

Voorwoord - 1: Teen die Berghang - 2: Die Saligsprekinge - 3: Die Geestelike Aard van die Wet - 4: Die Ware Motief vir Diens - 5: Die Modelgebed - 6: Nie Oordeel Nie, Maar Doen
5. Die Modelgebed
“So moet julle dan bid.” Mattheüs 6:9.
Die Heiland het Sy modelgebed twee keer gegee - eers aan die skare in die Bergpredikasie, en enkele maande later aan net die dissipels. Die dissipels was ’n kort tydjie weg van hul Here af, en by hul terugkeer het hulle Hom verdiep in gemeenskap met God gevind. Asof onbewus van hul teenwoordigheid, het Hy aangehou hardop bid. Die Heiland se gelaat het gestraal van hemelse lig. Dit was asof Hy in die teenwoordigheid van die Ongesiene self was, en Sy woorde het van lewenskrag getuig soos van een wat met God verkeer.
Die dissipels se harte was diep ontroer. Hulle wis hoe dikwels Hy lange ure alleen in gemeenskap met Sy Vader deurgebring het. Hy het Sy dae gewy aan die bediening van die menigtes wat om Hom saamgedring het, en in die ontmaskering van die verrader-like drogredenasies van die rabbi’s, en hierdie ononderbroke arbeid het Hom dikwels so uitgeput dat Sy moeder en sy broers, en selfs Sy dissipels vir Sy lewe gevrees het. Maar wanneer Hy teruggekeer het van hierdie ure van gebed na afloop van ’n vermoeiende dag, het hulle die vrede op Sy gelaat gelees, die verkwikking wat Sy teenwoordigheid dan deurtrek het. Dit was van hierdie ure wat Hy in die teenwoordigheid van God deurge-bring het, dat die Heiland oggend vir oggend uitgegaan het om die lig van die hemel na die mensdom te neem. Sy dissipels het begin besef dat Sy ure van gebed verband het met die krag van Sy woorde en werke. En nou, terwyl hulle na Sy smeking geluister het, is hul harte met ontsag en ootmoed vervul. Toe Hy ophou bid, was dit met ’n besef van hul eie groot behoefte dat hulle uitgeroep het: “Here, leer ons bid” (Lukas 11:1). Jesus gee hulle geen nuwe gebedsvorm nie. Hy herhaal wat Hy hulle tevore geleer het, asof Hy wil sê: Julle behoefte is om te verstaan wat Ek julle reeds gegee het. Daarin skuil ’n diepte van betekenis wat julle nog nie gepeil het nie. Die Heiland beperk ons egter nie tot die gebruik van hierdie presiese woorde nie. As mens bied Hy ons Sy eie ideaal vir gebed aan - sulke eenvoudige woorde dat ’n klein kindjie hulle kan gebruik, en tog so alomvattend dat die grootste geeste nooit die betekenis daarvan ten volle kan begryp nie. Ons word geleer om God met danksegging te nader, om ons behoeftes bekend te maak, ons sondes te bely, en om aanspraak op Sy genade te maak volgens Sy belofte.
“Wanneer julle bid, sê: Onse Vader.” Lukas 11:2.
Jesus leer ons om Sy Vader ons Vader te noem. Hy skaam Hom nie om ons broeders te noem nie (Hebreërs 2:11). Die Heiland se hart is so bereid, so gretig om ons as lede van die gesin van God te verwelkom, dat Hy in die heel eerste woorde wat ons moet besig om God te nader, die versekering van ons Goddelike verwantskap stel, “Onse Vader.”
