top of page

KENMERKE VAN GOD SE OORBLYFSELKERK AAN DIE EINDE VAN TYD

Openb 12:17    

“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Let wel, hierdie is God se laaste kerk op aarde, want dit is die "oorblyfsel" van haar saad. Dit is die laaste verteenwoordiging van Jesus se volk, aan die einde van die wêreld se geskiedenis, voor sy koms.
 
Vir Satan om die oorblyfsel van God se ware kerk te vervolg, beteken dat die kerk dieselfde eienskappe moet hê as die vroeë Christelike kerk van die apostels en die kerk wat tydens Pouslike heerskappy, "ondergronds" moes gaan. Dit is ook die oorblyfsel wat na 1798 nC. op die toneel moes verskyn, aan die einde van die Pousdom se heerskappy oor die Christelike Kerk. Dit is ook die oorblyfsel van die groot Adventbeweging van die 1800's tot 1850's. Profesie maak dit baie duidelik dat die Beweging ‘n wêreldwye beweging sal wees, omdat dit weer moes profeteer tot baie nasies, volke stamme, tale en konings. Wie is die "oorblyfsel" waarvan die profesie praat? Kan ons God se laaste kerk op aarde uitken en wat is haar eienskappe?

Hierdie beweging is deel van God se finale herstel van sy kerk op aarde, want solank die gebooie van God nie hul regmatige plek in die Christelike Kerk het nie, is die Hervorming wat met Martin Luther begin het, onvoltooid.

 

Hierdie beweging het hulleself die Sewendedag-Adventistekerk begin noem en in 1856 nC. die lig gesien. Hier is ‘n beweging wat glo in die Bybel alleen as die enigste gesag en bron van geestelike Waarheid. Soos die vroeë Hervormers leer hulle ook dat verlossing deur die geloof in Jesus alleen te kry is. Soos die Metodiste leer hulle dat heiligheid van die lewe belangrik is en dat die sondige plesiere van die wêreld vermy moet word. Terselfdertyd staan hulle op ‘n goed georganiseerde Kerkstruktuur. Soos die Baptiste leer hulle die doop deur onderdompeling in die lewe van die volwassene. Soos die vroeë Adventiste glo hulle ook in die spoedige wederkoms van Jesus op die wolke.

Maar hulle het vier stappe verder gegaan! Hulle het die Sewendedag sabbat (Saterdag) waarvan die Bybel getuig, aanvaar en deur die genade van God begeer hulle om dit te onderhou as ‘n teken van hul lojaliteit aan Jesus, die Here van die Sabbat. Daarmee saam verwerp hulle die onbybelse leer van die onsterflikheid van die siel en die ewigbrandende hel. Laastens erken hulle die tweede fase van Jesus se hemelse bediening soos gesien in die hemelse oordeel wat nou aan die gang is.
 
Elkeen van die Hervormingsbewegings het sy plek gehad in die plan van God en kon daardie plek behou het, as dit nie was vir hulle onwilligheid om voort te gaan met die progressiewe aard van God se openbaring nie. Die hoof rede waarom daar so baie kerke is, is nie omdat die Bybel vaag is en ruimte laat vir baie verskillende interpretasies nie - dit is beslis onwaar - maar die rede is omdat die mens weier om die eenvoudige waarhede soos God dit in sy woord openbaar, te aanvaar.

Joh 12:35    

En Jesus sê vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is die lig by julle.  Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie...”

Indien ons die waarskuwing van Jesus nie ernstig opneem nie, sal die tyd ook kom dat ons in die duisternis van Babilon se valse leringe ingesluk gaan word. Om hierdie rede sou God se hervormingswerk voortgaan tot daar aan die einde van die wêreld se geskiedenis ‘n beweging sou wees wat al die geopenbaarde Bybelwaarhede in een liggaam sal akkommodeer, tot getuienis vir al die nasies.

VEREISTES VIR GOD SE OORBLYFSELKERK VOLGENS DIE PROFESIEË VAN OPENBARING

1.    [1] Hierdie "oorblyfsel" is God se volk wat gehoor sou gee aan die roepstem: "Kom uit haar uit, My Volk! (Openb 18:14) Hulle sal hulle afgeskei van Babilon met haar vermengde godsdienste en leringe van Spiritisme, Katolisisme en Afvallige Protestantisme. [2] Dit sou dus verskyn ná 1798 en sou [3] baie klein wees in vergelyking met die ledetal van Babilon. (Deut 7:7; Matt 7:13-14; Luk 12:32; Openb 12:17)

2.    Hierdie "oorblyfsel" [4] onderhou die gebooie van God, al tien! insluitende die vierde gebod, die sewendedag Sabbat (Saterdag), die Seël van die Skepper. Hulle onderhouding van die gebooie van God, spruit uit hul liefde vir Jesus, hulle Verlosser wat Self gesê het: "As julle My liefhet, bewaar My gebooie" (Joh 14:15). Dit word nie  beskou as ‘n middel om verlossing te verkry nie. Verlossing is slegs deur genade en die geloof in Jesus se bloed (Openb 12:11).

