top of page

DIE VYFDE TROMPET - (EERSTE WEË) - ISLAM

Openb 9:1-3    
“En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.  En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.  En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene op die aarde mag het. ”

Weer eens word ons met ‘n vallende ster, wat sy godsdienstige aard aandui, gekonfronteer. Die godsdienstige bedreiging van afvalligheid sou weer ‘n invloed op die Christelike Kerk hê. Die Griekse woord vir “die put van die afgrond” is “abyssos.” Moslems gebruik dieselfde woord om die Arabiese Samelewing te beskryf waaruit Islam sou verskyn.

Mohammed is ongeveer 570 nC. gebore. Op 25 jarige ouderdom word hy deur ‘n ryk Arabiese weduwee, Khadiya, in diens geneem om haar handelsbelange te versorg. Kort daarna is hulle getroud. Min besef dat sy ‘n getroue Katoliek was. Op die verskillende handelsroetes maak Mohammed kennis met Jode en Christene.   Mohammed het baie belang gestel in godsdiens en is later deur Khadiya se Arabiese neef, Warakuah, (self ‘n Katoliek) onderrig.
 
Op 40 jarige ouderdom sou hy glo visioene van die engel Gabriël ontvang het. Die visioene was nie altyd konsekwent nie en toon ‘n subtiele vermenging van Joodse, Christelike (Katoliek) en Arabiese mitologiese elemente. Gabriël sou aan hom gesê het dat hy die laaste profeet van Allah is, ná manne soos Abraham, Moses en Jesus. Sy visioene is op potskerwe neergeskryf, en na sy dood deur sy volgelinge in die Khoran saamgevat.  
 
Die rook van die valse leringe van Islam sou die lig van die evangelie onder die vyfde trompet, verduister.  Mohammed het drie dinge van sy navolgers gevra: bid, vas en gee aalmoese. Daar was net een reël vir die verspreiding van die nuwe godsdiens: “Bely dat daar slegs een God is, nl. Allah, en dat Mohammed sy profeet is. Betaal belasting of sterf!”  Islam erken dat Jesus ‘n profeet is, net soos Moses, maar Hy is ondergeskik aan Mohammed.

Hier volg ‘n paar Islamitiese leerstellings wat die evangelie-lig sou verduister:
1.    Hulle glo in ‘n ongekwalifiseerde Monoteïsme en saam met die Jode verwerp hulle dus die Godheid van Christus.

2.    Hulle verwerp die gedagte van ‘n Verlosser en Middelaar en steun op werke vir verlossing, o.a. gebede, vas en die gee van aalmoese.

3.    Islam glo in die oordeelsdag maar is Fatalisties (Geloof in ‘n onvermydelike noodlot).

4.    Die heilige oorlog, Jihad, maak dit vir die gelowige Moslem moontlik om enige persoon wat Islam bedreig, aan te val. Enige Moslem wat in so ‘n oorlog sterf, gaan reguit na die Paradys.

5.    Die Bybel word verwerp en deur die Khoran as die enigste woord van Allah, vervang.

Mohammed het sy godsdienstige volgelinge beheer, deur die onaantasbaarheid van die Khoran. Sy navolgers, die Arabiese nomade, het soos swerms sprinkane uit die put van die Arabiese woestyne gekom en fanaties oorlog gemaak op alle mense, veral afvallige Christene. Soos ‘n magtige oorlogsmasjien het Islam Persië, Sirië, Palestina, Egipte, Noord-Afrika en Spanje oorrompel. Toe hulle die Pirenese-gebergte oorsteek, word hulle deur Karel Martel, van die Franke, in 732 nC. by Poitiers verslaan. Dit was ‘n direkte ingryping deur God, anders het Islam die laaste Christenvesting in Europa ingeneem. Islam sou sy aanslae op die Oosterse Romeinse Ryk instel, en so probeer om Europa binne te dring.


“Die Osmanli (Arabiere) het soos sprinkane in alle rigtings getrek en geen dorpie tot teenaan die muur van Konstantinopel het hulle aandag ontwyk nie.” Abul A’La Maududi, Towards understanding Islam, Nairobi: The Islamic Foundation, Quran House, 1973, bl. 41,42.