Hier het ons ’n bevestiging van die wonderbare waarheid, so vol bemoediging en vertroosting, dat God ons liefhet soos Hy Sy Seun liefhet. Dit is wat Jesus in Sy laaste gebed vir Sy dissipels gesê het, dat U “hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:23). Die wêreld wat die Satan ingepalm en so wreed geregeer het, het die Seun van God in een ontsaglike daad met Sy liefde omring en weer met die troon van die Allerhoogste verbind. Gerubs en serafs en die ontelbare leërskare van die ongevalle wêrelde het in lofliedere tot God en die Lam uitgebreek toe hierdie oorwinning behaal is. Hulle het hulle daaroor verheug dat verlossing vir die gevalle wêreld verseker is en dat die aarde bevry sou word van die vloek van die sonde. Hoe veel te meer moet hulle hul nie ver-heug om wie se onthalwe hierdie weergalose liefde bewys is nie! Hoe kan ons ooit twyfel of onseker wees, of voel dat ons wese is? Juis ter wille van hulle wat die wet oortree het, het Jesus die mensheid op Hom geneem; Hy het aan ons gelyk geword sodat ons ewigdurende vrede en veiligheid kan hê. Ons het ’n Voorspraak in die hemel, en elkeen wat Hom as sy persoonlike Saligmaker aanneem, is nie ’n weeskind wat sy eie sondes moet dra nie. “Geliefdes, nou is ons kinders van God.” “En as ons kinders is dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Johannes 3:2; Romeine 8:17. Die heel eerste stap as ons God wil nader, is om die liefde wat Hy vir ons het te ken en te glo (1 Johannes 4; 16); want dit is Sy liefde wat ons tot Hom trek. Die besef van God se liefde bring selfverloëning. Deur God ons Vader te noem, aanvaar ons al Sy kinders as ons broeders. Ons is almal deel van die groot mensemassa, almal lede van een gesin. In ons gebede moet ons aan ons naastes dink soos aan onsself. Niemand bid reg as hy ’n seën net vir homself soek nie. Die oneindige God, het Jesus gesê, gun u die voorreg om Hom as Vader aan te spreek. Dink aan alles wat dit beteken. Geen aardse ouer pleit ooit so ernstig met ’n afkerige kind as wat ons Skepper by die oortreder pleit nie. Geen mens het die onboet-vaardige nog ooit met sulke liefdevolle belangstelling en tere uitnodigings agtervolg nie. Die Here woon in elke huis; Hy hoor elke woord wat gespreek word, luister na elke gebed wat tot Hom gerig word, deel in die verdriet en teleurstellings van elke siel, sien hoe vader, moeder, suster, vriend en buurman behandel word. Hy ken ons behoeftes, en Sy liefde, ontferming en genade vloei voortdurend uit om daarin te voorsien. Maar as u God u Vader noem, erken u dat u Sy kind is, om deur Sy wysheid gelei te word en in alles gehoorsaam te wees, wetende dat Sy liefde onveranderlik is. U sal Sy plan vir u lewe aanvaar. As kind van God sal u Sy eer, Sy karakter, Sy volk en Sy werk, onderwerpe van intense belangstelling vind. Dit sal u vreugde gee om u plig teenoor u Vader en elke lid van Sy gesin te erken en na te kom. U sal u verbly in enige daad, hoe nederig ook al, wat Hom tot eer sal strek of wat die welvaart van u medemens sal bevorder. “Wat in die hemele is.” Hy wat Christus wil hê dat ons as onse Vader moet beskou, is “tog in die hemel... Hy doen alles wat Hom behaag” (Psalm 115:3). In Sy sorg kan ons ons veilig berus en sê: “die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou” (Psalm 56:4).
“Laat u Naam geheilig word.” Mattheüs 6:9.
Om die Naam van God te heilig, moet die woorde waarin ons die Opperwese aanspreek met eerbied geuiter word. “Sy Naam is heilig en vreeslik.” Psalm 111:9. Ons moet die titels en benaminge van die Godheid nooit ligsinnig gebruik nie. Wanneer ons bid, kom ons in die teenwoordigheid van die Allerhoogste, en ons moet met heilige ontsag voor Hom verskyn. Die engele bedek hul aangesigte in Sy teenwoordigheid. Die gerubs en die glansende, heilige serafs nader Sy troon met plegtige eerbied. Hoeveel te meer moet ons aardse, sondige wesens dan nie met eerbied voor God, ons Skepper, verskyn nie!
