top of page

AANSLAE TEEN GOD EN SY WAARHEID

Eerstens sal Satan sy aanslag teen die wet van God maak, deur dit te probeer wysig. Tweedens sal hy poog om met die Wet wêg te doen. Sy doel hiermee is, om die mens in openlike rebellie teen God se regering te bring. Sodoende sou hy voorgee dat God se skepsels nie meer verantwoordelik aan hul Skepper is, vir die lewe wat hulle lei nie. Terselfdertyd stel dit Satan in staat om die begeerde aanbidding op homself van toepassing te maak. Jy aanbid dus die god van jou keuse.  
 
Deur gehoorsaamheid aanbid ons die Skepper van hemel en aarde, en deur ongehoorsaamheid, aanbid jy die Pousdom en die Draak, Satan! Derdens sal Satan poog om van God se heiliges ontslae te raak, hulle wat juis die gebooie van God onderhou, en bly glo in die aanbidding van Jesus Christus as hulle Verlosser.

DIE EERSTE AANSLAG

VERANDERING AAN GOD SE WET

Dan 7:25        
“En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.”

Die Klein Horinkie (Antichris - Pousdom) onder leiding van Satan, maak daarop aanspraak dat hy die Wet van God kan wysig.

"Die pous is met sodanige gesag en mag beklee, dat hy selfs Goddelike wette kan wysig, verklaar of vertolk... Die pous kan Goddelike wette wysig aangesien sy gesag nie uit die mens is nie, maar uit God en hy tree op as plaasvervanger vir God op aarde." Ferraris, L. PROMPTA BIBLIOTHECA, [Ready Library] "Papa", Article 2.
 
"Watter Kerk word vandag gehoorsaam deur die hele beskawing? Die Protestante noem ons Katolieke en ons Kerk elke afskuwelike naam waaraan hulle moontlik kan dink. ...Antichris, die Skarlaken Dier, Babilon, moeder van die hoere, ens., en terselfdertyd gee hulle voor dat hulle 'n groot eerbied het vir die Bybel en tog, deurdat hulle ewe eerbiedig  die Sondag hou, erken hulle ons krag en gehoorsaam hulle ons Kerk, in plaas van die Bybel."
 
"Die Bybel sê: 'Dink aan die Sabbatdag dat jy dit heilig,' maar die Katolieke Kerk sê: ’Néé, hou die éérste dag van die week, en die hele wêreld buig neer in stille gehoorsaamheid aan die gesaghebbende bevel van die Katolieke Kerk.'" Bostaande stuk is aan Vader Enright oorhandig vir korreksie op 18 September.  Verslaggewer in Avoca Herald, 19 September, 1889.

In die Katkisasie handboeke van die Rooms-Katolieke Kerk word die Wet van God in 'n verkorte en gewysigde vorm aan lidmate en bekeerlinge voorgehou. (Sien die Lesings - “Die Antichris van Openbaring ontmasker” en “Die dier met die sewe koppe en tien horings.”)

DIE TWEEDE AANSLAG
AFSKAFFING VAN GOD SE WET


Matt 7:21-23    
“Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Die NAV sê: "...gaan weg van My af, julle wat die Wet van God oortree" (v.23).

Valse profete en leraars is lank reeds besig om die mensdom te leer dat die wet van God nie meer bindend op die mens is nie. Van hulle verrig selfs wonderwerke en dryf duiwels uit, om hulle gesag te staaf.  

Maar Jesus sê, dat Hy sulke leiers nie ken nie, hulle behoort nie aan Hom nie, en praat nie met Sý gesag nie.  
 
Matt 5:17-19    
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.  Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele;  maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”

Jesus het gekom om die Wet sy volle en dieper betekenis te gee, nie om dit af te skaf nie. Die Sedewet bly geldig, al sou die hemel en die aarde verby gaan. Geen mens het die reg om aan God se gebooie te peuter en andere so te leer nie. So iemand, sê die Skrif, sal die minste genoem word in die hemele. Dit beteken dat die Here so iemand verag.

Spr 28:9        
“Wie sy oor wegdraai, om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.”

God se Wet is die verpersoonliking van Sy karakter en indien ons dit verwerp, verwerp ons God, ons skepper en Verlosser. Waar kry hierdie valse leraars dan hulle gesag vandaan?

DIE DERDE AANSLAG
VERVOLGING VAN GOD SE VOLK


2 Kor 11:13-15    
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
 
Sommige leraars en herders is selfaangestelde persone wat dink hulle is boodskappers van God. Hulle predik dinge wat in stryd met God se woord is, en dink dat hulle die boodskap van God aan die kudde bring. Die Woord beskryf hulle as bedrieglike arbeiders. Hulle is eintlik dienaars van Satan, wat die mense mislei om die leringe van die duiwel te aanvaar en hom so te gehoorsaam  en te aanbid.

Hand 20:29-32    
“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.  Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.  Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.  En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.”

Paulus het alreeds in sy tyd verwag dat valse herders sal verskyn om die kerk agter valse leringe aan te lok. Hul grootste verweer teen sulke valse leiers, sal die Woord van God wees. Soos die Bereane, moet ons ook elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie leringe wat aan ons verkondig word, deur die herders, woorde van God, of tradisies van mense is.

Openb 13:2,11    
“En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag... En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.”
 
Die Eerste Dier (Pousdom) en die Tweede Dier (Valse Profeet of Afvallige Protestantisme) ontvang hul gesag, troon en groot mag van die Draak (Satan). Deur hierdie twee Stelsels van afvalligheid, loods Satan sy aanslag teen die Wet van God en teen die Ware Kerk se Nakomelinge - hulle wat die Gebooie van God bewaar en die Geloof in Jesus behou (Openb 12:7; 14:12).

Hoe tragies dat dit juis uit die geledere van Protestantisme is, waar die boodskap die sterkste uitgaan dat die “Wet van God, teen die kruis genael is.” Hierdie valse beskouing, verg ons allerbelangrikste aandag.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE TWEE WETTE

bottom of page