top of page
WhatsApp Image 2025-12-19 at 04.39.46.jpeg

​4. Die Ware Motief vir Diens
 

“Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie.” Mattheüs 6:1.

Christus se woorde op die berg was ’n uitdrukking van die ongesproke boodskap wat Sy lewe gegee het, maar wat die volk nie besef het nie. In Christus se dae het die Fariseërs gedurig geprobeer om die guns van die hemel te verwerf sodat hulle wêreldse eer en voorspoed kon bereik, wat hulle as die loon van verdienstelikheid beskou het. Terselfdertyd het hulle ’n groot vertoon van hul liefdadigheid voor die mense gemaak om hul aandag te trek en naam te verwerf vir hul vroomheid.


Jesus het hul vertoon veroordeel en verklaar dat die Here hierdie soort diens nie erken nie, en dat die vleitaal en bewondering van die volk, wat hulle so naarstiglik begeer het, die enigste loon is wat hulle ooit sal ontvang. Ware godsvrug soek nooit na vertoon nie. Wie graag geprys en gevlei wil word, en hulle daarin verlustig, is Christene net in naam. Deur hul goeie werke moet die volgelinge van Christus nie aan hulself heerlikheid bring nie, maar aan Hom deur wie se genade en krag hulle gearbei het. Dit is deur die Heilige Gees dat elke goeie taak verrig word, en die Gees word nie gegee om die ont-vanger te verheerlik nie, maar die Gewer. As die lig van Christus die siel verlig, sal die mond oorloop van lof en danksegging teenoor God. U gebede, die uitvoering van u pligte, u wel-dadigheid, u selfverloëning, sal nie die tema van u gedagtes of gesprek wees nie. Jesus sal verhoog en die eie-ek verberg word, en Christus sal alles in alles word. Ons moet in opregtheid gee, nie om ’n vertoon van ons weldade te maak nie, maar uit deernis en liefde vir die lydendes. Opregtheid van doel, ware hartediens, is die motief wat die Hemel waardeer. Die siel wie se liefde opreg is, wie se toewyding heelhartig is, is vir die Here kosbaarder as die goud van Ofir. Ons moenie aan beloning dink nie, maar aan diens; tog sal goedhartigheid wat in hierdie gees betoon word, nie sy loon misloop nie. “Jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.” Hoewel dit waar is dat God self die groot Beloning is wat alle ander vergoeding insluit, ontvang en geniet die siel Hom alleenlik namate sy karakter aan Hom gelyk word. Net soort kan soort waardeer. Namate ons ons aan God oorgee om die mensdom te dien, gee Hy Hom aan ons. Niemand kan in sy eie hart en lewe plek maak sodat die stroom van God se seëninge na andere kan uitvloei, sonder dat hy self ’n ryke loon ontvang nie. Die berghange en vlaktes, wat ’n kanaal vir die bergstrome voorsien om die see te kan bereik, ly daardeur self geen verlies nie. Wat hulle gee, word honderdvoud aan hulle teruggegee. Want die stroom wat singende sy weg vind, laat agter hom ’n gordel van groenigheid en vrugbaarheid. Die gras aan sy oewers is groener, die bome is lowerryker, die blomme oorvloediger. Wanneer die aarde kaal en vaal onder die verskrompelende somerhitte bak, dui ’n groen soom die water-loop aan; en die vlakte wat sy boesem oopgemaak het om die bergstroom na die see te voer, word met varsheid en skoonheid beklee as ’n getuie van die loon wat die genade van God aan almal gee wat hulle as kanale beskikbaar stel sodat dit na die wêreld kan uitvloei. Dit is die seën van diegene wat genade aan die armes bewys. Die profeet Jesaja sê: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit.... En die Here sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke... en jy sal wees soos ’n tuin wat goed besproei is en soos ’n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” Jesaja 58:7-11. Weldadigheid dra ’n dubbele seën weg. Terwyl hy wat aan die behoeftiges gee andere seën, ontvang hy self nog ’n groter seën. Die genade van Christus in die siel ontwikkel karaktertrekke wat die teenoorgestelde van selfsug is - karaktertrekke wat die lewe sal louter, veredel en verryk. Vriendskapsdade wat in die geheim bewys word, bind harte saam en sal hulle nader trek aan die hart van Hom wat die oorsprong van elke milddadige ingewing is. Klein vriend-skapsdaadjies, klein liefdesblykies en selfopoffering vloei so opsigtelik uit die lewe soos die geur van ’n blom, en maak geen geringe deel uit van die seëninge en geluk van die lewe nie. En eindelik sal ontdek word dat selfverloëning ter wille van die welsyn en geluk van ander, hoe gering en ongeprese dit ook hier was, in die hemel erken word as die teken van ons eenheid met Hom, die Erekoning, wat ryk was maar ter wille van ons arm geword het. Hy wat groter talente toeken aan diegene wat verstandig gewoeker het met die gawes wat Hy aan hulle toevertrou het, erken met behae die diens van Sy gelowige kinders in die Geliefde, deur wie se genade en krag hulle opgetree het. Diegene wat die Christelike karakter probeer ontwikkel en vervolmaak het deur hul talente aan weldade te bestee, sal in die komende wêreld maai wat hulle gesaai het. Die werk wat op aarde begin is, sal sy voleinding in die hoër en heiliger lewe bereik wat tot in alle ewigheid sal duur.

“Wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie.” Mattheüs 6:5.

Die Fariseërs het vaste ure vir gebed gehad; en wanneer hulle, soos dikwels gebeur het, op die aangewese tyd uithuisig was, het hulle net waar hulle is - in die straat of op die markplein, te midde van die krioelende menigtes - gaan stilstaan en hul formele gebede hardop geresi-teer. Hierdie soort gebede, wat bloot vir selfverheerliking bedoel is, is sterk deur Jesus vero-ordeel. Hy het egter nie gesê dat daar nie openbare gebede moet wees nie, want Hy het self saam met Sy dissipels in die teenwo-ordigheid van die skare gebid. Hy leer egter dat die persoonlike gebed nie openbaar gemaak moet word nie. In ons private omgang met God moet ons gebede geen ander ore bereik as die van die gebedverhorende God nie. Geen nuuskierige oor moet die sielelas van sulke gebede aanhoor nie.


“Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer.” Jy moet ’n plek hê om in die geheim te bid. Jesus het uitgesoekte plekke gehad vir gemeenskap met God, en ons behoort ook te hê. Ons moet ons dikwels na ’n stil plek onttrek, hoe nederig ook al, waar ons alleen met God kan wees. “Bid jou Vader wat in die verborgene is.” In die Naam van Jesus moet ons in die teenwo-ordigheid van God verskyn met die vertroue van ’n kind. Geen mens is as middelaar nodig nie. Deur Jesus kan ons ons harte voor die Here oopmaak soos teenoor Een wat ons ken en liefhet. In die geheime bidplek, waar net die oog van God kan sien, net Sy oor kan hoor, kan ons ons innigste gedagtes en verlangens voor die Vader met Sy oneindige ontferming uitstort, en in die stilte van die siel sal die stem wat nooit versuim om die roepstem van ’n mens in nood te beantwoord nie, tot ons harte spreek. “Die Here [is] vol medelye en ontferming.” Jakobus 5:11. Hy wag met onvermoeide liefde op die belydenis van die afkeriges om hul boetedoening te aanvaar. Hy wag op die geringste teken van dank van ons, soos die moeder op ’n glimlag van erkenning van haar geliefde kind. Hy wil hê ons moet verstaan hoe opreg en teer Sy hart na ons uitgaan. Hy nooi ons om met ons be-proewinge na Sy simpatie te kom, met ons droefheid na Sy liefde, met ons wonde na Sy genesing, met ons swakheid na Sy krag, met ons leegheid na Sy volheid. Niemand wat na Hom gekom het, is nog ooit teleurgestel nie. “Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.” Psalm 34:6. Wie die Here in die geheim opsoek en Hom vertel van hul be-hoeftes, en om hulp pleit, sal nie tevergeefs pleit nie. “Jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” As ons Christus ons daaglikse metgesel maak, sal ons voel dat die kragte van ’n ongesiene wêreld ons omring; en deur na Jesus op te sien, sal ons in Sy beeld opgeneem word. Deur aanskouing word ons verander. Die karakter word versag, gelouter en veredel vir die hemelse koninkryk. Die gewisse gevolg van gemeenskap met onse Here sal wees dat vroomheid, reinheid en ywer verhoog Sal word. Ons sal al intelligenter bid. Ons ontvang ’n Goddelike onderwys, en dit lei tot ’n lewe van vlyt en ywer. Die siel wat hom deur daaglikse, ernstige gebed, by God hulp, steun en krag soek, sal ’n edele strewe, duidelike begrippe van waarheid en plig, verhewe motiewe en ’n voortdurende honger en dors na die geregtigheid hê. Deur gedurig in verbinding met die Here te wees, sal ons in staat gestel word om, deur ons omgang met ander, die lig, die vrede, die gelatenheid wat in ons harte is na hulle uit te straal. Die krag wat deur gebed tot God verkry word, laat ons volhard om die gedagte te dissiplineer om bedagsaam en sorgsaam te word, berei ’n mens voor vir jou daaglikse pligte en bewaar die gees om in alle omstandighede vrede te hê. As ons tot God nader, sal Hy ons ’n woord in die mond gee om namens Hom te praat, selfs lof vir Sy Naam. Hy sal ons ’n wysie uit die lied van die engele leer tot danksegging aan onse hemelse Vader. In elke lewensdaad sal die liefde en lig van ’n inwonende Verlosser geopenbaar word. Moeilikhede van buite kan nie deurdring tot die lewe wat deur die geloof in die Seun van God gelei word nie.