Maar om die Naam van die Here te heilig, vra veel meer as dit. Ons kan, soos die Jode in Christus se tyd, die grootste uiterlike vertoorn van eerbied vir God maak en tog Sy Naam gedurig ontheilig. “Die Naam van die Here” is “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou... wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:5-7). Aangaande die kerk van Christus staan geskrywe: “Dit sal die naam daarvan wees: Die Here Ons Geregtigheid.” Jeremia 33:16. Hierdie naam word aan elke volgeling van Christus gegee. Dit is die erfenis van die kind van God. Die gesin dra die Naam van die Vader. Toe Israel bittere beproewing en nood deurgemaak het, het die profeet Jeremia gebid: “U Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!” (Jeremia 14:9). Hierdie Naam word geheilig deur die hemelse engele, deur die bewoners van sondelose wêrelde. Wanneer u bid; “Laat u Naam geheilig word,” vra u dat dit geheilig word in hierdie wêreld, in u geheilig word. God het u voor mense en engele erken as Sy kind; bid dat u nie “die edele Naam... wat oor julle aangeroep is” oneer sal aandoen nie (Jakobus 2:7). God stuur u die wêreld in as Sy verteenwoordiger. In elke daad behoort u die Naam van God te openbaar. Hierdie gebed beteken dat u Sy karakter moet besit. U kan Sy Naam nie heilig, Hom nie aan die wêreld voorstel tensy u lewe en karakter die lewe en karakter van God self open-baar nie. Dit kan u alleenlik doen deur die genade en geregtigheid van Christus aan te neem.
“Laat u koninkryk kom.” Mattheüs 6:10.
God is ons Vader wat ons liefhet en vir ons sorg asof ons Sy kinders is. Hy is ook die groot Koning van die heelal. Die belange van Sy koninkryk is ons belange, en ons moet arbei om dit op te bou.
Christus se dissipels het die onmiddellike koms van die koninkryk van Sy heerlikheid verwag, maar met hierdie gebed het Jesus hulle geleer dat Sy koninkryk nie toe al sou kom nie. Hulle moes daarvoor bid as ’n toekomstige gebeurtenis. Maar die gebed was vir hulle ook ’n gerusstelling. Hoewel hulle die koms van die koninkryk nie in hulle tyd sou sien nie, is die feit dat hulle daarvoor moes bid ook die bewys dat God dit op die regte tyd gewis sou laat kom. Die koninkryk van Gods genade word nou gevestig namate harte wat vol sonde en verset was, hulle dag vir dag oorgee aan die heerskappy van Sy liefde. Maar die volle verwesenliking van die koninkryk van Sy heerlikheid sal eers by die wederkoms van Christus geskied. “Die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel” moet “aan die volk van dié heiliges van die Allerhoogste” gegee word (Daniël 7:27). Hulle sal die koninkryk beërwe wat “van die grondlegging van die wêreld af” vir hulle berei is (Mattheüs 25:34). En Christus sal Sy groot mag opneem en regeer. Die hemelpoorte sal weer oopgaan, en vergesel van tien-duisend maal tienduisend en duisend duisende heiliges, sal ons Heiland as Koning van die konings en Here van die here verskyn. Jehova Emmanuel “sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een.” “Die tabernakel van God” sal by die mense wees “en Hy sal by hulle woon en hulle sal sy volk wees; en God sal self by hulle wees as hulle God” (Sagaria 14:9; Openbaring 21:3). Maar voor daardie koms, het Jesus gesê, sal “hierdie evangelie van die koninkryk... verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:14). Sy koninkryk sal nie kom voordat die goeie tyding van Sy genade aan die hele wêreld verkondig is nie. Waar ons ons dus in die hande van God oorgee en ander siele vir Hom win, verhaas ons die koms van Sy koninkryk. Net hulle wat hulle aan Sy diens wy en sê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8), om die oë van die blindes te open, “dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ’n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Handelinge 26:18) - net hulle bid in alle opregtheid: “Laat u koninkryk kom.”
“Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Mattheüs 6:10.
Die wil van God word in Sy heilige wet uitgedruk, en die beginsels van hierdie wet is die beginsels van die hemel. Die hemelse engele bereik geen hoër kennis as om die wil van God te ken nie, en om Sy wil te doen, is die verhewendste diens waarvoor hulle hul kragte kan inspan.
