top of page

SATAN SE AANSLAG OP DIE KERK ONDER DIE NUWE TESTAMENTIESE BEDELING
 
Openb 12:13    

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het.”

Vanaf die tyd van keiser Nero tot keiser Deocletianus het die Romeinse Ryk die Christelike Kerk wreed vervolg. Gedurende dié tydperk van 250 jaar, het Heidense Rome meer as 3,000,000 Christene om die lewe gebring, maar die kerk van Jesus het steeds gegroei.

Satan sou egter sy taktiek verander. Met die bekering van keiser Konstantyn, sou hy die kerk binnedring met afvallige leringe en gebruike. Die kerk was skielik mode en duisende heidene het met hul heidense idees, die kerk onbekeerd ingestroom. Dit was 'n groter terugslag vir die kerk, as die vervolging wat sy moes verduur. Waarheid wat die lig vir die nasies moes wees, is vervang met dwaalleer en valsheid, wat die wêreld se volke in duisternis gehul het.

Openb 12:6,14    

“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank. ...maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.”

Die wêreldheerskappy van die Pouse, wat Tradisie bokant die Woord verkies het, sou vir 1260 jaar, vanaf 538 tot 1798 nC. regeer (1260 profetiese dae, Tyd, Tye en ½Tyd, 42 maande). Die tyd vir die antichris wat “in die plek van God as God sal sit,” waarvan Paulus gepraat het, het aangebreek.

Gedurende die vroeë Christelike era, onder die invloed van keiser Konstantyn en die geestelike leiers, veral in Rome, het heidense gebruike stadig maar seker die Christelike kerk binne gekom. Sommige van die gebruike was die verering van dooie heiliges, Sondagsheiliging, die godsdienstige onderhouding van Kersfees (fees ter ere van die geboorte van Tammus die songod) en Paasfees (heidense vrugbaarheidsfees), selibasie vir die priesterdom (priesters en nonne mag nie trou nie), kinderbesprinkeling, die onsterflikheid van die siel, die aanbidding van beelde, aansteek van kerse gedurende aanbidding, biegstoel, leringe van die vagevuur en aflaatbriewe (afkoop van sondes) ens. Soos voorspel, het die Christelike kerk haar suiwerheid van Bybelse leringe ingeboet vir valse menslike tradisies en oorleweringe. Met Satan se kern van gesag en dwaalleer gesetel in Rome, het dit die naam van die Rooms-Katolieke kerk aangeneem.

Maar God sou weer ‘n oorblyfsel in die lewe hou. Gedurende hierdie tydperk van afvalligheid het verskeie kleinerige groepe gelowige en getroue Christene die Woord van God bo Tradisies en Leringe van mense verkies. Afgeleë plekke soos berge, valleie en woestyne sou hul tuiste wees gedurende die 1260 jaar van vervolging. Die Antichris van die middeleeue (Pousdom) kon die lig van waarheid nie uitblus deur haar haatlike vervolging nie.
 
"God is nooit uit die geskiedenis afwesig nie.... Selfs in hierdie middernagtelike duisternis het die sterre geblink aan die hemelruim; en selfs toe, net soos in die tyd van Elia die profeet, was daar duisende wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie." Phillip Schaff, History of the Christian Church, Vol 4, bl 281.

 

Groepe soos die Hussiete, Albigense, Waldense, ens. is vervolg vir hulle geloof in die Woord van God as hul enigste gesag.

Terwyl geestelike Israel besig was om die lig van die waarheid in die geheim uit te dra na die nasies toe, het die afvallige kerk (Babilon van Openb 17), die nasies met haar valse leringe besoedel. Terwyl God se kerk beklee was met die son, (die geregtigheid van Christus) is die onrein vrou, ‘n hoer, beklee met rooi en purper en versier met allerhande versierings, alles tekens van haar eie metodes om aanvaarding by die mense te verkry. Sy verwag nie ‘n Verlosser van die sonde nie, maar deur hoerery en mooi versierings verlei sy die wêreld met haar verloklike en uitspattige voorkoms en haar interessante dwaalleringe. Daar is en sal altyd ‘n duidelike verskil tussen die twee vroue wees.