“As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie.” Mattheüs 6:7.

Die heidene het geglo dat hul gebede self verdienste versoening vir die sonde verdien. Hoe langer die gebed dus, hoe groter die verdienste. As hulle deur hul eie pogings heilig kon word, sou hulle iets in hulself gehad het om hulle oor te verheug, iets om hulle op te beroem. Hierdie begrip van die gebed berus op die beginsel van selfversoening, wat die grondslag van alle valse godsdiensstelsels is. Die Fariseërs het hierdie heidense begrip van die gebed aangeneem, en dit is vandag nog nie iets van die verlede nie, selfs onder diegene wat voorgee dat hulle Christene is. Die herhaling van afgesaagde sinsnedes wanneer die hart geen behoefte aan God voel nie, dra dieselfde stempel as die “ydele herhalings” van die heidene.


Die gebed is nie ’n soenoffer vir die sonde nie; dit het self geen verdienste nie. Al die gevleuelde woorde waaroor ons beskik weeg nie op teen een heilige begeerte nie. Die welspre-kendste gebede bly maar ydele woorde as hulle nie die ware begeertes van die hart weergee nie. Maar die gebed wat uit ’n opregte hart kom, waarin ons die eenvoudige behoeftes van die siel uitspreek, soos ons ’n aardse vriend om ’n guns sou vra en verwag dat dit aan ons bewys sal word - dit is die geloofsgebed.

“Wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie.” Mattheüs 6:16.

Die vas waarop die woord van God aandring, is meer as ’n vorm. Dit beteken nie om nie te eet nie, om in sak geklee te gaan en as oor jou hoof te strooi nie. Hy wat in opregte berou oor sy sonde vas, sal nie na vertoon soek nie.


