top of page

No. 5 - DIE BRIEF AAN SARDIS
(Tydperk van Hervorming)


Betekenis:    
Die woord "Sardis" beteken "hulle wat ontvlug," of "hulle wat oorbly," en verwys na die groot Hervorming.

Agtergrond:    
Sardis is 80km noord-oos van Smirna geleë en gebou in 700 vC. Geld as ruilmiddel, is in Sardis uitgevind.

Godsdiens:    
'n Pragtige tempel is hier vir die beskermgodin van Sardis, Cybele, gebou. Sy was op dieselfde manier as Diana van die Efesiërs, aanbid. Cybele was voorgestel as 'n primitiewe en gru-figuur met baie borste (vrugbaarheid). Die heerlikheid van Sardis was alreeds aan die kwyn met die skrywe van die brief. Die stad het nog die naam gehad dat dit lewe, maar in werklikheid, was dit alreeds dood.

Tydperk:    
Sardis stel die Hervormingstydperk vanaf 1565 - 1740 nC. voor, waarin Protestante sou afskei van die Pousdom. Die hervormingswerk wat aan die einde van die Thiatire tydperk begin is, het in die Sardis tydperk ‘n hoogtepunt bereik.  In 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge aan die kerk van Wittenberg vasgespyker en die groot Hervorming begin. Hy was opgevolg deur die Sardis hervormers soos Calvyn, John Knox, Zwingli, Cramer, Newton, ens. Met die Bybel in die taal van die publiek, is die suiwere Bybelse waarhede ontdek en oorgedra. Die valse leringe waarmee die Kerk die mensdom verlei het, is blootgelê en die mense het daarteen in opstand gekom. Dit sou bekend staan as “Protestantisme.”
 
Openb. 3:1-3    
“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis:  Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:  Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.  Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie.  Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou;  as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.”

Die Hervorming sou van korte duur wees. Regverdiging deur geloof in Christus roep ons tot ‘n nuwe lewe en nie 'n gewysigde lewe nie. Na die dood van die groot Hervormers, het baie van hul navolgers teruggeval in vormgodsdiens. Soos die Pousdom, tydens die Konsilie van Trent, het die Lutherane hul dogma in ‘n dokument, “Die Boek van Concord,” neergelê. Ander Protestante Bewegings sou ook later hul eie Dogmas formuleer waarin die godsdiens meer in akademiese terme, as in die praktyk uitgedruk sou word.  
 
Met die Verligting in die 1700's “Enlightenment,” (Engels), “Aufklarung” (Duits), het die “intelektueles” die opstanding en wederkoms van Jesus verwerp en Rasionalisme (die Rede) begin aangehang.  Jesus sê dat formele godsdiens waardeloos is. Paulus verwys daarna as “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” (2 Tim 3:5)  

Dieselfde les is vandag nog waar. Ons moet aanhou om God se wil (waarheid) te soek, en te gehoorsaam, want dit verhoed afvalligheid.

Openb 3:4-6    
“Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Elkeen wat wit klere (geregtigheid van Christus) ontvang, kry dit deur geloof as 'n gawe, en nie deur eie persoonlike verdienste nie. Om dié rede word die sondaar wat Jesus as Verlosser erken, deur Hom, voor Sy Vader en Sy engele, as sy navolger en een wat van die sonde verlos is, bely. Daarom moet ons die stem van die Heilige Gees gehoorsaam, wanneer Hy tot ons spreek.

 

Gaan na die volgende studie:  No. 6 - DIE BRIEF AAN FILADELFIA

bottom of page