OPENB 13 : 1 - 4
DIE GESKIEDENIS EN TOEKOMS VAN DIE ANTICHRIS


Openb 13:1    
“En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.”

"Die Diere van Daniël en van Johannes is wêreldryke. Die Dier met die tien horings is die Roomse Mag. ...Die kop is die regerende mag van die liggaam. Die koppe van hierdie dier stel opeenvolgende regerings voor." H. Grattan Guinness, Romanism and the Reformation, bl. 144,145.
 
Openb 13:2a    
“En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu...”

Hierdie saamgestelde Dier bevat die eienskappe van die eerste drie diere van Dan 7, naamlik, Babilon (leeu), Medo-Persië (Beer) en Griekeland (Luiperd) en is deel van die koninkryk wat deur die vierde Dier van Dan 7 gesimboliseer word - nl. Rome. Net soos die Draak (Satan) van Openb 12, het dit sewe koppe en tien horings.  Die Draak, Satan, vervolg die Kerk, deur Rome, in sy Heidense fase (keisers) en Kerklike fase (Pousdom). Die Saamgestelde Dier stel Rome veral in sy Pouslike fase voor (Openb 13:5), omdat dit "'n mond" het wat "groot woorde en godslasteringe teen God" uiter en "oorlog voer" met die heiliges" vir "42 maande" (1260 jaar tydperk van Pouslike oorheersing).

Openb 13:2b    
“...en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.”

Dit is die Draak (Satan) self wat aan die Pousdom sy krag, sy troon en groot mag gegee het om die nasies mee te verdruk. Dit sou die Pousdom doen deur sy wêreldse mag (politiek) en heidense Tradisies en invloed (afvallige godsdienstige sienings).

1.      POLITIEK


"Die verwydering van die hoofstad van Rome na Konstantinopel in die jaar 330 [nC.], het gemaak dat die Westelike Kerk feitlik bevry was van die koninklike gesag, sodat hy sy eie vorm van organisasie kon ontwikkel. Die Biskop van Rome, op die stoel van die Keisers, was nou die grootste man in die Weste, en sou binnekort gedwing word [toe die barbare die Ryk oorweldig het] om sowel die politieke hoof as die geestelike hoof te word." A. C. FLICK, The Rise of the Medieval Church (Putnam's, 1909 - uitgawe), bl. 168.
 
"Onder die Romeinse Ryk het die pouse geen mag besit nie. Maar toe die Romeinse Ryk verbrokkel het en sy plek ingeneem is deur 'n aantal ruwe, barbaarse koninkryke, het die Rooms-Katolieke Kerk nie net in godsdienstige aangeleenthede onafhanklik van die state geword nie, maar het hy ook die politieke aangeleenthede oorheers." Carl C. Eckhardt, The Papacy and World Affairs, (Univ. of Chicago Press, 1937)l1.

"Enige Romeinse elemente wat die barbare en Ariërs agtergelaat het... het onder die beskerming van die Biskop van Rome gekom, wat die vernaamste figuur aldaar was, nadat die keiser verdwyn het. ...die Ryk het nie vergaan nie, maar het net 'n verandering ondergaan. ...Dit is 'n politieke skepping, en is net so indrukwekkend soos 'n Wêreldryk omdat dit die voortsetting van die Romeinse Ryk is. Die Pous, wat homself 'Koning' en 'Pontifex Maximus' noem, is die keiser se opvolger." Adolf Harnack, What is Christianity? (New York: G. P. Putnam's Sons, 1903), bl 269,270.

Pous Boniface VIII se eie woorde: "Die Kerk het een Liggaam en een Hoof, Christus en Christus se Plaasvervanger, Petrus en Petrus se Opvolger; in sy mag is daar twee swaarde, 'n geestelike en 'n burgerlike swaard; beide soorte van mag is in die hand van die Romeinse Pous." Gordon Thomas en Max Morgan-Witts, PONTIFF, (London: Granada Publishing, 1983), bl.332
 
2.      AFVALLIGE GODSDIENS

“Babilon val in 539 vC. in die hande van die Medo-Persiërs. In 487 vC. word die antieke troon van Satan se valse godsdiens (die Palladium van Babilon, of die Kubus) na Pergamus in Griekeland (Klein Asië) verskuif.  Die konings van Pergamus wat self die opperste hoëpriester (Pontifex Maximus) van hul eie godsdienste was, word ook nou die hoëpriester van die ou Babiloniese geloof. Attalus III, die laaste van die Pergamus priesterkonings, het met sy afsterwe in 133 vC. sy koninklike en priesterlike ampte aan die Romeine nagelaat.” W. B. Barker, Lares and Penates, bl. 232,233.
 