Die doel van die vas wat die Here van ons vereis, is nie om die liggaam te teister oor die sonde van die siel nie, maar om ons te help om die afgryslike aard van die sonde te besef, om die hart voor God te verootmoedig en om Sy vergewende genade te ontvang. Sy bevel aan Israel was: “Skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God.” Joël 2:13. Dit sal ons niks baat om boete te doen of om ons wys te maak dat ons met ons eie werke ’n erfenis saam met die heiliges kan verdien of koop nie. Toe aan Christus gevra is: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?” het Hy geantwoord: “Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het” (Johannes 6:28, 29). Bekering is om jou van jouself af na Christus te keer; en as ons Christus ontvang sodat Hy deur die geloof Sy lewe in ons kan lei, sal goeie werke gesien word. Jesus het gesê: “As jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is.” Mattheüs 6:17, 18. Wat ook al tot eer en verheerliking van God gedoen word, moet opgeruimd gedoen word, nie bedroef en terneergedruk nie. Daar is niks droef-geestigs in die godsdiens van Jesus nie. As Christene deur hul lang gesigte die indruk wek dat hulle in hul Here teleurgesteld is, gee hulle ’n wanvoorstelling van Sy karakter en voer hulle Sy vyande met argumente. Hoewel hulle met hul woorde te kenne mag gee dat hulle God as hul Vader beskou, doen hulle hulle met hul droefgeestigheid en swartgalligheid voor as weeskinders in die wêreld. Christus wil hê dat Sy diens aantreklik moet voorkom, soos dit in werklikheid is. Laat die selfverloëning en die geheime beproewinge van die hart aan die barmhartige Verlosser bekend gemaak word. Los die sorge aan die voet van die kruis, en gaan daar weg met gejuig in die liefde van Hom wat jou eerste liefge-had het. Die mense sal moontlik nooit weet watter werk heimlik tussen die siel en God aan die gang is nie, maar die gevolge van die Gees se werk op die hart sal vir almal sigbaar wees, want Hy “wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde... nie.” Mattheüs 6:19.

Skatte wat op die aarde opgegaar is, sal nie hou nie; diewe breek in en steel; die mot en die roes verniel; vuur en storm voer jou besittings weg. En “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Opgegaarde aardse skatte sal die gedagtes in beslag neem en die hemelse dinge uitsluit.


Geldgierigheid was die heersende drang in die tyd van die Jode. Wêreldsgesindheid het die plek van God en godsdiens in die siel ingeneem. So is dit nou. Inhaligheid kry so ’n houvas op die lewe dat dit die mens se edelmoedigheid bederf en hom sy menslikheid ontroof totdat hy in die verderf insink. Die Satan se diens is vol sorge, bekommernis en vermoeienis, en die skatte waarvoor mense op aarde werk, is maar net tydelik van duur. Jesus het gesê: “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Die opdrag is: “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel.” Dis in u eie belang om hemelse rykdom te verwerf. Van al wat u besit, is dit al wat u sal oorhou. Die skatte wat in die hemel bymekaargemaak word, is onverganklik. Geen brand of oorstroming kan dit vernietig nie, geen dief kan dit buit nie, geen mot of roes kan dit verniel nie, want God bewaar dit. Hierdie skat, wat Christus van onberekenbare waarde ag, is “die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges” (Efesiërs 1:18). Jesus se dissipels word Sy “juwele” genoem, Sy kosbare eiendom. Hy sê: “Hulle is kroongesteentes.” “Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir” (Sagaria 9:16; Jesaja 13:12). Christus beskou Sy gelou-terde, vervolmaakte volk as die beloning vir al Sy lyding, verne-dering en liefde - die aanvulling van Sy heerlikheid. Christus is die groot Middelpunt waaruit alle heerlikheid straal. En aan ons word dit gegun om met Hom saam te werk in die groot verlossingstaak en om ’n aandeel te hê in die rykdom wat Sy lyding en dood verwerf het. Die apostel Paulus het aan die Christene van Thessalonika geskryf: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap.” 1 Thessalonisense 2:19, 20. Dit is die skat waarvoor Christus wil hê dat ons moet arbei. Karakter is die groot lewensoes. Elke woord of daad wat ’n siel deur die genade van Christus aanspoor om hemelwaarts te reik, elke poging wat die vorming van ’n Christelike karakter aanmoedig, is die versameling van rykdom in die hemel. Waar die skat is, daar sal die hart wees. Elke poging om ander te help, strek tot ons eie voordeel. Hy wat tyd of geld aan die verkondiging van die evangelie bestee, gebruik sy eie belang-stelling en gebede vir die werk en vir siele wat daardeur bereik moet word; sy liefde gaan na ander uit en hy word aangespoor tot groter toewyding aan God, sodat hy in staat gestel kan word om hulle in die grootste mate te help. In die laaste dag, wanneer die rykdom van die aarde sal ver-gaan, sal hy wat vir hom skatte in die hemel bymekaargemaak het, sien wat sy lewe vir hom besorg het. As ons die woorde van Christus gehoorsaam het, sal ons, wanneer ons voor die troon van God staan, duisende siele sien wat deur ons bemiddeling gered is, en ons sal weet dat die een weer andere gered het, en hulle nog weer andere - ’n groot skare wat deur ons pogings die hawe van rus gehaal het en wat almal hul krone voor Jesus sal neerlê en Hom in alle ewigheid sal prys.

