top of page

DIE GETUIGSKRIF VAN DIE HEMEL

Dit is verbasend hoe die boek Openbaring die belangrikheid van die Wet van God toelig, as 'n teken of karaktereienskap, van diegene wat aan God behoort.

Openb 12:17    
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Die Nakomelinge van God se Ware Kerk, onderhou die gebooie en bewaar die geloof in Jesus, as 'n teken van hul liefde en lojaliteit aan hul Skepper en Verlosser. Hulle voer ‘n stryd met die Draak weens die twee karaktereienskappe wat hulle deur die genade van God ontvang het.

Openb 14:12    
“Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas;  hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

Die voorafgaande tekste (verse 9-11) maak dit duidelik dat almal wat nie die merk, getal of naam van die Dier op hulle hand of voorkop ontvang nie, uitgeken word, as hulle wat God se gebooie en die geloof in Jesus bewaar.  

Die onderhouding van God se gebooie, is die teken van hulle onderdanigheid aan die Skepper-God. In teenstelling hiermee, aanbid die res van die wêreld die Draak en die Dier a.g.v. die misleidings wat die Valse Profeet in teenwoordigheid van die 1ste Dier (Pousdom) aan hulle voorhou. (Sien Openb 13:1-4,11-17)
 
Openb 22:12,14    

“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.”

Hier is dit duidelik dat ons dade bewys sal lewer van ons verlossing. Die onderhouding van die gebooie van God bewys dat die sonde (die begeerlikheid van die sondige wêreld - 1 Joh 1:15-17) sy houvas op ons verloor het, en dat die Skepper-God ons Heer en Verlosser is.

Die onderhouding van die gebooie van God blyk amper om ‘n toegangskaartjie vir die Nuwe Jerusalem te wees. Dit bewys die absolute harmonie wat daar tussen die verlostes en hul Verlosser bestaan, want Sy karakter (wet) word in hulle lewens weerspiëel.

Gal 6:14,15    
“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.  Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid enige krag, maar 'n nuwe skepsel.”


Ons enigste roem in die verlossing wat ons deelagtig geword het, is in Christus wat dit vir ons moontlik gemaak het, deur die werking van die Heilige Gees, tydens die Wedergeboorte.

DIE GROOTSTE GEBOD  -  EXODUS 20:1-17

Matt 22:34-40    
“En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.  En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet?  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”
 
Jesus haal direk uit die Ou Testament aan (Deut 6:4,5).  Hiermee erken Jesus die tweeledigheid van God se Liefdeswet, wat al van vroegste tye reeds in die Ou Testament bekend was. Die Sedewet is deur God op twee kliptafels geskrywe wat my verhouding met my God en my medemens uitbeeld. Dit is nodig om die Tien Gebooie kortliks deur te gaan, om die diepere betekenis daarvan te begryp.
 
Ons vestig eerstens ons aandag op die Tweede Tafel, ons verhouding teenoor ons medemens (jy moet jou naaste liefhê soos jouself), daarna sal ons die Eerste Tafel in oënskou neem, ons verhouding tot ons Skepper (jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand).

DIE TWEEDE TAFEL - NAASTELIEFDE

Ex 20:12        
“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.

Die Vyfde Gebod - Die verhouding tussen ouers en kinders vorm die basis van enige mens se verhouding met die samelewing. Geen respek in die ouerhuis, beteken ook geen respek vir my medemens. Waarom is ons samelewing in so 'n chaotiese toestand? Ons moet hier begin soek vir antwoorde op ons samelewing se probleme.

Ex 20:13    
“Jy mag nie doodslaan nie.”

Die Sesde Gebod - Moord begin in die gedagtes van die mens. Deur jou medemens te haat en slegte woorde toe te snou, maak dat jy sy menswees / karakter stelselmatig afbreek. Dít, in die oë van God, is so goed soos moord (Matt 5:21-26).
 
Ex 20:14    
“Jy mag nie egbreek nie.”

Die Sewende Gebod - Daar is 'n oorlog teen die huwelik! Satan besef dat as hy die huwelik en dus die huisgesin kan vernietig, hy die wêreld onder sy voete het.

God verbied seks buite die huwelik, want dit vernietig die mens, belaai hom met skuld en maak sy sinne stomp. Selfs seks voor die huwelik, bring skuldgevoelens tot gevolg wat ‘n latere huwelikslewe bedreig (Matt 5:27-32). Hoerery van watter aard ookal, breek die intieme vertroue en verhoudings tussen mense, totaal af.  Sommige mans gee glad nie om, om te hoerreer nie, solank die een met wie hulle in die huwelik wil tree, ‘n maagd moet wees! (Verbeel jou)

Seksuele losbandigheid in die meeste heidense godsdienste (vrugbaarheidsfeeste) en veral in Spiritisme, speel 'n belangrike rol om die mens se waardes af te stomp (Num 25:1-3; 31:14-16; 2 Kon 11:4,5; Jer 44:17-23).

Terselfdertyd pluk die mensdom die vrugte van sy vrye geslagtelike omgang deur geslagsiektes soos Herpes, Sifilis en veral HIV Vigs wat besig is om skokkende afmetings aan te neem. Selfs onskuldige mense word nou weens besmette bloed, tydens bloedoortappings aangesteek, wat lei tot ‘n stadige en vreeslike dood.

