top of page

DIE TWEE WETTE
 
Wanneer ons die woord "wet” in die Bybel lees, is ons eerste gevolgtrekking dat dit na die Tien Gebooie verwys. Die waarheid is egter dat die woord "wet" eerder na 'n verskeidenheid van wette verwys, wat in vele groepe verdeel kan word, wat deur die konteks bepaal moet word. Ons verwys net na enkeles:

 

  • Die Burgerlike Wette, wat op die Jode as ‘n volk van toepassing was;

  • Die Tien Gebooie (Morele of Sedewet) wat op alle mense van toepassing is;

  • Die Wet van Moses of die Wet van Seremonies het as Verlossingsimbole in die Ou Testament gedien, totdat die Messias sou verskyn en dié wette in Christus hulle vervulling sou bereik.

  • Die Gesondheidswette, waarvan die beginsels as algemene riglyn dien vir alle mense, vir alle tye.

 
Aangesien die Sedewet en die Wet van Moses, te doen het met die mens en die Verlossingsplan, behoort ons dit van naderby te bestudeer:

DIE TIEN GEBOOIE

Ex 31:18        
“En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.”


Die Tien Gebooie (Ex 20) is die enigste deel in die Bybel wat persoonlik deur God geskywe is. God het dit Self op klip gegraveer om die heilige en onaantasbare aard daarvan aan te dui (Ex 32:15,16; Deut 4:13).

Ex 40:20        
“Verder het hy die Getuienis geneem en dit in die ark neergelê en die draaghoute aan die kant van die ark ingesteek, en die versoendeksel het hy bo-op die ark gesit.”
 
Die Tien Gebooie (Getuienis) is in die Verbondsark neergelê voor die aangesig van die Here en het dus die sentrale plek in die aardse heiligdom beklee (Ex 26:33b,34). Soos dit die reëls is vir die heelal, so moes dit ook die reëls wees waarvolgens die volk van God hulle aardse lewe moes bedryf.

Jak 2:10-12    
“Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.  Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword.  Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.”
 
Die boek Jakobus is geskryf na 44 nC., m.a.w. na die opstanding van Jesus. Hier het ons ‘n direkte verwysing na die Tien Gebooie. Die Wet van God is onpartydig. Dieselfde reëls is op almal van toepassing. Ons word nie toegelaat om sommiges te aanvaar en andere, of almal, af te skaf nie. Die gebooie is nie ‘n juk van slawerny nie, maar ‘n hawe van vryheid. Hy wat binne die reëls van God wandel, is vry van gevaar, maar hy wat homself buite God se reëls bevind, word die slagoffer van die Draak en die Antichris.

Rom 3:31    
“Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.”

Geloof in Jesus en die onderhouding van die Sedewet gaan hand  aan hand. Deur Sy kruisdood, het Jesus die vloek van die Wet op Hom geneem (die straf van die ewige dood) en so die onveranderlikheid (ewige karakter) van God se wet bevestig. (Sien bl 11)

"Baie leraars beweer dat Christus deur Sy dood, die Wet afgeskaf het en dat die mense nou vry is van gehoorsaamheid daaraan. ...Die bewering dat Christus sy Vader se Wet deur Sy dood afgeskaf het, is sonder enige grond. As dit moontlik was om die Wet te verander of af te skaf, sou dit nie vir Christus nodig gewees het om te sterf ten einde die mens van die straf van die sonde te verlos nie. Die dood van Christus bewys eerder die onveranderlikheid van die Wet. Die Seun van God het gekom om die Wet te vergroot en te vereer."  
E. G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kaap, 1939, bl 442,443.
 
"Die Sedewet bind almal vir ewig, sowel geregverdigde persone as andere, tot gehoorsaamheid; en dit nie net betreffende die saak daarin vervat nie, maar ook met die oog  op die gesag van God, die Skepper wat dit gegee het. Ook ontbind Christus dit hoegenaamd nie in die evangelie nie, maar Hy versterk hierdie verpligting grootliks..." Westminster Confession of Faith, hfst 19, in Phillip Schaff, The Creeds of Christendom, (Harper), deel 3, bl 641-643.
 
Pred 12:13,14    
“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is:  Vrees God en hou sy gebooie;  want dit geld vir alle mense.  Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”

Die Tien Gebooie, geld nie net vir die Jode nie, maar is geldig vir alle mense. Dit is terselfdertyd God se maatstaf in die finale oordeel.

Openb 11:19    
“En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”

KENMERKENDE VERGELYKING TUSSEN GOD SE KARAKTER EN SY WET (DIE 10 GEBOOIE)

Matt 5:17        
Jesus sê dat Hy nie gekom het om die Wet af te skaf nie, maar om die volle betekenis daarvan te openbaar. Wat beteken dit?

