit oor die onderhouding van sy gebooie en wys daarop om sorgvuldig te wees om al die Woorde van die wet te onderhou en deur dit te doen eer ons, en respekteer ons Sy heerlike en gedugte Naam. (Sy ontsagwekkende Naam)
In hierdie skrifgedeelte sien ons dat God se wet 'n refleksie is van sy Naam. Om Sy Naam te eer is om sy wet sorgvuldig te onderhou.
Die gevolge om nie intiem met God te verkeer nie is skrikwekkend. Buitengewone, groot en aanhoudende plae saam met kwaadaardige en aanhoudende siektes is die voorland vir diegene wat nie sorgvuldig al die Woorde in die wetboek onderhou nie! Dit herinner aan die laaste waarskuwings boodskap in die Bybel: "En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie." Openbaring 18:4 (Sien ook Openbaring 14:8-11)
Die Here is lankmoedig maar daar kom ‘n tyd wanneer Hy diegene wat nie Sy heerlike en gedugte Naam vrees nie gaan oorgee aan hulle eie korrupte wil... wat uitloop op totale verwoesting... deur buitengewone plae wat hierdie aarde gaan tref. (Openbaring 16)
Laat ons gehoor gee aan God se wekroep om Sy heerlike en gedugte Naam te vrees deur Sy wet sorgvuldig te onderhou!
As voorbeeld leer God ons in die derde Gebod van sy wet om Sy heerlike en gedugte Naam nie ydellik te gebruik nie: Exodus 20:7 “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”
In die boek “The Signs of the Times” staan daar die volgende goeie insigte oor wat dit beteken om God se Naam ydellik te gebruik:
"Beklemtoon die heiligheid van God se Naam en verbied die ydellike gebruik daarvan. Dit sluit in oneerbiedige spraak, ydele herhalings in gebed, ligsinnige gebruik deur predikers, en alle vorme van vloek of buitensporige uitdrukkings verder as 'n eenvoudige "ja" of "nee" (met die uitsondering van geregtelike ede). Dit beskou ook die aflê van geloftes aan God en die versuim om dit na te kom as die ydellike gebruik van Sy Naam. Die kernboodskap is om God se 'glorieryke en vreesaanjaende naam' met eerbied en godvrugtige vrees te behandel, aangesien oortreders nie onskuldig gehou sal word nie."
God leer ons verder in die Onse Vader gebed om Sy heilige Naam groot te maak: MATTEUS 6:9 - "Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word…"
DEUTERONÓMIUM 4:10-13 - "... die dag dat jy voor die aangesig van die Here jou God by Horeb gestaan het, toe die Here aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor… dat hulle kan leer om my te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer." (klem verskaf)
Hulle wat God vrees leer spesifiek uit die wet wat dit is om God te vrees… sodat hulle al die dae van hul lewens in positiewe vrees voor Hom sal wandel. Hulle wat God vrees sal ook die vrees van die HERE (vanuit die wet) aan hulle kinders leer.
DEUTERONÓMIUM 5:29 - "Ag, as hulle maar so 'n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan." (klem verskaf)
Hier sien ons nog ‘n voorbeeld dat God intiem met ons wil wees en verlang dat ons Sy gebooie altyd sal onderhou ook met die doel dat dit vir ewig met ons goed sal gaan.
DEUTERONÓMIUM 8:6 - "... en hou die gebooie van die Here jou God om [met die doel om] in sy weë te wandel en Hom te vrees." [klem verskaf]
In die Bybel is die hoof gedagte van positiewe goddelike vrees om Sy gebooie te onderhou en daardeur in sy weë te wandel deur om goed te doen en om ons medemens lief te hê. Die vrees van die HERE hou baie nou verband met Sy heilige wet… die onderhouding van al die gebooie.
PSALMS 115:11 - "Julle wat die Here vrees, vertrou op die Here: Hy is hulle hulp en hulle skild."
Hulle wat God vrees vertrou Hom want Hy is hulle hulp en skild. Hierdie is beide 'n aanmoediging en gerusstellende belofte!
