top of page

DIE EVANGELIE VAN GENADE

Rom 3:19,20,23    
“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mondgestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van die sonde. ...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”


Dit is nie net die Jode wat onder die verdoeming van die Wet van God staan nie, maar die hele wêreld! Jood en Heiden is onder dieselfde vloek geplaas a.g.v. Adam en Eva se sonde. Almal van ons skiet tekort aan die karakter van God.

Rom 3:24,25    
“En hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.  Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God.”
 
Nog nooit was die Tien Gebooie van God ‘n middel tot redding nie. Die hooftaak van die wet was om die mens se tekort aan die volmaakte karakter van God, voor te hou. ‘n Mens gebruik water en seep om jou te was, nie die spieël nie. Die spieël se funksie is om te wys of jy skoon is, al dan nie. Die spieël verteenwoordig die wet van God (Sy karakter) en die water en seep verteenwoordig die bloed van Jesus (Sy geregtigheid) waarin ek was (aanvaar deur die geloof).

Rom 1:4-6    
“...en na die gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene terwille van Sy Naam, onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus...

Die genade en apostelskap wat die dissipels ontvang het, was om geloof en gehoorsaamheid in die harte van die mensdom te verkry deur hulle aan Jesus as die beloofde Verlosser bekend te stel. Genade is nie net Geregtigheid (kwytskelding van die sonde) nie, maar ook Heiligmaking (instaatstelling om ‘n oorwinnende lewe oor die sonde te voer deur die krag van die inwonende Heilige Gees). Net soos Regvermaking, is Heiligmaking ‘n gawe van God en kan dit ook nie verdien word nie.

Gal 6:15    
“Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.”

Die krag om ‘n oorwinnende lewe oor die sonde te voer, word vermag deur die wedergeboorte wat deur die Heilige Gees in ons bewerkstellig word.
 
1 Kor 7:19    
“Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.”

Hierdie woorde is ± 30 jaar na die hemelvaart van Jesus opgeteken en Paulus stel dit baie duidelik dat die Wet van God steeds van krag is, terwyl die insettinge en seremonies nie meer betekenis het nie. ‘n Wedergebore mens (‘n nuwe skepsel) is gewas in die bloed van die Lam en word in ooreenstemming met die karakter (Gebooie) van God gebring. Gehoorsaamheid aan die karakter van God, is nou ‘n natuurlike uitvloeisel van sy lewe.
 
Efe 2:8,9        
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie:  dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Genade is slegs nodig as daar 'n wet bestaan. As daar geen wet is nie, dan is daar ook geen oortreding nie en bestaan daar dus geen behoefte aan genade nie. Hierdie Genade, beide regverdiging en Heiliging, is vrye gawes van God deur die geloof aangeneem.

Verlossing is ‘n geskenk van God. Geen mens kan Verlossing koop of daarvoor werk nie. Net so, is genade wat die sondaar ontvang, nie 'n paspoort tot wetsongehoorsaamheid nie. Genade bevestig eerder die onveranderlikheid van God se Wet. Deur Wedergeboorte word die Wet in ons harte geskrywe.

Efe 2:10        
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Wedergebore mense is nuwe skepsels deur die werking van die Heilige Gees. Hulle word in ooreenstemming met God se karakter (Sy Wet) gebring, deur Jesus se geregtigheid wat aan hulle toegereken word en Die krag van die heilige Gees wat hulle by wedegeboorte deelagtig word. Enige dade van gehoorsaamheid aan die Wet van God (werke van geregtigheid)  wat hulle ookal van nou af doen, word nie beskou as werke wat hulleself gegenereer het nie, maar word beskou as Godgegewe werke (deur die krag van die Heilige Gees wat in hulle woon) wat berus op die genade van God. Die onderhouding van God se wet is dus ‘n teken dat ek in harmonie met God leef, omdat die inwonende Heilige Gees my lewe bestuur tot God se eer.

"In die Wedergeboorte word die hart, namate dit in ooreenstemming met Gods wet gebring word, ook in ooreenstemming met God gebring.  Wanneer hierdie groot verandering in die sondaar plaasgevind het, het hy oorgegaan van die dood tot die lewe, van sonde tot heiligheid, van oortreding en rebellie tot gehoorsaamheid en getrouheid.  Die ou lewe van vervreemding van God is beëindig; die nuwe lewe van versoening en geloof en liefde, het begin."  E.G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kaapstad, 1939, bl. 444, 445.

Hebr 8:10    
“Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.”

Vir sondaars is dit onmoontlik om die wet van God te onderhou, maar die inwonende Heilige Gees, maak dit vir die berouvolle sondaar moontlik om in ooreenstemming met God se wet en wil te leef, omdat Hy hulle lewens volgens die wil van God bestuur.

Joh 14:15-17    
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie.  En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
 
Wanneer Jesus die wedergebore Christen vra om Sy gebooie te onderhou, vra Hy nie ‘n onmoontlike ding nie, want die Heilige Gees wat in ons harte heers, verrig die gehoorsaamheid aan die wil van God in ons lewens.  Ons bewys ons liefde tot Jesus daarin dat ons God se gebooie bewaar deur die krag van die Heilige Gees. Deur ons wil aan die wil van God te onderwerp, stel ons die Gees van die Waarheid in staat, om ons in die hele waarheid te lei, soos dit in die heilige Skrifte aan ons geopenbaar word.

1 Joh 3:24    
“En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.”

Gehoorsaamheid aan die Gebooie van God, deur die krag van die Heilige Gees wat in beheer van my hart is, openbaar dat Jesus die Here en Meester van my hart is. Sodoende kan die Heilige Gees die heiligmakingsproses en die verseëlingswerk in my lewe voltooi, voor die vier engele wat die winde van oorlog vashou, losgelaat word.

"Laat niemand homself bedrieg met die geloof dat hy geheilig kan word terwyl hy moedswillig een van Gods gebooie oortree nie. Die vasklemming aan 'n bekende sonde maak die stem van die Gees stil en skei die siel van God af." E.G. White, Die Groot Stryd, Sentinel Uitgewery, Kaapstad, 1939, bl 448,449.
 
Matt 5:16        
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

Alle goeie werke wat die verloste persoon doen, moet die aandag van hom / haar wegneem en ons Hemelse Vader verheerlik, want dit is die Heilige Gees wat die werke in ons volbring tot eer van God. Indien ons enige werk verrig om deur die mense gesien te word, verloën ons die Heilige Gees van God, wat veronderstel is om God in ons te verheerlik. 

 

Gaan na die volgende studie:  DIE GETUIGSKRIF VAN DIE HEMEL

bottom of page