top of page

DIE VROU BEKLEED MET DIE SON

Met hierdie agtergrond, behoort ons weer na die profesie van Openbaring 12 te kyk, om ‘n beter begrip van die toekoms van God se kerk te hê. Dit sal ons ook instaat stel om God se kerk van die laaste dae te ontdek. Daar is vandag so baie kerke en denominasies en elkeen gee voor om God se kerk van die laaste dae te wees. Almal kan tog nie die ware kerk van God wees nie? Laat die Bybel aan ons God se ware kerk openbaar, wat die waarhede van God, soos in die Verlossingsplan uiteengesit, aan die wêreld verkondig.

Openb 12:1,2    

“En 'n groot teken het in die hemel verskyn:  'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barendsnood.”

Die kerk van Jesus word in die profesie voorgestel as 'n vrou wat met die son bekleed is. Haar kleed is die geregtigheid van Jesus (Gal 3:27; Jer 23:6) en word beskou as die regverdige dade van die heiliges (Openb 19:7,8). Dit is deur te glo, dat ons geregverdig word, op grond van Jesus se verdienste.

‘n Ander treffende kenmerk van die Kerk in die OT, is dat sy in die visioen verwagtend (swanger) is - sy wag vir die verskyning van die “Saad van die belofte” - Jesus Christus. Dit is hierdie boodskap van Verlossing en die openbaring van Waarheid, waarop almal in die Ou Testament gewag het.
 
Die vrou staan bo-op die maan. Die maan het geen lig van sy eie nie, maar skyn met geleende lig van die son. Dit is ‘n verwysing na die Ou Testamentiese bedeling met sy Seremoniële Stelsel van Offerhandes, die Besnydenis, die Heiligdom met sy dienste en Feeste, wat alles net weerkaatsings (Kol 2:14,16 - skaduwees) van die ware Lig van die Evangelie is: Jesus Christus, wat die Ware Paaslam en Hoëpriester wat gekom het is om vir die waarheid te getuig (Hebr 8:5,6; Joh 1:29; 5:39-47; Joh 19:37).

Die Vrou dra 'n kroon van 12 sterre. Die sterre verteenwoordig die leiers van die kerk, nl. die 12 aartsvaders wat die 12 stamme van Israel en die profete in die OT-kerk verteenwoordig. Dit verwys ook na die leiers (12 apostels) van die NT-kerk (geestelike Israel), nadat sy geboorte aan die manlike Kind (Jesus) geskenk het. Ons kan dus sê dat die simbool van die son (kleding van Christus se geregtigheid), maan (OT bedeling) en sterre die somtotaal van die hele kerk verteenwoordig, vóór en ná die kruis.

SATAN SE AANSLAG OP DIE KERK ONDER DIE OU TESTAMENTIESE BEDELING

Openb 12:3,4    

“En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi.  En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.”

Die Draak is die Duiwel (v.9). Satan is van die begin af teen God en Sy Seun, Jesus, gekant. Hy is ook terdeë bewus van die belofte wat God aan Eva gemaak het, nl. dat haar “Saad” (Jesus wat as mens gebore sou word - Gal 3:16) die slang (Satan) se kop sou vermorsel.

Satan werk nooit alleen nie, maar altyd deur menslike agente. Die sewe koppe van die Draak stel die 7 wêreldmagte voor deur wie Satan gewerk het om die kerk (uit wie Jesus gebore sou word) te vervolg, nl. [1] Egipte, [2] Assirië [3] Babilon, [4] Medo-Persië, [5] Griekeland en dan [6] Rome. Die 10 horings is ook 'n aanduiding van die 10 koninkryke wat sou ontstaan met die verbrokkeling van die Romeinse Ryk. [7] Laastens stel die 7de kop die Pousdom voor (gewond en herrese) wat God se volk sou vervolg en verdruk.
 
Aan die begin van die visioen staan die Draak gereed om Jesus te vermoor sodra Hy gebore word - Dit stel Rome in sy heidense fase voor. Vanaf Sy geboorte (koning Herodus se regering), tot en met Sy dood (Pilatus se bestuur), het Satan deur Rome geveg om Jesus (die Saad van die Belofte) dood te maak. Waarom sou hy dit wou doen?