Die eerste afvallige godsdiens wat Satan sou inspan teen God se ware kerk, was die afvallige Rooms Katolieke Kerk onder leiding van die biskop van Rome met sy nagemaakte dag van aanbidding (Sondag) en sy nagemaakte Bybel (Tradisie). In die Weste het die Pousdom haar eie godsdienstige koninkryk van werke, tradisie en heidense praktyke, uit die verbrokkelde Westelike Romeinse Ryk opgebou.  

Islam was die tweede afvallige godsdiens van werke, komende uit die put van Arabië. Die sou ook sy eie nagemaakte dag van aanbidding hê, nl. Vrydag en ‘n nagemaakte Bybel, die Khoran.   

Openb 9:4        
“En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.”

Toe Mohammed in 632 nC. sterf, word hy deur AbuBekr opgevolg. Hy het sy troepe, die Saracene, soos hulle ook bekend gestaan het, bevel gegee om die godsdienstige oortuigings van diegene te respekteer wat die wet van God gehoorsaam. Hulle moes slegs dié gésel wat beelde aanbid. Sy verdere bevel was:
 
“Julle oorwinning moenie met die bloed van vroue en kinders bevlek wees nie. Moenie palmbome vernietig of graanlande afbrand nie. Moenie vrugtebome afkap nie en doen geen leed aan vee nie, behalwe die wat julle slag om te eet... Julle sal sekere godsdienstiges vind wat afgesonderd in kloosters bly. Dit is die manier waarop hulle God dien; los hulle uit. Julle moet hulle nie doodmaak of hulle kloosters vernietig nie. Julle sal ook ander mense vind wat aan die Sinagoge van die Satan behoort. Hulle skeer hulle koppe kaal; maak seker dat julle hulle skedels oopkloof en bewys hulle geen genade nie, tensy hulle Mohammedane word, of belasting betaal, nie.” Edward Gibbon, The Decline and Fall of the Roman Empire, deel 5, hfst. 51.

Die Bybel bevestig dat daar regdeur die eeue mense is wat die Seël van die Lewende God het. Die Waldense, Albigense, Kelte en andere het steeds die oorspronklike Bybelse Sabbat gevier, die seël of teken van Skepper-aanbidding (Eseg 20:20). Die Pousdom het die heidense dag van die Son aanvaar en die Moslems, Vrydag. God se getroue kinders het in benoudheid geleef. Nog trompette-oordele sou die wêreld tref.

Openb 9:5-12    
“En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.  En in die dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.  En die voorkoms van die sprinkane was soos die van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.  En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.  En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.  En hulle het sterte gehad soos die van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.  En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam Apóllion.  Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee wee.”  
 
Die Saracene Arabiere het nie van voetsoldate in hul oorlogvoering gebruik gemaak nie, maar net van ruiters.  Die krone was hul tulbande wat oor ‘n lang tydperk die kenmerkende hooftooisel van die Arabiese volke was.  Die beskrywing van die Saracene as sprinkane het gepas omdat hulle soos swerms saamgetrek het in hul duisende.  

Pous Urban II het in 1095 nC., tien Kruistogte oor ‘n tydperk van 200 jaar laat uitroep om Jerusalem van die Arabiere te bevry. Die kruistogte was ‘n mislukking, maar dit het die Arabiese stamme nader aan mekaar laat kom. Eers het die Saljuk Turke onder Saladdin en later die Ottoman Turke byeen gekom. Dit is ook van hierdie tydperk af dat vertolkers, Johannes se tydsberekening van “vyf maande” begin toepas.

Sedert die dood van Mohammed in 632 nC. tot en met die einde van die 13de eeu, was die Saracene - Arabiere steeds ‘n verdeelde groep sonder ‘n sentrale regering. Die samesmelting van die Arabiere sou kom met die Ottoman-Ryk onder Ottman. Op 27 Julie 1299 val die Ottomanse Turke die gebied van Nicomedia binne. Vir die volgende 150 jaar sou daar onophoudelike gevegte  wees tussen Grieke en Ottoman Turke. Die profesie sou in 1449 nC. tot ‘n einde kom (“vyf maande” = 5 X 30 dae / maand =150 profetiese dae = 150 letterlike jaar).

