top of page

No. 7 - DIE BRIEF AAN LAODICEA
(Tydperk van Moderne Louheid)

 
Betekenis:        
"Laodicea" beteken, "die oordeel van 'n volk." Die kerk van God het in die uur van oordeel te staan gekom.
 
Agtergrond:    
Laodicea was omtrent 160 km oos van Efese geleë en in 200 vC. gestig. Dit was 'n welvarende stad met baie banke en goud. Na 'n verwoestende aardbewing in 60 nC. het die inwoners finansiële steun geweier omdat hulle genoeg goud gehad het om die stad self weer te herbou. Baie louwater fonteine was hier geleë. Die stad was ook bekend vir sy blinkswart wol en blinkswart kledingstukke. Laodicea was die Parys van die antieke mode-wêreld.  

Godsdiens:    
Laodicea was bekend vir 'n mediese skool binne-in 'n tempel ter ere van die Griekse god vir medisyne, Men Karou, (ook genoem, die Groot Geneesheer). 'n Wêreld bekende en baie fyn oogsalf / poeier is hier vervaardig en versprei, wat Phrigiese- of Collyriumsalf genoem was.

Tydperk:        
Dit verteenwoordig die hedendaagse Christendom - u en ek, vanaf 1844 (met die vervulling van die 2300 Aande-en-Môre profesie), tot en met die koms van Jesus.

Openb 3:14,15    
“En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense:  Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:  Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie.  Was jy tog maar koud of warm!”
 
Dit maak ons harte seer om te weet dat Laodicea die kerk van vandag voorstel. Dit verteenwoordig die hedendaagse selfvoldane Christen. Ons dínk ons is gesond, maar eintlik is ons verskriklik siek en het behoefte aan hemelse genesing. Jesus spreek die kerk baie skerp aan as lou, met 'n vormgodsdiens sonder enige betekenis.

Openb 3:16,17    
“Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  Want jy sê:  Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”
 
Niemand is so blind en so dom, soos hy wat mislei is deur die sonde nie.  Wat ‘n slegte toestand vir die kerk om in te wees, en dit net vóór die wederkoms van Jesus!  

Openb 3:18    
“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”

GOUD - dit beteken die ware hemelse rykdom wat in ‘n Christus-gelyke karakter weerspiëel word. Dit word slegs verkry deur ‘n kennis van God se Woord, wat deur geloof in die lewe toegepas word (goud / geloof - 1 Pet 1:7; Jak 2:5; Job 23:10-12; Ps 19:7-10;Gal 5:6)


WIT KLERE - dit is die kleed van Christus se geregtigheid. Ons swart kledingstukke (Jes 64:5,6) deur sonde bevlek (geestelike naaktheid), moet verruil word vir Jesus se wit kleed van geregtigheid (Matt 22:11; Openb 7:14; 19:7,8; Jes 1:18; 61:10; Sag 3:1-5; Rom 1:17).


OOGSALF - Vir geestelike blindheid moet ons van Jesus (a) skerpsinnigheid verkry om God se Woord te kan verstaan (Ps 119:18; 1 Joh 2:20,27) en (b) het ons die Heilige Gees nodig om ons ware sondige toestand te besef. Dit is Sy taak om ons, ons sonde te openbaar en te lei na waarheid en geregtigheid (Joh14:16,17,26; 15:26; 16:7-14; Efe 1:17-19).
 
Openb 3:19    
“Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”

Die feit dat versoekings op ons pad kom, is om ons karakters te louter. Sy liefde wil ons red van die sonde, maar ons moet die sonde oorwin, nie daarin voortploeter nie.

Openb 3:20    
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
 
U en ek hou die sleutels tot ons eie harte - die deur wat Verlossing inlaat. Elke mens moet self besluit of hy gehoorsaam sal wees aan die roepstem van die Heilige Gees. Elke persoon moet vir homself die Heilige Gees in sy hart innooi indien bekering, verandering van karakter en geestelike leiding, verlang word.

