top of page

28. DIE BRUID MAAK HAAR GEREED VIR DIE BRUILOF VAN DIE LAM
 
DIE KERK VAN JESUS DEUR DIE GESKIEDENIS


Satan het met sy eerste leuen die eerste egpaar tot sonde verlei en God se karakter en Sy doel vir die mens, skade berokken. Deur God se woord in twyfel te trek het die mens die vrugte van hul ongehoorsaamheid gepluk, naamlik die dood. God het die mens egter nie in wanhoop gelaat nie. Deur die belofte van die “Saad van die vrou" (Gen 3:15) was daar hoop vir die sondaar. Reg deur die eeue het God mense gehad, wat die waarheidsfakkel van die Verlossingsplan aan die wêreld sou voorhou.

DIE LIGDRAERS VAN DIE WAARHEID VOOR DIE SONDVLOED

Adam en Eva het geleer dat gehoorsaamheid aan God se woord en geloof in die komende Lam van God, ‘n voorvereiste was vir verlossing (Gen 3:15, 21; 4:4). Hulle moes die Fakkel van waarheid uitdra aan hulle kinders, om die misleiding van die Satan binne die mensdom, teë te werk.

Henog, die sewende van Adam af (Jud 1:14,15), het ook gedien as fakkeldraer van waarheid, Hy het God behaag omdat hy aan Hom gehoorsaam was en geglo het in God se Belofte. As getuie van die waarheid, is hy weggeneem na die hemel (Gen 5:22-24; Hebr 11:5,6).

AFVALLIGHEID EN VERNIETIGING

Na die dood van sy seun Metusaleg, (die naam beteken - “na my sal dit gebeur”) het die goddeloosheid op die aarde toegeneem, soveel so, dat God besluit het om die wêreld met water te oorstroom en te vernietig.

Gen 6:5-7;    

“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versindsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.  En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.  Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here... “
 
Selfs diegene wat in hul families die lig van God moes uitdra, het geestelike verval ondervind. God kon die sonde nie meer langer duld nie en het besluit om die sondige aarde te vernietig. Slegs een huisgesin en ‘n klompie diere se lewens was gespaar deur ‘n boot en het gedien as ‘n oorblyfsel van die waarheid.

DIE LIGDRAERS VAN DIE WAARHEID NA DIE SONDVLOED

Gen 7:23       

"So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af.  En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.”

Die sondvloed het ‘n einde aan die goddeloosheid van die voorvloedse mense gemaak, maar God het ‘n “oorblyfsel” in die lewe gehou. Noag en sy gesin van agt was gered toe hy gehoorsaam aan God se bevel, die ark gebou en geglo het in God se belofte van die Saad (Gen 6:6-22; Hebr 11:7).

Gen 9:12,13    

“En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.”

So was Noag ‘n getuie van die Sondvloed en vader van die mensdom ná die Vloed. Hy moes die waarheidsfakkel oordra aan sy kinders, en dié weer aan hulle kinders - die voorsate van die hele mensdom van hierdie wêreld.

Maar die mens sou weer afvallig raak en God het mens se taal by Babel verwar sodat hulle oor die aarde sou versprei (Gen 11:1-9). Maar ‘n oorblyfsel was nog getrou aan God. Uit die oorblyfsel sou God ‘n volk skep, wat as ligdraer vir die ander volke moes dien om hulle na God en sy waarheid, terug te lei.
 
Deur gehoorsaamheid en geloof het Abraham, ‘n nasaat van Sem, die seun van Noag, ‘n fakkeldraer van die Verlossingsplan geword. Al die nasies sou deur hom geseën wees omdat hy die draer van die Saad van die Belofte geword het (Gen 18:17-19; 22:10-18; Hebr 11:8-19).

Abraham is opgevolg deur Isak en later, Jakob. Dieselfde reël het vir almal gegeld. Vir al die ligdraers was geloof in die beloofde Verlosser en gehoorsaamheid aan die beginsels van God se waarheid - die Verlossingsplan, ‘n voorvereiste (Hebr 11:20-27).

“Regdeur die eeue het God ‘n groep mense gehad deur wie Hy sy waarhede kon verspei aan die wêreld. Dit was [en is steeds] God se plan dat alle mense, nasies, volke en tale deelnemers van Sy genade moet wees.  In sy plan van goddelike herstel, het Hy verkies dat gevalle menslike wesens, medewerkers met Hom moet wees om Sy doel te bereik. God het altyd getroue navolgers gehad wat vir waarheid en geregtigheid sou staan selfs tydens groot teenkanting.” Walter, J. Veith, Truth Matters, Book 2, Amazing Discoveries Foundation, Delta, Kanada, 1997, bl. 307.