Abáddon en Apóllion - Die koning of engel (boodskapper) van die afgrond is ‘n verwysing na die valse boodskap van verlossing soos verkondig vanuit die Khoran deur die hoofprediker of Sultan van die Moslemregering. Die werklike oorsprong van valsheid en misleiding, is eintlik Satan self. Die Bybel sê van hom:

Joh 8:44        
“Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.  Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.”
 
1 Pet 5:8        
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”
 
DIE SESDE TROMPET - (TWEEDE WEE) DIE VAL VAN KONSTANTINOPEL

Openb 9:13-15    
“En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en die het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.  Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.”

Onder die vyfde trompet kom die Saracene uit die put van die afgrond  (woestyne van Arabië) om die Oostelike Romeinse Ryk te treiter.  Die invalle onder die sesde trompet sou kom vanaf die groot Eufraatrivier. Die stem vanaf die altaar wys daarop dat God steeds in beheer van die wêreld se geskiedenis is. Sedert 31 nC. is Jesus by die goue altaar voor die troon van God besig met Sy middelaarswerk ten behoewe van die mensdom. Hier gee Jesus ‘n spesifieke opdrag aan die sesde engel. Dit is vir ons duidelik dat Jesus steeds besig is met Sy Hoëpriesterlike bediening in die hemelse Heiligdom.  

Om hierdie rede kan ons nie die sewe trompette gelykstel met die sewe laaste plae, wat val ná die genadeur gesluit het nie. Jesus was steeds besig met die eerste fase van Sy hemelse bediening. Die tweede fase, die ondersoekende oordeel, sou eers later aanbreek (Dan. 8; Openb. 10; 14).

Tot en met 1449 nC. sou die sesde engel verhoed dat die Moslems die Oosterse Romeinse Ryk verower. Nou sou hy opdrag hê om die engele van die Eufraat, los te laat. Hulle was die Turke onder die Sultans van Aleppo, Ikonium, Damaskus en Bagdad. Hulle magte sou vanuit die rigting van die Eufraat op die Oosterse Romeinse Ryk losgelaat word, om dit finaal tot ‘n val te bring.
 
In 1453 nC. het Konstantinopel, die hoofstad van die Oosterse Romeinse Ryk in die hande van Mohammed II, en Islam geval. Vir die eerste keer was buskruit en vuurwapens in ‘n oorlog gebruik. Hy het ‘n weermag van 258,000 soldate gehad. Die val van Konstantinopel was ‘n skok vir Europa.  

Die enigste skans teen die invalle van die Moslems is vernietig. Europa het nou oop gelê vir Islam en sy hordes. Die skokkende nuus het skaars gaan lê, of die lig van die Hervorming het begin om deur die Westerse Romeinse Ryk onder die Pousdom se duissternis van 1000 jaar, deur te breek.

Die Ottoman-Ryk sou heers vir ‘n profetiese uur, dag, maand en jaar. Volgens die Jaar / Dag beginsel van Eseg 4:4,6 en Num 14:34 word dit as volg vertolk:

Een uur (1/24 van 360 dae) = 15 letterlike dae
Een dag                            =  1 letterlike jaar
Een maand                       = 30 letterlike jare
Een jaar                           = 360 letterlike jare
TOTAAL                          = 391 jaar en 15 dae

Volgens Jesus se Openbaring, sou die Turkse Ryk tot ‘n val kom op 11 Augustus 1840, presies 391 jaar en 15 dae na dit begin regeer het op 27 Julie 1449.

In 1838, het Josiah Litch, ‘n predikant van Philadelphia, Pennsylvania, ‘n reeks artikels vir ‘n koerant, die lig laat sien oor die trompette van Openbaring. Met Openb 9:15 as basis het hy die siening gehuldig dat die Ottoman Turkse Ryk tot ‘n val sou kom op 11 Augustus 1840. Hy het gereken dat dit die egtheid van die Jaar / Dag - Beginsel vir die vertolking van Tyd in Bybelprofesie sou bevestig. Baie mense het in die tyd aan klubs vir ongelowiges behoort.  
 
