top of page

DIE MENS IS STERFLIK

1 Joh 3:15    
“Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar;  en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”

Haters en Moordenaars is Sondaars. Volgens die Skrif besit sondaars nie die ewige lewe, as iets inherents binne-in hulself nie.
 
Rom 2:5-8    
“Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek - die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is - grimmigheid en toorn.”

Hier sê die Skrif dat mense na onverganklikheid soek. Indien die mens alreeds onverganklikheid besit, waarom soek hy nog daarna? Die mens soek daarna omdat hy nie onsterflikheid in homself besit nie. Dit is God wat die lewe en die ewige lewe (onverganklikheid) aan die mens gee.

1 Tim 6:13-16    
“Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag.  Amen.”

U kan die Bybel van Genesis tot Openbaring ondersoek en u sal nie een teks vind wat verwys na 'n onsterflike deel van die menslike wese nie. Slegs God alleen besit onsterflikheid en slegs Hy gee dit aan die wat deur die geloof, Jesus Christus as sy Verlosser aanvaar en gehoorsaam is.

ONGEHOORSAAMHEID, SONDE EN DIE DOOD

Rom 5:12
“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”

A.g.v. Adam se ongehoorsaamheid aan God se bevel (jy mag nie van die boom van kennis goed en kwaad eet nie), het die sonde in die wêreld ingekom. Deur Adam het die Sonde die hele mensdom met die Dood besmet.
 
1 Joh 3:4        
“Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.”

Hierdie is seker die eenvoudigste definisie van wat sonde is, in die Bybel. Sonde is om God se wet te ignoreer, en te ontken dat ek aan God verantwoordelik is vir my lewe. M.a.w. sonde is die oortreding van God se Wet - die riglyn van God se regering vir alle geskape wesens..

Rom 6:23a    
“Want die loon van die sonde is die dood...”

Ongehoorsaamheid aan God word beskou as sonde en die loon of straf vir sonde, is die dood.

DIE EERSTE DOOD

Die term “Eerste Dood” kom nie in die Bybel voor nie, maar die term “Tweede Dood,” wel (Openb 20:14; 21:8) en het te doen met die finale uitwissing van sonde deur die poel van vuur en swawel (hel). Ons gaan die term “Eerste Dood” gebruik om te verwys na dood in die algemeen. Dit is die proses waardeur elke mens (regverdige en goddelose) gaan, sodra die persoon sy / haar laaste asem uitblaas, sterwe, begrawe word, ontbind en deel van die stof van die aarde word. Dit is ons deel as nasate van Adam.

Die “Tweede Dood” daarenteen, vorm deel van God se plan om vir ewig van sonde ontslae te raak. Ons sal die Tweede Dood meer volledig in 'n volgende lesing, nl. “Die Tweede Dood van Openbaring,” behandel.

WAT GEBEUR MET DIE MENS WANNEER HY STERF?
 
Pred 3:19-21    
“Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere:  hulle het een en dieselfde lot;  soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie;  want alles is tevergeefs.  Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.  Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?”

Ons moet onderskeid tussen die mens en die dier erken, in die sin dat die mens geskape is na die beeld van sy Skepper en dat hy die vermoë ontvang het om te kan redeneer en keuses te maak wat diere nie besit nie. Diere is op instink aangewese. Om die onderskeid te tref is nodig, sodat ons nie met ewolusioniste verwar word, wat sê dat die mens uit die dier voortgekom het, deur die ewolusieproses van miljoene jare, nie. Volgens Prediker 3:19-21, sterf die mens en die dier albei op dieselfde manier, want albei bestaan uit dieselfde elemente van die aarde en het dieselfde asem. Asem is lewensenergie, en alle lewende wesens, mens en dier kry die lewe van God alleen.

Pred 12:7    “
...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”

Die Hebreeuse woord "RUACH" stel wind, asem, gees en lewensasem voor. Die "gees" is dus die lewensenergie wat van God kom, en weer na God terugkeer. Dit is nie 'n "onsterflike siel" wat opstyg hemel toe, nie. (Jes 42:5 sê asem / lewensenergie = gees)

Hand 13:36    
“Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien.”

Dawid het gesterf en is begrawe en het verderwing gesien. Sy lewe as aktiewe lid in die samelewing, het tot 'n einde gekom.

Hand 2:29,34    
“Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê:  Die Here het gespreek tot my Here:  Sit aan my regterhand.”
 
Volgens die Bybel het Dawid geen "onsterflike siel" gehad, wat opgevaar het hemel toe nie. Hy is begrawe. Hy het nie van hierdie wêreld oorgegaan na 'n ander wêreld, in 'n ander vorm van lewe, nie. Die heidene glo dat die mens ‘n onafhanklike “onsterflike siel” het wat na die geesteswêreld oorgaan, sodra die persoon sterf. As Dawid dan nie hemeltoe is nie, waar is hy dan en wat doen hy?


WAT DOEN DOOIES WAT GESTERF HET?

Pred 9:5,6,10    
“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.  Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.  Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

Dooies weet níks, hulle het géén loon, liefde, haat, naywer, kennis, wysheid, ens. nie. Hulle het ophou bestaan en het geen deel meer aan alles wat op aarde gebeur nie (Party probeer met testamente).

Ps 146:4        
“Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe;  op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”

Die mens se planne hou op, die dag as hy sterf. Álle verantwoordelikhede teenoor die werk, die huisgesin, vriende, ens. hou op bestaan!

Jes 38:18,19    
“Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie;  die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.  Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag;  die vader maak aan die kinders u trou bekend.”
 
Dooies kan God nie loof of prys in die graf nie, omdat hulle nie ‘n bestaan voer nie. Daarom is die valse lering dat Jesus in die graf vir die gestorwe siele gaan preek het, na sy kruisiging, vals en bog! Dit was en is steeds ‘n slenter van die Pousdom om mense te bedrieg!


Ps 6:6        
“Want in die dood word aan U nie gedink nie;  wie sal U loof in die doderyk?”

Hulle wat gesterf het, dink nie eens aan die Here nie. Hulle het opgehou om te bestaan.

 

Gaan na die volgende studie:  HOE MOET ONS DIE DOOD VERSTAAN?

bottom of page