“As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.” Mattheüs 6:22.

Doelgerigtheid, heelhartige toewyding aan God, is die voorwaarde wat Christus vereis. As u opreg en onwankelbaar daarna streef om die waarheid te verstaan en te gehoorsaam, al kos dit ook wat, sal u Goddelike lig ontvang. Ware vroomheid begin wanneer alle toegewings aan die sonde gestaak word. Dan sal die taal van die hart dié van die apostel Paulus wees: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” “Ek ag ook alles skade om die uitne-mendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.” Filippense 3:14, 8.


Maar waar die oog deur eieliefde verblind word, is daar net duisternis. “As jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.” Dit was hierdie verskriklike donkerheid wat die Jode in hardnekkige ongeloof gewikkel het, sodat hulle nie die karakter en die sending van Hom kon verstaan wat hulle van hulle sondes kom red het nie. Toegewing aan versoeking begin wanneer to egelaat word dat die gemoed wankel en ons nie meer standvastig in God glo nie. As ons nie kies om ons ten volle aan God te onderwerp nie, is ons in die duisternis. As ons enigiets te rughou, laat ons ’n deur oop waardeur die Satan kan inkom om ons te verlei. Hy weet dat as hy ons uitsig kan belemmer sodat ons God nie met die geloofsoog kan sien nie, daar geen beskerming teen die sonde sal wees nie. Die oorheersing van ’n sondige begeerte wys hoe die siel mislei word. Elke toegewing aan die begeerte versterk die siel se afkeer van God. As ons die Satan se pad volg, word ons deur die skaduwees van die sonde omsluier, en elke stap lei na dieper duisternis en toenemende blindheid van die hart. Dieselfde wet geld vir sowel die geestelike as die natuurlike wêreld. Hy wat in die donkerte woon, verloor naderhand die vermoë om te sien. Hy word ingekerker deur ’n duisternis wat donkerder as die middernag is, en die helderste middagson kan vir hom geen lig bring nie. Hy “wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het” (1 Johannes 2:11). Deur voortdurend sonde te koester en die roepstem van die hemelse liefde te veronagsaam, verloor die sondaar alle liefde vir die goeie, die verlange na God, en selfs die vermoë om die hemelse lig te ontvang. Die uitnodiging van genade bly steeds vol liefde, die lig skyn nog net so helder soos toe dit eers op sy siel geskyn het, maar die stem val op dowe ore, die lig op blinde oë. God laat geen siel finaal aan sy lot oor solank daar nog hoop op sy redding is nie. Die mens verlaat God, maar God nie die mens nie. Onse hemelse Vader volg ons met uitnodigings en waarskuwings en versekeringe van Sy barmhartigheid totdat verdere geleenthede en voorregte nutteloos sou wees. Die verant-woordelikheid berus by die sondaar. Deur vandag die Gees van God te weerstaan, baan hy die weg vir nuwe weerstand wanneer die lig met groter krag na hom kom. So gaan hy van die een weerstand tot die volgende, totdat die lig nie meer indruk op hom maak nie en hy glad nie meer op die Gees van God reageer nie. Dan het selfs “die lig in jou” donkerheid geword. Selfs die waarheid wat ons ken, is dan so verwronge dat dit die blindheid van die siel vererger. 

“Niemand kan twee here dien nie.” Mattheüs 6:24.

Christus sê nie dat die mens nie twee here sal of moet dien nie, maar dat hy nie kan nie. Die belange van God en die belange van mammon het niks gemeen nie. Net daar waar die Christen se gewete halt roep en hom tot selfverloëning lei, daar trap die wêreldling oor die tou en laat hy sy selfsugtige neiginge botvier. Aan die een kant van die tou is die selfverloënende navolger van Christus; aan die ander kant is die genotsugtige wêreldliefhebber wat hom na die mode skik, aan ligsinnighede deelneem en hom verbode plesiere veroorloof. Aan daardie kant van die tou kan die Christen hom nie waag nie.


