top of page

BABILON WORD ONTHOU

Openb 17:1,3

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê:  Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit.  En hy het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.”

Babilon sal eers haar hoogtepunt bereik sodra al die koninkryke van die wêreld (dier waarop sy sit) en al die waters (nasies) deur haar hoerery  (valse leringe) besoedel en dronk gemaak is (verlei is om haar sieninge te aanvaar) en onder haar heerskappy geplaas is (haar erken as hoof). Eers dan sal haar oordeel aanbreek.

Openb 18:7

“Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê:  Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie.”

Sy sal sit as koningin oor die wêreld, want almal sal haar op die hande dra en haar bevele en wense uitvoer, want ‘n godsdienstige organisasie wat subtiel beheer het oor die gewete van haar onderdane, maak van haar ‘n “eerbare” en goddelike instelling. Sy gee voor om God se kerk op aarde te wees.

Openb 17:16,17

“En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.  Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is.”

Tot op die bepaalde tyd dat God se woord volbring sal word, sal die koninkryke van Europa (Dan 2:41-44) haar ondersteun met hul politieke mag. Op die regte tyd sal die Valse Sisteem wat hulle verlei, in duie stort en daarna met vuur vernietig word (God se oordeel).

Openb 16:17-19

“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het:  Dit is verby!  En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie - so ‘n geweldige groot aardbewing.  En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.”

Die sewende en laaste plaag sal die Valse Godsdiens-Sisteem totaal vernietig deurdat God se beker van grimmigheid oor haar uitgestort word. Die bondgenootskap tussen die drie valse godsdiensgroepe sal vernietig word.  

Die “aardbewing” kan (net soos in die geval van Openb 11:13) vertolk word as die onttrekking van menslike steun van die wêreld se valse godsdienste. Die onttrekking kom met stemme, donderslae, bliksemstrale en aardbewing - weer eens ‘n verwysing na die koms van Jesus.

Openb 14:9-11

“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Babilon se navolgers sal net soos sý, ook die beker van God se toorn drink en met vuur en swael vernietig word. Waarom? Omdat hulle saam met haar in haar valse leringe gedeel het, en ook andere beïnvloed het om dieselfde te doen.

Openb 18:7,8

“Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen.  Omdat sy in haar hart sê:  Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie -  daarom sal haar plae op een dag kom:  dood en droefheid en honger;  en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”

Babilon is in gedagtenis voor God gebring en Hy sal haar plae in een (profetiese) dag (1 letterlike jaar) op haar uitstort. God se oordeel sal gepaard gaan met hongersnood (soeke na Bybelse waarheid - Amos 8:11-13), dood (geestelike doodsheid - 1 Kor 2:14,15) en droefheid (wroeging soos Judas Iskariot omdat hy Jesus verraai het. Hy het nie berou tot bekering ondervind nie - Matt 27:3-5). Haar oordeel sal met goddelike vuur afgerond word, sodat sy totaal vernietig sal wees (Dan 7:11, 26).

Openb 18:21-24

“En een sterk engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met 'n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie.  En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuin-blasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunsternaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie, en die geluid van die meul sal nooit meer in jou gehoor word nie.  En die lig van 'n lamp sal nooit meer in jou skyn nie, en die stem van bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie;  want jou handelaars was die grotes van die aarde;  want deur jou towery is al die nasies verlei.  En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.”

Die grote Babilon se mag sal gebreek en vernietig word, net  soos 'n meulsteen wat in die see gegooi word en in die donker dieptes van die waters wegsink, om nooit weer te voorskyn te kom om sy maalwerk te doen nie. Haar invloed oor die regerings en nasies van die aarde sal heeltemal vernietig word. Die einde vir Babilon het aangebreek en God het haar nie vergeet nie. Sy oordele oor haar is geregverdig en finaal (Openb 19:16).

KARAKTER EN LERINGE VAN DIE NUWE JERUSALEM

Openb 21:9,10

"En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê:  Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.  En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.”

Ons het hier weer met een van die engele wat die plae uitstort (oordeel uitvoer), te doen (Openb 17:1). Dit is insiggewend want net soos in die visioen van die hemelse oordeel (Dan 7:9-12,21,22,26,27), is dieselfde oordeel wat die Dier en die Klein Horinkie verdoem, ten gunste van God se volk. Die engel wat die oordeel oor die Hoer sal voltrek, is ten gunste van Jerusalem - God se stad.  

Die Nuwe Jerusalem, is simbolies van die Bruid (Kerk) van Christus. Haar nakomelinge (Openb 12) word gekenmerk as die wat die "gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar" (Openb 12:17; 14:12).

Hebr 12:22,23

“Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges.”

Die Nuwe Jerusalem word gereken as die Gemeente van Eersgeborenes wat in die hemel opgeskrywe is. Die mens word beskou as die eersgeborenes en dan volg die diere en die natuur wat ook om ons ontwil aan die vloek van die sonde onderworpe is. Almal wat Jesus bely as Verlosser en Hom gehoorsaam is, se name bly in die boek van die Lam wat in die Hemel opgeskrywe staan.

Die feit dat God hier as Regter genoem word, wil aan ons sê dat elkeen wie se naam opgeskryf is in die hemel, deur God van alle blaam vrygespreek is, a.g.v. hul vertroue in die verlossing wat Jesus Christus, hul Advokaat, vir hulle bewerk het.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE NUWE JERUSALEM ‘N EGTE STAD

bottom of page