top of page

DIE GEVAAR VAN DIE VALSE LEERSTELLING VAN LEWE NA DIE DOOD

Elke heidense godsdiens in die wêreld glo dat wanneer 'n persoon sterf, hy na 'n ander plek wegvaar om voort te leef, hetsy op die aarde of ander dimensies in die heelal. Sommiges glo dat hy weer terugkom in die vorm van 'n ander persoon, 'n bok, 'n koei, aap of insek (reïnkarnasie). Hoe is dit moontlik dat die Heidene hierdie leuens glo? Omdat heidene nie die Bybel het nie, of verbied word om dit te lees, is dit vir Satan maklik om hulle te mislei. Hy is die skepper van hulle valse godsdienste en leringe wat sê: "Julle sal gewis nie sterwe nie," - die oudste leuen wat daar is.

1 Tim 4:1        
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.”

Die onsterflikheid van die siel, is een van die grootste verleidings van Spiritisme. In die OT is daar heelwat verwysings wat die raadpleging van "die geeste van afgestorwenes" verbied. (Lev 19:31; 20:27; Deut 18:10-12; Jes 8:19; 19:3, ens.)  

“Navorsers wêreldwyd dokumenteer reeds sedert die vroeë jare tagtig beelde of boodskappe wat hulle op woordverwerkers, TV-skerms en faksmasjiene van gestorwenes en ander wesens ontvang... Die navorsers noem hulle elektroniese kontak met die inwoners van ander dimensies ‘Instrumentele Transkommunikasie’ (ITK).”

“Een van die eerste navorsers, ‘n Duitser genaamd Klaus Schreiber, het onder meer op instruksie van sy vriende van ander wêrelde sy TV-stel aangeskakel. Die beeld van sy oorlede dogter, Karin, het daarop verskyn. Na sy eie dood in 1986 het Schreiber klaarblyklik sy eksperimente in ‘n ander dimensie voortgesit. Sy kollegas het in 1990 twee beelde op die skerms van hul woordverwerkers ontvang. Die een was ‘n beeld van Schreiber self, die ander ‘n afbeelding van sy nuwe huis in sy nuwe astrale wêreld...”
 
“‘n Soortgelyke interdimensionele verhouding tussen lewende en gestorwe navorsers in ITK is die tussen Maggy en Jules Harsh-Fishbach van Luxemburg, en wyle Konstantin Raudive, een van die ITK pioniers. Raudive het onder meer laat weet dat hy hom aangesluit het by ‘n groep geeste wat hulle beywer vir ‘n nuwe geslag kontakte tussen hemel en aarde... Die navorsers het ook afgelei dat al die tegnologie vir ‘gevorderde’ ITK-kontakte nie op aarde nie, maar aan die ander kant van die sluier ontwikkel word... Raudive het [Adolf] Holmes [‘n ITK navorser in Duitsland] gevra om mense aan te moedig om hulle geestelike versperrings oop te maak om dit vir die gestorwenes makliker te maak om deur die radio, TV en rekenaars met hulle te kommunikeer.”


Mariechen Waldner se artikel: Dooies stuur fakse - of is daar ‘n kinkel in die kabel? Soos aangehaal in die weekblad Rapport van 1 Oktober 1995, bl. 10. In ‘n soortgelyke artikel word vertel hoe honderde mense tou staan by ‘n sekere telefoonhokkie, om met hul afgestorwe geliefdes wat nou in die hemel is, te praat. Hierdie is maar net twee van duisende soortgelyke artikels wat gereeld in tydskrifte en dagblaaie verskyn oor sogenaamde kontak wat met geeste van afgestorwenes en geeste uit ander “wêrelde” gemaak word. Maar die Bybel spreek homself baie duidelik uit teen die soort van kontak met die geesteswêreld. Ons moet ons nie met Satan se misleidings ophou nie.

 

Lev 19:31    

“Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die Here julle God.”

Die Here het dit baie duidelik aan die Israeliete gestel dat hulle geensins met die geeste van afgestorwenes of die geeste wat waarsê, moet ophou nie. Hulle moes eerder na God luister, die Een wat hulle uit Egipte, waar dieselfde dinge toegepas was (Jes 19:3), uitgelei het.

Lev 20:27    
“En as daar in ‘n man of ‘n vrou ‘n gees is van ‘n afgestorwene is of ‘n gees wat waarsê, moet hulle sekerlik gedood word.  Hulle moet gestenig word.  Hulle bloedskuld is op hulle.”

Volgens die opdrag van die Here moes diegene wat hulle besighou met geeste van afgestorwenes, of geeste wat waarsê, beslis doodgemaak word. Die valse geeste lei die mens van sy Skepper af weg.

Hand 16:16-18
“En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.  Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.  En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan.  En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”

Miskien was dit aan die begin snaaks om die soort van advertensie te hê, maar later het die gees ‘n verleentheid begin word vir die verkondiging van die evangelie. Die slavin was ‘n werktuig van die Satan. Haar invloed het gehelp om afgodediens en spiritisme te versterk in Filippi. Die Satan het goed geweet dat sy koninkryk aangeval word deur die gesante van God. Hy het sy toevlug tot hierdie middel (waarsêery) geneem om die werk van God teen te staan. Hy het gehoop dat hy sy drogredenasies kon meng met die waarhede wat Paulus verkondig.  