Niemand kan werklik ’n draadsitter wees nie; daar is geen middelgroep wat nog God nog die vyande van die geregtigheid dien nie. Christus moet in Sy menslike werktuie leef en deur hul vermoëns werk en handel. Hulle wil moet aan Sy wil onderworpe wees; hulle moet deur Sy Gees handel. Dan leef hulle nie meer nie, maar Christus leef in hulle. Hy wat hom nie geheel en al aan God oorgee nie, staan onder beheer van ’n ander mag, luister na ’n ander stem wie se ingewings van ’n heel ander aard is. Halfhartige diens skaar die mens aan die kant van die vyand, en hy is ’n doeltreffende bondgenoot van die duistere magte. Mense wat hulle as stryders vir Christus voordoen, maar met die Satan saamspan en sy saak bevorder, is vyande van Christus. Hulle skend ’n heilige vertroue. Hulle vorm ’n skakel tussen die Satan en die ware stryders, en deur hulle probeer die vyand gedurig om die harte van Christus se stryders te roof. Die sterkste vesting van ondeug in ons wêreld is nie die sondige lewe van die geharde sondaar of van die versonke verstoteling nie; dit is die lewe wat andersins deugsaam, eerbaar en edel voorkom, maar wat een sonde koester, aan een kwaad toegee. Vir die siel wat met ’n reuseversoeking worstel en op die rand van die afgrond huiwer, is so ’n voorbeeld een van die grootste aansporings tot sonde. Hy wat verhewe begrippe van die lewe, waarheid en eerbaarheid koester maar moedswillig een voorskrif van Gods heilige wet oortree, misbruik sy edele gawes om ander tot sonde te verlei. Vernuf, talente, meegevoel, selfs edelmoedige en vriendelike dade, kan die Satan se lokvinke word om siele vir hierdie lewe en vir die toekomstige oor die afgrond na ondergang te lok.

“Moenie julle kwel... nie.” Mattheüs 6:25.

Hy wat u lewe aan u gegee het, weet dat u voedsel nodig het om dit te onderhou. Hy wat die liggaam geskape het, weet dat u klere nodig het. Sal Hy, wat die groter gawe gegee het, dan nie ook die nodige gee om dit volkome te maak nie?


Jesus het Sy gehoor se aandag op die voëls gevestig wat so onbesorg hul lofliedere gesing het, want “hulle saai nie en hulle maai nie;” en tog voorsien die grote Vader in hul behoeftes. En Hy vra: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”

 

“Geen mossie val wat Hom nie raak,
geen siel buig laag, of Jesus weet,
want Hy is dit wat oor ons waak
in grootste nood of diepste leed.
Sy sorg sal nimmer ooit verflou
oor hom wat op sy Heer vertrou.”

 

