top of page
WhatsApp Image 2025-12-19 at 04.39.46.jpeg

​2. Die Saligsprekinge
 

“Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Mattheüs 5:2,3.

Hierdie woorde klink vreemd en nuut in die ore van die verwonderde menigte. So ’n leer is strydig met alles wat hulle nog ooit van priester of rabbi gehoor het. Hulle vind daar niks in wat hul hoogmoed kan streel of hul ambisies kan bevredig nie. Maar uit hierdie nuwe Leraar straal ’n krag wat hulle in verrukking het. Die Goddelike liefde vloei so aangenaam soos die geur van ’n blom uit Sy wese. Sy woorde val “soos reën op die grasveld, soos buie - ’n swaar reën op die aarde” (Psalm 72:6). Almal voel instinkmatig dat hier iemand is wat die geheimenisse van die siel kan deurvors, maar wat hulle tog teer en simpatiek gesind is. Hulle raak ontvanklik, en terwyl hulle luister, ontvou die Heilige Gees vir hulle iets van die betekenis van die les waaraan die mensdom so ’n dringende behoefte het.


In Christus se dae het die volk se godsdienstige leiers geglo dat hulle ryk aan geestelike skatte is. Die gebed van die Fariseër: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie” (Lukas 18:11) het die gesindheid van sy klas weerspieël, en in ’n groot mate ook dié van die hele volk. Maar in die skare om Jesus was daar mense wat vaagweg bewus was van hul geestelike armoede. Toe die Goddelike mag van Jesus hom in die wonderbaarlike visvangs geopenbaar het, het Petrus voor die Heiland se voete neergeval en uitgeroep: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!” (Lukas 5:8); so was daar ook onder die menigte teen die berghang siele wat voor Sy reinheid gevoel het dat hulle “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is” (Openbaring 3:17); en hulle het verlang na “die reddende genade van God” (Titus 2:11). In hierdie siele het die woorde van Christus hoop opgewek; hulle het besef dat die welwillendheid van God op hul lewens rus.

 

Jesus het die beker vol seëninge vir diegene voorgehou wat gevoel het dat hulle “ryk en verryk geword het” (Openbaring 3:17), en dat hulle aan niks gebrek het nie; en hulle het die genadegawe met minagting verwerp. Hy wat voel dat hy redelik goed is en tevrede is met sy toestand, verlang nie om deel te hê aan die genade en geregtigheid van Christus nie. Die hoogmoed voel geen behoefte nie en sluit die hart vir Christus en vir die oneindige seëninge wat Hy kom gee het. So ’n mens het geen plek in sy hart vir Jesus nie. Hulle wat hulself ryk en eerbaar ag, vra nie in die geloof nie en ontvang nie die seën van God nie. Hulle voel hulle is vol, en stap leeg weg.

 

Hulle wat weet dat hulle hulself onmoontlik nie kan red nie en op eie houtjie tot geen geregtigheid in staat is nie, waardeer die hulp wat Christus kan gee. Hulle is die armes van gees wat Hy salig genoem het.

 

Wie Christus vergewe, maak Hy eers berouvol, en dit is die werk van die Heilige Gees om van sonde te oortuig.

 

Hulle wie se harte oortuig geword het deur die Gees van God, besef dat hulle tot niks goeds in staat is nie. Hulle besef dat alles wat hulle ooit verrig het, met sonde en selfsug bevlek is. Soos die arme tollenaar, staan hulle eenkant en durf hulle nie eers die oë hemelwaarts rig nie, en roep hulle: “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13.) En hulle ontvang die seën. Daar is vergifnis vir die boetvaardige; want Christus is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). God belowe: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee... En Ek sal my Gees in jul binneste gee.” Jesaja 1:18; Esegiël 36:26, 27.

 

Van die arme van gees sê Jesus: “aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Hierdie koninkryk is nie, soos Christus se gehoor gehoop het, ’n tydelike, wêreldse heerskappy nie. Christus was besig om die geestelike koninkryk van Sy liefde, Sy genade, Sy geregtigheid aan hulle te openbaar. Die onderskeidingsteken van die Messias se heerskappy is die beeltenis van die Seun van die mens. Sy onderdane is die armes van gees, die sagmoediges, die vervolgdes ter wille van die geregtigheid. Aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Hoewel dit nog nie in hulle voleindig is nie, het die proses in hulle begin wat hulle “bekwaam” maak “om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig” (Kolossense 1:12).

 

Almal wat besef hoe armoedig hul siel is, wat voel dat hulle vanself tot niks goeds in staat is nie, kan geregtigheid en krag ontvang deur na Jesus op te sien. Hy sê:

 

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Mattheüs 11:28. Hy nooi u om u armoed te verruil vir die rykdom van Sy genade. Ons is die liefde van God nie waardig nie, maar Christus, ons borg, is waardig en is oorvloediglik in staat om almal te red wat na Hom toe kom. Maak nie saak wat u verlede was, of hoe ontmoedigend u huidige omstandighede is nie, as u na Jesus kom soos u is, swak, hulpeloos en moedeloos, sal ons medelydende Heiland u van ver af al tegemoetgaan, u in die arms van Sy liefde omhels en u toemaak met Sy kleed van geregtigheid. Hy stel ons aan die Vader voor, geklee in die wit kleed van Sy eie karakter. Hy pleit om ons ontwil by God en sê:

 

dEk het die sondaar se plek ingeneem. Moenie hierdie afgedwaalde kind aansien nie, maar kyk na My. As die Satan luidkeels teen ons siele betoog en ons van sonde beskuldig en ons opeis as sy prooi, pleit die bloed van Christus met nog groter krag. “Hulle sal van My sê: Alleen in die Here is volle geregtigheid en sterkte;... In die Here sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel.” Jesaja 45:24, 25.

“Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Mattheüs 5:4.

Die verdriet wat hier genoem word, is egte droefheid oor die sonde. Jesus het gesê: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Johannes 12:32. As ’n mens Jesus aan die kruis verhef sien, besef jy hoe sondig die mensdom is. Jy besef dat dit die sonde is wat die Heiland gegêsel en gekruisig het. Jy besef dat, hoewel jy teer bemin word, jy gedurig ondankbaar en opstandig is. Jy het jou beste Vriend in die steek gelaat en misbruik gemaak van die hemel se kosbaarste gawe. In jou lewe het jy die Seun van God opnuut gekruisig en opnuut daardie bebloede en bedroefde hart deursteek. Jy word van God geskei deur ’n kloof van sonde en jy betreur dit met ’n gebroke hart.