DIE ISRAEL VAN GOD AS LIGDRAERS VAN WAARHEID

1.  ISRAEL VAN DIE OU TESTAMENT

Daar is vandag groot twyfel oor wie die ware Israel van God is. Baie van die hedendaagse denominasies wil graag hê dat die beloftes wat God aan die Israel van die OT gemaak het, vervul moet word in moderne Israel.  Hulle wag op die wederoprigting en herstel van moderne Israel as God se volk (soos deur Futurisme aan ons voorgehou word). Vir baie is die moderne staat van Israel in Palestina, deel van die proses van die vervulling van die profesieë van die OT.

Maar ons moet onthou dat die naam “Israel” nie die natuurlike naam van Jakob is nie, maar dat dit aan Jakob gegee is in erkenning van ‘n geestelike oorwinning wat hy behaal het. Hy het met God geworstel en vergifnis van sy sonde verkry. Na die gebeurtenis, is aan Jakob (die bedrieër) die naam “Israel” (oorwinnaar) gegee. Sy nageslag sou ‘n volk word. Na die uittog uit Egipte, het God formeel in ‘n verbondsverhouding met die volk van Israel getree (Ex 19:1-8).

Ex 19:5,6    

“As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.  En julle sal vir my ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees...”

In die Verbond wat God met die volk van Israel gemaak het, moes hulle ‘n koninkryk van priesters wees. Hulle moes die ligdraers van God se verlossing wees en die nasies van die wêreld bedien met die waarhede wat God aan hulle toevertrou het. (Jes 60:1-3). Hierdie verbondsbeloftes wat God aan Israel gemaak het, het altyd op voorwaarde van hulle gehoorsaamheid aan Hom, berus. Die woordjie “as” speel ‘n baie belangrike rol in die verbond tussen God en Israel.

In Deut 28:1-14 vind ons ‘n lys van die wonderlikste seëninge wat God ooit op enige volk uitgespreek het. Maar selfs dié beloftes was op voorwaarde van gehoorsaamheid aan God gegee (Deut 28:2). Sodra die volk van God afvallig sou word en die verbond verbreek, sou God hulle verwerp en tussen die nasies in laat verdwyn (Deut 28:15-68).

1 Kon 9:4-7    

“En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, met ‘n volkome hart en in opregtheid deur te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en verordeninge onderhou, dan sal Ek die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek op die troon van Israel nie.  As julle en julle kinders ooit van My afvallig word en my gebooie, my insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie onderhou nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, dan sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp, sodat Israel ‘n spotlied sal word onder al die volke.”
 
Die letterlike troon van Israel was nog altyd onderhewig aan die voorwaarde van gehoorsaamheid aan God en sy verbond. Dawid en Salomo was hieroor ingelig. God het nooit aan Dawid beloof dat sy letterlike koninkryk (ongeag van sy nageslag se getrouheid aan die verbond), vir ewig sou bly bestaan nie. (Die idee van ‘n ewige letterlike troon, is ‘n Futuristiese siening - ‘n valse Pouslike lering wat tydens die teenhervorming uitgedink is om Protestante om die bos mee te lei.)

Maar Israel het met tyd afvallig geword en alhoewel God hulle deur profete gewaarsku het, wou hulle hul nie tot God bekeer nie (2 Kon 17:6-23). Weens volgehoue ongehoorsaamheid, is die tien noordelike stamme almal deur die Assiriërs weggevoer en het hulle onder die nasies verdwyn, wie se afgode hulle gedien het.

Slegs die stamme van Juda en Benjamin was vir ‘n wyle gespaar en kon na die Babiloniese ballingskap, weer terugkeer na Palistina (sonder ‘n koning). God het aan die profeet Daniël getoon dat die volk Jerusalem en die Tempel sou herbou, tot op die verskyning van die beloofde Gesalfde, wat die Verbond met God se volk sou hernu vir ‘n week (sewe letterlike jare, vanaf 27 - 34 nC. Sien Dan 9:24,25 en die lesing “Die Messias waarborg die 2300 Aande-en-Môre Profesie.”). Weer was Juda die kans gebied om ligdraers vir God se wonderlike verlossingsplan te wees (Miga 4:1-4; 5:2-6; Sag 8:20-23).

Sag 6:15        

“En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die Here bou.  Dan sal julle weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het.  En dit sal so wees, as julle nougeset luister na die stem van die Here julle God.”

Selfs met die terugkeer na Palestina, na die Babiloniese ballingskap, was die beloftes aan Juda op voorwaarde van gehoorsaamheid en geloof in die komende Verlosser, geskoei.

 

Gaan na die volgende studie:  AFVALLIGHEID VAN OU ISRAEL

bottom of page