top of page

DIE GEVAAR VAN DIE "ONSTERFLIKE SIEL" TEORIE -

[1]   DIT ONTKEN DAT GOD ALLÉÉN ONSTERFLIKHEID BESIT.

[2]   DIE ONSTERFLIKE SIEL WORD IN SOMMIGE GEVALLE, NA ‘N TYD, DEEL VAN DIE GODHEID, ÓF SELF 'N GOD OP SY EIE.

[3]   OMDAT DIE SIEL ONSTERFLIK IS, IS DIT NIE AAN SONDE ONDERHEWIG NIE, WANT SONDE IMPLISEER DIE DOOD.

[4]   'N ONSTERFLIKE SIEL, MAAK 'N VERLOSSER NIE NODIG NIE.

[5]   DIE KRUISDOOD VAN CHRISTUS HET DUS GEEN VERLOSSINGSWAARDE NIE.

[6]   OMDAT VERLOSSING NIE NODIG IS NIE, MAAK DIT DIE WEDERKOMS VAN CHRISTUS OOK ONNODIG.

SATAN SE LAASTE BEDROG

Openb 16:13,14    
En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.  Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

Spiritisme sal die belangrikste skakel wees in die afvallige drie-manskap se stryd teen God en Sy Waarheid. Die moderne New Age Beweging is eintlik 'n sintese van die afvallige godsdienste van die Antieke Tyd wat geglo het aan Spiritisme, Towery, Heldersiendheid, Sterrewiggelary, Hipnose, Panteïsme, Reïnkarnasie, ens.
 
Openb 18:1-5    
“En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê:  Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.  En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê:  Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.  Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”


Hoe nader ons aan die einde kom hoe meer sal afvallige Babilon deur Satan en sy bose engele beheer word, wat die hele wêreld in afvalligheid sal lei. God gaan almal wat haar afvallige leringe deel, met die 7 laaste plae tref.

DIE GEVARE VAN DIE NEW AGE BEWEGING

Die New Age Beweging verskil op tien maniere direk van die Christelike Geloof. Hierdie verskille is subtiel maar ook blatant. Dit is noodsaaklik dat elke Christen gegrondves moet wees in die Bybel om die “geloofwaardigheid” van die New Age Beweging die hoof te bied. Let op die hoofpunte wat die verskille tussen die Christelike Geloof en die New Age, helder uitlig.

Die Christen staan op die soliede grond van die Skrif. In tien lewensbelangrike aspekte is die New Age leringe die teenoorgestelde van die Bybel se leringe:

1.    Omtrent God:  New Agers handhaaf die siening van “god binne-in” of die “god-is-in-alles.” Die Bybel maak ‘n onderskeid tussen die skepsel en die Skepper. Die God van die Bybel is ‘n persoonlike Drie-enige God.
 
2.    Omtrent Christus: Die New Age leer dat daar baie “christusse” of “meesters” [geeste-leermeesters] is. Die Bybel leer dat Jesus is die unieke Seun van God wat na die aarde toe gekom het, om te lewe, te sterwe en vir eens en vir altyd op te staan. Dit maak baie sterk daarop aanspraak dat die enigste weg tot God en verlossing deur Jesus Christus onse Here is.

3.    Omtrent die Versoening: Die Bybel het geensins te doen met die ‘karma’ nie, dit verwys na ‘sonde [Karma verwys na die ‘skuld’ wat teen ‘n “onsterflike siel” ophoop as gevolg van goeie of slegte dade wat gedurende ‘n mens se lewe (of lewens) opgebou word. Volgens die dade sal hy tot ‘n beter of slegter toestand gereïnkarneer word.] Dit [die Bybel] aanvaar sonder kompromie dat ‘ons groot God en Verlosser Jesus Christus’ die sonde, dood en Satan, oorwin het, deur sy volmaakte lewe, onskuldige dood en glorieryke opstanding...

4.    Omtrent die Mens: Die kardinale lering van die New Age is dat die mens in hierdie wêreld beide goed en goddelik in ‘sy natuur’ gebore word, sy verlossing is afhanklik van sy innerlike kyke en te aanvaar dat hy god is. New Agers leer dat die mens, sonder hulp, in staat is om volmaak te wees en ‘n volmaakte wêreld te kan skep. Die Bybel openbaar die mens as hulpeloos, en kragteloos om goed te kan doen, en dat die enigste geregtigheid wat hom kan red, die geregtigheid van die volmaakte Seun van God is...

5.    Omtrent die Dood: New Agers glo dat daar geen dood is nie, net ‘n aanhoudende siklus van reïnkarnasie. New Agers glo dat daar donker koninkryke van skaduwees is vanwaar die geeste van die afgestorwenes opgeroep kan word deur ‘n medium of ‘n kanaliseerder. Vir Bybelgelowige Christene is die bewering ‘dat daar geen dood is nie,’ die primêre leuen; daar is nie ‘n skaduagtige koninkryk van die gees nie en mediums is ‘n gruwel.

6.    Omtrent Sonde en Oordeel: New Agers vervang Sonde en Oordeel met Karma, reïnkarnasie en Nirvana [kom u agter dat dit alles Oosterse godsdienstige terminologie en idees is?]. Fundamenteel tot die begrip van die Bybel, is die sondige natuur van die mens, en ‘die Dag van God’ wanneer almal geoordeel sal word. Die saak in die oordeel? Hulle verhouding met Jesus Christus...
 