Die ooreenkomste tussen die Skepper en Sy Wet is so merkwaardig dat ons dit nie kan ignoreer nie!

Joh 14:15; 15:10 - Deur Jesus se gebooie te onderhou, erken ons dat ons Hom as ons Skepper en Verlosser liefhet.
 
Die visioen van die Verbondsark van God in die hemel, bevestig die Wet van God as reël vir die heelal en standaard in die Hemelse Oordeel. Jesus kan nie kom, voor die hemelse oordeel afgehandel is nie, want Hy moet elkeen se loon met Hom saambring. (Sien Openb 22:12)

DIE WET VAN MOSES (SEREMONIëLE WET)

Die Seremoniële Wet is gegee ná sonde ingetree het, en het vooruit gewys na die Verlosser (Jesus) wat sou kom om die straf op Sonde weg te neem.

Deut 31:24-26    
“En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in 'n boek geskryf het tot die einde toe, het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die Here gedra het, bevel gegee en gesê: Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die Here julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.”

Die Seremoniële wette en insettinge (met 'n afskrif van die Tien Gebooie) is in 'n boekrol geskrywe en langs die ark geplaas vir latere verwysing en onderrig.

Sommige van die Seremoniële Wette en Insettinge sluit in:

Lev 6:9      -    Die wet van die brandoffer
Lev 6:14   -    Die wet van die spysoffer
Lev 6:25    -    Die wet van die sondoffer
Lev 7:1      -    Die wet van die skuldoffer
Lev 7:11    -    Die wet van die dankoffer
 
Hierdie offers, tesame met die besnydenis en al die ander seremoniële feeste met hul vasgestelde datums, wat as seremoniële rusdae (Seremoniële Sabbatte - Lev 23) moes dien, was alles deel van die Seremoniële Wet wat vooruit gewys het na die lewe, sterwe, opstanding, hemelse bediening en uiteindelike verlossing van die mensdom. (Sien beskrywing van die verhouding tussen die Sedewet en die Seremoniële wet)

SEREMONIËLE WET AAN DIE KRUIS GENAEL

Kol 2:14-17    
“En die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge;  maar die liggaam behoort aan Christus.”

Die Seremoniële Wet met sy insettinge, was ‘n skaduwee en het vooruit gewys na die Kruisdood van Jesus en is in, en deur Hom, vervul. Jesus sou 'n einde maak aan die offerstelsel, (70-Weke profesie - Dan 9:24-27) want Hy is die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29, Sien die lesings oor “Die Held van Openbaring.” en “Die Verseëlde Boekrol en die Lam”).
 
"Behalwe die wet, gewoonlik die Sedewet genoem, het dit God behaag om aan die volk Israel, as 'n minderjarige Kerk, seremoniële wette te gee wat verskeie tipiese instellings bevat het, deels vir aanbidding, om Christus en Sy minsaamhede, dade, lyding en voordele vooraf te skadu; en deels om oor verskeie morele pligte onderrig te gee.  Al hierdie seremoniële wette is in die Nuwe Testament afgeskaf."  Westminster Confession of Faith, hfst 19, in Phillip Schaff, The Creeds of Christendom, (Harper), deel 3, bl 640,641.
 
"Diegene wat teëwerp dat tekste soos Kol 2:16,17; Gal 4;10 en 11 en Rom 14:15, wys op die afskaffing van die Sabbat [vierde gebod van die Sedewet], verstaan hierdie tekste en die verband waarin hulle voorkom verkeerd, want hulle sien nie op die afskaffing van die Sabbat nie. Soos in Rom 14:5, sien die woorde net op die onderhouding van die Joodse feesdae soos Paasfees, Pinkster en nie op die Sabbat nie... Nee, die Sabbat is nie afgeskaf volgens hierdie tekste, soos so baie sektes in ons dae wil leer nie; inteendeel, verwag die Heer van ons die onderhouding van hierdie vername gebod!" Ds. J. C. Botha, Die Inspan, April 1942, bl 6.

(Daar is 'n verskil tussen die Sewende-Dag-Sabbat en die verskillende Seremoniële of skadusabbatte wat tydens die feeste gehou is. Die Sewende-Dag-Sabbat wys terug na die Skepping en is steeds van krag terwyl die Seremoniële of skadusabbatte vooruit wys na Christus en dit het hul vervulling in Christus by die kruis gevind. Meer hieroor hier.)

 

Gaan na die volgende studie:  DIE EVANGELIE VAN GENADE

bottom of page