Wie so bedroef is, “sal vertroos word.” God toon ons ons sonde, sodat ons ons tot Christus kan wend en Hy ons kan bevry uit die slawerny van die sonde, sodat ons ons kan verheug in die vryheid van die seuns van God. Ons kan met ware berou na die voet van die kruis kom en ons laste daar neerlê. Die Heiland se woorde het ’n vertroostende boodskap vir diegene wat leiding en droefheid ken. Ons droefheid is nie sonder rede nie. “Want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” Klaagliedere 3:33. Wanneer Hy beproewing toelaat, is dit “tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word” (Hebreërs 12:10). As ons dit in die geloof aanvaar, sal die beproewing wat so bitter is, vir ons tot heil wees. Die wrede houe wat ons vreugde op aarde verdryf, sal ons oë na die hemel trek. Hoe baie is daar wat Jesus nooit sou geken het as hulle nie in droefheid by Hom troos gesoek het nie!

 

Die beproewinge van die lewe is God se handlangers wat onreinheid en grofheid uit die karakter verwyder. Die gekap en gebeitel, die geskuur en geskaaf is pynlik. Dit is swaar om teen die slypsteen gedruk te word, maar die geslypte steen is gereed vir sy plek in die hemelse tempel. Die Meester verkwis nie sulke sorgvuldige en deeglike werk aan waardelose stof nie. Net Sy kosbare stene word uitgebeitel na die boustyl van ’n paleis.

 

Die Here sal almal bearbei wat op Hom vertrou. Hulle sal waardevolle lesse leer en waardevolle ondervindinge beleef. Ons hemelse Vader is nooit onbesorg oor hulle wat treur nie. Toe Dawid met bedekte hoof en kaal voete teen die Olyfberg opklim, “terwyl hy altyddeur loop en ween;” (2 Samuel 15:30), het die Here hom medelydend aangesien. Dawid was in sak en as geklee, en sy gewete het hom gegésel. Die uiterlike tekens van sy verootmoediging het getuig van sy berou. Toe Dawid sy saak met trane en ’n gebroke hart aan die Here voorgelê het, het die Here Sy dienskneg nie verwerp nie. Nooit was Dawid vir die liefdevolle Here dierbaarder as toe hy met ’n skuldige gewete vir sy lewe gevlug het van sy vyande wat deur sy eie seun opgestook is nie. Die Here sê: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openbaring 3:19). Christus verhef die gebroke hart en louter die bedroefde siel totdat dit Sy woning word.

 

Hoeveel van ons is egter nie soos Jakob wanneer beproewinge ons oorval nie! Ons dink dis die hand van die vyand; blindelings worstel ons in die duisternis totdat ons uitgeput is sonder om troos of uitkoms te vind. Die Goddelike aanraking het Jakob laat besef met wie hy geworstel het - die Engel van die verbond; wenende en hulpeloos het hy hom oorgegee en toe die seën ontvang waarna sy siel gesmag het. Ons moet ook leer dat beproewinge voordelig is en dat ons die tugtiging van die Here nie moet verag of moedeloos moet word wanneer Hy ons bestraf nie. “Gelukkig is die man wat God kasty;... Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond. In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.” Job 5:17-19. Jesus genees elkeen wat beproef is.

 

’n Lewe van droefheid, pyn en lyding kan opgehelder word met kostelike openbarings van Sy teenwoordigheid. Die Here wil nie hê dat ons met gebroke harte onder die skaduwee van droefheid moet verkeer nie. Hy wil hê ons moet opkyk en die liefde in Sy aangesig sien. Die Heiland staan by menigeen wie se oë so deur trane verblind is, dat hy Hom nie herken nie. Hy verlang om ons aan die hand te hou; dat ons in die geloof tot Hom moet opsien en Hom moet toelaat om ons te lei. Hy voel saam met ons in ons beproewinge en droefheid. Hy het ons met ’n ewige liefde liefgehad en ons met barmhartigheid omring. Ons kan met ons hele hart op Hom vertrou en altyd aan Sy barmhartigheid dink. Hy sal ons bo die alledaagse droefhede en verleenthede verhef en ons vrede gee. Dink hieraan, kinders van lyding en droefheid, en verheug julle in hoop. “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” 1 Johannes 5:4.

 

Salig is ook hulle wat saam met Jesus ween oor die wêreld se leed en bedroef is oor sy sonde. Dit is geen selfsugtige rou nie. Jesus was die Man van Smarte wat onbeskryflike hartseer geken het. Sy gees is deur die oortredinge van mense verbrysel en verskeur. Hy het Hom opgeoffer om mense uit hulle ellende te verlos, en Hy was bedroef toe hulle weier om die lewe by Hom te neem. Almal wat Jesus volg, sal hierdie ondervinding hê. Wanneer hulle in Sy liefde deel, sal hulle ’n aandeel hê in Sy vermoeiende werk vir die redding van verlorenes. Hulle sal deel hê in die lyde van Christus - en in die heerlikheid wat geopenbaar sal word. Hulle wat saam met Hom arbei en uit die beker van Sy droefheid drink, sal ook in Sy vreugde deel. Dit was deur lyding dat Jesus die diens van vertroosting kon aanbied. In elke beproewing van die mens het Hy gedeel; “want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Jesaja 63:9; Hebreërs 2:18). Elke siel wat met Hom in Sy lyde deel, het die voorreg om hierdie diens met Hom te deel. “Soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus” (2 Korinthiërs 1:5).

 

Die Here het ’n besondere genade vir die treurende, en die mag daarvan is om harte te versag, om siele te wen. Sy liefde dring deur na die gewonde en verbryselde siel, en word ’n helende balsem vir die treurende. “Die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” troos ons “in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3, 4).

“Salig is die sagmoediges.” Mattheüs 5:5.

Die Saligsprekinge word gekenmerk deur ’n stygende Christelike belewenis. Die wat hul behoefte aan Christus besef het, die wat getreur het oor die sonde en saam met Christus in die skool van beproewing gesit het, sal by die Goddelike Leraar leer om sagmoedig te wees.


Jesus beskou sagmoedigheid as een van die eerste vereistes vir Sy koninkryk. Die Goddelike skoonheid van hierdie kosbare gawe word in Sy eie lewe en karakter weerspieël. Jesus, die afskynsel van die Vader se heerlikheid, “het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem” (Filippense 2:6, 7). Hy was bereid om al die nederige ondervindinge van die lewe deur te maak en onder die mensekinders te wandel, nie as ’n koning wat eerbetoon vereis nie, maar as Een wie se sending dit was om andere te dien. In Sy gedrag was daar geen sweem van dweepsug, geen kille strengheid nie. Die Verlosser van die wêreld was hoër as die engele, tog was Sy Goddelike majesteit verenig met sagmoedigheid en nederigheid wat almal na Hom getrek het. Jesus het Homself ontledig, en in alles wat Hy gedoen het, was daar geen spore van die ego nie. Hy het alles aan die wil van Sy Vader onderwerp. Toe Hy op die punt was om Sy sending op aarde af te sluit, kon Hy sê: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Johannes 17:4). En aan ons sê Hy: “Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederigheid van hart.” “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën” (Mattheüs 11:29; 16:24), die eie-ek onttroon en hom nie meer toelaat om oor die siel te heers nie. Hy wat Christus in Sy selfverloëning, Sy nederigheid van hart aanskou, sal gedwing word om soos Daniël te sê toe Hy Een soos die Seun van ’n mens gesien het: “My gesonde kleur het aan my verander en verdwyn” (Daniël 10:8).

