top of page

DIE NUWE JERUSALEM ‘N EGTE STAD

Hebr 11:8-10

“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van die belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”

Abraham het God geglo dat Hy hom ‘n groot nasie sou maak. God het ‘n belofte van ‘n groot stad gemaak, wat Hy Self vir sy gehoorsame volk sou oprig. A.g.v. die belofte moes Abraham wegtrek uit Ur van die Chaldeers, na ‘n vreemde land, waar hy God kon dien. Abraham moes trek uit “Babilon,” soos God nou van ons verwag. Gehoorsaam aan God se bevel, het die vader van die gelowiges weggetrek.

Hebr 11:13,16

“In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.”

Abraham het gesterf en sy getroue kinders sterf regdeur die eeue sonder om die beloofde stad in besit te neem. Ten spyte daarvan bly sy kinders glo dat daardie stad eendag hulle s’n sal wees. God is trots op hulle wat bly glo. Vir diesulkes hoef Hy hom nie te skaam nie, want hulle sal eendag die beloofde stad met hul eie voete kan binnestap. Jesus het ‘n soortgelyke belofte aan sy dissipels gemaak.

Joh 14:1-3

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei.  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Volgens Jesus bestaan so ‘n stad alreeds, Hy moes dit net nog gaan inrig vir sy volgelinge. Om te deel in die belofte van die stad, moet ons net bly vertrou in hom wat vir ons aan die kruishout gesterf het, bly hoop wat nou in die hemel vir ons intree, en bly wag vir Hom wat eersdaags op die wolke sal verskyn.

Openb 21:1,2

“En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verby gegaan; en die see was daar nie meer nie.  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.”

Die stad is nie ‘n foefie nie, dit is ‘n werklike stad wat vanuit die hemel van God op die nuwe aarde sal neerdaal. God het gesê dat Hy ‘n nuwe hemele en aarde gaan skep wat in geregtigheid sal woon. So ‘n nuwe aarde het ook ‘n goddelike hoofstad nodig. Om in die stad te mag ingaan, moet jy gereed maak om dit te mag bewoon.
 
Openb 19:7-9

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  Toe sê hy vir my: Skryf - salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.  En hy sê vir my:  Dit is die waaragtige woorde van God.”

Die ware Vrou (Kerk) maak haar gereed vir die koms van die Bruidegom. Sy erken Christus as haar Heer en Meester - haar man (Efe 5:23-32; 2 Kor 11:2). Haar kleed is die geregtigheid van Christus. Almal wat Jesus as Verlosser bely, word na die bruilof van die Lam genooi en in deelname aan die verlossing in Jesus se bloed, word hy en sy lede van God se Bruid (die kerk).

Openb 18:4

“En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Die woord Babilon, in Openbaring beteken “verwarring” en verteenwoordig die kerke wat deur Satan ingesluk is in sy misleiding. Wetende dat die godsdienstige sisteme binne Babilon nie die begeerte het om te hervorm na God se Woord nie, is God daarom genoodsaak om sy kinders uit Babilon uit te roep.

U en ek moet ook die keuse maak tussen familie en friende en die stem van Jesus, net soos ons aartsvader Abraham. Gaan ons soos hy gehoorsaam wegtrek na ‘n vreemde plek van aanbidding, waar ons Hom ook in vryheid van gewete kan dien?

IS U BEREID OM TE HERVORM, SOOS GOD SE WOORD SY LIG EN WAARHEID AAN U OPENBAAR?

VOLGENS GOD IS DIT UITERS BELANGRIK OM UIT BABILON UIT TE KOM OM DIE PLAE VRY TE SPRING WAT HY OP HAAR GAAN UITSTORT WEENS HAAR SONDE WAT TOT AAN DIE HEMEL REIK. IS DIT U BEGEERTE OM UIT BABILON UIT TE KOM EN SODOENDE HAAR PLAE VRY TE SPRING?

DIE BRUID VAN DIE LAM IS BESIG OM VOORBEREIDING TE TREF OM HAAR BRUIDEGOM TE ONTMOET. IN OPENBARING WORD SY GESIMBOLISEER AS DIEGENDE WAT "DIE GEBOOIE VAN GOD EN DIE GELOOF IN JESUS BEWAAR." WIL U OOK GRAAG DEEL WEES VAN DIE BRUID VAN DIE LAM?

DIE BYBEL IS GOD SE LAMP VIR ONS VOET EN LIG OP ONS PAD. IS DIT U BEGEERTE DAT JESUS U NOG VERDER MOET LEI IN SY WAARHEDE?


Gaan na die volgende afdeling:  19. Die Derde Engel se Boodskap

bottom of page