top of page

No 4 - DIE BRIEF AAN THIATIRE
(Tydperk van Afvalligheid)


Betekenis:        
"Die offer van boetvaardigheid." Baie Christene het onder Pouslike vervolging met hulle lewens geboet.

Agtergrond:    
Die stad is ongeveer 40 km suid-oos van Pergamos geleë. Bekende ambagte was die smelt van koper en die kleur van materiale, onder andere, rooi en "Turkse purper," wat van boomwortels gemaak is.

Godsdiens:    
Thiatire was beskou as die heilige stad van die songod, Tyrimnos en was voorgestel as 'n ½mens-½perd. Daar was ook 'n tempel gewy aan die afgod Sambathe. Groot liefdadigheidswerk was deur monnike in die tydperk verrig. Die Kerk het egter in geestelike donkerte geleef.  

Tradisie en bygeloof het die suiwer leringe van die Bybel oorskadu. Wrede dade is onder die naam van godsdiens gepleeg deur die Inkwissisie en interdikte van Pouse en konings.  
 
Tydperk:        
Vanaf 538 tot 1565 nC. Dit verteenwoordig die langste tydperk van ongeveer 1000 jaar van totale afvalligheid binne die Kerk. Hierdie middelste en langste brief verteenwoordig die Kerk in die Donker Eeue.

Openb 2:18,19    
“En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre:  Dít sê die Seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper: Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.”
 
Jesus beaam dat Hy die Seun van God is, wat alles sien en voor Wie niks weggesteek is nie. Die werke van liefdesdiens word erken, maar dit het geen reddingswaarde by Hom wat die menslike hart ken nie.

Openb 2:20-23    
“Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.  En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.  Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.  En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.”

Isébel is die simbool van gemeenheid en onreinheid. Sy was van heidense afkoms (‘n Sidoniër) en het met koning Agab van Israel, getrou.  Isébel was 'n verleidster, wat afgode aanbid het. Sy het haar heidense rites met die ware geloof van Israel vermeng (1 Kon 16:29 - 22:40) en so die volk tot afvalligheid gelei.
 
Enige ontrouheid aan Jesus of sy reine leerstellings word beskou as hoerery of afvalligheid en so ‘n persoon word in die Bybel van geestelike prostitusie aangekla. Isébel se Nuwe Testamentiese ewebeeld, is die vrou, "Babilon," "die moeder van die hoere." (Openb 17:3,5). ‘n Tydperk van berou en hervorming, is aan die kerk in Thiatire gegee om haar van haar dwalinge te bekeer.  

Instede van bekering, is daar tydens die Konsilie van Trent (1545 - 1563 nC.) besluit dat nadat ‘n persoon gedoop is, geregtigheid deur geloof nie alleen meer ‘n rol in verlossing speel nie, maar dat ‘n mens by die priester vergifnis moes kry. Dit sou geskied deur boetedoening en waarna jou “onsterflike siel,” ná jou dood, ‘n tydperk in die vagevuur moes deurbring.

Openb 2:24,25    
“En Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie:  Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.”

In Thiatire was daar sommige wat die geloof onbevlek probeer hou het en Jesus se oë soos vuurvlamme kyk dit nie mis nie. Hulle sal die belofte van Jesus by Sy koms ervaar, hulle moes net getrou bly.

Profeties was dit ‘n tyd van vervolging waarin die Albigense en Waldense wat die Bybel as enigste Gids aanvaar het, na afgeleë plekke voor die swaard en brandstapels moes vlug. Manne soos Wycliffe, Huss, Jerome en Luther het die lig van waarheid in die geestelike donkerte van die Kerklike tydperk laat skyn.
 
Openb 2:26-29    
“En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.  En Ek sal hom die môrester gee.  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Jesus, die Môrester (Openb 22:16), is die Hoop van elke Christen. Die Heilige Gees en die Woord, laat Jesus 'n Werklikheid word.

 

Gaan na die volgende studie:  No. 5 - DIE BRIEF AAN SARDIS

bottom of page