"Deur middel van die Waldensiese Kerk wat sedert die vyfde eeu, om nie eens te praat van 'n vroeëre oorsprong nie [derde en vierde eeu), bestaan waar dit nou nog bestaan,... word ons verbind met die REINHEID VAN DIE OORSPRONKLIKE KERK." (George Farber, An Inquiry into the History & Theology of the Ancient Valdenses & Albigenses, bl 593, 594).

“Terwyl die Roomse [Kerk] die Wet van God gewysig en verbreek het, het die Waldensiërs die GEBOOIE VAN GOD gehou." "...omdat hulle op die SEWENDE DAG aanbid het, was hulle uitgeskel vir Jode, net soos daar met die Sabbatariërs dikwels gedoen word." General History of the Baptist Denomination, Vol 2, bl 414.

'Hulle het ook die GELOOF IN JESUS gehad. Lodewyk XII het 'n Komissie van Ondersoek gelas op sekere aanklagte teen die Waldensiërs en hulle verslag het as volg gelui:' "In teenstelling, hulle hou Saterdag as Sabbat, bedien die sakrament van die doop soos die vroeë Christene [onderdompeling] en leer hulle kinders die Christelike geloof en die gebooie van God." William Jones, History of the Christian Church, Vol II, bl 71,72.

Hierdie Christene word deur Openb 12 gesimboliseer as die vrou (kerk) wat na die woestyn moes vlug. Selfs in die donkerste ure van die menslike geskiedenis was die lig van waarheid, soos aan die kerk van die apostoliese tydperk oorgedra, nie uitgedoof nie. Hierdie gelowiges het vas bly staan op die grondslag van “die gebooie van God en die geloof in Jesus” (Openb12:17).
 
Openb 12:15,16    

“En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.  En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk wat die draak uit sy bek uitgegooi het.”

Water soos ‘n rivier - die is nie ‘n verwysing na die “see” van volke en menigtes en nasies en tale nie, maar na die bronne van ware opvoeding en die suiwere leer soos dit vanuit die Bybelse geskrifte tot ons kom (Ps 36:9; Jer 2:13; Joh 4:10,14). Maar dié keer kom die rivier uit die mond van die Draak. Deur valse teorieë van ewolusie, ateïsme, humanisme en menslike wetenskappe wat gedurende die 1600's tot die laat 1800's ontstaan het, en steeds bestaan, probeer Satan om die mens se vastigheid in die woord van God en die waarhede wat dit openbaar, te vernietig.

Maar sedert die laat 1800's, het die aarde, deur veral argeologie, en ander ontdekkings, die vrou te hulp gesnel en letterlik die een bewys na die ander geopenbaar, wat die gesag van die Bybel erken.

GEESTELIKE ISRAEL SE GELEIDELIKE HERSTEL

God sou ook ‘n Hervormingsbeweging in die lewe roep in die vorm van die Protestantse prinse van Duitsland, wat Martin Luther en andere met hul studie van die Skrif gedurende die Hervorming sou ondersteun. Luther het die woorde van Paulus ontdek wat sê: “die regverdige sal deur die geloof lewe” en tot die gevolgtrekking gekom dat aflate, gebede tot dooie heiliges, die biegstoel, die misoffer en Maria, nie die mens kan red nie. Skokgolwe het deur die kerk van Rome getrek.
 
Luther stig die eerste Protestantse kerk, wat die Lutherse kerk genoem word en hul leuse was “geloof in Jesus alleen.” In Skotland sou die Presbiteriaanse Kerk tot stand kom en in Duitsland, die Calviniste onder Calvyn, ‘n wetgeleerde wat sy bekende “Institute” geskryf het om orde in die chaos van die losse Hervormingsbeweging te bring. Hieruit sou voortvloei, die Nederlandse Hervormde Kerke. Al hierdie kerke was in beginsel dieselfde - want almal het gestaan op die Bybel as hulle hoogste gesag en het “geloof in Jesus alleen,” gepredik. Dit was gedurende hierdie tydperk dat die kerk in Engeland onder koning Hendrik VIII, van die Roomse Kerk weggebreek het, want hulle het die pous nie meer erken as die hoof van die Christelike kerk nie, maar Christus, as die enigste Hoof volgens die Skrifte, aanvaar.

