top of page

IS DIE HEL WERKLIK NOODSAAKLIK?

1 Joh 1:5       

“En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

God verteenwoordig Waarheid en Reinheid wat deur lig gesimboliseer word. Sonde en Valsheid word deur duisternis gesimboliseer. Weens die Skepper se karakter van waarheid en geregtigheid, sal Hy nie Sonde vir ewig laat voortbestaan nie.
 
Hebr 1:9       

“U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat;  daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.”

God haat ongeregtigheid, dit druis in teen Sy karakter van Heiligheid en Waarheid. Daarom is Jesus deur die Gees gesalf as Verlosser van die wêreld tydens Sy doop, sodat God met sonde kan afreken.

2 Pet 3:13      

Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Hierdie aarde met sy sonde is 'n klad op die skepping. Die hele verlossingsplan het dit ten doel om van sonde ontslae te raak en die hele skepping van sy bose invloed te bevry. God begeer dat hierdie sonnestelsel waarin sonde gedy, net soos die res van die heelal, deur geregtigheid (waarheid en heiligheid), regeer sal word.

Jes 66:22,23      

Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.”

Die konsep van ‘n nuwe Hemel en 'n Aarde, waarin almal God in harmonie dien en mekaar liefhet, was alreeds in die OT geopenbaar, deur Jesaja, ‘n profeet van God, wat 800 jaar voor Christus se eerste koms geleef het.

GOD SE PLAN OM DIE HEELAL TE REINIG

Openb 21:27     

En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

God se plan is, dat niks wat met sonde te doen het, weer die nuwe skepping sal besmet nie.

2 Pet 3:5-7   

“Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.  Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”

Die Sondvloed het nie die Sonde uit die Heelal vernietig nie. God sal die huidige Hemele en Aarde, wat deur Satan as sy hoofkwartier gebruik word, met 'n goddelike vuur vernietig, waardeur selfs die sonde en Satan uitgewis sal word.

Matt 25:41    

Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”

Hierdie vuur is eintlik bedoel om die oorsprong van Sonde, Satan en sy engele, mee te vernietig.

Openb 21:8    

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars - hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel:  dit is die tweede dood.”

Daar is mense wat weier om sonde te versaak. Omdat hulle aan sonde bly vaskleef, sal hulle saam met die sonde vernietig word in die poel wat brand met vuur.

Hierdie Poel van Vuur word die Tweede Dood in Openbaring genoem. Regdeur die Bybel word daarna verwys as 'n Vuur, ‘n Brand, ‘n Oond, of die Hel. Dit word ook altyd in die konteks van die uitwissing van die Goddelose, die Sonde en die Kwaad, genoem (Ps 21:9,10; Mal 4:1-3; Obadja 1:16-18; Jes 47:14; Matt 3:12; ens.).

Openb 20:14  

En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp.  Dit is die tweede dood.”
 
Die (eerste) Dood en die Graf word deur die Bybel geassosieer met sonde. Alle sonde het een ding in gemeen, verwydering tussen God en sy skepsele en verwydering tussen mens en mens. God se plan is om selfs die konsep of gedagte aan die dood en die graf, die wreedste skeiding wat die mens ken, uit te wis. Alles wat na sonde verwys, sal deur dié goddelike vuur vernietig word.

Nah 1:6,9    

Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom. Wat wil julle beraam teen die Here? Hy maak daar 'n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.”

Sonde moet deeglik vernietig word, sodat die benoudheid nooit weer kan kop uitsteek in die Heelal nie. Daarom is die Hel noodsaaklik.

DIE HEL - GAAN DIT VIR EWIG BRAND?

Openb 14:9-11    

En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê:  As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie - hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Die rook van hulle pyniging gaan vir ewig op en die merkdraers het dag en nag geen rus nie - Wat 'n vreeslike gedagte!

Openb 20:10     

En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is;  en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
 
Die duiwel sal ook na die finale oordeel in die poel van vuur gegooi word, waar die Dier en die Valse Profeet gegooi is. Die teks sê dat hulle tot in alle ewigheid gepynig sal word - wat 'n vreeslike gedagte!

Volgens die twee bogenoemde tekste, blyk dit of die Satan, sy bose engele en die goddelose vir ewig sal brand en nooit sal ophou brand nie. Dit het tot gevolg dat daar na die "Ewigbrandende Hel" verwys word. Maar is dit wat die Bybel regtig bedoel?

Gaan die goddelose in ‘n bewuste staat gepynig word met vuur en swawel, tot in alle ewigheid?

 

Gaan na die volgende studie: BYBELSE KONSEP VAN DIE WOORDE “EWIG” OF “ALTYD”

bottom of page