 

Die onafhanklikheid en selfverheerliking waarin ons ons verlustig, word in hul ware afskuwelikheid gesien as tekens van slawerny onder die Satan. Die menslike natuur wil hom altyd laat geld, is altyd gereed vir stryd; maar hy wat van Christus leer, word ontledig van die eieek, van hoogmoed, van die drang na oppermag, en ’n stilte sak toe oor die siel. Die ego word tot die beskikking van die Heilige Gees gestel. Dan streef ons nie meer na die hoogste posisie nie. Dan het ons geen ambisie om onsself na vore te dring nie; maar voel ons dat ons hoogste plek aan die voete van ons Heiland is. Ons sien op na Jesus, wag dat Sy hand ons moet lei, luister dat Sy stem ons moet voorsê. As ons Christus as blywende inwoner in die siel ontvang, sal die vrede van God, wat alle begrip te bowe gaan, ons hart en gees bewaar deur Jesus Christus. Die Heiland se lewe op aarde was, ondanks dit deur stryd omring was, ’n lewe van vrede. Wanneer woedende vyande Hom gedurig agtervolg het, het Hy gesê: “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie; omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). Geen storm van menslike of sataniese toorn kon die kalmte van daardie volmaakte gemeenskap met God verstoor nie. En vir ons sê Hy: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle.” “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Johannes 14:27; Mattheüs 11:29). Dra saam met My die juk van diens ter verheerliking van God en die verheffing van die mensdom, en julle sal ontdek dat die juk sag en die las lig is.

 

Dit is ons selfbeheptheid wat ons vrede vernietig. Solank as wat die eie-ek nog lewe, is ons altyd oorgehaal om dit te verdedig teen vernedering en kastyding; maar as ons dood is en ons lewe met Christus in God opgesluit is, sal ons nie so liggeraak wees as ons gekleineer en verag word nie. Ons sal doof wees vir verwyte en blind vir beledigings en hoon. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer.” 1 Korinthiërs 13:4-8.

​​

Geluk wat uit aardse bronne geput word, is so veranderlik as wat omstandighede dit kan maak; maar die vrede van Christus is ’n bestendige en blywende vrede. Dit hang van geen lewensomstandigheid af nie, nie van die hoeveelheid wêreldse goedere of die aantal wêreldse vriende nie. Christus is die bron van lewende water, en geluk wat uit Hom geput word, vergaan nooit. Die sagmoedigheid van Christus maak die gesin gelukkig as dit in die huis geopenbaar word; dit wek geen rusie op nie, gee geen bitsige antwoord nie, maar bedaar die prikkelbare humeur en straal ’n sagte invloed uit wat deur almal binne sy towerkring aangevoel word. Oral waar dit gekoester word, maak dit die aardse gesinne deel van die een groot gesin daarbo. Dit sou vir ons ver beter wees om valse beskuldigings te verduur as om onsself te teister met die gésel van vergelding. Die gees van haat en vergelding het sy oorsprong in die Satan en kan net onheil bring aan hom wat dit koester. Nederigheid van hart, die sagmoedigheid wat die vrug van ’n lewe in Christus is, is die ware geheim van saligheid. “Hy versier die ootmoediges met heil.” Psalm 149:4.

 

Die sagmoediges “sal die aarde beërwe.”

 

Dit was die drang na selfverheffing wat die wêreld in sonde laat verval en ons eerste voorouers die heerskappy oor hierdie lieflike aarde - hul koninkryk - laat verloor het. Dit is deur selfverloëning dat Christus verlos wat verlore was. En Hy sê ons moet oorwin soos Hy oorwin het (Openbaring 3:21). Deur nederigheid en selfonderwerping kan ons mede-erfgename met Hom word wanneer “die ootmoediges... die aarde besit” (Psalm 37: 11). Die aarde wat aan die sagmoediges belowe is, sal nie soos hierdie een verduister wees deur die skaduwee van die dood en die vloek nie. “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” “Daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.” 2 Petrus 3:13; Openbaring 22:3.

 

Daar is geen teleurstelling, geen droefheid, geen sonde nie, en niemand wat sal sê: Ek is siek nie; daar is geen begrafnisstoete nie, geen roubedryf nie, geen dood, geen afskeid, geen gebroke harte nie; maar Jesus is daar - daar is vrede. Daar sal hulle “geen honger en dors meer hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water” (Jesaja 49:10).

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Mattheüs 5:6.

Geregtigheid is heiligheid, ’n beeltenis van God, en “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Dit is gelykvormigheid aan die wet van God, “want al u gebooie is geregtigheid” (Psalm 119:172), en “die liefde [is] die vervulling van die wet” (Romeine 13:10). Die geregtigheid van God is in Christus beliggaam. Ons ontvang die geregtigheid deur Hom te ontvang.


Nie deur pynlike worsteling of moeisame arbeid, nie deur offergawes kan geregtigheid verkry word nie; maar dit word vrylik aan elke siel gegee wat daarna honger en dors. “o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet;... sonder geld en sonder prys.” “Hulle geregtigheid [is] uit My... spreek die Here” en “dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” Jesaja 55:1; 54:17; Jeremia 23:6. Geen menslike middel kan dit voorsien wat die siel se honger en dors sal bevredig nie. Maar Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Openbaring 3:20; Johannes 6:35.

 

Net soos ons voedsel nodig het om ons liggaamskragte op te bou, so het ons Christus, die Brood van die hemel, nodig om ons geestelike lewe te onderhou en ons krag te gee om die werke van God te verrig. Net soos die liggaam gedurig gevoed moet word om lewe en lewenskrag te gee, so moet die siel gedurig in gemeenskap met Christus verkeer, aan Hom onderwerp word en geheel en al van Hom afhanklik wees. Soos die moeë swerwer soek na die waterbron in die woestyn en sy brandende dors les as hy dit kry, so sal die Christen dors na die suiwer water van die lewe, waarvan Christus die fontein is, en dit verkry. Namate ons die volmaaktheid van die Heiland se karakter bepeins, sal ons verlang om geheel en al verander en vernuwe te word na die beeld van Sy reinheid. Hoe meer ons van God weet, hoe hoër sal ons karakterideaal wees en hoe opregter sal ons begeer om Sy ewebeeld te weerspieël. ’n Goddelike element verbind met die menslike as die siel na God reik en die verlangende hart kan sê; “Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” Psalm 62:6.

