top of page

DIE EERSTE TROMPET – DIE VAL VAN JERUSALEM

Openb 8:6,7    
“En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas.  En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi.  En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand.”

Ons moet onthou dat ons hier met die politieke en militêre magte te doen het wat die kerk in die wêreld sou raak. Die Romeinse Ryk was die bekende politieke wêreld waarin God se volk gewoon het. Daniël 2 en 7, gee ons ‘n oorsig van die koms en verdwyning van die verskillende koninkryke wat God se volk bedreig het.  

Hael, vuur en bloed dui op verskriklike verwoesting, soos die van Sodom en Gomorra. Die blaas van die 1ste trompet dui op die val van Jerusalem in 70 nC., deur die politieke mag van Rome. Op bevel van keiser Nero moes genl. Vespasianus drie ligioene soldate na Judea stuur om die Joodse opstande te onderdruk. Gedurende hierdie tyd is menige Joodse stede ingeneem en verwoes.  

Na die dood van Nero en toe Galba, Otho en Vitellius (almal in ‘n tydperk van slegs 9 maande) het die Leërs van Rome vir Vespasianus die nuwe keiser van Rome gemaak. Hy moes inderhaas terug na Rome. Met die skielike terugtrekking van die Romeine van Jerusalem, het die Christene Jesus se woorde onthou (Matt 24:15-20) en vinnig uitgewyk na Pella in Perea. Nie een Christen sou in die daaropvolgende slagting omkom nie. Vespasianus het sy seun, genl. Titus opdrag gegee om die opstande in Jerusalem te onderdruk. Na ‘n beleg van sewe jaar, waarin die Jode vreeslike ontberinge moes verduur, het die Romeine, Jerusalem oorrompel. Die stad is met die uitsondering van drie torings en ‘n stukkie muur (klaagmuur) met die grond gelyk gemaak.  
Selfs die Tempel se plaveisel is omgekeer om die gesmelte goud uit te grawe, net soos Jesus voorspel het (Matt 24:1,2).

Die bome verwys na leiers van die volk (Rigters 9:8-15). ‘n Derde beteken dat ‘n aansienlike getal van die leiers gedood is, maar baie is gespaar. Die groen gras verwys na die gewone mense. Meer as 1,100 000 Jode is gedood en meer as 97, 000 is as slawe weggevoer.  Hiermee is die maatbeker van die Joodse Volk, weens hulle verwerping van die Seun van God, volgemaak (Sien Dan 9:24).  

Die verwoesting van Jerusalem is ‘n vreeslike waarskuwing aan almal wat die genade en waarheid van God minag en Sy liefde om redding verwerp. Dieselfde gevolge sal geestelike Babilon tref onder die 7 laaste plae. Soos Israel van ouds, het sy Jesus se karakter van Genade en Waarheid verruil vir Satan se bedrog van menslike oorleweringe.

Na die val van Jerusalem en die latere Bar Kochba - rebellie, het die sentrum vir die Christendom uitgewyk na ander groot stede, o.a. Alexandrië en Rome. Die Kerk sou hierna ontwikkel as ‘n Westers-georiënteerde godsdiens, wat sy Joodse wortels sou afskud.

DIE TWEEDE TROMPET - DIE VAL VAN ROME ONDER BARBAARSE STAMME

Openb 8:8,9    
“En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi.  En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan.”


Berg    -    beteken ‘n volk, nasie of mag (Jer 51:24,25; Dan 2:34 - 45).
Vuur    -    ‘n mag van vernietiging en oordeel (Ps 50:3,4; Jes 10:16-18).
See     -    die ontstuimige see van volke, menigtes, nasies en tale (Openb 17:1,15; Dan 7:2,3,17).
 
Na die val van Jerusalem en die einde van die Joodse staat, het die val van Rome aan die beurt gekom. Soos met Jerusalem, het haar beker van sonde, ook vol geword. Rome was die enigste koninkryk (Dan 2) wat die Christelike geloof aangeneem het. Tenspyte van die Lig wat sy ontvang het, het sy haarself aan hebsug, wellus en wreedheid, oorgegee. God sou haar oorgee om te verbrokkel onder verskeie stamme.  

Haar oordele sou kom soos ‘n berg van vuur deur die hordes van Germaanse stamme wat Rome uit die Noorde en vanuit die see sou binne val. Die eerste verwoestende aanval sou kom toe die Wes-Gote onder leiding van Alarik, in 378 nC. ’n hele Romeinse weermag sou uitwis. In 410 nC. was hy die eerste om die eens magtige Rome in 800 jaar binne te val. Hulle sou gevolg word deur die Vandale en die Hunne.

Die blaas van die tweede trompet dui egter op ‘n seemag wat beskryf word as ‘n brandende berg wat in die see gegooi word. Die Vandale was ‘n Germaanse stam uit die noorde van Europa wat hulself in Noord-Afrika gevestig het met Kartage as hoofstad. Die Vandale onder Genseric het die Romeinse Ryk tussen die jare 428 - 468 nC. herhaaldelik aangeval en duisende Romeine as slawe verkoop. In 455 nC. het die Vandale die Goue Kandelaar, wat die Romeine in 70 nC. van Jerusalem geroof het, buit gemaak. Dit is sedertdien nooit weer gesien nie.

Een Romeinse keiser het 300 oorlogskepe in Cartaginia, Spanje laat bou om Genseric en sy magte te vernietig. Genseric het dit gehoor en die hele vloot in die hawe vernietig. ‘n Oosterse Romeinse keiser het in 468 nC. probeer om die Vandale by Kartage uit te wis met 1,100 skepe en 100,000 soldate. Genseric het een aand stilletjies ‘n klompie skepe vol brandmateriaal tussen die geankerde skepe ingestuur en die hele vloot verwoes.  
 

Gaan na die volgende studie:  DIE DERDE & VIERDE TROMPET

 

bottom of page