PSALMS 103:17-18 - "Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen." (klem verslaf)
Hulle wat God vrees hou Sy verbond, waarvan die gebooie die grondslag is, en dink aan Sy bevele om dit te doen. Psalms 1:1-2 - "WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag." (klem verskaf)
Prediker 12:13-14 - "Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg." (klem verskaf)
Koning Salomo was gekroon met 'n wyse en verstandige hart (1 Konings 3:12; 4:30, 2 Kronieke 9:22) en het alles onder die son beleef en gesien (Prediker 1:14) en teen die einde van sy lewe het hy verslag gelewer en tot die slotsom gekom dat "om God te vrees en Sy gebooie te onderhou is die hoofsaak van alles, vir alle mense." Hy waarsku ernstig dat God elke werk sal oordeel wanneer sy strafgerig begin.
Hierdie wyse woorde het Johannes herhaal in Openbaring 14:7 (die eerste Engel Boodskap).
• Koning Salomo sê: “Vrees God en hou sy gebooie” . Johannes sê in Openbaring 14:7: “Vrees God”. Kan ons saamstem dat wanneer Johannes in die Nuwe Testament verklaar dat ons “God moet vrees” dit insluit om al Sy gebooie te onderhou? Ons kan want in vers 12 bevestig Johannes dit hard en duidelik: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”
• Koning Salomo sê verder dat hierdie opdrag “geld vir alle mense”. Johannes, in die Nuwe Testament beskryf hoe die eerste Engel in die middel van die lug vlieg... wat beteken dit is ’n Boodskap vir die hele wêreld - dis vir alle mense... nie net vir die Jode nie. Die boodskap is duidelik "Vrees God en hou sy gebooie!"
• Koning Salomo sê verder “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom”. Johannes, in die Nuwe Testament beskryf ook hierdie oordeel maar met die groot verskil dat God se oordeel reeds aangebreek het. Die studie oor Daniel 9 se "2300-aandes-en-mores" tyd-profesie wys dat aan die einde van daardie tyd-profesie God se strafgerig sou begin het. Hierdie tyd-profesie het reeds in vervulling gegaan! God is nou besig om strafgerig te hou. Hoe belangrik is dit dus nie om voortdurend positief en godsvrugtig godsvresend te leef nie!?
DEUTERONÓMIUM 10:12 - "En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al Sy weë te wandel en Hom lief te hê, en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (klem verskaf)
Soos koning Salomo kom God se vriend Moses (Exodus 33:11) aan die einde van sy lewe en bevestig die slotsom van alles. Dit is om God te vrees deur in al sy weë te wandel, Hom lief te hê, Hom te dien met jou hele hart en siel en sy gebooie en insettinge te hou. Dit is die eis van die HERE God... sodat "dit met jou goed kan gaan."
Die vrees van die HERE het te make met ons alledaagse praktiewe lewens: Ons wandel, ons liefhê, ons dienswerk en ons gehoorsaamheid aan al God se gebooie. Die "insettinge" waarvan gepraat word is die offergawes en feeste wat Jesus in Homself aan die kruis beeindig het (Kolossense 2:14).
Insettinge is iets wat ingeset of vasgestel is en in die Ou Testament verwys dit vorentoe na Jesus Christus wat van ewigheid terug vasgestel is om die prys vir die mensdom se sondes te kom betaal (1 Petrus 1:20). In die Nuwe Testament konteks staan Jesus Christus in die plek van insettinge. As ons Jesus getrou navolg dan onderhou ons as't ware God se insettinge.)
WAT LEER DIE BYBEL NOG OOR DIE VREES VAN DIE HERE?
Hulle wat God vrees hanteer hul medemens anders:
-
Levitikus 19:14 - "Jy mag 'n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet jou God vrees. Ek is die Here."
-
Levitikus 19:32 - "Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van 'n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE."
-
Levitikus 25:17 - "Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God."
- Levitikus 25:36 - "Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe."
-
Levitikus 25:43 - "Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees."
JOB 1:8-9 - "En die Here vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: 'n man vroom [blaamloos] en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad." (Engels: that shuns evil).
