top of page

KARAKTERTREKKE EN LEERSTELLINGS VAN GEESTELIKE BABILON (NUWE TESTAMENT)

Openb 14:8

“En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.”

[1]    Babilon die groot stad word beskou as die sentrum van waar die wêreld se regerings beheer word. Sy beheer die wêreld se konings en hul onderdane. Die swakker nasies was almal ondergeskik aan die magtige Babilon. Sy uitsprake was op alle volke en individue van toepassing. Die 2de engel se boodskap gebruik outydse Babilon as ‘n simbool vir Moderne Babilon se mag en beheer oor die nasies.

Openbaring sinspeel op die historiese gebeure van Babilon van die laat 7de en vroeë 6de eeu vC. Antieke Babilon se gebruike sou dien as voorbeeld van gebeure wat weer aan die einde van die wêreld se geskiedenis sal plaasvind, onder leiding van geestelike Babilon.

Openb 17:1-3

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê:  Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.  En hy het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.”

Geestelike Babilon is nie vergeet nie. God gaan haar beslis oordeel en straf vir die misleidings en vervolging wat sy in die “naam van God” (godsdiens), soos sy voorgee, gepleeg het. Deur haar misleiding sal biljoene mense eendag verlore wees.

[2]    Babilon is ook die Hoer (Pousdom) - die Moeder van alle afvallige kerke en leringe wat in stryd is met God se Woord (Ps 106:39; Num 25:1-3; Deut 18:9-14).

Die Pousdom het haar dogters besoedel met afvallige leringe. Sy bied aan die Christelike kerke wat uit haar voortkom, onbybelse leringe, wie se gesag op menslike gewoontes gebaseer is. Tradisie word bo die Skrif gestel en aan die wêreld voorgehou. Dit is in direkte kontras met die leringe van God se ware navolgers wie se gesag op God se Woord - die Bybel, berus.
 
Die Roomse Kerk sê van die Bybel en die Oorlewering: "Alhoewel hierdie twee Goddelike strome op sigself, en op grond van hulle goddelike oorsprong, ewe heilig is, en albei geopenbaarde waarhede is, is die OORLEWERING nogtans vir ons die duidelikste en veiligste van die twee." Joseph, Faa Di Bruno, Catholic Belief, (1884 uitgawe), bl 45. soos aangehaal in Bybellesings vir die Gesin, Southern Publishing Association, Kenilworth, 1983.

"Tradisie - nié die Skrif nie - is die Rots waarop die Kerk gebou is." Catholic Doctrine as defined by the Council of Trent, bl 157.

"Aartsbiskop Reggio het 'n toespraak gegee waarin hy openlik die Tradisies van die Kerk bó die Skrif gestel het. Omdat die Kerk die Sabbat verander het van Saterdag na Sondag - nie in opdrag van Christus nie, maar op die Kerk se eie gesag." CANON AND TRADITION, Holtzman, bl. 263.

Mark 7:7-9

“Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.  En Hy sê vir hulle:  Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.”

Jesus het die tradisies van die Joodse geleerdes bestraf as reëls wat die Wet van God kragteloos maak. Volgens Hom is godsdiens wat op tradisie gebaseer is, tevergeefs. Dit is niks anders as direkte ongehoorsaamheid en rebellie teen God nie. Sommige van die menslike tradisies wat die Pousdom, die wêreld aanbied, is as volg:

Beelde-, Maria- en Beskermheiliges-aanbidding, die onsterflikheid van die siel, die vagevuur, die ewigbrandende hel, kinderbesprinkeling, aanneming in die plek van die doop, aardse priesterskap, die Mis-offer, Pous as hoof van die Christelike kerk en plaasvervanger van Christus op aarde, in die plek van die Heilige Gees, Selibasie, vergifnis deur gebede, werke en priesterlike belydenis, Sondagsheiliging, Futurisme, Preterisme, 12 Artikels van Geloof - insluitende “een algemene Christelike kerk”, en dat Christus "ter helle neergedaal het" (om vir afgestorwenes te gaan preek), Paasfees, Kersfees, Lent, ens.

Openb 17:5

“...en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.”

[3]    Babilon die Groot Stad is 'n afvallige godsdienstige stelsel. Babilon is ‘n saamgestelde naam, wat ‘n opsomming van die drievoudige godsdiens-samesmelting van die laaste dae sal uitmaak. Hulle is die Draak of Satan (Spiritisme en alle heidense godsdienste van die wêreld wat op werke staatmaak vir verlossing), die Dier (Pousdom / Katolisisme) en die Valse Profeet of 2de Dier (Afvallige Protestantisme), wat God se ware leringe, soos in die Bybel geopenbaar, én God se volk, teenstaan (Openb 13; 16:13).  

Die valse drie-eenheid sal aan die einde saamspan op verskeie gebiede, sosio-ekonomiese toestande en gedeelde leringe, om aan die mensdom valse riglyne vir aanbidding voor te skryf, wat in direkte opstand teen God se regering gemik is (Sien Openb 16:13,14,19).