Die heuwels en velde was oortrek van blomme in die dou-vars móre. Jesus het na hulle gewys en gesê: “Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei.” Vaardige mense kan die sierlike vorms en delikate kleure van die plante en blomme afteken, maar watter aanraking kan aan selfs een blom of grashalmpie die lewe gee? Elke ou blommetjie langs die pad ontvang die lewe van dieselfde bron wat die sterrehemel in die uitspansel uitstrek. Deur alle geskape dinge klop die polsslag van die lewe uit die groot hart van God. Hy beklee die veldblomme met meer prag en praal as wat enige aardse koning nog versier het. En “as God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en móre in die oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” Hy, wat die blomme gemaak en aan die mossie sy lied gegee het, sê: “Let op die lelies,” “Kyk na die voëls.” Die lieflikheid van die natuur kan ’n mens meer van die wysheid van God leer as wat die opvoed-kundiges weet. Op die kroonblare van die lelie het die Here ’n boodskap geskrywe in ’n taal wat die hart net kan lees as hy die lesse van wantroue en self-sug en verterende kommer kan afleer. Om watter ander rede sou Hy u die singende voëls en die geurige bloeisels gee as dat Sy Vaderhart oorloop van liefde en Hy u lewensweg wil ophelder en veraangenaam? U sou sonder die blomme en die voëls nog alles gehad het wat vir u bestaan nodig is, maar die Here was nie tevrede om net die nodige vir u blote voortbestaan te voorsien nie. Hy het die aarde en die lug en die hemel met skoonheid gevul om u te vertel hoe lief Hy u het. Die skoonheid van alle geskape dinge is maar ’n skynsel van die lig van Sy heerlikheid. As Hy sulke oneindige vernuf bestee het aan die skeppinge van die natuur, vir u geluk en vreugde, kan u dan nog twyfel dat Hy u met alles wat u nodig het sal seën? “Let op die lelies.” Elke blom wat vir die son oopgaan, gehoorsaam dieselfde groot wette wat die sterre rig, en hoe eenvoudig en mooi en welriekend tog! Deur middel van die blomme wil die Here ons aandag vestig op die lieflikheid van ’n Christelike karakter. Hy wat die blomme so mooi gemaak het, verlang nog veel inniger dat die siel beklee moet word met die lieflike karakter van Christus. Kyk, sê Jesus, hoe die lelies groei; hoe die plante uit die koue, donkere aarde, of uit die modder van ’n rivierbedding spruit, en hoe pragtig en geurig hulle ontluik. Wie sou ooit kon droom dat sulke skoonheid in die growwe bruin bol van die lelie skuil? Maar as die lewe van God wat daarin sluimer op Sy roep-stem in reën en sonskyn ontwaak, verwonder die mens hom aan die sierlikheid en prag. Net so sal die lewe van God hom in elke mensesiel ontvou as hy hom maar net wil oorgee aan die werking van Sy genade, wat net so mildelik soos die reën en sonskyn wag om almal te seën. Dit is die woord van God wat die blomme skep, en dieselfde woord sal in u die deugde van Sy Gees voortbring. Die wet van God is die wet van liefde. Hy het u met skoon-heid omring om u te leer dat u nie op die aarde geplaas is om net vir uself te delf, te grawe en te bou, te arbei en te spin nie, maar om die lewe helder en bly en mooi te maak met die liefde van Christus - soos die blomme, wat ander lewens verbly met hul liefdediens. Vaders en moeders, laat u kinders by die blomme leer. Neem hulle saam met u na die tuin en die veld en onder die skaduryke bome, en leer hulle om die boodskap van die liefde van God in die natuur te lees. Laat die gedagtes aan Hom met voël en blom en boom geassosieer word. Leer die kinders om in elke aangename en mooi ding ’n uitdrukking te sien van die liefde van God vir hulle. Maak u godsdiens vir hulle aantreklik en aangenaam. Laat u lippe altyd vriendelike dinge sê. Leer die kinders dat hul geaardhede deur die groot liefde van God so verander kan word, dat dit soos Syne kan word. Leer hulle dat Hy wil hê dat hul lewens mooi soos die blomme moet wees. Leer hulle, terwyl hulle die lieflike bloesems pluk, dat Hy wat die blomme gemaak het, nog liefliker as hulle is. So sal die rankies van hul harte aan Hom vaskleef. Hy wat “geheel en al die lieflikheid self” is, sal vir hulle ’n daaglikse metgesel en bekende vriend word, en hul lewens sal verander word na die beeld van Sy reinheid.

“Soek eers die koninkryk van God.” Mattheüs 6:33.

Die mense wat na Christus geluister het, het nog gretig gewag dat Hy Sy aardse koninkryk moes aankondig. Hoewel Jesus die skatte van die hemel aan hulle geopenbaar het, was daar net een vraag in hul gedagtes: Hoe sal ’n bondgenootskap met Hom ons wêreldse vooruitsigte bevorder? Jesus verduidelik dat hul behep-theid met aardse dinge hulle gelykstel met die heidene om hulle, wat geleef het asof daar geen God is wat Sy skepsele teer bewaak nie.


