top of page

No. 1 - DIE BRIEF AAN EFESE
(Tydperk van die apostels)


Betekenis:

"begeerlik," ideaal," of "gewenste."

Agtergrond:    
Efese was die mees gesogte stad in Klein Asië.  Dit is gebou in 1100 vC.

Godsdiens:    
Die stad was versier deur manjifieke tempels, waarvan die tempel van Diana (Latyn) of Artemis (Grieks) regoor die antieke wêreld bekend was. Sy was aanbid as die "moeder van God" en die "Godin van Verlossing, en was voorgestel as 'n vrou met baie borste (vrugbaarheid) met 'n baba in haar arms.

Paulus het probleme met die aanbidders van Diana gehad (Hand 19:23-28). Tydens die Konsilie van Efese (431 nC.) het die Kerk die titels van die heidense godin, Diana, oorgedra na Maria, die moeder van Jesus, as "Moeder van God" en heelwat later as "koningin van Genade." Heidense rites, vermeng met ware aanbidding sou die Christelike Kerk besoedel wat aanleiding gegee het tot baie valse leringe wat selfs vandag nog in sekere Christelike Kerke gehuldig word.

Tydperk:    
Vanaf 31 nC. tot ±100 n.C. Dit verteenwoordig die Vroeë Christelike Kerk van die Apostels (as ooggetuies van Jesus) en was beskou as suiwer en skoon.
 
Openb 2:1-3    
“Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese:  Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:  Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.”

Teen die einde van die eerste eeu was daar reeds 6 miljoen Christene. Elke Christen het die boodskap van Verlossing met hom saamgedra. Valse leraars was vreesloos in die openbaar teengestaan. Dat Jesus wandel tussen die kerke, gee ons die versekering dat Hy bewus is van alles wat in die gemeentes gebeur.

Openb 2:4,5    
“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.  Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”

Nadat Johannes na die eiland Patmos verban was, het baie Christene hul Eerste Liefde (Jesus) verlaat vir wêreldse plesier. Sonde verlok die siel tot afvalligheid en probeer dit dan in geestelike duisternis hou.
 
Openb 2:6,7    
“Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”
 
Nikolaïte - 'n vroeë Gnostiese sekte wat geglo het in die vryheid van die vlees. Hulle het geleer dat die dade van die vlees geen invloed op die reinheid van die siel het nie en dus nie jou verlossing in gevaar stel nie.  ‘n Moderne weergawe hiervan is die nuwe moraliteit wat in sommige kerke insluip dat ons met ons normale sondige lewe kan voortgaan, solank ons net in Jesus glo.

Ons word egter vermaan om te luister na die Gees van God soos Hy tot ons spreek deur Sy Woord. ELKEEN moet die oorwinning oor sonde behaal, indien hy van die boom van die lewe wil eet.

 

Gaan na die volgende studie: No. 2 - DIE BRIEF AAN SMIRNA

bottom of page