3.    Hierdie "oorblyfsel" [5] hou vas aan die geloof in Jesus as hul enigste Verlosser en Regverdigmaker en erken Hom as die Basis van hulle geloof. (Openb 14:12; Efe 2:8-10,19,20)
 
4.    Hierdie "oorblyfsel" hou vas aan die "getuienis van Jesus," wat [6] die "gees van die Profesie" is. Dit beteken dat dié kerk die profesieë van die Bybel ondersoek en glo wat Jesus vir hulle daarin openbaar. [7] Dit beteken ook dat hulle deur 'n profeet gelei sal word om die waarhede in Gods Woord te gehoorsaam en nie in afvallige Babilon se leringe te deel nie. (Openb 12:17, 19:10; 2 Kron 20:20; Spr 29:18; Efe 4:11-16)

5.    Hierdie "oorblyfsel" [8] sal God se laaste waarskuwingsboodskap aan die wêreld verkondig, soos vervat in die drie-engele boodskappe van Openb 14 - [9] (1a.) die Ewige Evangelie van Verlossing in Jesus alleen, [10] (1b.) die Hemelse Oordeel wat nou aan die gang is en deur die Tweede Fase van Jesus se hemelse bediening in die hemelse heiligdom gesimboliseer word, wat ook [11] die Wederkoms van Jesus insluit (en vooraf gaan) en [12] (1c.) sal die mens terugroep tot Skepper-aanbidding. [13] (2) Dit moet die wêreld waarsku dat Babilon geval het weens die valse leringe wat dit aan die wêreld verkondig. Die oorblyfsel moet God se volk roep om uit Babilon uit te kom en [14] deur die onderdompelingsdoop by God se beweging aan te sluit. [15] (3) Dit moet die mensdom waarsku teen die merkteken van die dier - die Christelike Sondag. [16] Die oorblyfsel kom te voorskyn uit die Tweede Adventbeweging van 1844 en [17] is sending gerig (Hebr 10:10-13; Openb 10:11; 14:6-12; 18:4; 22:10,12).

6.    Hierdie "oorblyfsel" sal [18] deur die meerderheid in die wêreld, gespot, gehaat en as 'n sekte beskou word, omdat dit aan [19] die Bybel as hul enigste Gids van waarheid, vashou en nie met die gevestigde kerke wil verenig in hul strewe om eenheid met die Pousdom nie.

GOD SE LAASTE KERK GEÏDENTIFISEER

Is die Sewendedag-Adventistekerk die enigste Kerkgenootskap of Sendingbeweging wat as die "oorblyfsel" van God se ware kerk volgens die profesie van Openbaring beskou kan word? Dit vervul al 19 vereistes soos dit in die profesieë van Openbaring beskryf word.

DIE SEWENDEDAG-ADVENTISTEKERK

[1]    bestaan uit mense van alle stamme, tale, volke en nasies wat gehoor gee aan God se oproep: "Kom uit haar uit, my Volk!"
[2]    verskyn in profesie ná 1798 en word 'n organisasie in 1863,
[3]    bestaan uit 'n oorblyfsel (19 milj) gereken teenoor Babilon se ± 7 biljoen mense,
[4]    erken en onderhou die Sabbat (Saterdag) as teken dat hulle die Skepper-God aanbid en Hom liefhet,
[5]    glo in Jesus as hul enigste Verlosser en Regverdigmaker van Sonde,
[6]    bestudeer die profesieë van die Bybel ten diepste en hou onwrikbaar vas aan die beloftes van Jesus, soos in die profesieë vervat,
[7]    beskik oor die werke van 'n profeet - E. G. White, wat hul telkens terugwys na die ondersoek van die Heilige Skrifte, vir waarheid,
[8]    verkondig God se 3-engele boodskappe aan die hele Wêreld, soos vervat in Openb 14:6-12,
[9]    verkondig die Ewige Evangelie van verlossing soos dit in die lewe, dood, opstanding en bediening van Jesus Christus vervat is,
[10]    erken en verkondig Jesus se 2de Fase van Sy hemelse bediening, die Ondersoekende oordeel ("die uur van Sy oordeel het gekom"),
[11]    verkondig die spoedige wederkoms van Jesus, letterlik, hoorbaar, sienbaar, komende met Sy magtige engele as getuies,
[12]    glo dat God die hemel en die aarde geskape het, en aktief in sy skepping betrokke is, erken daarmee saam dat die eerste 11 hoofstukke van die Bybel ‘n egte en ware weergawe is van die skepping, sondeval en uiteindelike Sondvloed wat daarop gevolg het,
[13]    wys op die valse leringe van Babilon, deur die profesieë van die Bybel en openbaar die Bybelse leringe aan die mensdom,
[14]    erken die eenmalige onderdompelingsdoop wat dien as simbool van Jesus se eenmalige sterwe en opstanding en waardeur lidmaatskap tot God se kerk verkry word,
[15]    erken die Christelike Sondag as die merkteken van Pouslike gesag, wat deur toekomstige wetgewing bindend op die gewete sal wees, en as die “Merkteken van die Dier,” bekend sal staan,
[16]    dit is die oorblyfsel van die Tweede Adventbeweging wat in 1856 die naam Sewendedag-Adventiste aangeneem het en wat al die Bybelse leringe van die gevestigde kerke insluit,
[17]    is die grootste Protestantse Sendingbeweging wat wêreldwyd die evangelie aan alle volke, menigtes, nasies en tale verkondig,
[18]    word deur Satan aan die mense voorgehou as 'n sekte omdat dit glo in die sewendedag Sabbat i.p.v. die Christelike Sondag, al erken hulle dat hulle slegs uit genade en deur die geloof in Jesus as hul enigste Verlosser van die Sonde, gered kan word.
[19]    glo in die Bybel as hul enigste gesag van waarheid en enigste Geloofsbelydenis, en kan daarom nie weens sosiale en gemeenskaplike probleme in die wêreld, met ander kerke in ‘n ekumeniese eenheid saamsmelt nie - veral nie met die Pousdom wat God se woord ondergeskik aan menslike tradisie stel nie.
 