7.    Omtrent die Wêreld: In die Bybel is daar geen spoor te vind van die New Age se Monistiese (alles is een) en Panteïstiese (alles is god) beskouings nie. Vir die Christen is hierdie sienings ‘n afwyking van die heiligheid van die menslike lewe. En dit bots met hul [Christene se] mees fundamentele geloof: hul siening omtrent God.

8.    Omtrent die Toekoms: New Agers glo dat ‘n ‘globale verandering’ teweeg gebring sal word deur kanaliseerders (spiritistiese mediums) in samewerking met ‘buiteruimtelike wesens.’ In kontras hiermee, voorsien die Bybel omstandighede waarin lewe op aarde agteruitgaan in ‘n eindtyd era onmiddelik voor die tweede koms van Jesus...

9.    Omtrent Demone [duiwels en bose geeste]: Sommige New Agers leer dat daar geen duiwel is nie; andere sê dat hy ‘n goeie engel is wat deur die Bybel in ‘n slegte lig gestel word [Lucifer - hy is kwansuis die ware blink môrester wat deur Jesus, die valse Môrester vervang is]. Die Bybel openbaar die Satan as die oorsprong van Sonde en die vyand van almal, wat reg wil lewe.

10.    Omtrent Waarheid: New Agers leer dat daar nie so iets is as Absolute Waarheid nie. Die Bybel openbaar Jesus as die ‘Weg, die Waarheid en die Lewe.’ Dit het Jesus se belofte neergepen as dat ‘julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ (Joh 8:32). Gebondenheid tot die geeste, is die doel van die New Age lering. Die vryheid van die evangelie, is die boodskap van die Christelike geloof.” David Marshall, NEW AGE versus THE GOSPEL, Christianity’s Greatest Challenge, Autumn House, Alma Park, Engeland, tweede druk 1994, bl. 107-110.

Joh 8:44        
“Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.  Hy was 'n mense-moordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie.  Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.”
 
Jesus se woorde is sterk en op die man af. Ons moet nie luister na Satan se bedrog nie. Hy is daarop uit om die mens te vernietig. Hy het klaar die stryd teen Christus verloor, daarom poog hy nou om soveel mense moontlik, saam met Hom, hel toe te sleep. Wanneer ons aan Satan dink, moet ons kan sê: Al praat die Satan ook die waarheid, dan lieg hy steeds, want hy het altyd ‘n verskuilde agenda!

WAT VERWAG GOD VAN U EN MY?

Gal 1:8        
“Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!”

Die moderne siening is dat alle godsdienste gelyk is en dat almal waarheid bevat en almal na een plek toe lei. Volgens God se Woord is daar net één evangelie van verlossing en dit is Jesus Christus en Hom as Gekruisigde. Slegs deur Hóm het ons toegang tot die Vader - enige ander evangelie, is vals en duiwels!  

1 Kor 15:1-4    
“Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.”

Die Evangelie van Redding vereis dat ons moet glo dat Jesus Christus in ons plek aan die kruis gesterf het, en dat Hy op die derde dag uit die Dood opgestaan het. Hy is die enigste Middelaar tussen God en die mens.
 
Joh 6:39,40    
“En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”

Wat is God se wil? God se wil is dat almal wat Jesus aanskou (Hom sien as Verlosser aan die Kruis) en in Hom glo (gehoorsaam is aan Hom as hul enigste Here en Meester), die Ewige Lewe mag hê.  

Jesus belowe om die persoon wat Hom onvoorwaardelik aanvaar as sy enigste Heer en Meester, in die laaste dag (Jesus se Wederkoms) uit die eerste Dood op te wek.

Openb 14:13    
“En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê:  Skryf - salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe.  Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”

Almal wat in Jesus sterwe, sal geseënd wees, omdat hulle die versekering het, dat hulle uit die Dood opgewek sal word, deur Hom wat Self die Dood oorwin het.

Openb 1:17,18
“En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete;  en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.  Amen.  En ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.”

Dit is wonderlik om te weet dat ons Verlosser, Jesus Christus, die Sleutels van die Dood en die Doderyk in Sy hande het. Hy wat van ewigheid tot ewigheid lewe, het die mag van die dood oor die sondaar gebreek. U en ek kan die versekering hê dat Jesus die sleutel in sy hande het, en dit nie oorgelaat het aan die geldgierige en misleidende gemoedstoestand van sogenaamde priesters nie.

 

IS U DANKBAAR OMDAT JESUS DIE MAG OOR DIE DOOD GEBREEK HET?

 

GLO U DAT JESUS DIE ENIGSTE PERSOON IS WAT DIE SLEUTELS VAN DIE DOOD IN SY HANDE HET?

 

WIL U GRAAG DEEL WEES VAN DIEGENE WAT TYDENS DIE WEDERKOMS UIT DIE DOOD SAL OPSTAAN, INDIEN U NIE LEEF TOT BY SY WEDERKOMS NIE?

 

DAN MOET U HOM AANVAAR AS U ENIGSTE HEER EN MEESTER IN U LEWE. IS U GEWILLIG OM DIT TE DOEN?

 

Gaan na die volgende studie:  LASARUS EN DIE RYK MAN

bottom of page