KARAKTERTREKKE EN LEERSTELLINGS VAN LETTERLIKE BABILON (OU TESTAMENT)

Gen 11:4

“En hulle sê:  Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik;  en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.”

Babel, na die Sondvloed, was die eerste teken van rebellie en opstand teen God:

[1]    Die mense van Babel het onderneem om 'n toring te bou waarvan die spits tot in die hemel sou reik. Dit moes die hoofstad van afvalligheid teen God wees. Hierdie gebou was vir God die teken dat hulle die Reënboog-gelofte wat Hy met die mensdom aangegaan het, verwerp. Babel was dus die simbool van geestelike verwarring, opstand en verwerping van God se woord en beloftes.

[2]    Die mense van Babel wou vir hulleself 'n naam maak. Hierdeur wou die mens bewys dat hy onafhanklik van sy Skepper kan leef soos hy wil. Onder die invloed van Satan, en verblind deur sy bedrog, het die mens teen die geopenbaarde wil van God, in opstand gekom.

[3]    Die mense na die Sondvloed het geweier om gehoor te gee aan God se oproep om te versprei oor die hele aarde en dit eweredig te bevolk. Dit was direkte ongehoorsaamheid teen God se bevele vir die geestelike en fisiese welvaart van die mens.

Na God die taal van die rebelle verwar het, en hulle nie in staat was om mekaar te verstaan nie, het die bouers die Toring van Babel  verlate agtergelaat. Hulle was genoodsaak om oor die vlaktes te versprei en die aarde te bevolk. Al wat oorgebly het, was die ruïnes van hulle valse aanbidding.

Dan 1:3,4,7,8

“Daarop het die koning aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien;  en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.  Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee:  Daniël het hy Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo.  En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie;  daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.”

[4]    Babilon (in die tyd van Daniël), wou die hele bekende wêreld breinspoel om die Babiloniese filosofie van een taal, een skrif en een afvallige godsdiens, na te volg.

Die Neo-Babiloniese Ryk is laat in die 7de eeue vC. deur Nebukadnesar gestig (Jer 25:8-14) en het Palestina drie keer binnegeval (605, 597, 586 vC.), die volk van God gevange geneem en Jerusalem vernietig.  

Al sou die hele wêreld onder die mag van Babilon geplaas word, is dit nie ‘n verskoning om saam met die stroom te gaan nie. Daniël en sy drie vriende het vas gestaan en hulle nie verontreinig met die koning se spys en drank nie.  

In 539 vC. het die goddelose Belsasar geweier om die God van die hemel te erken en tydens ‘n koninklike fees, die heilige bekers van God se Tempel, ontheilig (Jes 44:28; 45:6 en Dan 5). Die Meders en Perse, van Kores die Grote, het deur genl Darius die Meder, Babel in dieselfde nag ingeneem en sy wêreldmag oor die nasies gebreek.

Dan 3:1-7

“Koning Nebukadnésar het 'n beeld van goud gemaak;  en sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.  Daarna het koning Nebukadnésar die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies laat versamel, dat hulle moes kom na die inwyding van die beeld wat Nebukadnésar opgerig het. Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoof-amptenare en al die bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadnésar opgerig het.  En 'n uitroeper het hardop geroep:  Julle word aangesê, o volke, nasies en tale, sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.  En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.”

Ten spyte van die lig wat Daniël aan Nebukadnesar gegee het oor die Lewende God van die hemel, wou die koning steeds hê dat die volke onder sy beheer, sý goue beeld, wat sy koninkryk verteenwoordig, aanbid. Hy het geglo dat sy eie gode (waarvan Marduk die vernaamste was) sy koninkryk sou beskerm teen dit wat die God van Daniël as ‘n uitlegging van die droom, aan hom bekend gemaak het (Dan 3).

[5]    Babilon dwing die mensdom om sy valse godsdiens aan te hang. Die Skepper-God word misken en Sy aanbidding verruil vir dié van die Babiloniese afvalligheid. Deur die mens te dwing om te maak soos deur wetgewing voorgeskryf word, word die regte van die individu ingeperk en uiteindelik misken.

[6]    Babilon onder Nebukadnesar het die hele wêreld met die dood gedreig, (vuuroond - Dan 3) indien sy onderdane nie die opgerigte beeld, ter ere van die Babiloniese afgod, Marduk, aanbid nie.

 

Gaan na die volgende studie:  KARAKTERTREKKE EN LEERSTELLINGS VAN GEESTELIKE BABILON