IS DIEGENE IN ANDER KERKE VERLORE?

Ons moet erken dat God vandag baie getroue kinders in ander Christelike kerke het. Selfs toe Jesus sy Kerk op aarde gestig het, was dit ook so. God se wil word geopenbaar in sy woord.

Hebr 4:12,13    

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagte van die hart.  En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”

Laat God toe om self te oordeel volgens sy geopenbaarde wil. God kommunikeer sy wil tot ons deur sy Woord van Waarheid. Dit is die enigste stem van gesag, wat ons by die ware weg sal uitbring.

Joh 10:14,16    

“Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken...  Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie kraal behoort nie.  Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”

God se volk is versprei oor die hele aarde. As die goeie herder sal Jesus elkeen wat na sy stem luister, rig, lei en roep tot een kudde van Goddelike waarheid, nie deur ekumenisme, nie. Ek dank God dat ek sy roepstem gehoor het en daarop gereageer het. Ek vertrou dat u sal aanhou om deur sy Gees (van waarheid) en sy Woord (van waarheid) gelei te word om te kom tot die Weg van alle waarheid (Joh 14:6; 18:37; 16:13; 17:17).


Openb 19:7,8    

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”
 
Die tema van Openbaring, naamlik die wederkoms, moet nooit uit die oog verloor word nie. Die bruilof is hier! Die kerk, die bruid van Jesus, het (verlede tyd!) haar gereed gemaak. Elke gelowige kind van God moet vóór die wederkoms sy bruilofskleed aan hê. Om bekleed te wees met die kleed van die geregtigheid van Christus, in waarheid en heiligheid, is om gehoorsaam en gereed te wees. Ons móét dit aantrek, want iemand sonder die bruilofskleed sal nie kan deel in die bruilofsfees nie (Matt 22:11,12).

Openb 22:17    

“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet”

Hierdie is die laaste uitnodiging in die boek van Openbaring. Die Gees van die waarheid (Joh 16:13) en die kerk van die waarheid, nooi u uit om van die suiwer water van die lewe te drink. Dit is verniet en kan nie gekoop word nie. Jesus het alreeds daarvoor betaal.

 

WIL U GRAAG VAN DIE WATER VAN DIE LEWE DRINK?


God roep sy volk om uit die verwarring van Babilon te kom en by sy sigbare oorblyfselkerk op aarde aan te sluit - hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.

 

WIL U GRAAG DEEL WEES VAN GOD SE LAASTE KERK OP AARDE?


Om deel te wees van God se laaste kerk, vereis dat u gedoop moet word deur onderdompeling, soos wat Jesus dit in sy woord aan ons voorskryf.

 

IS U BEREID OM DEUR ONDERDOMPELING GEDOOP TE WORD?


God was en is nog altyd bereid om enige mens wat wil, op die pad van waarheid te lei.

 

IS DIT U BEGEERTE DAT JESUS U STEEDS LEI OP DIE WEG VAN HEILIGMAKING DEUR SY GEES EN SY WOORD?

 

Gaan na die volgende afdeling:  30. Tot Hiertoe het die Here ons gelei

bottom of page