top of page

No. 6 - DIE BRIEF AAN FILADELFIA
(Tydperk van Herlewing)

 
Betekenis:        
Die woord "Filadelfia" beteken "broederliefde." Die kerk stel belang in die geestelike welsyn van die wêreld.


Agtergrond:    
Die stad is geleë, 45 km suidoos van Sardis. Dit was 'n uitstekende sentrum vir die verspreiding van Hellenisme (Griekse afgodediens en kultuur).  

Godsdiens:    
Die stad was "Klein Athene" genoem, weens die hoeveelheid heidentempels. Dionysis, die "god van Wyn," het die meeste aanhang gehad.

Tydperk:        
Vanaf 1740 tot 1844 (die Tyd van die Einde, Openb 10). Dit stel die tydperk van Herlewing, Sending en Bybelverspreiding voor, wat die gedagte van Jesus se Koms weer laat herlewe het. Na die tekens van die donker dag (19 Mei 1780) en die sterre-reën (13 Nov. 1833), het daar 'n groot belangstelling geheers in Bybelprofesie, veral in Daniël en Openbaring se voorspellings van die wederkoms (Matt 24:29,30).

Openb. 3:7-9    
“En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía:  Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie: Ek ken jou werke.  Kyk, Ek het voor jou 'n ge-opende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.  Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg - Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.”

Die kerk het min krag in homself, maar in Sý genade, maak Jesus vir hulle die weg oop om die evangelie te verkondig. Groot Sending Organisasies en Bybelgenootskappe het in die tydperk ontstaan. (o.a. die Britse en Amerikaanse Bybelgenoorskappe) Groot evangeliepredikers soos Wesley en Whitefield het op die Christelike toneel verskyn.
 
Die bestudering van die die boeke van Daniël en Openbaring het die grootste godsdienstige ontwakening (1840 - 1844 nC.) sedert die Hervorming te weeg gebring.  Christene in alle lande, Europa, Skandinawië, die V.S.A., ens. het spontaan in die Beweging gedeel.  Almal  het saamgewerk om die Evangelie na die uithoeke van die aarde te bring.  Diegene wat die evangelie weerstaan het, moes erken dat die beweging deur God se Gees geïnspireer was.

Openb 3:10,11    
“Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.  Kyk, Ek kom gou!  Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.”

Aan Thiatire sê Jesus - “hou maar net vas tot Ek kom” (2:25).  Aan Sardis (3:3) - "bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief."  Aan Filadelfia periode sê Jesus: "Kyk Ek kom gou!"  Die wêreld se geloof in Jesus, word op die proef gestel. Die laaste gemeente tydperk, Laodicea, sou die geklop aan die deur hoor.

Openb 3:12,13    
“Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie;  en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.  Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
 
Daar word nie voorsorg getref vir agterlosiges en onverskilliges nie. Vir hulle egter, wat vashou aan die geloof in Jesus en Sy spoedige koms, wag daar ‘n beloning. Slegs oorwinnaars ontvang 'n kroon. Hulle wat luister na die roepstem van die Gees, verkry toegang tot die hemelse stad en ontvang 'n nuwe naam en eienaarskap vanaf God.

 

Gaan na die volgende studie:  No. 7 - DIE BRIEF AAN LAODICEA

bottom of page