Maar ‘n tragiese ding sou gebeur. Soos die leiers van die Hervorming sou uitsterf, het hul navolgers begin om dogmas (vasomlynde leerstuk waaroor nie meer geredeneer word nie) neer te lê, sonder om met hervorming voort te gaan en te bou op dit waar hulle vorgangers opgehou het. Maar God sou die Hervorming deur Sy Gees laat voortleef.

Deur die werking van die Metodiste Kerk onder veral die Wesley-broers het God die klem laat val op die belangrikheid van ‘n heilige lewe en karakter. ‘n Hoë standaard was gehandhaaf, sodat selfs dansery en juweliersware (‘n verwysing na die kleredrag van die vrou van Openb 17) verbied was. God was begerig dat nog waarhede ontdek moes word.

Joh 16:13    

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Die Heilige Gees word nie verniet die Gees van die waarheid genoem nie. Soos Jesus gekom het om te getuig vir die waarheid, so doen die Heilige Gees ook. Dit is Sy werk om aan elke wedergebore kind van Jesus waarhede te openbaar, wat ons nader aan Jesus en sy karakter van waarheid te bring. Paulus stel dit so:

Efe 4:13-15    

“Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus.”
 
Toe God nog ‘n nuwe lering tot die Hervormingsbeweging wou byvoeg, naamlik die doop deur onderdompeling, wou die gevestigde kerke dit nie aanvaar nie en moes Hy nog ‘n hervormingsbeweging in die lewe roep. So het die Baptiste Kerk ontstaan.

Hierdie denominasies was almal deel van die Groot Hervorming gedurende die begin van die 16de eeu en later. Elke denominasie het ons verder en verder van die Afvalligheid gelei, maar dit was nie ver genoeg nie. Let op die advies wat dr. John Robberts aan die Pelgrimvaders gegee het met hul vertrek na die Amerikas met die Mayflower:

“Die Here weet of ek julle gesigte ooit weer sal sien. Maar of die Here dit sal toelaat of nie, ek beveel julle voor God en sy heilige engele, om my nie verder te volg as wat ek Jesus gevolg het nie. Indien enigiets aan julle geopenbaar word deur ‘n ander instrument (leier of prediker) van Hom, wees so gereed soos julle gereed was om enige waarheid deur my bediening te aanvaar. Want ek is versekerd dat die Here nog meer lig en waarheid het om aan ons deur sy woord te openbaar. Van my kant af, ek kan die toestand van die gereformeerde kerke nie genoeg betreur nie, wat in ‘n periode van die godsdiens gekom het, en nie verder wil gaan as die instrument van hulle Hervorming nie. Die Lutherane kan nie getrek word om enigsins verder te gaan as wat Martin Luther gesien het nie; en die Calviniste, sien julle, staan vas waar hulle agtergelaat was deur daardie groot man van God [Calvyn], wat ook nie alles gesien het nie. Dit is ‘n vreeslike jammerte wat betreur moet word, want alhoewel hulle helder en blink ligte in hulle tyd was, het hulle nie in die hele raad van God ingedelf nie. Maar, sou hulle nou geleef het, sou hulle net so gewillig gewees om nuwe lig te aanvaar, soos dié wat hulle eerste aangehang het.” ‘n Lesing deur Athol Tolhurst, Why are there so many Churches, bl. 5.

DIE OORBLYFSEL VAN DIE VROU IN DIE WOESTYN (DIE GROOT ADVENT BEWEGING)

Openb 12:17a    

“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge...”
 
Die kerk van God wat vir 1260 jaar in die woestyn was, het nou in die openbaar verskyn. Satan sou weer 'n aanslag loods, dié keer teen die res van haar nakomelinge (Grieks: "spermaton," letterlik haar "saad" of "oorblyfsel"). ‘n Oorblyfsel is die laaste deel wat oorgebly het en al die eienskappe van die oorspronklike kerk van God bevat.

