top of page

MERKTEKEN EN SEËL VAN DIE SKEPPER-GOD

Openb 15:2    
“En ek het gesien iets soos 'n see van glas, gemeng met vuur.  En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God.”

Slegs hulle wat oorwinnaars is oor die Dier, sy merk en getal, sal by die see van Glas, met siters van God kan staan.

Openb 20:4    
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;  en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie;  en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”
 
Almal wat die Dier en sy beeld nie aanbid het, nie sy merk ontvang het nie, en gestaan het vir God se Woord as hoogste gesag, sal saam met Christus vir die 1000 Jaar Tydperk, as konings regeer.

Eseg 9:1-6    
“Daarna het Hy hardop voor my ore geroep en gesê:  Kom nader, geregsdienaars van die stad, en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand.  En kyk, ses manne kom met die pad van die Boonste Poort wat na die noorde toe lê;  en elkeen met sy wapen in sy hand om mee te verbrysel;  en onder hulle een man wat met linne bekleed was, met 'n skrywer se inkpot aan sy heupe; en hulle het gekom en vlak by die koperaltaar gaan staan.  En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe;  en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het.  En die Here sê vir hom:  Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak 'n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.  Maar aan die ander sê Hy voor my ore:  Trek agter hom aan deur die stad, en slaan;  laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe;  maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom.  En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.”

Die Here het aan Esegiël getoon, dat Hy weet wie Sy diensknegte is - hulle wat sug en steun oor die gruwels wat in die naam van aanbidding, gepleeg word. Hulle word met 'n merk op hulle voorhoofde verseël. Die merkwerk moes begin by die heiligdom (die kerk) en die oudstes van die volk (geestelike leiers - predikante). Hierna moes almal wat nie God se merk ontvang het nie, maar wat agter die valse leiers aangegaan het, saam met hulle gedood word. Niemand mag verskoon word nie! Johannes het 'n soortgelyke verseëlingswerk gesien.

Openb 7:2,3
“En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê:  Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.”

Voor die genadedeur vir die wêreld sluit, sal al God se diensknegte eers verseël word met die Seël van die Lewende God, voordat die winde van oorloë losgelaat mag word.
 
Deut 6:6-8    
“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees.”

God wou al in die OT hê dat die Joodse volk Sy Morele wet op hul hande (dade) en voorhoofde (verstand) dra. Ongelukkig het die Jode die betekenis van God se opdrag verkeerd vertolk en dit letterlik probeer uitvoer deur rolletjies van die wet te maak en dit soos armbande en voorhoofsbande te dra, sonder dat hul harte daardeur verander is.

Eseg 36:26,27    
“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee;  en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”

Slegs deur die inwonende Heilige Gees word harte van klip verander in harte van vlees. Hy stel ons in staat om God se Wet uit te leef wat Hy in ons harte ingegraveer het, tydens die wedergeboorte (Hebr 8:10; Efe 2:10).

1 Joh 3:24    
“En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom.  En hieraan weet ons dat Hy in ons bly:  aan die Gees wat Hy ons gegee het.”
 
Die inwonende Heilige Gees en die onderhouding van God se gebooie gaan hand aan hand. Albei se teenwoordigheid is die teken dat God die heerskappy in ons lewens voer.
 
Efe 4:30        
“En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Die Heilige Gees oortuig ons van God se Waarhede (Joh 16:7-13). Deur aan Sy roepstem ongehoorsaam te wees, bedroef ons die Heilige Gees en kan Hy nie Sy werk in ons voltooi, en ons verseël nie. Sonder die Seël van die Heilige Gees is ons verlore.

‘n Seël is ‘n merk van egtheid en gesag. Elke Seël van Gesag bevat drie kenmerke. Let op die Seël of Teken van gewese Staatspresident Paul Kruger:

Sy Naam                    - Paul Kruger
Sy Titel                      - President
Sy Regeringsgebied  - De Zuid Afrikaanse Republiek.

Net so het die Lewende God ook 'n Seël of Teken van Gesag:

Ex 20 :8-11    
“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God;  dan mag jy géén werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.  Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.”

Die Sewendedag Sabbat (wat val op die Saterdag) is die Seël van die Lewende God, en Sy onderdane sal die Seël respekteer:


Sy Naam                    - Die HERE (YEHOVAH)
Sy Titel                      - Skepper, en
Sy Regeringsgebied  - Die Hemel en die Aarde en die See en die Waterfonteine.

Elkeen wat Jesus dus erken as die Skepper en Verlosser van sy lewe, sal dus ook die Sewendedag Sabbat erken en onderhou as teken van hul onderdanigheid aan Hom.

Eseg 20:20    
“En heilig My sabbatte; en hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat ek die Here julle God is.”

Die Here vra dat almal wat Hom wil erken as hulle God, Sy Sabbat moet heilig. Die Sabbat is die Teken van God se gesag.

Eseg 20:12    
“Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig.”

Die Sabbat van die Here moet dien as teken dat die Here die heiligmakingsproses in ons lewens verrig. Enigeen wat die Sabbat van die Here onderhou en heilig, erken daarmee dat hy nie in werksheiligheid (wettiesheid) glo nie. Deur die Sabbat te hou, erken ons dat ons slegs deur die genade van God gered word deur die geloof in Jesus se bloed (Sy geregtigheid) en die werking van die Heilige Gees in ons lewe (Sy heiligmaking).

KENMERKENDE VERGELYKING TUSSEN JESUS EN SY MERKTEKEN VAN GESAG, DIE SABBAT

Mark 2:28    
“Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.”


Geen wonder dat Jesus die Sabbat erken as Sy heilige dag nie. Dit is ‘n weerspieëling van Sy karakter en van die verlossing van die mens uit die mag van sonde.

 

Gaan na die volgende studie:  WAARSKUWING TEEN DIE MERK EN AANBIDDING VAN DIE DIER

bottom of page