 

As u bewus is van ’n behoefte in u siel, as u honger en dors na die geregtigheid, is dit ’n bewys dat Christus u hart aangeraak het, sodat u Hom kan vra om vir u deur die gawe van die Heilige Gees dié dinge te doen wat u self onmoontlik nie kan doen nie. Ons het nie nodig om ons dors in vlak stroompies te probeer les nie; want die groot bron is net hierbo ons van wie se oorvloedige waters ons vrylik kan drink as ons net ’n bietjie hoër wil reik op die pad van die geloof.

 

Die woorde van God is die heilfontein van die lewe.

 

As u na hierdie lewende fonteine soek, sal u, deur die Heilige Gees, in gemeenskap met Christus gebring word. Ou bekende waarhede sal in ’n nuwe lig voor u opdoem, skrifgedeeltes sal soos ’n ligvloed oor u breek met nuwe betekenis, u sal die verband van ander waarhede met die verlossingswerk sien, en u sal weet dat Christus u lei, dat ’n Goddelike Leraar aan u sy is. Jesus het gesê: “Die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14). Die Heilige Gees sal u die waarheid helder laat sien, en u sal die kosbaarste ondervindinge deurmaak en verlang om andere te vertel van die vertroostende dinge wat aan u geopenbaar is. Wanneer u met hulle in aanraking kom, sal u hulle iets nuuts oor die karakter of werk van Christus kan vertel. U sal ’n nuwe openbaring van Sy ontfermende liefde kan gee aan hulle wat Hom liefhet en aan hulle wat Hom nie liefhet nie. “Gee, en aan julle sal gegee word” (Lukas 6:38); want die woord van God “is ’n fontein van die tuine, ’n put met lewende water wat van die Libanon afvloei” (Hooglied 4:15). Die hart wat eers eenmaal die liefde van Christus gesmaak het, roep gedurig om meer te drink, en namate u meedeel, sal u in ryker en oorvloediger mate ontvang. Elke openbaring van God aan die siel stel hom beter in staat om te ken en om lief te hê. Die hart roep gedurig uit: “Meer van U,” en die Gees antwoord ons: “Veel meer” (Romeine 5:9, 10). Want onse God verlustig Hom daarin om “te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20). Aan Jesus, wat Homself ontledig het vir die redding van die verlore gaande mensdom, is die Heilige Gees sonder mate gegee. So sal dit aan elke volgeling van Christus gegee word wanneer die hele hart vir inwoning aan Hom onderwerp word. Onse Here het self die bevel gegee: “Word met die Gees vervul” (Efesiërs 5:18), en hierdie bevel is ook ’n belofte van sy vervulling. Dit het die Vader behaag dat in Christus “die ganse volheid sou woon,” en “julle het die volheid in Hom” (Kolossense 1:19; 2:10). Die Here het Sy liefde sonder mate uitgestort, soos die reën wat die aarde verkwik. Hy sê:

 

“Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit.” “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne.” Jesaja 45:8; 41:17, 18. “Uit sy volheid het ons almal ontvang, ja genade op genade.” Johannes 1:16.

“Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word!” Mattheüs 5:7.

Die mensehart is van nature koud, donker en liefdeloos; enigeen wat ’n gees van ontferming en vergewensgesindheid openbaar, doen dit nie uit homself nie, maar deur die invloed van die Gees van God op sy hart. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 Johannes 4:19.


God is self die bron van alle genade. Sy Naam is “barmhartige en genadige God” (Exodus 34:6). Hy behandel ons nie na verdienste nie. Hy vra nie of ons Sy liefde waardig is nie, maar Hy stort die rykdom van Sy liefde uit om ons waardig te maak. Hy is nie wraaksugtig nie. Hy wil nie straf nie, maar verlos. Selfs die strengheid wat Hy deur Sy voorsienigheid openbaar, is vir die redding van die weerspannige. Hy verlang met ’n innige verlange om die ellende van die mens te verlig en om Sy balsem op hul wonde te sit. Dit is waar dat die Here die ongeregtigheid “nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:7), maar Hy sal die skuld wegneem. Die barmhartiges is “deelgenote... van die goddelike natuur,” en in hulle word die ontfermende liefde van God uitgedruk.

 

Almal wie se harte in voeling klop met die hart van die Oneindige Liefde, sal probeer om te red en nie om te veroordeel nie. As Christus in die siel woon, is Hy ’n fontein wat nooit opdroog nie. Waar Hy woon, daar sal weldadigheid oorloop. Op die geroep van die weerstrewige, die versoekte, die ellendige slagoffers van gebrek en sonde, vra die Christen nie: Is hulle dit waardig nie? maar: Hoe kan ek hulle help? In die ellendigste en mees verdorwene sien hy siele vir wie Christus gesterf het om hulle te red en vir wie God die bediening van versoening aan Sy kinders gegee het. Die barmhartiges is hulle wat medelye met die arme, die lydende en die verdrukte het. Vir baie is die lewe ’n pynlike stryd; hulle is bewus van hul tekortkominge en voel ellendig en ongelowig; hulle dink hulle het niks om voor dankbaar te wees nie. Vriendelike woorde, ’n simpatieke blik, woorde van waardering sal vir baie eensames en sukkelende soos ’n beker koue water vir ’n dorstige siel wees. ’n Simpatieke woord, ’n liefdesdaad, sal laste wat swaar op moeë skouers druk, ligter maak. En elke onselfsugtige, vriendelike woord of daad is ’n uitdrukking van die liefde van Christus vir die verlore mensdom. Aan die barmhartiges “sal barmhartigheid bewys word.” “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” Spreuke 11:25.

 

Daar is soete vrede vir die medelydende gees, en ’n salige genoeglikheid in ’n lewe van selfopofferende diens vir die welsyn van andere. Die Heilige Gees wat in die siel woon en in die lewe geopenbaar word, sal harte week maak en meegevoel en tederheid opwek. Jy sal maai wat jy saai. “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme;... Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die Here sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Psalm 41:2-4. Hy wat sy lewe aan God oorgegee het om Sy kinders te dien, is aangeskakel by Hom wat oor al die hulpbronne van die heelal beskik. Sy lewe is met die lewe van God verbind met die goue ketting van Sy onfeilbare beloftes.

 

Die Here sal hom nie in die uur van lyding en nood verlaat nie. “My God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” Filippense 4:19. En in die uur van die laaste nood sal die barmhartiges skuiling vind in die genade van die medelydende Verlosser en sal hulle in die ewige woninge ontvang word.

“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Mattheüs 5:8.

Die Jode was so nougeset oor seremoniële reinheid, dat hulle reëls ’n las geword het. Hulle was so besig om reëls en beperkinge uit te dink, en so bang vir uiterlike verontreiniging, dat hulle nie besef het watter vlek die selfsug en kwaadwilligheid op die siel laat nie.


Jesus noem hierdie seremoniële reinheid nie as een van die voorwaardes vir toegang tot Sy koninkryk nie, maar Hy vestig die aandag op die noodsaaklikheid van ’n rein hart. “Die wysheid van bo is ten eerste rein.” Jakobus 3:17.