 

Enige godsdiens wat onbybelse leringe verkondig, direk in stryd met dit wat die Skrif leer, vorm deel van Moderne Babilon. Dit is uit Moderne Babilon dat God diegene roep, wat Hom opreg wil dien.

Enige kerk wat onbybelse leerstellings aanvaar soos wat deur die middeleeuse kerk geleer word, kan as dogter van "die groot Babilon, die moeder van die hoere" (Openb 17:5) beskou word.  

Sommige van die valse leringe wat Protestante huldig, sluit in: [1] Sondagviering in die plek van die Bybelse Sabbat, [2] die onsterflikheid van die siel, [3] 'n ewig brandende hel, [4] die bewering dat Christus nie die enigste hoof van die kerk is nie, maar die Pous as sigbare hoof erken, [5] verlossing deur genade wat ons vrystel van gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie, [6] Dele van die Bybel nie geïnspireerd is nie, (bv. Gen 1-11 - die Skeppingsverhaal en wêreld-wye Sondvloed het nie regtig bestaan nie), [7] dat Christus nie in die volste sin, God is nie, [8] kinderbesprinkeling en aanneming in die plek van die onderdompelingsdoop, [9] dat Christus sy kerk d.m.v. 'n geheime wegraping sal verheerlik en hemel toe neem, [10] dat die wederkoms alreeds plaasgevind het, [11] dat ons alreeds in die 1000-jarige vrederyk lewe, ens.

Openb 18:1-3

“En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê:  Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.”

Openb 18 wys daarop dat die valse godsdiens-sisteme (drievoudig) in die hande van Satan sal val en dat hy dit tenvolle sal beheer.

"Openb 18 wys aan ons die tyd wanneer die kerk, a.g.v. haar verwerping van die drievoudige waarskuwing van Openb 14:6-12, eindelik die toestand sal bereik soos voorspel in die tweede engel se boodskap - Geval, Geval het Babilon!  Die volk van die Here wat nog in Babilon verkeer, word nou versoek om van haar af te skei. Hierdie boodskap is die laaste wat ooit aan die wêreld verkondig sal word." E. G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kaap, hfst 21, bl 369.

In 1843-1844 het getroue Bybelstudente van die Tweede Advent-beweging, wat die 1ste engel met krag verkondig het, ook die 2de engel se boodskap verkondig. Die 2de engel se boodskap is van toepassing op al die Protestantse kerke wat die waarskuwing ("die uur van Sy oordeel het gekom") gehoor en hul rug daarop gekeer het en Futurisme en Preterisme aanhang om die Bybel se profesieë mee te vertolk. Nou het die groot kerke geval, en die Here sou van hulle wegdraai om diegene te seën wat die lig sou glo wat deur die 1ste engel verkondig is - die uur van God se oordeel het gekom!

Openb 18:4

“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

"Kom uit haar uit, My Volk" - is 'n oproep om die aanbidding van Moderne Babilon, wie se leringe so algemeen aangehang en geleer word, te versaak. Ons moet breek met valsheid en die Skepper-God en sy Woord alleen aanhang.  

1 Sam 15:22,23

“Daarop sê Samuel:  Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here?  Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.  Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.  Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Gehoorsaamheid aan die stem van die Here, is beter as om God op jou eie manier te aanbid, soos koning Saul of Kain (Gen 4:1-7). Ongehoorsaamheid aan God se direkte bevele, om menslike Tradisies na te volg, word deur God as waarsêery, afgodery en beelde-diens beskou. Soos God vir koning Saul verwerp het, sal Hy ook diegene verwerp wat weier om Sy uitdruklike Woord na te volg.

In die oë van God is diegene wat Tradisie bo God verkies, dieselfde as hulle "wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het" (2 Tim 3:4,5). Die tyd het aangebreek dat diegene wat God bo alles liefhet, moet skei van hulle wat meer liefhebbers van genot (Tradisie), as liefhebbers van God is.

Openb 17:2,18

 “...met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. ...En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”

[4]    Babilon, soos Babel van ouds, maak vir haar 'n naam deur wêreldse kompromieë aan te gaan. Sy gebruik politiek, handel, sosiale omstandighede, asook die Ekumeniese Beweging (handevat met ander kerke en gelowe) om haar doel te bereik. Die Pous word alreeds deur die meeste regerings en gelowe beskou as die hoof van die Christelike Kerk, selfs Protestante kerke erken die Pous as hoof van die Christelike Kerk.

Openb 13:14-17

“En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.  En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.”

[5]    Babilon se grootste taak is om die wêreld onder haar mag te kry. Net soos met Babel van ouds, sal die hele wêreld aan die einde gedwing word om vir die Dier / Pousdom 'n beeld op te rig en hom daardeur te aanbid. Deur Dier-aanbidding, word die draak, Satan, ook aanbid, wat hom sy krag, troon en groot mag gegee het! (Openb 13:2,4)

Die doodstraf sal vir rebelle ingestel word wat weier om die dier te aanbid. Elke navolger sal 'n merkteken ontvang, sodat net diegene wat sy merk, naam of getal het, toegelaat sal word om te koop en te verkoop en so aan die lewe te kan bly.

 

Gaan na die volgende studie:  BABILON WORD ONTHOU

bottom of page