top of page

19. GOD SE 3 LAASTE WAARSKUWINGS - DIE DERDE ENGEL SE BOODSKAP

GOD SE LAASTE WAARSKUWING TOT DIE MENS “KOM UIT HAAR UIT - MY VOLK!”

KERN VAN DIE EERSTE ENGEL SE BOODSKAP - OPENB 14:6,7


Openb 14:6,7    
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.  En hy het met 'n groot stem gesê:  Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;  en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

Die 1ste Engel se boodskap bevat die kern van God se laaste oproep tot die mensdom:

[1]    Dit bevat die ewige Evangelie vanaf Adam en Eva, dwarsdeur die geskiedenis, tot op ons tyd. Dieselfde verlossingsplan geld vir almal - Jesus Christus as Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

[2]   Terselfdertyd is dit ook 'n Oordeelsboodskap vir die hele wêreld. Almal moet hulle van die sonde bekeer tot die Lewende God, omdat Hy die wêreld in geregtigheid gaan oordeel om sodoende 'n ewige koninkryk op te rig wat deur geregtigheid regeer sal word.
 
[3]    Dit is 'n oproep tot Skepper-aanbidding wat deur die onderhouding van die Sewendedag Sabbat (Saterdag) gesimboliseer word. Die Sabbat is die Teken dat die Skepper-God die Heerser van die Heelal, is. Deur Sabbatsonderhouding gee ons te kenne dat die Skepper ons Meester en Verlosser is.

KERN VAN DIE TWEEDE ENGEL SE BOODSKAP - OPENB 14:8

Openb 14:8    
“En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.”

Babilon aan die einde van die Tyd, is 'n drievoudige godsdiensstelsel wat bestaan uit die Draak (Spiritisme), die Dier (Katolisisme) en die tweede Dier / Valse profeet (Afvallige Protestantisme).  

[1]   Die oomblik wat die finale boodskap van die drie engele soos in Openb 14:6-12 verwerp word, ter wille van menslike Tradisies, gaan die boodskap uit: “Geval, geval het Babilon.”

[2]   Weens die volgehoue aanvaarding van valse leringe (Tradisies van mense), erken die mensdom daardeur vir Satan as heer en meester van hulle harte. (Openb 18:1-3).

[3]   Spiritisme is die direkte misleiding van Satan self. Die Pousdom het alreeds geval deur samewerking met Spiritisme.  

Elaine, 'n gewese bruid van Satan het die volgende gesê: "Ek het spoedig gevorder tot die posisie as hoofbruid van Satan en my verantwoordelikhede het ook toegeneem..."

 

"Ek het ook heelwat besoeke na ander lande afgelê. Ek was na Mekka, Israel, Egipte, asook die Vatikaan in Rome om die Pous te ontmoet. Al my besoeke was met die doel om Satan se programme met Sataniste in ander lande te koördineer... Die Pous het presies geweet wie ek was. Ons het baie nou saamgewerk met die Katolieke (veral die Jesuïete) en die top struktuur van die Vrymesselaars." Rebecca Brown, MD. He Came to set the Captives free, Chick Publications, Chino, 17de druk, 1986, bl 62,63.

[4]   Sodra Protestante met die Pousdom hande vat om haar valse leringe te onderskryf, nadat die waarheid van die 1ste Engel se boodskap aan hulle verkondig is, kan daar met reg gesê word dat Protestantisme geval het! Dit bring ons by die 3de en laaste engel se boodskap.

KERN VAN DIE DERDE ENGEL SE BOODSKAP - OPENB 14:9-11

Openb 14:9-11    
“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Net soos die twee vorige engele-boodskape, waarsku God ons teen Babilon se afvalligheid. Die 3de engel waarsku ons teen die merk van die Dier. Deur die Dier (Pousdom) se merk te aanvaar, word sy gesag aanvaar en daarmee saam, die straf wat hy gaan ontvang.
 
Om die merkteken van die Dier beter te verstaan, sal dit raadsaam wees om eers na die merkteken of seël van God te kyk, en daarna die merkteken van die Dier van nader te beskou.

 

Gaan na die volgende studie:  MERKTEKEN EN SEËL VAN DIE SKEPPER GOD

bottom of page