top of page

TWEE INSETSELS - DIE BOEK UIT DIE HEMEL EN DIE TWEE GETUIES

Openb 11:14    
"Die tweede wee het verbygegaan; kyk die derde kom gou.”

Ons verwag dat die einde van die tweede weë aangekondig sou word aan die einde van die Mohammedaanse segetog beskrywing (Openb 9:21), maar twee spesiale insetsels word eers deur Johannes aangeroer, en eers ná die bespreking daarvan, kom die aankondiging dat die tweede weë verby is.
 
Eerstens, vind ons die beskrywing van die oop boekie in die hand van die Engel (Openb 10), en tweedens, die beskrywing van die twee getuies van God (Openb 11:1-13). Dit is hierdie tweede visioen van die geskiedenis van die Mensdom se behandeling van God se twee getuies, wat die einde van die tweede weë aankondig. Eers hierna, sou die sewende trompet geblaas kon word.

Weens die aard van die twee temas in Openb 10 en Openb 11:1-13, is ons genoodsaak om twee aparte lesings daaraan af te staan. Dus sal ons nou die sewende trompet behandel.

DIE SEWENDE TROMPET - JESUS AANVAAR DIE KONINGSKAP EN DIE HEMELSE OORDEEL OOR DIE MENSDOM

Openb 11:15-17    
“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.  En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het.”  

Uiteindelik bereik ons die geklank van die sewende trompet, waartydens die koninkryke van die aarde aan die heerskappy van die seëvierende Christus oorgedra sou word. Die sewende trompet neem ‘n aanvang ná die tydperk van die Mohammedaanse verskyning, hul oorwinnings oor nasies en die finale val van die Ottomanse Ryk op 11 Augustus 1840 nC.

Die beskrywing van die sewende trompet voldoen aan Dan. 7 se Ondersoekende Oordeel-visioen, net voor Jesus se Wederkoms sou plaasvind. Hieruit blyk dit duidelik dat die Hemelse Oordeel sou begin ná 1840 nC. (Meer hieroor in die lesing oor die 2300 Aande-en-Môre Profesie - die datum vir die aanvang van hierdie profesie)
 
Dan 7:8-10,13,14,21,22,25-27    
“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk in die horing was oë soos mensoë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.  Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het, sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brande vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uitgegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit en die boeke is geopen..."

"...Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie..." 
 
"...Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het..."


"...En hy [die horing] sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd tye en die helfte van ‘n tyd.  Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.  Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”

Hier het ons ‘n meer breedvoerige beskrywing van die Ondersoekende Oordeel van God, waartydens die boeke oopgemaak sou word en almal geoordeel sou word, die Klein Horinkie inkluis. Aan die einde van die Oordeel, wat in die hemel plaasvind, word die Seun van ‘n mens (Jesus, natuurlik) nader gebring om sy koningskap te aanvaar, en waartydens die regverdiges die ewige koninkryk in besit sou neem.  

Openb 11:18     
“En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf."

Die begin van vers 18, maak dit duidelik dat die nasies van die wêreld, ná 1840 nC. toornig sou word. Voormalige kolonies van die groot moonthede van die 16de tot 18de eeu, het op onafhanklikheid aangedring. Landsgrense het onder dispuut gekom. Sedert die middel van die negentiende eeu en die daaropvolgende eeu (20ste Eeu), het ons drie Wêreld Oorloë beleef (as die een teen Irak bygetel kan word, weens die hoeveelheid lande wat daaraan deelgeneem het). Nou, in die 21ste Eeu, beleef ons steeds oorloë wat ewe bloedig en wreed is. Meer as 100 miljoen mense het in die vorige eeu, weens oorloë, omgekom.
 
Matt 24:6-8    
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.  Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.  Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.”
 
Jesus het voorspel dat haat tussen nasies, stamme en volke en tale, al hoe erger sal word, hoe nader ons aan die einde van Tyd beweeg, want dit is deel van die sewende trompet, of derde weë.  

Dit is dan ook daarom dat die tyd vir die Hemelse Oordeel oor die Mensdom op hierdie tydstip ‘n aanvang sou neem. Die vier winde van oorloë, soos beskryf in Openb 7, word nog in toom gehou, totdat al God se kinders op hul voorhoofde verseël is. Sodra die verseëling afgehandel is en ons Hoëpriester sy werk in die hemelse heiligdom beëindig het, dan sal die sewe laaste plae op die goddelose val en dan sal die magte van die aarde gereed maak vir die groot dag van Armagéddon (Openb 16:13-16) - Christus se Wederkoms, wanneer Hy die ewige heerskappy en koningskap in besit sal neem!

Openb 11:19 (a)
“En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien...”

Die sewende trompet wil ons aandag in dié krisistyd weer na die hemelse heiligdom rig. Daar is twee dinge waarop ons, ons aandag in die hemele moet vestig. Die eerste, is die verbondsark van die Here wat aan die wêreld getoon word. Die tweede, is die bediening wat daarmee gepaard gaan.


Gaan na die volgende studie:  DIE VERBONDSARK

bottom of page