Hulle het geredeneer dat indien die profesie net so sou uitkom soos Josiah Litch sê, die profesie van Dan 8:14 (2300 Aande-en-Môres Profesie) ook waar sal wees. Dit sou dan in 1843/4 met die wederkoms van Jesus, tot ‘n einde loop. ‘n Wêreldwye Christelike beweging het gedurende hierdie tyd spontaan ontstaan uit alle denominasies van die wêreldkerk. Hulle het hulle vertolking gebasseer op die Jaar-dag Beginsel.
 
Alle oë in die politieke en godsdienstige wêreld, was nou op Konstantinopel gerig. Die Sultans van Turkye en Egipte was in ‘n oorlog gewikkel. In 1839 wen Egipte die oorlog.  Onmiddelik stuur Egipte troepe na Sirië en Klein Asië en dreig om Konstantinopel binne te val. Vroeg in 1840 het die vier leidende magte in Europa, naamlik Brittanje, Oostenryk, Pruise en Rusland ‘n ooreenkoms aangegaan en Egipte aangesê om hom nie in die sake van Europa in te meng nie.  

Hierdie vier magte het ‘n verdrag met Turkye onderteken wat deur die Sultan van Turkye aanvaar is. Die Sultan het toe ‘n boodskap per boot deurgestuur met Rifat Bey na Alexandrië aan die kus van Egipte. Op 11 Augustus 1840 ontvang Mehemet Ali, die Pasja (veldheer) van Egipte ‘n afskrif van die ooreenkoms.  

Die trompetprofesie is tot op die presiese dag vervul. Daarmee saam is die Jaar/dag Beginsel en die Historiese Metode van Bybelvertolking, bevestig. Groot groepe christene het nou die profesieë van die Bybel met nuwe belangstelling bestudeer.

Openb 9:16-19    
“En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En so het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel harnasse.  En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.  Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het; want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.”
 
Johannes probeer die visioen na die beste van sy vermoë beskryf, want in sy tyd was daar nog nie buskruit en vuurwapens nie. Rooi, geel en blou was die kleure van die Turkse ruiters. Die leër word beskryf as ‘n ontelbare hoeveelheid perderuiters, net soos Daniël die ontelbare skares van engele tydens die hemelse oordeel, gesien het (Dan 7:9,10).  

Tot en met 1453 nC. kon Konstantinopel enige weermag weerstaan wat teen hom te staan gekom het. Die Ottomanse Turke het skielik met ‘n nuwe uitvindsel vorendag gekom, ‘n massiewe buskruitkanon wat die oninneembare muur sou verpletter. Die Oosterse Romeinse Beskawing van 1000 jaar, het nou tot ‘n val gekom.  

Openb 9:20,21    
“En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hulle hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.”

Alhoewel die Moslembendes op die afvallige Christene losgelaat was, het die mense steeds geweier om hulle te bekeer. Die geskiedenis van Europa, met die blaas van die ses trompette, het steeds nie daarin geslaag om die Christendom van hul sondige praktyke, valsheid en wreedheid te laat afsien nie. Ten spyte van God se oordele, klou die wêreld steeds vas aan sonde. Met ‘n paar uitsonderings na, is die Christendom in Europa, sedert die Renaissance (Verligting), steeds besig om veld te verloor. Die mensdom wend hom al hoe meer tot die menslike wetenskappe van Humanisme, Rasionalisme, die aanbidding van rykdom, die soeke na mag en wetenskapskennis, bo Bybelse Wysheid.

Die eerste weë was die opkoms van die Moslemmagte, die tweede weë was eerstens die segetog van Islam en tweedens die verval van die Christendom in dieselfde tydperk. Die derde wee het nog oorgebly. Die sewende trompet moet nog geblaas word, en die wêreld ploeter steeds voort in sonde, sonder om haar te bekeer tot die lewende God.
 

Gaan na die volgende studie:  DIE BOEK UIT DIE HEMEL & DIE TWEE GETUIES

bottom of page