top of page

TRADISIE IN DIE LIG VAN GOD SE WOORD

Mark 7:7,8    
“Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas...”

Volgens Jesus, is aanbidding wat op menslike tradisie gebaseer is, eerder as op die bevel van God, ‘n godsdiens wat as tevergeefs beskou kan word en geen verlossingswaarde het nie.

Eseg 22:26    
“Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge;  tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie;  daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.”


Net soos met afvallige Jerusalem van ouds, kan van moderne Babilon se leraars ook gesê word, dat hulle God se Sabbat vertrap en die mense net so leer. Die merkteken van die Dier (Pouslike Sondag) is diep ingegrawe in die leringe van die wêreld. Dit vorm ‘n integrale deel van die aanbidding van Protestante kerke. Enige hervorming, terug na die Bybelse Sabbatwaarheid, binne die gevestigde Babilon Sisteem, is onmoontlik.

GOD SE LAASTE OPROEP TOT SY KINDERS

Matt 15:6-9    
“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”

Hoe opreg ons ookal mag wees t.o.v. aanbidding op Sondag, dit het geen Bybelse grondslag nie en dit bly steeds ‘n Sataniese, Antichristiese instelling binne die Christendom. Aanbidding op Sondag is ‘n herinnering aan die gesag van die Pousdom. Aanbidding op die Sewendedag Sabbat herinner ons aan die gesag van die Skepper-God in ons lewe.

"Rede en Logika vereis dat ons oor die volgende moet besluit: Wees 'n Protestant en hou Saterdag heilig, of wees 'n Katoliek en hou Sondag. Kompromie is onmoontlik." THE CATHOLIC MIRROR, deur Kardinaal Gibbons.

1 Sam 15:22,23    
“Daarop sê Samuel:  Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.  Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.  Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”
 
God weier koning Saul se offer, waarom? Omdat hy aan die direkte bevel van God ongehoorsaam was. Om teen die direkte wil van God te gaan, is om afgodery en beeldediens te bedrywe. Om die Here te dien, soos jy goeddink en steeds te maak soos jy wil, is om Bileam en Kain se aanbidding na te volg (Num 22-25; Gen 4:1-12).

Jos 24:15    
“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien:  óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon;  maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Wie volg u na? Baäl, Marduk, Mithras, Balder, Ra of Zeus? Almal is songode wat deur die “Christelike” Sondag verteenwoordig word en na ons toe gekom het deur Tradisies van Afvallige Babilon. Of volg u die Skepper-God, Wie se Teken en Seël, die Sewendedag Sabbat, is? Joshua sê: "Kies vandag wie julle wil dien!"

Onthou, "die oorwinnaars oor die Dier en sy Merk,” ontvang - die ewige lewe (Openb 15:2,3). Diegene wat die "Merkteken van die Dier" verkies, bo ‘n "so sê die Here," ontvang die ewige dood (Openb 14:9,10).

Joh 8:30-32    
“Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.  En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het:  As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

As ons Jesus se woord, die Skrif, aanvaar, en dit volg, is ons waarlik Sy dissipels en sal ons die waarheid ken wat ons vrymaak.

WIL U WAARLIK 'N DISSIPEL VAN JESUS WEES?

 

HET U VIR JESUS MET U HELE HART LIEF?

Gaan na die volgende afdeling:  20. Die Oorsprong van die Lam wat Praat soos ‘n Draak

bottom of page