“Want al hierdie dinge,” het Jesus gesê, “soek die nasies van die wêreld.” “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Lukas 12:30; Mattheüs 6:32, 33. Ek het gekom om die koninkryk van liefde en geregtigheid en vrede aan julle te openbaar. Maak julle harte oop en ontvang hierdie koninkryk en maak sy diens julle hoogste belang. Hoewel dit ’n geestelike koninkryk is, hoef u nie bang te wees dat die benodigdhede van hierdie lewe nie voorsien sal word nie. As u u aan die diens van God oorgee, sal Hy wat alle mag in die hemel en op aarde het, in u behoeftes voorsien. Jesus stel ons nie vry van die plig om te arbei nie, maar Hy leer ons dat ons Hom in alles eerste en laaste en beste moet maak. Ons moet geen saak onderneem, geen doel nastreef, geen plesier soek wat die volbrenging van Sy geregtigheid in ons karakter kan verhinder nie. Alles wat ons doen, moet van harte gedoen word, soos vir die Here. Jesus het, toe Hy op aarde was, waardigheid aan elke aspek van die lewe verleen deur die heerlikheid van God gedurig voor oë te hou en alles aan die wil van Sy Vader te onderwerp. As ons Sy voorbeeld volg, het ons Sy belofte dat alles wat vir hierdie lewe nodig is, vir ons “bygevoeg” sal word. Armoede of rykdom, siekte of gesondheid, eenvoudigheid of wysheid - vir alles word voorsiening gemaak in die belofte van Sy genade. God slaan Sy ewige arms om die siel wat by Hom kom hulp soek, hoe swak daardie siel ook al is. Die kosbare dinge van die berge sal vergaan, maar die siel wat vir God leef, sal by Hom bly. “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” 1 Johannes 2:17. Die goue poorte van die Godstad sal oopgaan vir hom wat op aarde geleer het om sy leiding, wysheid, troos en hoop in tye van verlies en ver-drukking by God te soek. “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, Jou Ontfermer.” Jesaja 54:10.

“Kwel julle dus nie oor móre nie....Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” Mattheüs 6:34.

As u u aan God oorgegee het, om Sy werk te doen, het u geen rede om u oor móre te bekommer nie. Hy wie se dienskneg u is, weet van die begin af die einde. Wat móre vir u voorlê en wat nou vir u verborge is, lê oop en bloot voor die oë van die Almagtige.


As ons die dinge waarmee ons te doen het in ons eie hande neem en op ons eie wysheid staatmaak om sukses, neem ons ’n las op ons wat God nie op ons gelê het nie, en probeer ons om dit sonder Sy hulp te dra. Ons neem op onsself die verantwoorde-likheid wat aan God behoort, en stel ons in werklikheid in Sy plek. Dan kan ons tereg onrustig wees en vrees vir onheil en skade, want dit sal ons gewis oorkom. Maar as ons werklik glo dat God ons liefhet en die goeie vir ons beoog, sal ons ons nie langer oor die toekoms bekommer nie. Ons sal op God vertrou soos ’n kind op ’n liefdevolle ouer. Dan sal ons angste en sorge verdwyn, want ons wil is verswelg in die wil van God. Christus het nie belowe om ons vandag te help om móre se laste te dra nie. Hy het gesê: “My genade is vir jou genoeg” (2 Korinthiërs 12:9); maar, soos die manna in die woestyn, word Sy genade daagliks geskenk vir die behoefte van die dag. Soos die menigtes van Israel op hul pelgrimstog, kan ons oggend vir oggend genoeg hemelse brood vir die dag se behoeftes vind. Net een dag behoort aan ons, en hierdie dag moet ons vir God lewe. Vir hierdie enkele dag moet ons al ons voornemens en planne in die hand van Christus lê en al ons bekommernisse op Hom werp, want Hy sorg vir ons. “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” “In terugkeer en rus lê julle heil, in stil-wees en vertroue bestaan julle krag.” Jeremia 29:11; Jesaja 30; 15. As u die Here wil soek en u daagliks bekeer; as u uit u eie geestelike keuse vry en bly wil wees in die Here; as u met ’n blymoedige, innige bereidwilligheid die juk van Christus op u neem - die juk van gehoorsaamheid en diensvaardigheid - sal al u murmurerings gestil, al u moeilikhede verwyder, al die ontstellende probleme wat u bedreig, opgelos word.

Gaan na: 5. Die Modelgebed

bottom of page