Openb 3:21,22    
“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”


Hy wat die sonde oorwin deur die inwonende Jesus, sal  as 'n koning heers wanneer Hy sy kinders kom haal.

LAODICEA EN DIE 3-ENGELE BOODSKAPPE VAN OPENBARING 14

Indien ons die raad wat aan die kerk van Laodicea gegee is, vergelyk met die 3 Engele-boodskappe van Openb 14, vind ons baie sterk ooreenkomste:
 
Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met 'n groot stem gesê:  Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die 1ste Engel roep die kerk in die tyd van Evvolusie en Ateïsme, terug tot Skepper-aanbidding. Sodra die kerk die "suiwer goud" van geloof besit, sal dit die getuienis hê om die wêreld tot die ewige evangelie te rig en te waarsku dat die oordeel van God oor sonde reeds begin het.

Openb 14:8    
“En 'n ander engel het gevolg en gesê:  Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.”
 
Die 2de Engel roep die Kerk om die val van geestelike Babilon gade te slaan. Sy is die simboliese vrou wat in purper en skarlaken geklee is en versier is met goud, kosbare stene en pêrels (Openb 17:3-5). Sodra die kerk die wit kleed van Christus ontvang, weier en vermy sy die versoekings van die wêreld met sy afvalligheid.

Openb 14:9-12    
“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,  sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.  Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas;  hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

Die 3de Engel waarsku ons nie net teen die Dier nie, maar ook teen sy beeld. (Dié tema sal in ‘n latere lesing behandel word.) Die Bybel impliseer dat 'n misleide wêreld nie geestelike oogsalf besit wat die verbysterende geestelike verleiding van die Dier openbaar nie.

Sonder hierdie "oogsalf" is dit onmoontlik om ons eie geestelike behoefte raak te sien, onmoontlik om die karakter van die "beeld van die Dier" te eien en onmoontlik om die gevaar wat die "Valse Profeet" inhou, te besef, terwyl dit besig is om die mensdom te verlei.

LAODICEA EN DIE OORDEEL

Openb 3:16    
“Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug...”

Laodicea verteenwoordig die laaste fase van die Christelike Tydperk wat handel oor die oordeel van God, beide vir die Kerk en die wêreld. Lou Christene is nog vis nog vlees, en sal deur God verwerp word.

1 Pet 4:17    
“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.  En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?”

God se oordeel begin met die gelowiges, (hulle wat bely om navolgers van Jesus te wees) en dit eindig met die goddeloses. Daarna, bring Hy élkeen se loon met Hom saam, wanneer Hy kom (Openb 22:12).
 
Openb 18:4    
“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Christus roep Sy volgelinge om uit die afvallige godsdienste van ons tyd uit te kom. Ons het goud van geloof, 'n wit kleed van Christus se geregtigheid en oogsalf van die Heilige Gees nodig. Dit stel ons in staat om Babilon se valsheid, soos voorgestel deur die 1ste - en 2de Dier van Openb 13, wat die hele wêreld mislei, te eien. Jesus roep ons na die gemeente van gelowiges, wat in die hemel opgeskrywe staan, wat die gebooie van God, en die geloof in Jesus behou. (Hebr. 12:22,24; Openb 12:17; 14:12)

Video: Verstaan Jesus se GROOT genade-boodskap aan die gemeente in Laodisea.

WIL U GRAAG VAN DIE LOUHEID WAT LAODICEA KENMERK, ONTSLAE RAAK EN 'N DIEPER EN WARMER ONDERVINDING MET JESUS Hê?

 

JESUS KLOP WEER AAN JOU HART. GAAN JY HOM VRA OM JOU LEWE TE RIG EN TE REINIG, SODAT JY GEREED KAN WEES VIR SY KOMS?

 

Gaan na die volgende afdeling: 5. Die Verseëlde Boekrol en die Lam

bottom of page