“Julius Caeser het 'n 100 jaar later die keiser van die Romeinse Ryk én die Pontifex Maximus van die Romeinse godsdiens geword. Sy verering was na keiser Augustus en sy opvolgers oorgedra. Die titel “Pontifex Maximus” word weer later oorgeneem deur die pous van Kerklike Rome, as die opvolger van Keiserlike Rome.” Edwin R. Thiele, Outline Studies in Revelation, California: Pacific Union College, 1984), bl 44.

"Die Roomse Kerk het op hierdie wyse stilweg homself in die plek van die Romeinse Wêreldryk ingewig, waarvan dit die eintlike voortsetting is. Die Ryk het nie tot niet gegaan nie, maar het 'n gedaanteverwisseling ondergaan... Die pous wat homself 'koning' en ook die 'Pontifex Maximus' noem, is die opvolger van die keiser." ('n Vertaling) A Harnack, What is Christianity?, bl. 269.

“Tertullianus, Biskop van Kartage, beskuldig die Biskop van Rome aan die begin van die derde eeu as die "Pontifex Maximus" (weens laksheid en heidense invloede in die Kerk), toe was die Titel nog net deur die keisers van Rome gedra. In 382 nC. het Ambrose, Biskop van Milaan, die keiser Gratianus, oortuig om die titel Pontifex Maximus te verwerp as heidens.”

“Pous Leo I, het dié heidense titel in 445 nC. aangeneem, met sy aanvaarding van die amp as Pous van Rome. Later het die pouse hulself as die "imperator" (keiser) van die Kerk begin beskou.” (Vandaar die kroon) Leroy Edwin Froom, The Prophetic Faith of our Fathers, (Washington: Review & Herald, 1978), bl 398.

Openb 13:8    
“En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.”
 
Almal (die hele wêreld) sal die 1ste Dier (Antichris) aanbid, sommige onder dwang, ander onder die swaard en ander onder menslike en familie druk, die rede? Hulle name is nie in die boek van die Lewe van die Lam opgeteken nie. Ons name kan slegs in die boek opgeteken word, as ons Jesus Christus as Verlosser en Heer in ons harte aanvaar en ‘n lewende, daaglikse verhouding met Hom het.  

DIE ANTICHRIS SE DODELIKE WOND

Openb 13:3a    
“En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was...”

Na die tydperk van 42 maande (1260 Jaar) van Pouslike heerskappy sou die Dier 'n dodelike wond ontvang. Dit sou sy wêreldlike mag en aansien van hom wegneem.

Openb 13:9,10    
“As iemand 'n oor het, laat hom hoor. As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard dood gemaak word.  Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.”

Die 1260 Jaar van Pouslike heerskappy het in 538 nC. begin, na die vernietiging van die Oos-Gote. Vir 1260 jaar sou konings en regerings aan die Pousdom onderdanig wees. Hierdie tydperk eindig in 1798 nC. As 'n regstreekse uitvloeisel van die opstand teen pouslike gesag in die Franse Revolusie, het die Franse leër van Napoleon, onder generaal Berthier, Rome binnegeval. Pous Pius VI is op 10 Februarie 1798 gevange geneem en in Valenco Frankryk opgesluit, waar hy die volgende jaar in 1799 nC. in ballingskap oorlede is.

Die jaar 1798 nC. waarin die Pousdom van sy heerskappy ontneem is, kan as die dodelike wond van Openb 13:3 beskou word.  
 

Gaan na die volgende studie:  ANTICHRIS SE DODELIKE WOND HERSTEL