 

Niks wat verontreinig sal in die Godstad toegelaat word nie. Almal wat daar sal woon, sal hier rein van hart geword het. Die mens wat van Jesus leer, sal ’n toenemende afkeer hê van onverskillige gedrag, onwelvoeglike taal en onbehoorlike gedagtes. As Christus in die hart woon, sal die gedagtes en gedrag rein en verfynd word. Maar die woorde van Jesus: “Salig is die wat rein van hart is,” het ’n dieper betekenis - nie net vry van sinlike begeertes en wellus nie, maar opreg in die innerlike begeertes en motiewe van die siel, vry van hoogmoed en selfverheerliking; nederig, onselfsugtig en kinderlik. ’n Mens kan net jou eie soort waardeer. Tensy jy die beginsel van selfopofferende liefde, wat die beginsel van Sy karakter is, deel van jou eie lewe maak, kan jy God nie ken nie. Die hart wat deur die Satan mislei word, sien God as ’n tirannieke, meedoënlose wese; die selfsugtige karaktertrekke van die mens, selfs dié van die Satan self, word aan die liefdevolle Skepper toegedig. “Jy dink Ek is net soos jy,” sê Hy (Psalm 50:21).

 

Sy voorsienigheid word gesien as die uitdrukking van ’n eiemagtige, wraaksugtige natuur. So ook met die Bybel, die skathuis van die rykdom van Sy genade. Die heerlikheid van sy waarhede, wat so hoog soos die hemele is en die ewigheid omvat, bly onopgemerk. Vir die groot mensemassa is Christus self “soos ’n wortel uit droë grond,” en hulle sien in Hom “geen voorkoms,” dat hulle “Hom sou begeer nie” (Jesaja 53:2). Toe Jesus onder die mense gewandel het as die openbaring van God in die mens, het die skrifgeleerdes en Fariseërs van Hom gesê: “U [is] ’n Samaritaan... en [is] van die duiwel besete” (Johannes 8:48). Selfs die dissipels is so verblind deur hul selfsug dat hulle traag was om Hom te verstaan wat gekom het om die liefde van die Vader aan hulle te openbaar. Dit is daarom dat Jesus as ’n eensame onder die mense beweeg het. Net in die hemel is Hy werklik verstaan. Wanneer Christus in Sy heerlikheid kom, kan die goddeloses dit nie verduur om na Hom te kyk nie. Die lig van Sy teenwoordigheid wat lewe is vir dié wat Hom liefhet, is die dood vir die goddeloses. Die verwagting van Sy koms is vir hulle “’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teenstanders sal verteer” (Hebreërs 10:27). Wanneer Hy verskyn, sal hulle bid om verberg te Word vir Hom wat gesterf het om hulle te verlos.

 

Maar alles is anders vir die harte wat gereinig is deur die inwoning van die Heilige Gees. Hulle kan God ken. Moses is in die skeur van die rots verberg toe die heerlikheid van die Here aan hom geopenbaar is; en dit is wanneer ons lewe saam met Christus in God verborge is dat ons die liefde van God aanskou. “Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is - die koning is sy vriend.” Spreuke 22:11. Nou sien ons Hom deur die geloof. In ons daaglikse lewe sien ons Sy goedheid en medelye in Sy voorsienigheid. Ons sien Hom in die karakter van Sy Seun. Die Heilige Gees openbaar aan die hart die waarheid oor God en Hom wat Hy gestuur het. Dié wat rein van hart is, sien God in ’n nuwe, innige verhouding as hul Verlosser, en as hulle die reinheid en lieflikheid van Sy karakter sien, verlang hulle om Sy beeld te weerspieël. Hulle sien in Hom ’n vader wat verlang om sy berouvolle seun te omhels; en hul harte word met ’n onuitspreeklike, heerlike vreugde vervul. Dié wat rein van hart is, sien God in die werke van Sy almagtige hand, in die skoonheid van die heelal. In die geskrewe Woord sien hulle ’n duideliker openbaring van Sy genade, Sy goedheid en Sy guns.

 

Die waarheid wat vir die wyses verberg is, word aan kindertjies geopenbaar. Die skoonheid en kosbaarheid van die waarheid, wat die wêreld-wyse nie kan sien nie, word gedurig geopenbaar aan diegene wat ’n vertrouende, kinderlike begeerte het om die wil van God te ken en te doen. Deur self die Goddelike natuur deelagtig te word, kan ons die waarheid onderskei. Dié wat rein van hart is, leef in die tydjie wat hulle op aarde gegun word asof hulle in die sigbare teenwoordigheid van God is. En in die toekomstige, onsterflike lewe sal hulle Hom van aangesig tot aangesig sien. “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.” 1 Korinthiërs 13:12.

“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Mattheüs 5:9.

Christus is die “Vredevors” (Jesaja 9:6), en Sy sending is om die vrede wat deur die sonde geskend is, in die hemel en op aarde te herstel. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” Romeine 5:1. Elkeen wat bereid is om die sonde te versaak en wat sy hart oopmaak vir die liefde van Christus, word ’n deelgenoot van hierdie hemelse vrede.


Daar is geen ander grondslag vir vrede nie. As die genade van Christus die hart vul, verdryf dit vyandskap; dit beëindig onenigheid en vul die siel met liefde. Dié wat vrede met God en met hulle medemense het, kan nie ongelukkig wees nie. Jaloesie sal in daardie hart nie gevind word nie; bose vermoedens sal daar geen plek vind nie, en haat kan daar nie bestaan nie. Die hart wat in voeling met God verkeer, het die hemelse vrede, en die geseënde invloed daarvan sal uit hom straal. Die vrede sal soos dou wees op harte wat vermoeid en belas is met wêreldse twis.

 

Christus se volgelinge word met ’n vredesboodskap na die wêreld gestuur.

 

Elkeen wat die liefde van Christus onwetend deur die stille invloed van ’n heilige lewe openbaar; elkeen wat ’n ander deur woord en daad daartoe beweeg om die sonde te versaak en sy hart aan God te gee, is ’n vredemaker. En “salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Die vreedsame gees bewys hul verbinding met die hemel. Die soete teenwoordigheid van Christus omring hulle. Hul verkwiklike lewe en skoonheid van karakter toon aan die wêreld dat hulle kinders van God is. Mense is bewus daarvan dat hulle by Jesus was. “Elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.” “As iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie,” maar “almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” 1 Johannes 4:7; Romeine 8:9, 14.

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Mattheüs 5:10.

Jesus beloof Sy volgelinge nie aardse heerlikheid of rykdom of ’n sorgelose lewe nie, maar Hy bied hulle die voorreg om saam met hulle Meester in die weë van selfverloëning en verwyt te wandel omdat die wêreld hulle nie ken nie.


