top of page

DIE MAG VAN DIE EVANGELIE

2 Tim 1:8-10       

“Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie.”

Die Evangelie van Jesus Christus aan die kruis, is die krag van God wat die ewige lewe (onsterflikheid), aan die mens wat glo, kan gee.

Hebr 2:14,15    

“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het - dit is die duiwel - En almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”

Jesus het mens geword, sodat Hy deur volmaakte gehoorsaamheid, die sonde in die mens kan oorwin. Deur die Tweede Dood as mens te sterf het Hy die vereistes van God se Wet (die oortreder moet sterf) nagekom, en as Godmens weer daaruit op te staan, het Hy die mag van die Satan oor die dood en oor die sondaar, verbreek.

Openb 1:17,18     

“En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete;  en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê:  Moenie vrees nie;  Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.  Amen.  En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.”

Hoe het Jesus die Sleutels van die Dood en die Doderyk bekom? Deur die Tweede Dood te sterf, het Jesus die reg verkry om die gelowige uit die Eerste Dood te bevry en hom / haar die Ewige Lewe te skenk, sodat die Tweede Dood geen mag oor hulle kan hê nie!

1 Kor 15:1-4      

Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.”

Jesus is gekruisig (opgehang aan ‘n paal) en Hy het gesterf (die vloek van God op sonde ervaar). Op die derde dag het Hy die Eersteling geword van die wat uit die Dood opgestaan het. Ons hoop, om self uit die Dood op te staan, tydens die Wederkoms, is op Hom gevestig.

GOD SE FINALE OPROEP

Openb 22:17    

“En die Gees en die bruid sê:  Kom!  En laat hom wat hoor, sê:  Kom!  En laat hom wat dors het, kom;  en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Ons word gevra om nou te reageer op die roepstem van die Heilige Gees en die Bruid van die Lam (die Kerk). Hy wat in Jesus glo en Hom aanvaar as sy persoonlike Verlosser van die Sonde, sal gered word van die Tweede- of Ewige Dood.

Joh 11:25,26      

“Jesus sê vir haar:  Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?”

Indien ons soos Martha glo dat Jesus die Opstanding en die Lewe is, dan sal ons die Tweede Dood vryspring en die waarborg hê van die Eerste Opstanding wat lei tot die Ewige Lewe.

Jesus het die Tweede Dood vir alle mense gesterf. Slegs hulle wat hierdie Blye Boodskap van Verlossing in Hom aanvaar, sal die Tweede Dood kan vryspring. Dit berus egter op ‘n vrye keuse - Jesus sal niemand dwing om vir Hom te kies nie - ons moet self besluit wat ons  ewige lotsbestemming sal wees - ongelukkig is daar net twee keuses - Satan en die Ewige Dood, of Jesus en die Ewige Lewe.

 

AANVAAR JY DAT JESUS VIR JOU OOK GESTERF HET?

 

JESUS HET BELOWE DAT ALMAL WAT IN HOM GLO, DIE EWIGE LEWE SAL Hê. GLO JY DIT?

 

Einde van die Openbaring Studie:  Terug na die Inhoudsopgawe

bottom of page