Hulle wat God vrees wyk van kwaad/boosheid af. In sy lewe wys Job ons dat om God te vrees is sinoniem om van kwaad [boosheid] af te wyk [to shun evil: Om aanhoudend boosheid te vermy, te ignoreer en te verwerp deur 'n diepgewortelde gevoel van afkeer en versigtigheid.]
SPREUKE 8:13 - "Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is [Engels: to hate evil]; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek." (klem verskaf)
Hulle wat God vrees hulle haat dit wat God haat.
HEBREERS 12:28 - "Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, [Engels: let us have grace] en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees." (klem verskaf)
Hulle wat God vrees benut die genade wat hul ontvang het ten volle met die doel om God welbehaaglik eerbiedig te dien.
-
Filippense 2:12-13 - "Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae."
-
Efesiërs 5:16 - "En koop die tyd uit, omdat die dae boos is."
Goddelike vrees is ook om anders te aanbid:
I KRONIEKE 16:29-31 - "Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom voor sy aangesig, aanbid die Here in heilige gewaad..." (Engels: in beauty of holiness).
Hier is nog ‘n Ou Testament vers wat weerkaats word in die 1ste Engel boodskap van Openb 14:7. Hoe sal ons God “in heilige gewaad" aanbid?
Ons voorkoms tydens openbare aanbidding het hier melding nodig. Dit het die afgelope paar jaar algemeen geword om te sê dat God nie omgee hoe ons aantrek wanneer ons in aanbidding voor Hom verskyn nie. Dit is seker waar dat ons nooit iemand moet uitsluit, of op neersien, op grond van wat hy of sy kerk toe dra nie. Maar neem in ag dat in die Bybelse tye die priesters spesiale instruksies gegee is oor presies wat om te dra wanneer hulle in die heiligdom bedien (sien Eksodus 28). Let ook op dat God vir die mense gesê het om hul klere te was voordat hulle met Hom sou vergader om sy wet te ontvang (sien Eksodus 19:10,14).
Hierdie voorbeelde dui daarop dat ons nie onbewus moet wees van ons voorkoms voor God nie, maar skoon, beskeie en respekvol in ons gedrag moet wees. Dit sal teenstrydig wees om 'n pak klere werk toe te dra, maar 'n denim en 'n t-hemp aantrek om voor God te verskyn. Verder, as engele hulself met hul vlerke bedek wanneer hulle in God se teenwoordigheid is (sien Jesaja 6:1,2), hoeveel te meer moet ons onsself behoorlik bedek deur beskeie aan te trek vir openbare aanbidding.
"In heilige gewaad", soos dit in die skrifgedeelte aangehaal word, beteken om “in die skoonheid van heiligheid” te aanbid. Om heilig te wees is om afgesonder te wees... eenkant gesit vir spesiale gebruik of anders gestel, om afgesonder van sonde te wees vir God. Dit is 'n lewe van totale oorgawe aan God deur Sy wil te doen: Sondeloosheid en 'n geesgevulde en begeleide lewe.
-
Levitikus 20:26 - "En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees."
-
Hebreers 10:10 - "Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd."
Ons moet beide heilig wees (deur geloof in Christus, 1 Korintiers 1:2, in Sy voltooide werke) en heiligheid aktief nastreef (deur geloof in Sy inwonende krag, Joh 17:17 & 1 Thess 5:23). Om in die skoonheid van heiligheid (in totale apartheid) God te aanbid is verseker "gepaste gewaad"! (Meer oor heiligheid hier)
I KRONIEKE 16:29-31 gaan verder: “... Beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die Here is Koning!”
• “Beef voor sy aangesig” – ‘n oproep aan die ganse aarde om saam te "juig in bewing"! (Psalms 2:11)
• “Aanbid juigend!”
• Aanbid deur te verkondig “Die Here is Koning”!
2 Kronieke 7:3 - "En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die huis neerdaal, het hulle gekniel met die aangesig na die aarde toe, op die plaveisel, en aanbid en die Here geprys dat Hy goed is, dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is."