Hy wat gekom het om die wêreld te verlos, moes die verset van die verenigde magte van die teenstanders van God en mens verduur. Meedoënloos het bose mense en bose engele hulle teen die Vredevors geskaar. Hoewel elke woord en daad van Hom van Goddelike barmhartigheid getuig het, is Hy gehaat omdat Hy so anders as die wêreld was. Omdat Hy die botviering van die bose hartstogte van ons natuur nie wou goedpraat nie, het Hy verwoede vyandskap en teenstand uitgelok. So gaan dit met almal wat godvrugtig in Christus wil leef. Tussen geregtigheid en sonde, liefde en haat, waarheid en valsheid is daar ’n onversoenbare botsing. As iemand die liefde van Christus en ’n mooi heilige lewe aan die dag lê, trek hy die onderdane van die koninkryk van die Satan weg, en dit maak die vors van die duisternis opstandig.

 

Vervolging en verwyt wag vir almal wat met die gees van Christus besiel is.

 

Die aard van die vervolging verander met die tyd, maar die beginsel - die onderliggende gees - is nog dieselfde as die wat sedert die dae van Abel tot die dood van die Here se uitverkorenes gelei het. Die mens wat strewe na eenheid met God, sal ontdek dat die kruis steeds aanstoot gee. Owerhede en magte en bose geeste in die lug verset hulle teen almal wat gehoorsaam aan die wet van die hemel wil wees. Daarom moet die dissipels van Christus hulle nie ontstel oor vervolging nie; hulle moet liewer bly wees, want dit is ’n bewys dat hulle in die voetstappe van hul Meester volg. Hoewel die Here nie beloof het om Sy volk teen beproewinge te vrywaar nie, het Hy hulle iets beters belowe. Hy het gesê: “Mag... jou sterkte soos jou dae” wees. “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (Deuteronomium 33:25; 2 Korinthiërs 12:9).

 

As u geroep word om vir Jesus deur die vuuroond te gaan, sal Hy aan u sy wees, soos Hy met die drie jong manne in Babel was.

 

Wie hulle Verlosser liefhet, sal hulle verheug in elke geleentheid om saam met Hom in Sy vernedering en verwyt te deel. Hul liefde vir hul Here maak dit heerlik om ter wille van Sy Naam te ly. Te midde van beproewinge en verdrukking word die heerlikheid - karakter - van God in Sy uitverkorenes geopenbaar. Die kerk van God, wat deur die wêreld gehaat en vervolg word, word in die skool van Christus opgevoed en getug. Hulle bewandel enge paaie op aarde; hulle word in die vuur van verdrukking gelouter. Hulle volg Christus deur bittere beproewinge; hulle verduur selfverloëning en ondervind bittere teleurstellings; maar hul pynlike ondervinding leer hulle die skuld en die wee van die sonde ken, en hulle verafsku dit. Omdat hulle in Christus se lyding deel, is hulle bestem om in Sy heerlikheid te deel.

 

In ’n heilige visioen het die profeet die oorwinning van die volk van God gesien. Hy sê: “En ek het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars... het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges.” “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan.” Openbaring 15:2, 3; 7:14, 15.

“Salig is julle wanneer die mense julle beledig.” Mattheüs 5:11.

Sedert hy in sonde geval het, gaan die Satan nog altyd met bedrog te werk. Net soos hy God verdraaid voorgestel het, gee hy ook ’n skewe beeld van die kinders van God. Die Heiland sê: “Die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.” Psalm 69:10. So het hulle ook op Sy dissipels geval.


Niemand op aarde is ooit wreder belaster as die Seun van die mens nie. Hy is bespot en uitgelag omdat Hy onwrikbaar aan die beginsels van die wet van God vasgehou het. Hulle het Hom sonder oorsaak gehaat. Tog het Hy kalm voor Sy vyande gestaan, en verklaar dat verwyt deel van die Christen se erfenis is. Hy het Sy volgelinge geleer hoe om die pyle van haat af te weer en hulle beveel om nie onder vervolging moedeloos te word nie.

 

Laster kan wel die naam beswadder, maar dit kan nie die karakter bevlek nie. Dit word deur die Here in bewaring gehou. Solank ons nie aan die sonde toegee nie, kan geen menslike of sataniese mag die siel bevlek nie. Die mens wie se hart op God vertrou, is in die uur van sy grootste beproewinge en ontmoedigendste omstandighede presies dieselfde as toe die guns van God hom bestraal het. Sy woorde, sy motiewe, sy dade, kan wel skeef voorgestel en vervals word, maar hy gee nie om nie, want vir hom is daar groter belange op die spel. Soos Moses het hy “volgehou soos een wat die onsienlike sien” (Hebreërs 11:27) en nie “op die sigbare dinge” gelet nie, “maar op die onsigbare” (2 Korinthiërs 4:18).

 

Christus is bekend met alles wat mense misverstaan of verdraaid voorstel. Sy kinders kan dit bekostig om bedaard en geduldig te wag en te vertrou, al word hulle ook hoe beswadder en verag; want niks is geheim wat nie geopenbaar sal word nie, en hulle wat God eer, sal in die teenwoordigheid van mense en engele deur Hom vereer word. “Wanneer die mense julle beledig en vervolg,” het Jesus gesê, “verbly en verheug julle.” En Hy het sy toehoorders verwys na die profete wat in die Naam van die Here gespreek het, as “voorbeeld van lyding... en van geduld” (Jakobus 5:10). Abel, die heel eerste Christen onder Adam se kinders, het as martelaar gesterf. Henog het met die Here gewandel, en die wêreld het hom nie geken nie. Noag is bespot as fanatikus en alarmmaker. “Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.” “Ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ’n beter opstanding te kan verkry.” Hebreërs 11:36, 35.

 

In elke eeu is God se uitverkore boodskappers beledig en vervolg, en tog is die kennis van God deur hul beproewing versprei. Elke dissipel van Christus moet hom by die geledere voeg en dieselfde werk voortsit, wetende dat sy vyande die waarheid nie kan benadeel nie, maar net kan bevorder. Die Here wil hê dat die waarheid op die voorgrond gebring en as onderwerp ondersoek en bespreek moet word, selfs al word dit aan smaad onderwerp. Die mense se gedagtes moet geprikkel word; elke strydpunt, elke verwyt, elke poging om die vryheid van die gewete aan bande te lê, is die Here se middel om gedagtes wat andersins sou gesluimer het, wakker te skud. Groot is die beloning in die hemel vir hulle wat ondanks vervolging en verwyte vir Christus getuig.