Die woorde van aanbeveling wat die vrou gespreek het, was tot nadeel van die waarheid, want dit het die mense se aandag van die apostels se leer afgetrek en die evangelie verdag gemaak. Baie mense wat die vrou gehoor het, het begin glo dat Paulus en sy metgeselle, wat met God se gesag gespreek het, deur dieselfde gees besiel is as dié van die slavin. Paulus was genoodsaak om hom op Jesus te beroep om van die lastige gees ontslae te raak, om so hul verbintenis met duiwels en afgode, te verwerp.

Ten spyte van dié waarskuwings in die Skrif, glo baie Christene steeds aan die onsterflikheid van die siel!  Hierdie heidense en sataniese idees het die Kerk deur die eeue ingekom, en is vandag steeds met ons. Hierdie “onsterflikheid van die Siel” lering het Paulus baie probleme besorg toe hy die evangelie aan die Grieke in Athene verkondig het.
 
Hand 17:18,19,30-33    
“En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry , en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wou sê?  Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode - omdat hy die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.  En hulle het hom geneem en op die Areopagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? ...God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.  Maar toe hulle van die opstanding uit die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor. En so het Paulus van hulle weggegaan.”


Paulus het probeer om met die Griekse wysgere te redeneer omtrent die evangelie van Jesus, Sy gesag in die oordeel en Sy opstanding uit die dood. Dit was hierdie “opstanding uit die dood” siening van Paulus wat hulle aan die lag laat gaan het. Hulle het ‘n bespotting van Paulus gemaak. Hoekom?

Die rede is eenvoudig: Paulus se siening van die toestand van die mens, wanneer hy dood is, verskil radikaal van die van die Grieke.

1.  PAULUS EN DIE BYBEL

Stof + Asem (Lewensenergie) = Lewende siel (wese) óf die Mens in sy totaliteit

Indien God die lewensenergie wegneem, verdwyn die lewende mens en net die oorskot (stof van die aarde waaruit hy geneem is) bly oor.
 
2.  DIE GRIEKE, DIE ANTICHRIS EN DIE MEERDERHEID MISLEIDE CHRISTENE

Net soos met ander heidense gelowe het die Grieke geglo dat daar twee “persone” in ‘n mens is, naamlik ‘n “vleeslike-“ en ‘n “geestelike” persoon. Volgens spiritisme is die twee aanmekaar verbind deur ‘n tipe “naelstring” wat by die dood breek. Die Grieke het geglo dat die “onsterflike siel” in die vleeslike liggaam vasgevang is, soos in ‘n tronk. By die dood word die “onsterflike siel” bevry uit sy gevangenis en kan dit na die volgende geestelike dimensie beweeg.  

 

Hieronder is ‘n grafiese voorstelling van dié HEIDENSE en SATANIESE siening.

Miljoene Christene is deur die valse lering op die een of ander manier beïnvloed, omdat dit na ons oorgedra is deur die Antichris in sy aanvaarding van die “onsterflikheid van die siel” leerstelling, na die invloed van die Griekse wysbegeerte wat die kerk ingestroom het deur die vroeë kerkvaders.

Baie Protestante het hierdie heidense lering van die Pousdom oorgeërf. Ons hoor baie maal die volgende uitdrukkings onder Christene:

1.    “Moenie huil nie, oupa is in die hemel en hy kyk vir ons. As ons huil dan maak dit sy hart seer.”
    
2.    “Die goddelose gaan reguit hel toe en die regverdiges gaan reguit hemeltoe, wanneer hulle sterf.”

3.    “Wanneer ‘n mens doodgaan, gaan jou siel na ‘n bewaarplek toe. Hy bly daar tot die oordeel aanbreek.”

4.    “Alle siele wat nie sleg genoeg is vir die hel nie, maar ook nie goed genoeg vir die hemel nie, word in die Vagevuur aangehou. Daar brand hulle tot hulle gereining is van die sonde en dan gaan hulle hemeltoe. Hartseer familie skenk geld aan die kerk en die priester wat die sleutels van die hemel het, het die mag om die siel te bevry van die Vagevuur. Soos geld die kerk instroom, word die siel stuk-stuk vrygelaat totdat hy uiteindelik na die hemel ontsnap.”

5.    “Daar moet siele in die gevangenis wees, want hoe anders kon Jesus vir hulle gepreek het, toe ‘Hy ter helle neergedaal het?’ Die mens kry mos ‘n tweede kans in die doderyk.”  

Indien u enige van die sienings al gehoor het, weet dat nie een van hulle Bybels is nie, maar misleidings van die Satan wat deur die Heidendom, die Pousdom, Spiritisme en die New Age, na ons toe oorgewaai het.

3.  HINDOEÏSME EN BOEDISME

Hiermee saam leer Hindoeïsme die siening van reïnkarnasie waarin die “onsterflike siel” van een lewensvorm na ‘n ander oorbeweeg totdat die “siel” die hoogste vlak bereik wat “Nirvana” (Paradys) genoem word en hy deel van “God,” of die “Groot Niks,” (Hare Krishna “Bewustheid”) word.

Hierdie “Groot Niks” is ‘n toestand, waar daar nie goed of sleg, vreugde of pyn ervaar word nie, maar net niks is. Bostaande prent is 'n grafiese voorstelling van reïnkarnasie en die sewe vlakke waarin die “siel” homself opwerk deur sy “karma” (goeie of slegte dade wat sy status in die volgende lewe of dimensie sal bepaal).

 

Gaan na die volgende studie:  DIE GEVAAR VAN DIE "ONSTERFLIKE SIEL" TEORIE

bottom of page