top of page

HOE MOET ONS DIE DOOD VERSTAAN?

Joh 11:11-14    
“Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle:  Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.  Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.  En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.”

Jesus vergelyk die Dood met Slaap. Iemand wat slaap, is onbewus van tyd, omstandighede en enigiets wat om hom gebeur - so is dit ook in die Dood. Hy wat dood is, rus van sy lewe op aarde. ‘n Persoon wat na ‘n lang siekbed gesterf het, is bevry van daardie verskriklike lyding wat hy moes deurmaak toe hy nog geleef het. Die dood is ‘n genade rusplek.

Nog een van die Pousdom se misleidings is, dat die gestorwene se “onsterflike siel” in die vagevuur is. Deur genoegsame middele aan die Kerk (Pousdom) te gee, laat die priester na gelang van die bedrag, die “siel,” stuk vir stuk vry, totdat hy na die hemel vlieg en die kerk homself genoegsaam verryk het.

HOU DIE EERSTE DOOD VIR ALTYD AAN?

Hebr 9:27    
“En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel...”

Die mens is bestem om een maal te sterf. Daarna vind die Oordeel plaas wat sy ewige lotsbestemming sal bepaal. Hierdie lewe, is u en my Saailand vir die ewigheid. Die eerste dood is nie die einde van dit alles nie - daar is nog een laaste opstanding wat wag...

Joh 5:28,29    
“Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”

Daar is 'n opstanding uit die Eerste Dood, vir sommige sal dit tot die Ewige Lewe wees en vir ander tot Veroordeling.

Openb 20:4-6    
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;  en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie;  en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.  Dit is die eerste opstanding.  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding;  oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Jesus maak dit duidelik dat daar 'n tydsverloop van 1000 Jaar bestaan tussen die Eerste Opstanding (Ewige Lewe) en die Tweede Opstanding (Ewige Straf). (Sien ook Jes 24:21,22)

WIE DEEL IN DIE OPSTANDING TOT DIE EWIGE LEWE?
 
Openb 20:6    
“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding;  oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Slegs hulle wat deel het aan die Eerste Opstanding uit die Dood, het deel aan die Ewige Lewe. Dit verseker dat die Tweede Dood geen mag oor hulle het nie.

1 Thess 4:15,16    
“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie.  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God;  en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”

Tydens die Wederkoms van Jesus, sal diegene wat tot met hul dood, geglo het in Christus as hul Verlosser, deel in die eerste opstanding uit die eerste dood.

1 Kor 15:51-54
“Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin;  want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word;  en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is:  Die dood is verslind in die oorwinning.”
 
Die onsterflikheid wat die regverdiges deelagtig word by die Wederkoms, stel hulle in staat om hul Skepper van aangesig tot aangesig te aanskou. Met onsterflikheid as ‘n eienskap, maak dit ook dat die Tweede Dood, geen mag oor hulle het nie (Openb 20:6).

Openb 2:11    
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.  Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”

Hy wat die Satan en die sonde oorwin, sal nie deur die Tweede Dood skade aangedoen kan word nie. Hoe kan ons die Satan en die sonde oorwin?

Openb 12:11    
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”

Oorwinning oor die Duiwel en Sonde, word moontlik gemaak deur die bloed van die Lam (aanvaarding dat Jesus vir my sonde gesterf het).

Die woord van ons getuienis, dui op ‘n openbare belydenis deur die doop (om beklee te word met Jesus se geregtigheid).  

Dit maak ons bereid om ons lewens vir die Waarheid, soos in Gods Woord geopenbaar, af te lê, want Jesus is die Meester van my hart.

WIE DEEL IN DIE OPSTANDING VAN DIE EWIGE VERDERF?

Openb 20:5a    
“En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.”

Die "ander dode," wat na die 1000 jaar uit die eerste dood opstaan, dui op al die goddelose vanaf die tyd van Kain tot die laaste onboetvaardige sondaar. Oor hulle sal die Tweede Dood sy mag uitoefen.

Matt 25:41    
“Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê:  Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele."
    
Die goddelose sal in die poel van vuur gewerp word, wat eintlik vir Satan en sy engele bedoel is.

Openb 20:14    
“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”

Hierdie Poel van Vuur waarin die goddelose en Satan sal brand, word die Tweede Dood genoem. Selfs die eerste dood sal daarmee vernietig word.

SATAN SE VROEGSTE BEDROG

Gen 3:4-6    
“Toe sê die slang vir die vrou:  Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry;  en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”

Satan verwerp die gesag en woord van God. Hy stel God voor as 'n Leuenaar. Deur die waarheid (dat die mens "tussen goed en kwaad" sal kan onderskei) met 'n leuen ("julle sal gewis nie sterwe nie") te meng, word die mens bedrieg tot ongehoorsaamheid en die Dood.

Gen 5:1,5    
“Dit is die stamboom van Adam.  Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God...  So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterwe.”

Satan sê: "Julle sal gewis nie sterwe nie!" Dié woorde vorm die grondslag van alle Heidense Gelowe, Spiritisme, die New Age Beweging en soortgelyke dwalinge. So te sê die hele wêreld glo dit vandag, selfs groot getalle Protestante het dit aanvaar! Wie glo u? Adam het Satan geglo en hy het gesterwe - net soos God gesê het.

 

Gaan na die volgende studie: DIE GEVAAR VAN DIE VALSE LEERSTELLING VAN LEWE NA DIE DOOD

bottom of page