top of page

30. TOT HIERTOE HET DIE HERE ONS GELEI
 
DOEL VAN DIE BOEK OPENBARING


Die heelal en sy geskape wesens was geskep tot eer van sy Skepper, want Hy is die Een wat dit geskape het en in stand hou (Gen 1:1; Joh 1:3; Kol 1:16,17). Een van God se geskape wesens, Lucifer (Latyns vir Môrester) het egter teen God in opstand gekom, ‘n derde van die hemelse engele het hulle agter hom geskaar en probeer om ‘n staatsgreep op God se troon uit te voer. Satan en sy navolgers is egter uit die hemel gewerp (Jes 14:12-14; Eseg 28:12-17; Openb 12:7-9).

Met misleiding het Lucifer die mens (geskape na God se beeld) tot sonde oorgehaal en so het die mens sy eerste kans tot die ewige lewe verbrou. Maar deur die belofte van die “Saad van die vrou” sou God die mens ‘n tweede kans gun, om die ewige lewe te bekom  (Gen 3:1-21). Elkeen wat die beloofde Messias as sy persoonlike Verlosser van die sonde aanvaar, en Hom alleen gehoorsaam is, sal die ewige lewe ontvang (Joh 3:16,36; 1 Joh 5:11,12).

DIE VERLOSSINGSPLAN

Nadat sonde in die heelal ingekom het, was en bly dit steeds God se plan om sonde op die regre tyd finaal uit te wis. Nooit weer sal sonde daarna sy kop in die heelal uitsteek nie, want alle geskape wesens sal die karakter van Sonde verstaan en God se liefdevolle karakter sal nooit weer in twyfel getrek word nie. Verlostes sien uit na die wederkoms van Jesus, want dan sal geliefdes wat deur die dood van mekaar geskei is, herenig word en die ewige lewe ontvang. Sonde, Satan, bose engele en die goddelose, sal finaal uitgewis word. Dan sal God ‘n nuwe aarde en hemele skep, wat op die beginsels van sy geregtigheid sal funksioneer. Voor dit ‘n werklikheid kan word, is daar heelwat dinge wat eers in die menslike geskiedenis sal plaasvind.

Terwyl God aan die een kant poog om die mens wat na sy beeld geskape is, te red, is die duiwel en sy magte aan die anderkant besig om soveel mense moontlik, saam met hom die verderf in te neem.  
 
Die Bybel (God se openbaring aan die mens), lig die stryd wat woed aan ons uit. Die boek Openbaring in die NT en Daniël in die OT, word beide as apokaliptiese (Eindtyd) boeke beskou. Beide die boeke handel oor die geskiedenis van God se volk in hul verhouding met die res van die wêreld. Die twee boeke openbaar die strategie wat gevolg word om die toekoms van God se volk te verseker en die uiteindelike vernietiging van Sonde te bewerkstellig.

Openb 1:1   

“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.

God wil sy strategie om sy kinders te red, deur die boek van Openbaring, aan ons bekend maak. Johannes, die laaste apostel wat nog lewe, word die opdrag gegee om die visioene wat aan hom geopenbaar word, aan die kerk (gelowige kinders van God) te gee. Dit is God se plan dat die boek Openbaring, die kerk sal voorberei vir die dinge wat gaan plaasvind.

Openb 22:20    

“Hy wat dit getuig sê: Ja, Ek kom gou.  Amen, ja kom Here Jesus!”

Jesus Self, aan wie die boek van Openbaring behoort, sê dat Hy gou sal terugkom om sy kinders te kom haal. Dit is die hoop wat sedert die sondeval, nog in elke geslag weerklink. Jesus gaan kom om die mag van die sonde te verbreek en die heelal in sy oorspronklike staat te  herstel. Johannes is opgewonde oor die belofte wat Jesus aan die einde van die boek maak. Dit herinner hom aan die belofte wat Jesus gemaak het, toe Hy nog saam met hulle op aarde was.

Joh 14:1-3    

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
 
Hierdie belofte het Jesus aan sy dissipels gemaak net voor Hy gevange geneem en gekruisig is. Jesus wou hê dat sy dissipels die feit van die verlossing deur die Wederkoms nie moes vergeet nie. Die tema van die Wederkoms is so sterk in die NT, dat ‘n mens kan sê dat dit gemiddeld een maal vir elke vyf verse in die NT voorkom. Maar voor die wederkoms kan aanbreek, moet die mensdom gewaarsku word oor die komende oordeel, wat sal bepaal, wie gered en wie verlore sal wees.

Hand 17:30,31    

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee, deur Hom uit die dode op te wek.”

Ons hemelse Vader het ‘n tyd daar gestel vir die wêreld om die maat van sy sondes vol te maak, net soos dit aan die antieke heidense nasies en Israel van ouds, gegee was. In die afgemete tyd moet die mensdom ‘n keuse vir, of teen God maak. Diegene wat nie Jesus Christus as Verlosser aanneem nie, word gesien as vyande van God. Hulle word beskou as diegene wat aan die kant van die Draak staan, teen God, sy geregtigheid en sy geopenbaarde wil.

Matt 23:37    

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete dood maak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak, en julle wou nie.”

Net soos met Israel van ouds, so roep die Here deur die eeue na sy skepsele om die lewe te ontvang van Hom wat hulle Verlosser is. Hoe jammer dat die meeste van God se geskape kinders die rug op Hom keer en die plesier van die god van die wêreld, Satan, najaag.

2 Pet 3:9,10    

“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.  Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”
 
Die lewende God is egter nie ‘n Tiran nie, maar liefdevol en genadig, en wil graag hêdat almal gered moet word. Hy sal egter niemand teen sy sin dwing om Hom lief te hê, en Hom gehoorsaam te wees nie.

As Skepper van alles wat lewe, het Hy egter die reg om daardie lewe weg te neem, of ewig te laat voortbestaan. Hierdie lewe is ‘n proeftyd waarin die mens verkeer. Hierdie lewe is toekomsbepalend vir elke mens wat ooit gelewe het, of nog die voorreg sal hê, om te lewe, voor Jesus op die wolke sal verskyn. Want daarnaontvang elke mens die loon wat hom toekom, hetsy dit die ewige lewe saam met sy Skepper en Verlosser is, of die ewige dood saam met Satan.

DANIËL EN DIE WEDERKOMS
(PROFETIESE GETUIE VAN DIE OU TESTAMENT)


Die apokaliptiese boek van Daniël (OT), is God se getuie vir die wederkoms wat aan die einde van die wêreld se geskiedenis sal plaasvind. Ons gaan net kortliks verwys na die hoogtepunte in die boek om te bewys dat die Wederkoms die klimaks van die menslike geskiedenis, in die boek van Daniël, is.

 

Gaan na die volgende studie:  DANIËL 2 EN 7

bottom of page