Ex 20:15    
“Jy mag nie steel nie.”

Die Agtste Gebod - Net soos in die vorige gebooie is daar geen voorwerp in die sin nie. Dit is God se manier om te sê dat daar geen skuiwergate in die Wet is nie. Om bietjie of baie, klein of groot te steel, bly steel in die ware sin van die woord. Sou ons wetstelsel nie makliker wees as ons maar net God se gebooie sou gebruik nie.
 
Ex 20:16
“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.”

Die Negende Gebod - Die leuen is liefdeloos en weerspieël die karakter van Satan (die vader van die Leuen - Joh 8:44). Deur kwaad van mekaar te spreek, of net die saad van twyfel te plant, is net so 'n groot oortreding as om God se Naam ydellik te gebruik, afgode te aanbid, of om die Sabbat te ontheilig.

Die waarheid is egter vol liefde en is altyd daarop ingestel om die karakter van God in ons medemens uit te lig. Die waarheid vlek die sonde oop, sodat bekering en redding moontlik gemaak kan word vir die sondaar (Joh 16:7-14).

Ex 20:17        
“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie;  jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”
 
Die Tiende Gebod - Dit lê aan die wortel van die kwaad. Dit is en bly Satan se grootste probleem. Hy begeer om God te wees, en ons voorouers is met dieselfde strik tot sonde verlei (Gen 3:4-6). Ons moet leer om vergenoegd te wees met hoe God ons geskape het, en wat ons besit, sonder om 'n ander s'n te wil hê. Die wêreld met sy begeerlikheid is van korte duur, maar die wil van God is ewigdurend (1 Joh 2:15-17).

DIE EERSTE TAFEL - LIEFDE TOT MY SKEPPER

Ex 20:2,3    
“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.  Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”
 
Die Eerste Gebod - Daar is slegs Een Lewende God wat aan alle dinge die lewe gee. Deur 'n ander god aan te hang, is om die dood lief te hê. Niks en niemand anders mag die Skepper se plek as God, inneem nie.

Ex 20:4-6    
“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie;  want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”

Die Tweede Gebod - Selfs in die moderne tyd waarin ons leef, word afgodsbeelde deur meer as 80 % van die wêreld se bevolking, aanbid. Die persentasie word hoër as ons dinge insluit soos sport, werk, motors, helde, musiek, etes, duur artikels, ens. Enigiets wat 'n belangriker plek inneem en meer aandag verg as my Skepper, is 'n afgod wat aanbid word.

Ex 20:7        
“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”

Die Derde Gebod - In die Bybel gee die naam van ‘n persoon sy karakter weer. God is Heilig en daarom is Sy naam heilig. Baie mense gebruik God se Naam om krag agter hulle leë woorde te sit. Diegene wat God liefhet en gehoorsaam, besef met wie hulle kommunikeer en uit respek gebruik hulle Sy Naam spaarsamig, gedagtig daaraan dat ons stof is.
 
Ons moet daaraan dink dat engele wat in die hemel woon, hulle aangesigte bedek sodra hulle in die teenwoordigheid van God kom. Hoeveel te meer sondaars soos u en ek wat God se teenwoordigheid deur Jesus nader.

Ex 20:8-11    
“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.”

Die Vierde Gebod - Dit is die hart van die Tien Gebooie. Hierin openbaar die Wetgewer Homself - Hy is die Een wat die hemele en die aarde geskape het. Dit is die enigste gebod wat ons gevra word om te gedenk (onthou, moenie vergeet nie). Die Here het geweet dat as ons die Sabbat vergeet, ons Hom ook sal vergeet.  Hy het ons gemaak en is in staat om ons te herskep na Sy beeld. Deur die Sabbat te verander, het die Satan, d.m.v. die Antichris, die mens so ver gekry om sy eie leringe aan te neem en hom sodoende te aanbid.

Die Skepper is die Een wat aan almal rus gee (fisies en geestelik). Die Sabbat is die skakel in ons verhouding met God en ons medemens. My rus met God word weerspieël in die rus wat ek myself en my medemens gun. In hierdie rus op die sewende dag (God se afspraak met my) wil God met ons verkeer en ons geestelik en fisies versterk vir die nuwe week wat voorlê. Satan en die Antichris het dit sosiaal aanvaarbaar gemaak om sewe dae per week, 24 uur per dag te werk. Ons algemene lewe beheer tans ons geestelike lewe. In die Ou Testamentiese tye het die geestelike lewe, die gewone lewe beheer.
 
Ons as mens is net tot die liefde in staat wat in die TIEN GEBOOIE omskryf word, as ons tyd met God deurbring. Hy vra nie of ons dit verstaan nie. Hy versoek dit as 'n liefdesteken sodat ons daardeur sal kan weet dat Hy die God is wat ons heilig (Eseg 20:12) en dat Hy (die ware Lewende God) óns God is, die Een wie ons aanbid. (Eseg 20:20, Sien die vergelyking tussen God se karakter en sy Wet)

 

Gaan na die volgende studie:  DIE ANTICHRIS SE LAASTE AANSLAG TEEN GOD SE GESAG

bottom of page