Ons leer uit hierdie skrifgedeelte hoe die mense plegtig God aanbid het tydens die inwyding van die tempel wat Salomo gebou het.
• Ons sien godsvresendheid sluit in om kniellend (in nederigheid) te aanbid
• Ons sien godsvresendheid sluit ook in om Hom te prys vir Sy goedertierenheid (vir Sy oorvloedige en lojale liefde)
Ons aanbiddingstyl tydends openbare aanbidding het weereens melding nodig. In Testimonies for the Church, vol. 5, bl. 492 staan daar:
"As die mense in die huis van aanbidding kom, hulle opregte eerbied vir die HERE het en in gedagte hou dat hulle in Sy teenwoordigheid is, sal daar 'n soete welsprekendheid in stilte wees. Die onskuldige fluistering, lag en praat in 'n gemeenskaplike besigheidsplek het geen plek in die huis waar God aanbid word nie. Die verstand moet voorbereid wees om die Woord van God te hoor, sodat dit die nodige gewig kan hê en die hart op gepaste wyse kan beïndruk."
BELOFTES VIR HULLE WAT GOD VREES
Belofte: Maleagi 3:16 - "Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer." [Engels: those who meditate on His Name].
In wat ook dien as 'n bemoediging kom die profeet en moedig diegene aan wat poog om te doen wat reg is met die gedagte dat God die toegewyde diens van sy godsvresende volk onthou. Hierdie gedenkboek word geopen wanneer God gerig hou (Daniel 7:10). Watter soete godsverheerlikende gesprekke sal daarin wees wat God in ons lewens opgemerk en gehoor het?
• Belofte: PSALMS 103:11 - "Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid [Sy oorvloedige en lojale liefde] oor die wat Hom vrees."
• Belofte: PSALMS 103:12 - “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.”
• Belofte: PSALMS 103:13 - “Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.”
• Bemoedigend: PSALMS 103:14 - "Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is."
HOE GROOT IS JOU GOD?
'n Seuntjie het eendag vir sy pa gevra: "Hoe groot is God, pappa?" Sy pa het toe die seuntjie in die oopte uitgeneem, en hulle het na die lug opgekyk. Hulle het 'n groot passasiersvliegtuig, 'n internasionale vliegtuig, gesien wat van een kontinent na 'n ander vlieg. Dit was piepklein, soos 'n klein kolletjie in die lug. Sy pa het gesê: "God se grootte hang af van hoe naby of ver jy van Hom af is." Daarmee het die seuntjie gesê: "Ek kan skaars daardie vliegtuig sien. Dis net 'n spikkeltjie in die lug."
Sy pa het toe die seuntjie lughawe toe geneem, hulle het uitgeklim en na 'n massiewe vliegtuig geloop, 'n enorme Boeing 747, en die seuntjie het gesê: "Pappa, daardie vliegtuig is massief!"
Sy pa sê: "Dit is dieselfde vliegtuig wat jy in die lug gesien het," ... "Jy sien, seun, hoe nader jy aan God is, hoe groter word Hy in jou lewe."
Die grootte van God sal sigbaar wees in ons vlak van positiewe godsvresendheid. Hoe meer tyd ons met die Meester deurbring, hoe groter word Hy in ons lewens. Hoe nader ons aan Hom kom hoe grootter bewonderende ontsag, eerbied en respek sal ons vir Hom hê.
In Job 28:28 sê God ons moet baie deeglik "kyk" na hierdie baie belangrike ingesteldheid! Dit is die vermiste skakel in ons geestelike lewens.
Mag God se grootheid en goedheid bekend word aan jou soos jy intiem met Hom daagliks 'n pad stap deur Hom na te volg, te vrees, Sy gebooie onderhou, na Sy stem luister, Hom dien en Hom aankleef. (DEUTERONÓMIUM 13:4) Dit is ware wysheid en verstand. Dit is heiligheid en heiligmaking. Dit is dissipelskap.
DÍT IS DIE LEWE!
Hoe moet ek my lewe inrig en lei om te deel in die vreugde wanneer Jesus terugkeer? ...
