top of page

AFVALLIGHEID VAN OU ISRAEL

Matt 15:8,9    

“Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle my deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
 
Satan het die volk subtiel mislei om hul eie idees tussen die waarhede van God in te weef. Hierdie tradisies en oorleweringe van die ou mense het later die plek van God se suiwere waarhede ingeneem. Die volk het nie meer gewag vir ‘n Verlosser wat hulle van die mag van die sonde sou verlos nie, maar een wat hulle van die Romeinse juk sou verlos en hul aansien voor die nasies sou verbeter.

Joh 1:9-11    

“Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.  Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.  Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Toe Jesus in die wêreld ingekom het, as baba en as Messias na sy doop, het sy eie mense Hom verwerp. Die grootste verwerping deur die volk, het van die kant van die godsdienstige leiers gekom. Diegene wat die fakkel van die waarheid, soos in die verlossingsplan gesimboliseer, moes uitdra, het die volk van Jesus probeer wegtrek.

Matt 23:37,38    

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie!  Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”

Deur die misleiding van hul eie mensgemaakte wette en tradisies, het die Joodse leiers nie die ware Lam van God erken en aan die mensdom voorgehou as die Een wat hulle van die sonde sou verlos nie.

Met baie sterk woorde het Jesus dit duidelik gestel, dat God hulle as die draers van die waarheidsfakkel verwerp, omdat hulle diegene wat waarheid verkondig - die profete en Homself - verwerp het en selfs doodmaak.
 
Die volk van Juda het die beloofde Messias verwerp deur die keiser in die plek van Jesus te kies, en Hom te kruisig. So het hulle die verbond verbreek (Joh 19:14-16: "En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei."). Jesus se bediening het slegs vir 3½, van die 7 jaar geduur, waarin die Messias ‘n sterk verbond met die volk sou sluit. Vir ‘n verdere 3½ jaar was daar grasie aan die Joodse volk toegestaan (Sien die 70-weke profesie van Dan 9:24-27). Maar met die steniging van Stefanus in 34 nC., 3½ jaar later, het die Joodse volk vir Christus finaal verwerp en die verbond onherroeplik vernietig. Hulle wat moes dien as getuies van die Lig, is nou deur God as sý uitverkore volk onder die volke, verwerp.

Aan Daniël is getoon dat Juda die Messias sou verwerp en die verbond met God nietig sou verklaar. In 70 nC. het Rome die stad Jerusalem en die Tempel verwoes. Sedertdien is daar oorloë wat sal aanhou tot die einde toe, net soos Daniël voorspel het (Dan 9:26,27).

2.  ISRAEL VAN DIE NUWE TESTAMENT

Nadat die volk van Israel vir Jesus Christus verwerp het as hul Verlosser wat sou kom, sou die goeie nuus van redding na die heidennasies geneem word. Hiervoor het Jesus alreeds twaalf manne uitgekies om die Kerk van die NT se grondslag te lê.

1 Joh 1:1-7    

“Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe - en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is - wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.  En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.  En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel, soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
 
Hierdie manne (apostels) was almal lewende getuies van die Verlosser wat gekom het. Aan hulle is die opdrag gegee om die lig van God se waarheid aan alle nasies uit te dra, sodat almal wat sou glo in die Naam van Jesus Christus deel van die nageslag van Abraham, geestelike Israel, sou word (Gal 3:16; Rom 4:16; 9:3,8).

Gal 3:26-29    

“Want julle almal is kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Volgens Paulus is die Christen die “Israel van God” (Rom 6:16), hy wat die “besnydenis” van die hart ondervind het (Fil 3:3). Die koninkryk van God en die beloftes van die verbond, is van die Joodse volk weggeneem en oorgedra na ‘n nuwe volk, “geestelike Israel.”

Matt 21:43-45    

“Daarom sê Ek vir julle: die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n ander volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.  En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.  En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.”

“Jesus het die 12 dissipels nie toevallig gekies nie. Net soos die 12 aartsvaders die grondslag van ou Israel was, so sou die 12 dissipels (Apostels) die grondslag van die nuwe “geestelike Israel” vorm, aan wie die Here die Koninkryk belowe het (Matt 19:28; Luk 22:30).”
 
“Die gevolglike keuse van nog 70 ander, is geskoei op die keuse van 70 oudstes deur Moses vir ou Israel. Die ware Israel is ‘n oorblyfsel deur genade verkry. Daar is ‘n wonderlike kontinuïteit tussen die ou en die nuwe Israel van God. In Rom 11:17-24, verwys Paulus na die Olyfboom wat Israel verteenwoordig. Die takke (Jode) was afgekap weens ongeloof en wilde olyftakke (Heidene) was deur geloof ingeënt om te deel in die lewenssap van Israel se verlossingswaarhede. Die natuurlike takke kan weer terug ingeënt word, indien hulle die voorwaardes aanvaar, wat God in die eerste plek daar gestel het. God is nie ‘n aannemer van nasies of individue nie. Almal wat na Hom toe kom deur geloof in Jesus, sal aanvaar word (Hand 10:34,35).” Walter J. Veith, Truth Matters, Boek 2, Amazing Discoveries Foundation, Delta, Kanada, 1997, bl. 308 - 310.

1Pet 2:9        

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”

Die nuwe “Israel” (hulle wat Jesus deur die geloof aanvaar as hul Verlosser) word die erfgename van die Verbond en sy beloftes. Hulle word die uitverkore geslag, hulle word die koninklike priesterdom en die nuwe heilige volk. Aan die nuwe Israel word dieselfde opdrag as aan ou Israel gegee.

Efe 3:3,5,6,8,10,11    

“Dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid... wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie. ...Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, ...sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here.”
 
Die nuwe Israel (Kerk van die NT) sou van nou af bestaan uit Jode en Heidene wat Jesus aanvaar het as hul Verlosser, wat beloof is. God begeer om sondaars vergifnis van sonde te skenk en die kerk (die nuwe geestelike Israel) het die voorreg om die boodskap in sy skoonheid, reinheid en waarheid, aan die wêreld te bring.

AFVALLIGHEID VAN NUWE ISRAEL
(DIE KERK VAN DIE MIDDELEEUE)


Hand 20:29,30

“Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.  Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”

God het alreeds vooruit gesien dat afvalligheid in die Nuwe Testamentiese kerk sou intree. Om die rede het Hy die vroeë Christelike kerk gewaaarsku deur die apostel Paulus.

2 Thes 2:1-4    

“Maar ons vra julle broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie - deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees - asof die dag van Christus al daar is.   Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”

Paulus maak dit duidelik dat daar sommiges is wat nou alreeds die gemeentes op hol het met stories. Hy wys hulle egter daarop dat die Antichris eers moet verskyn en die troon van God op aarde moet bestyg en voorgee om God te wees.
 
Uit die boeke van Daniël en Openbaring is dit duidelik dat geestelike verval stelselmatig in die kerk ingetree het. Van die leiers in die gemeentes het hulself verhef en probeer baas speel oor die kudde van Jesus (1 Pet 5:2,3). Die Antichris het op die toneel verskyn in 538 nC. en sou vir 1260 jaar lank die heerskappy oor die kerk voer. (Sien lesings “Die Antichris van Openbaring ontmasker” en “Die Dier met die sewe koppe en die tien horings.”) Maar selfs gedurende dié tyd sou God ‘n oorblyfsel in die lewe oorhou, wat die suiwer waarhede van God deur al die eeue sou bewaar.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE VROU BEKLEED MET DIE SON

bottom of page