"Die kerk in die woestyn is die skakel tussen die Apostoliese Christendom en God se volk van vandag." B. C. Wilkenson, Truth Triumphant, bl 9.

Na die 1260 jaar van Pouslike heerskappy verstreke was (1798 nC., soos beskryf in Openb 13:1-10), sou die "saad" of "oorblyfsel" van die ware kerk op die toneel verskyn, m.a.w. ná 1798 nC.

Die Hervormingsbeweging was nog nie voltooi nie, alhoewel baie waarhede alreeds tot hul regmatige plek herstel was. Maar nog meer moes volg. Die tydperk van die langste profesie in die Bybel, die 2300 Jaar Profesie, was so te sê, verstreke en die groot oordeelswerk in die hemel sou in 1844 ‘n aanvang neem. Daarmee saam wil God die wêreld se gewete opwek deur die nabyheid van sy wederkoms, wat direk na die hemelse oordeel sal plaasvind. God sou die hele godsdienstige wêreld in oproer bring deur die magtige "Advent" beweging (Advent: Soekend en wagtend op die wederkoms van Christus) van die 1800's tot die 1850's. Regoor die wêreld het predikers spontaan begin om die profesieë van Daniël en Openbaring te bestudeer.

Die tema van hulle prediking was die wederkoms van Jesus, vanuit die profesieë van die boek van Daniël. Hierdie hele beweging word in Openb 10 beskryf deur die ondervinding van Johannes en die Engel met die geopende boekie (Daniël) in sy hand. Deur hulle getuienis het duisende mense hulle tot God bekeer. Maar terwyl hulle die wederkoms van Jesus gepredik het, het hulle nie al die waarhede ontdek nie. Vir hulle was die wederkoms, alles oorheersend en dit sou lei tot die bitter teleurstelling van 1844, toe Jesus nie gekom het nie. Hulle het steeds aan sekere onbybelse leringe vasgehou, soos: Sondagsheiliging, die onsterflikheid van die siel en die ewigbrandende hel. Uiteindelik het die magtige beweging, saamgevoeg uit al die denominasies wat Christelike Kerk verteenwoordig het, uiteengespat en kleiner kerke gevorm, waarvan die meeste nie meer bestaan nie.

Openb 10:11    

“En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”
 
God se opdrag was nog nie voltooi nie en die leringe wat deur die vroeë apostels en Jesus verkondig het was nog nie herstel nie. Uit hierdie Adventbeweging wat deur Johannes voorgestel was, sou nog ‘n beweging kom wat nie net al die Bybelse leringe van die vorige denominasies sou bevat nie, maar ook die andere wat God aan die wêreld wou openbaar.

Openb 12:17    

“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Ons aandag word weereens gevestig op twee baie belangrike kenmerke van God se oorblyfselkerk - hulle “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.

Gebooie van God - Die Klein Horinkie het God se wet gewysig en vertrap en die hele wêreld geleer om dieselfde te doen. Die gevestigde kerke het nog almal aan Sondagsheiliging vasgehou, wat hulle met die afvalligheid van Rome verbind het. Om die rede het God ‘n beweging in die lewe geroep wat die gebooie van God voor die wêreld sou verhoog en so die Skepper verheerlik. Gehoorsaamheid aan Jesus se gebooie dien as teken dat ons Hóm liefhet wat vir ons aan die kruis gesterf het (Joh 15:9,10; 1 Joh 3:21-24).

Getuienis van Jesus - Hierdie laaste beweging sal hul geloof in Jesus as Verlosser bo enigiets anders in hulle lewe stel (Openb 12:11; 14:12). Dit beteken dat hulle die profetiese gawe in hulle midde sal hê (Openb 19:10). Hierdie insig van die profesieë sal nodig wees om hulle deur die komende krisis teen die draak te help.

 

Gaan na die volgende studie:  KENMERKE VAN GOD SE OORBLYFSELKERK AAN DIE EINDE VAN TYD

bottom of page