 

Die mense soek na aardse gewin, maar Jesus wys hulle op die hemelse beloning. Hy gee dit egter nie alles in die toekomstige lewe nie; Hy begin hier. Die Here het van ouds aan Abraham verskyn en gesê: “Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot” (Genesis 15:1). Dit is die loon van almal wat Christus volg. Jehova Emmanuel - Hy “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” in wie “al die volheid van die Godheid liggaamlik” woon (Kolossense 2:3, 9) - om met Hom in voeling te wees, om Hom te ken, om Hom te besit, namate die hart al hoe meer oopgaan om Hom en Sy karaktertrekke te ontvang; om Sy liefde en krag te ken, om die ondeurgrondelike rykdom van Christus te besit, om al hoe meer te begryp “wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efesiërs 3:18, 19), “dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here” (Jesaja 54:17). Dit was die vreugde wat in Paulus en Silas se harte was toe hulle in die gevangenis in Filippi lofliedere tot God gesing het. Christus was daar by hulle, en die lig van Sy teenwoordigheid het die duisternis van die kerker met die heerlikheid van die hemelse howe verlig. Uit Rome het Paulus, sonder om aan sy boeie te dink, geskryf oor die verspreiding van die evangelie: “Hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly” (Filippense 1:18). En die einste woorde van Christus op die berg vind weerklank in Paulus se boodskap aan die gemeente te Filippi, te midde van hul vervolginge: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle” (Filippense 4:4).

“Julle is die sout van die aarde.” Mattheüs 5:13.

Sout is waardevol as ’n bederfweermiddel; en wanneer God Sy kinders die sout van die aarde noem, wil Hy hulle leer dat Hy hulle die ontvangers van Sy genade gemaak het sodat hulle werktuie kan word om ander te red. Die rede waarom God ’n volk uitverkies het om voor die wêreld te staan, was nie net dat Hy hulle as Sy seuns en dogters kon aanneem nie, maar dat die wêreld deur hulle die “reddende genade” kon ontvang (Titus 2:11).

 

Toe die Here Abraham uitverkies het, was dit nie net om die besondere vriend van God te word nie, maar om die tussenpersoon te wees deur wie Hy besondere voorregte aan die volke sou kon skenk. Jesus het in Sy laaste gebed saam met Sy dissipels net voor Sy kruisiging gesê: “Maar Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.” Johannes 17:19. Net so sal Christene wat deur die waarheid geheilig word, reddende eienskappe besit wat die wêreld van algehele sedelike verval sal bewaar.


Sout moet gemeng word met die stof waarby dit gevoeg word; dit moet binnedring en deurdring om te kan bewaar. So is dit ook deur persoonlike aanraking en omgang dat mense deur die reddende krag van die evangelie bereik word. Hulle word nie as massas gered nie, maar as persone.

 

Persoonlike invloed is kragtig.

 

Ons moet op intieme voet verkeer met diegene wat ons graag wil help. Die smaak van sout stel die lewenskrag van die Christen voor - die liefde van Jesus in sy hart, die geregtigheid van Christus wat die lewe deurtrek. Die liefde van Christus sprei uit en dring in. As dit in ons woon, sal dit uitvloei na ander. Ons sal na aan hulle kom, totdat hul harte aangeraak word deur ons onselfsugtige belangstelling en liefde. Die ware gelowige straal ’n lewenskrag uit wat die siele van dié vir wie hy arbei binnedring en nuwe morele krag aan hulle gee. Dit is nie die krag van die persoon self nie, maar die krag van die Heilige Gees wat vir die opwekking sorg.

 

Jesus het hierdie ernstige waarskuwing bygevoeg: “Maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” Terwyl die mense na Jesus se woorde geluister het, kon hulle die wit sout in die paadjies sien glinster waar dit weggegooi was omdat dit smaakloos en daarom nutteloos geword het. Dit was ’n goeie voorstelling van die Fariseërs en die uitwerking wat hul godsdiens op die samelewing gehad het. Dit is verteenwoordigend van die lewe van elke siel van wie die krag van die genade van God gewyk het en wat koud en sonder Christus gelaat is. Ondanks sy belydenis word so ’n mens deur mense en engele as smakeloos en onaangenaam beskou. Dit is aan hulle wat Christus sê: “Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15, 16). Sonder ’n lewende geloof in Christus as ons persoonlike Verlosser is dit onmoontlik om ons invloed op hierdie skeptiese wêreld te laat geld. Ons kan nie aan ander iets gee wat ons nie self het nie. Die invloed wat ons tot seën en opheffing van die mensdom kan uitoefen, staan in verhouding tot ons eie toewyding aan Christus. Sonder ware diens, sonder opregte liefde, sonder werklike ondervinding, is daar geen krag om te help nie, geen verbinding met die hemel nie, geen geur van Christus in die lewe nie. As die Heilige Gees ons nie kan gebruik as werktuie om die waarheid soos dit in Jesus gevind word aan die wêreld te verkondig nie, is ons soos sout wat smaakloos en heeltemal nutteloos geword het.

 

Deur die afwesigheid van die genade van Christus in ons lewens getuig ons teenoor die wêreld dat die waarheid waarin ons na bewering glo, ons nie kan heilig nie; en sover dit ons invloed aangaan, maak ons die woord van God kragteloos. As liefde die hart vervul, sal dit uitvloei na ander, nie as gevolg van gunste wat ons van hulle ontvang nie, maar omdat liefde die dryfveer is. Liefde verander die karakter, beheers die drange, onderdruk vyandskap en veredel die emosies. Hierdie liefde is so wyd soos die heelal, en stem ooreen met dié van die engelewerkers. As dit in die hart gekoester word, veraangenaam dit die hele lewe en is dit ’n seën vir almal om ons. Dit alleen is wat ons die sout van die aarde maak.

“Julle is die lig van die wêreld.” Mattheüs 5:14.

Jesus het Sy lesse interessant gemaak toe Hy die volk onderrig het, en Hy het Sy gehoor se belangstelling gaande gehou deur dikwels die natuurtonele rondom hulle as illustrasies te gebruik. Dit was nog oggend toe die skare bymekaargekom het. Die luisterryke son het al hoër in die blou hemel geklim en die skaduwees wat in die valleie en in die nou bergklofies geskuil het, verdryf. Die gloed van die oosterlig het nog nie verbleek nie. Die hele landskap is in luisterryke sonlig gebaai; die spieëlgladde oppervlak van die meer het die goue glans oggendwolke in sy diepte weerkaats.


Elke blom en knoppie en tak het geglinster van die dou. Die natuur het geglimlag onder die weldadigheid van ’n nuwe dag, en voëls het vrolik in die bome gekwetter. Die Heiland het na die groepie voor Hom gekyk, toe na die opkomende son; en toe sê Hy vir Sy dissipels: “Julle is die lig van die wêreld.” Soos die son uitgaan op sy boodskap van liefde, die nagskaduwees verdryf en die wêreld tot lewe opwek, so moet die volgelinge van Christus op hul sending vertrek en die lig van die hemel laat skyn oor diegene wat in die duisternis van sonde en dwaling verkeer. In die helder oggendlig het die dorpe en gehuggies op die omliggende heuwels helder afgeteken gestaan en die landskap nog skilderagtige gemaak. Jesus het na hulle gewys en gesê: “’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.” Toe voeg Hy by: “En ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.”

