top of page

DIE BETEKENIS VAN DIE KRUIS IN DIE PLAN VAN VERLOSSING

Gal 3:10,13      

Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.  Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word - want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.”

Ons as sondaars kan nie die vereistes van die Wet van God (volkome gehoorsaamheid) volbring nie - ons is na regte, die vervloektes van die Wet. Maar Christus het ons losgekoop van die Vloek van die Wet (Ewige of Tweede Dood), deur die Vervloekte van die Wet, in ons plek te word, en in ons plek die straf van die Vloek (ewige dood) te dra (Hand 5:30).

2 Kor 5:21    

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Christus, die volmaakte Mens, is Sonde vir ons gemaak - Hy het die Vloek van die Wet van God namens u en my, op Homself geneem.

Jes 53:3-7    

“Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte - dié het Hy gedra;  maar ons het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop;  maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie;  soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders - ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”

Jesus was verag deur die godsdienstige leiers, soos voorspel. Hy was beskou as een wat deur God geslaan en verwerp is. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor en ons ongeregtigheid (sonde - vloek van die wet) het God op Hom laat neerkom. Tog het Jesus nie een van sy medemense beskuldig nie, maar het net gesê: "Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie." (Luk 23:34).

Matt 26:42   

Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

Jesus het die beker van God se toorn op sonde, ten behoewe van die mens, gedrink. Daardeur het Hy verlossing moontlik gemaak vir elke persoon wat die Evangelie aanvaar. Hy wat glo in Jesus as sy persoonlike Verlosser van die Sonde en Hom as Meester gehoorsaam, sal nie nodig hê om die vloek van God op die sonde, die Tweede (of Ewige) Dood, te ervaar nie.

HET CHRISTUS DIE TWEEDE (EWIGE) DOOD GESTERF?

Fil 2:6-8    

Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Met Sy vleeswording moes Jesus Sy Goddelike Regte (die onafhanklike gebruik van Sy Godheid tot voordeel van Homself) prysgee. Hy moes nie ‘n gewone dood sterf nie, maar die dood van die Kruis (die dood van die Vervloekte wat aan ‘n paal hang).

Hebr 5:7,8    

Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs - Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.”

Jesus moes deur absolute gehoorsaamheid aan die wil van God, die mens se plaasvervanger word. Dit kon Hy slegs vermag, as Hy al die vereistes van die Wet volkome sou gehoorsaam. Sy absolute gehoorsaamheid, het Hom geskik gemaak vir Sy taak as Plaasvervanger, Middelaar en Regter.

Matt 27:45,46    

En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni?  Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Ten spyte van Sy absolute gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader, het Jesus aan die kruis werklik die gevoel gehad dat Sy Vader hom verlaat het. Die hoop dat die Vader Hom uit die dood sou opwek, is van Hom weggeneem. Hy was nou alleen in die wynpers en moes die volle lydensbeker van God se toorn teen die sonde ervaar, nl. die verlating deur God (Vloek van die wet of die straf van die Tweede Dood). (Matt 26:38-42; Rom 8:32; Gal 3:13).
 
Luk 23:35-39       

En die volk het dit staan en aanskou.  En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.  En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring en gesê:  As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.  En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.  En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê:  As U die Christus is, verlos Uself en ons.”

Satan het hierdie vrees wat Jesus gehad het vir die beker van die toorn van God op sonde (die Tweede Dood), probeer uitbuit. Drie maal het Satan vir Jesus versoek om Sy Godheid te gebruik om van die Kruis af te kom en Homself te red.

Deur van die kruis af te kom, sou Jesus Sy eie lewe kon red, maar die Verlossingsplan ten behoewe van die mens, sou vernietig word!

Joh 19:30   

“En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring!  En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”

Toe Jesus sterf aan die kruis, is die verlossingsplan verseël. Die beloofde Saad (Gen 3:15) het die vyand se kop vermorsel. Die oorwinning oor sonde was finaal beklink.

Hebr 2:9,10   

“Maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.  Want dit het Hom betaam, terwille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.”
 
Deur tot die einde toe gehoorsaam te wees aan die wil van God, het Jesus die toets deurstaan. Hy het die vereistes van die Wet, volbring - die sondaar het in die liggaam van Jesus, geboet vir die oortreding van God se heilige Wet.
 
Deur te sterwe in volmaakte gehoorsaamheid aan die wil van God het Jesus vier dinge vermag: [1] die karakter van God in sy Wet, in ere herstel. [2] Hy het die mens gered van die ewige dood; [3] Hy het ook bewys dat Hy die Mens liewer het, as Sy eie Lewe en [4] laastens het Hy die finale oorwinning oor Satan (oorsprong van Sonde) behaal.

 

Gaan na die volgende studie:  DIE MAG VAN DIE EVANGELIE

bottom of page