Joh 18:37    

“...Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.  Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”

Satan haat enigeen wat staan vir waarheid. Jesus se koms na die aarde, was om lig in die duisternis van menslike dwaling in te bring. Jesus sou kom om waarheid van valsheid te skei. Hy sou die reg uitleef, sodat die verkeerde aan die kaak gestel kon word (Joh 14:7-11). Die kerk in die OT, was veronderstel om die simbool van God se waarheid uit te dra deur die verlossingsimbole wat aan haar gegee was in die Tabernakel en sy dienste. Maar toe die Een kom na wie alles gewys het, het Israel die rug op Hom gekeer, omdat ‘n ander lering deur Satan in hulle geplant was - tradisies en oorleweringe van die oumense.

Die Kerk van God, sou egter nie verlore gaan nie, omdat Jesus al klaar 12 nuwe leiers vir die NT kerk gekies het wat die waarheids fakkel van die evangelie sou uitdra. Hulle sou eerstens kom uit die getroue en gelowige Jode, wat in Hom geglo het. Hulle is versterk uit heidene wat die wonderlike evangelie van verlossing deur die geloof in Jesus Christus aanvaar het.

DIE MANLIKE KIND

Openb 12:5    

“En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer;  en haar kind is weggeruk na God en sy troon.”

Die Kind waaraan die vrou (kerk) geboorte geskenk het, kan net op Jesus van toepassing wees, die "Saad van die vrou" - die eerste belofte aan die mensdom in die tuin van Eden (Gen 3:15; Gal 3:16).
 
Jesus is mag gegee om die nasies met 'n ystersepter te regeer (Ps 2:6-12; Dan 7:13,14) omdat Hy die oorwinning oor die sonde behaal het (Hebr 2:14-18; Openb 2:27; 19:15). Jesus sou die Slang se kop vermorsel met Sy kruisdood. Met Sy opstanding uit die dood, het Jesus die finale oorwinning oor Satan behaal.

Jesus is weggeruk uit die sondige planeet met sy hemelvaart, waar Hy gaan sit het aan die regterkant van die troon van God en waar Hy nou vir ons intree as Middelaar (Hand 1:9-11; Rom 8:34; Efe 1:20; Hebr 6:19,20; 9:24; 1 Joh 2:1). Hy wag dat sy vyande aan Hom onderwerp sal word tydens die uitslag van God se hemelse Oordeel (Efe 1:20-22; Fil 2:9-11; Hebr 1:13; 10:12,13).

Openb 12:6    

“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank.”

Satan se woede ken geen perke nie. Onder Rome het beide Jode en Christene swaar geleef. Met die verwoesting van Jerusalem en die tempel, in 70 nC. moes die Jode en Christene nuwe sentrums vir aanbidding soek. Soos wat die Christene moes vlug, is nuwe gemeentes oor die bekende wêreld gestig. Maar Satan sou sy stryd teen Jesus ook in die hemel probeer voortsit.

SATAN VERLOOR DIE STRYD TEEN JESUS

Openb 12:7-10

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.  Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê:  Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
 
Satan het nie net op aarde stryd gevoer nie, met een derde van die hemelse engele agter hom, het hy probeer om Jesus te vernietig. Maar Migael die Aartsengel (Jesus in stryd met die Bose) het die stryd gewen. Satan het ‘n dubbele nederlaag teen Jesus gelei - op die aarde, sowel as in die hemel. Van hierdie oomblik af, was hy verbied om die mens by God te kon aankla, omdat die mens nou ‘n beter verteenwoordiger in die hemel het - Jesus Christus, die God-mens Verlosser en nuwe Hoëpriester, wat deur God self aangestel is.

Openb 12:12    

“Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon;  wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

Satan en sy bose engele is uit die teenwoordigheid van God in die hemel, uitgewerp na die aarde toe. Op die aarde kan hy sy stryd van dwaling voortsit tot en met die finale oordeel op sonde.

 

Gaan na die volgende studie:  SATAN SE AANSLAG OP DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK

bottom of page