 

Die meeste van die mense wat daar geluister het, was plaasarbeiders en visserslui wat in eenkamerhuisies gewoon het waarin ’n enkele lamp op ’n staander almal in die huis verlig het. “Laat julle lig so skyn voor die mense,” het Jesus gesê, “dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Geen ander lig het nog ooit op die gevalle mens geskyn of sal ooit op hom skyn nie, behalwe dié wat van Christus af kom. Jesus, die Verlosser, is al lig wat die duisternis van ’n wêreld in sonde kan verlig. Van Christus staan geskrywe: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Johannes 1:4.

 

Net deur Sy lewe te ontvang kan Sy dissipels ligdraers word.

 

Die lewe van Christus in die siel, Sy liefde in die karakter geopenbaar, sal hulle die lig van die wêreld maak. Die mens het geen lig in homself nie. Sonder Christus is ons soos ’n lamp wat nie aangesteek is nie, soos die maan wanneer sy aangesig van die son af afgewend is; ons het nie ’n enkele helder straal om die duisternis van die wêreld mee te verlig nie. Maar wend ons ons na die Son van Geregtigheid, kom ons in aanraking met Christus, word die hele siel verlig met die helderheid van die Goddelike teenwoordigheid. Die volgelinge van Christus moet meer as ’n lig tussen die mense wees. Hulle moet die lig van die wêreld wees. Jesus sê aan almal wat Sy Naam aanroep: Julle het julself aan My oorgegee, en Ek het julle aan die wêreld gegee as My verteen-woordigers. Soos die Vader Hom in die wêreld gestuur het, so, sê Hy, “het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (Johannes 17:18).

 

Soos Christus die kanaal vir die openbaring van die Vader is, so moet ons die kanaal wees vir die openbaring van Christus. Hoewel ons Heiland die groot ligbron is, vergeet dit nooit, o Christen, dat Hy deur die mens geopenbaar word nie. Die seëninge van Bo word deur die mens as werktuig gegee. Christus het self na die wêreld gekom as die Seun van die mens. Die mens, met die Goddelike natuur verenig, moet die mensheid aanraak. Die kerk van Christus, elke afsonderlike dissipel van die Meester, is die hemel se aangewese kanaal vir die openbaring van God aan die mense.

 

Engele in heerlikheid wag om die hemelse lig en krag deur u te bring aan siele wat gereed is om te vergaan. Sal die mens versuim om sy aangewese taak te verrig? O, in daardie mate word die wêreld beroof van die beloofde invloed van die Heilige Gees! Maar Jesus het nie vir die dissipels gesê: “Streef om jul lig te laat skyn nie,” Hy het gesê:

 

“Laat dit skyn.” As Christus in die hart woon, is dit onmoontlik om die lig van Sy teenwoordigheid te verberg. As diegene wat voorgee dat hulle volgelinge van Christus is, nie die lig van die wêreld is nie, is dit omdat die lewenskrag hulle verlaat het; as hulle geen lig te gee het nie, is dit omdat hulle geen verbinding met die Bron van die lig het nie. Die Heiland se woorde: “Julle is die lig van die wêreld.” dui op die feit dat Hy aan Sy volgelinge ’n wêreldomvattende sending opgedra het. In Christus se dae het selfsug en hoogmoed en vooroordeel ’n sterk en hoë skeidsmuur tussen die aangestelde voogde van die heilige Godspraak en elke ander volk op die aarde gevorm. Maar die Heiland het gekom om dit te verander. Die woorde wat die volk uit Sy mond gehoor het, was anders as enigiets wat hulle nog ooit van priester of rabbi verneem het. Christus breek die skeidsmuur af, die selfsug, die vooroordeel wat nasies verdeel, en leer ons om die hele mensdom lief te hê. Hy verhef die mens uit die enge kring van sy selfsug; Hy skaf alle landsgrense en kunsmatige maatskaplike afskortings af. Hy maak geen verskil tussen naaste en vreemdeling, vriend en vyand nie. Hy leer ons om elke behoeftige siel as ’n naaste te beskou, en die wêreld as ons akker.

 

Soos die strale van die son tot die verste uithoeke van die aardbol deurdring, so wil die Here hê dat die lig van die evangelie tot by elke siel op aarde moet strek. As die kerk van Christus die doel van onse Here sou uitvoer, sou almal verlig word wat in duisternis en in die gebied van die doodskaduwee sit. Pleks van in groepies saam te trek en die verantwoordelikheid van die dra van die kruis te ontduik, moet die lede van die kerk hulle na alle lande versprei en die lig van Christus laat uitstraal, en arbei soos Hy gearbei het vir die redding van siele, en die “evangelie van die koninkryk” sal snel oor die hele wêreld verkondig word.

 

Ons moet nie net die heerlikheid van Christus oorpeins nie; ons moet ook vertel van Sy uitnemendheid. Jesaja het nie net die heerlikheid van Christus aanskou nie; hy het ook van Hom gepraat. Terwyl Dawid gepeins het, het die vuur gebrand; toe het hy sy mond oopgemaak en getuig. Terwyl hy nagedink het oor die wonderbare liefde van God, kon hy nie anders as om te vertel van wat hy gesien en gevoel het nie. Wie kan die wonderbare verlossingsplan, die heerlikheid van die eniggebore Seun van God in die geloof aanskou en nie daarvan praat nie?

 

Wie kan aan die onpeilbare liefde dink wat die dood van Christus aan die kruis van Golgota toegelaat het sodat ons nie verlore hoef te gaan nie maar die ewige lewe kan hê - wie kan dit aanskou en geen woorde hê om die heerlikheid van die Heiland te loof nie?

 

“In sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!” Psalm 29:9. Die sanger van Israel het Hom op die harp geloof en gesê: “Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel” (Psalm 145:5, 6).

 

Die kruis van Golgota moet hoog bo die volk verhef word, hulle aandag trek en hul gedagtes in beslag neem. Dan sal al die geestelike vermoëns met Goddelike krag gelaai word. Dan sal die kragte saamgespan word in eerlike arbeid vir die Meester. Die arbeiders sal lig na die wêreld laat uitstraal en sal lewende werktuie wees om die aarde te verlig. Christus is so gretig om elke menslike werktuig wat aan Hom oorgelewer word, aan te neem. Hy verenig die menslike met die Goddelike, sodat Hy die verborgenhede van die vleesgeworde liefde aan die wêreld bekend kan maak. Praat daaroor, bid daarvoor, sing daarvan; verkondig die boodskap van Sy heerlikheid wyd en syd, en dring steeds verder deur tot in die verste streke.

 

Beproewinge wat geduldig verduur word, seëninge wat dankbaar ontvang word, versoekings wat manmoedig weerstaan word, sagmoedigheid, vriendelikheid, barmhartigheid en liefde wat as gewoonte geopenbaar word, is die ligte wat uit die karakter straal, in teenstelling met die duisternis van die selfsugtige hart waarin die lig van die lewe nog nooit geskyn het nie.

Gaan na: 3. Die Geestelike Aard van die Wet

bottom of page