top of page

31. DIE TWEEDE DOOD VAN OPENBARING
 
DIE HEL


Vreeslike geskreeu en stemme styg skielik op vanuit die onderaardse dieptes na die rustige vlakte daarbo. Verwonderd stroom honderde mense om die donker diep gat in die aarde gade te slaan. 'n Predikant wys daarop dat dít die hel is, waar Satan en sy bose engele die onuitbluslike vuur stook. Dit is hier waar die goddelose vir ewig gepynig word in smart.

Iewers op 'n ander kontinent, preek 'n predikant van die liefde van God wat so groot is, dat Hy nooit mense in die Helse Vuur sal laat brand nie. Elke sondaar wat Christus nie aangeneem het nie, sal 'n tweede kans kry en selfs 'n derde kans, totdat hy uit radeloosheid sal ophou veg teen die liefde van God, wat hom wil red. Uiteindelik, na duisende jare, sal die laaste siel gered wees en ewige vrede sal op die aarde toesak.

WAT SÊ DIE BYBEL VAN DIE HEL

Matt 5:29,30    

As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af;  want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.  En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.”

Volgens Jesus sal daar regtig 'n Hel wees, waarin mense gegooi sal word, maar dit brand nog nie.

Matt 13:40-42    

“Net soos die onkruid dan bymekaar gemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi.  Daar sal geween wees en gekners van die tande.”

Die Hel sal eers aan die voleinding van die wêreld plaasvind. Dit is nie nou ‘n plek waar die goddelose alreeds brand nie.

2 Pet 3:5-7   

Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.  Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”

Toe die eerste wêreld sy maatbeker van sonde volgemaak het, het God hulle met die Sondvloed vernietig. God het slegs agt mense (Noag en sy gesin) deur die ark gered om die menslike geslag in die lewe te hou.

Hierdie teenswoordige wêreld waarin ons woon, sal nie weer deur water vernietig word, wanneer haar maatbeker van sonde vol geword het nie. Hierdie aarde wag vir die finale Oordeel. Al die goddelose, vanaf Kain tot die laaste goddelose wat lewe tot die wederkoms van Jesus, sal saam met hierdie aarde, deur vuur vernietig word.

Openb 20:13-15  

En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.  Dit is die tweede dood.  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

Dit is tydens die finale Oordeel oor sonde, dat die goddelose in die poel van vuur gewerp sal word. Maar wanneer sal dit wees?
 
Openb 20:5a,7-10   

“En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig is nie...  En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.  En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp...”


Die regverdiges het met die wederkoms gedeel in die eerste opstanding en vir die hele 1000 jaar saam met Christus regeer. Die goddelose was egter gedurende die hele 1000 jaar dood, en sou eers na die 1000 jaar uit die dood opstaan.

Tydens hierdie (tweede) opstanding, ná die 1000 jaar, sal die goddelose geoordeel word volgens hulle werke. Omdat nie een se naam in die boek van die lewe van die Lam verskyn nie, sal hulle in die poel van vuur gewerp word.

Satan mislei die goddelose (hulle wat na die 1000 jaar opgewek is), wie se saak hopeloos is, want hulle is gedoem tot die tweede dood (poel wat brand met vuur en swawel). Hy hits hulle aan om die geliefde stad aan te val.  In die stad is die boom van die lewe en die water van die lewe. Indien hulle daarvan in die hande kan kry, is die moontlikheid daar dat hulle dalk vir ewig in sonde sal kan voortleef.

Nadat Adam en Eva van die boom van kennis goed en kwaad geëet het (sonde gepleeg het), het God hulle uit die tuin van Eden verban, sodat hulle nie van die boom van die lewe moes eet nie, en so vir ewig in sonde sou voortbestaan nie. Indien die goddelose na die finale uitspraak teen hulle, wel van die boom van die lewe te ete kry, sal dit Satan se eie goddelose lewe verseker. God sal dit verhoed.

Die Skrif sê dat vuur uit die hemel vanaf God sal neerdaal en die goddelose sal verslind en die Satan self sal ook in die poel van vuur gegooi word. Die poel van vuur word die Tweede Dood genoem.

 

Gaan na die volgende studie:  IS DIE HEL WERKLIK NOODSAAKLIK?

bottom of page