top of page

No. 2 - DIE BRIEF AAN SMIRNA
(Tydperk van Vervolging)

Betekenis:    
"Welriekend," of "lieflike geur." Afkomstig van 'n welriekende gom van 'n Arabiese doringbos (Balsamodendron Myrrha). Hoe meer die plant gekneus was, hoe beter was die aroma wat afgegee is. 'n Balsemsalf vir dooies en 'n spesery (mirre) vir wierook was ook daarvan gemaak.

Agtergrond:    
Die hawestad is gestig ±1100 vC. en is ongeveer 56 km noord van Efese. Dit is die enigste van die 7 stede wat nog sy roem van die antieke tydperk behou het.

Godsdiens:    
Smirna is die geboorteplek van Homer, die bekende Griekse digter van Antieke tye. 'n Anatoliese godin, Samorna was in die stad aanbid. Dit was die tydperk van die Amphiteater en Arena, waarin duisende Christene deur wilde diere verskeur is, as brandende fakkels gedien het, in dromme met kokende olie gegooi is en met swaarde gedood is  Policarp, beroemde biskop van Smirna, en dissipel van Johannes, het in 156 nC. as martelaar op die brandstapel gesterf. By twee ander geleenthede het eers 1500 en later 800 Christene gesterf vir hulle geloof. Die kerk het in die tydperk so naby Jesus geleef, dat Hy geen vermaning aan hulle gegee het nie, slegs woorde van onderskraging.

Tydperk:    
Dit verteenwoordig die Christelike Fase van vervolging en standvastigheid vanaf 100 - 313 nC.

Openb 2:8,9    
“En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna:  Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: Ek ken jou werke en verdrukking en armoede - maar jy is ryk - en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar 'n sinagoge van die Satan.”

Ware rykdom is nie in aardse skatte te vinde nie. Die kerk se rykdom lê in die geregtigheid van Christus wat deur die geloof aanvaar word. Die vroeë Christene was ook beskou as Jode (nageslag van Abraham deur die geloof, Rom. 4). Die Jode het gehelp met die verbranding van Policarp, ‘n aanduiding dat hulle eintlik deur Satan geïnspireer is. Dit kan ook verwys na die Nikolaïte met hul valse leringe wat die Christen vervreem van sy verbondenheid met Christus.   
 
Openb 2:10
“Vrees vir niks wat jy sal ly nie.  Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word;  en julle sal tien dae lank verdrukking hê.  Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
 
Die edik van Diocletianus in 303 nC. bring die bitterste vervolging vir die Christene mee vir 'n tydperk van 10 jaar (Sien Eseg 4:6 vir die jaar-dag beginsel). Tien jaar later, in 313 nC. verkry alle godsdienste gelyke regte met die Edik van Milaan.

Openb 2:11    
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê.  Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”


Almal sterf die Eerste Dood (Hebr 9:27), maar daar is ‘n opstanding uit die eerste dood (1 Kor 15:51-54).  

Die Tweede Dood is die een waarin die goddelose vernietig word met vuur (Openb 21:8). Uit daardie dood vind daar geen opstanding plaas nie.  

Jesus sê dat hy wat die sonde oorwin, nie vir die Tweede (ewige) Dood hoef te vrees nie. Jesus het 'n duurder prys as die brandstapel vir ons betaal. Om die rede maan Hy ons om aan die Heilige Gees gehoorsaam te wees.

 

Gaan na die volgende studie:  No. 3 - DIE BRIEF AAN PERGAMUS

bottom of page