Maar in die hemel word diens nie gelewer asof dit ’n wetsverpligting is nie. Toe die Satan hom teen die wet van die Allerhoogste verset het, het die besef dat daar ’n wet is die engele amper as ’n verrassing getref - as iets waaraan hulle nie gedink het nie. Die engele dien nie as knegte nie, maar as seuns. Daar heers volkome eenheid tussen hulle en hul Skepper. Gehoor-saamheid is vir hulle geen las nie. Omdat hulle God liefhet, is hul diens die ene genot. Net so weerklink die woorde van Christus in elke siel waarin die heerlike verwagting woon: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.” Psalm 40:9. Die versoek: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde,” is ’n gebed dat die bewind van sonde op hierdie aarde moet eindig, dat die sonde vir ewig uitgewis moet word en die koninkryk van geregtigheid gevestig moet word. Dan sal “alle welgevalle aan wat goed is” (2 Thessalonicense 1: 11) net soos in die hemel ook op aarde volbring word.
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Mattheüs 6:11.
Die eerste helfte van die gebed wat Jesus ons geleer het, gaan oor die Naam en die koninkryk en die wil van God - dat Sy Naam geëer mag word. Sy koninkryk gevestig word en Sy wil geskied. As u so die diens van God u grootste belangstelling gemaak het, kan u met vertroue vra dat in u eie behoeftes voorsien moet word. As u die eie-ek verloën en u aan Christus oorgegee het, is u ’n lid van die gesin van God en is alles wat in die Vaderhuis is vir u. Al die skatte van God is vir u toeganklik - die huidige wêreld en die een wat kom. Die bediening van die engele, die gawe van Sy Heilige Gees, die werk van Sy dienaars - alles is vir u. Die wêreld met alles daarin behoort aan u sover dit u kan goed doen. Selfs die vyandskap van die goddeloses sal ’n seën vir u wees omdat dit u vir die hemel sal dissiplineer. “Alles behoort aan julle” as julle aan Christus behoort (1 Korinthiërs 3:21, 23).
Maar u is soos ’n kind wat nog nie beheer oor sy erfporsie gegee is nie. Die Here gee nie u kosbare besitting in u hande oor nie, anders kan die Satan u met sy arglis bedrieg soos hy die eerste paar in Eden bedrieg het. Christus bewaar dit vir u, veilig buite die bereik van die bederwer. Soos ’n kind sal u dag vir dag ontvang volgens die dag se behoefte. U moet elke dag bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Moenie mismoedig word as daar nie genoeg vir móre is nie. U het die versekering van Sy belofte: “Dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” David sê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Psalm 37:4, 25. Die God wat die rawe gestuur het om Elia by die spruit Krit te voed, sal nie een van Sy getroue, selfverloënende kinders verbygaan nie. Oor hom wat opreg wandel, staan daar geskryf: “Sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” “Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word.” “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie.” Jesaja 33:16; Psalm 37:19; Romeine 8:32. Hy wat die sorge en angs van Sy weduweemoeder verlig het en haar gehelp het om vir die huishouding in Nasaret te sorg, het meegevoel vir elke moeder wat worstel om vir haar kindertjies kos te vind. Hy wat Hom oor die skare ontferm het omdat hulle “moeg en uitgeput was,” (Mattheüs 9:36), ontferm Hom nog oor die wat ly. Hy strek Sy hand met seëning na hulle uit; en selfs in die gebed wat Hy aan Sy dissipels gegee het, leer Hy ons om aan die armes te dink. Wanneer ons bid: “Gee ons ons vandag ons daaglikse brood,” vra ons vir sowel andere as vir onsself. En ons erken dat wat God vir ons gee, nie net vir ons is nie. God gee dit in ons hande, sodat ons die hongeriges kan voed. Hy het dit in Sy goedheid berei vir die ellendige (Psalm 68:11). En Hy sê: “Wanneer jy ’n móre of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie.... Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” Lukas 14:12-14. Die gebed om daaglikse brood behels nie net voedsel om die liggaam te onderhou nie, maar ook die geestelike brood wat die siel tot die ewige lewe sal voed. Jesus beveel ons: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe.” Johannes 6:27. Hy sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal Hy lewe tot in ewigheid.” Vers 51. Ons Heiland is die brood van die lewe, en deur Sy liefde te aanskou, deur dit in die siel te ontvang, eet ons die brood wat uit die hemel neergedaal het. Ons ontvang Christus deur Sy woord, en die Heilige Gees word gegee om die woord van God vir ons verstaanbaar te maak en om sy waarhede by ons op die hart te druk. Ons moet dag vir dag bid dat, wanneer ons Sy woord lees, God Sy Gees sal stuur om die waarheid aan ons te openbaar wat ons siele vir die dag se behoefte sal versterk. Deur ons te leer om elke dag te vra wat ons nodig het - sowel tydelike en geestelike seëninge - het God ’n doel wat tot ons beswil dien. Hy wil hê ons moet bewus wees van Sy voort-durende sorg, want Hy wil met ons gemeenskap hê. In hierdie gemeenskap met Christus, deur gebed en die bestudering van die groot en kosbare waarhede van Sy woord, sal ons as hongerige siele gevoed word; as dorstiges sal ons by die fontein van die lewe verkwik word.
“Vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is.” Lukas 11:4.
Jesus leer ons dat ons van God net in die mate vergifnis kan verwag waarin ons ander vergewe. Dit is die liefde van God wat ons na Hom toe trek, en daardie liefde kan ons harte nie aanraak sonder om liefde vir ons broeders op te wek nie.
Toe Jesus Sy gebed voltooi het, het Hy bygevoeg: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Hy wat onvergewensgesind is, sluit sodoende die enigste kanaal waardeur hy van God genade kan ontvang. Ons moenie dink dat ons die vergifnis maar kan weerhou totdat die een wat ons te na gekom het om vergifnis kom vra nie. Dit is ongetwyfeld hulle plig om hulle te verootmoedig met berou en belydenis; maar ons moet ’n gees van barmhartigheid aan die dag lê teenoor diegene wat ons te na gekom het, ongeag of hulle hul skuld bely het of nie. Ongeag hoe diep hulle ons miskien seergemaak het, mag ons nie griewe koester of onsself oor die onreg bejam-mer nie; maar in dieselfde mate waarin ons verwag om vergifnis van God te ontvang vir ons misdrywe teenoor Hom, moet ons ook diegene vergewe wat ons te na gekom het. Maar vergifnis het ’n baie breër betekenis as wat baie dink. Wanneer God beloof dat Hy menigvuldiglik sal vergewe, sê Hy, asof die betekenis van daardie belofte ons verstand te bowe gaan: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Jesaja 55:8, 9. God se vergifnis is nie ’n blote regsdaad waardeur ons ver-oordeling tersyde gestel word nie. Dis nie net vergifnis van die sonde nie, maar herwinning uit die sonde. Dis die uitstraling van ’n reddende liefde wat die hart verander. Dawid het die ware begrip van vergifnis gehad toe hy gebid het: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” Psalm 51:12. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Psalm 103:12. In Christus het God Homself vir ons sondes gegee. Hy het die wrede kruisdood gesterf, vir ons die skuldlas gedra, “die Regverdige vir die onregverdiges,” om Sy liefde aan ons te openbaar en ons na Hom toe te trek. En Hy sê: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efesiërs 4:32). Laat Christus, die Goddelike Lewe, in julle leef en deur julle die hemelse liefde openbaar wat die hopeloses met hoop sal besiel en hemelse vrede na die sondegeteisterde hart sal bring. Dit is die voor-waarde wat by die drumpel vir ons wag as ons tot God kom, dat ons met die genade wat ons van Hom ontvang, onsself moet oorgee om Sy genade aan andere te openbaar. Om die vergewende liefde van God te kan ontvang en bewys, is een ding noodsaaklik: dat ons die liefde wat Hy vir ons het, ken en glo (1 Johannes 4:16). Die Satan gebruik elke denkbare mis-leiding om te verhoed dat ons daardie liefde besef. Hy sal ons oortuig dat ons foute en oortredinge so groot is dat die Here ons gebede nie sal verhoor en ons nie sal seën en red nie. Ons kan in onsself niks anders as swakheid sien nie, niks wat ons by God kan aanbeveel nie; die Satan vertel ons dat dit hopeloos is; dat ons ons karaktergebreke nie kan aansuiwer nie. Wanneer ons die Here probeer nader, fluister die vyand: “Dit help nie om te bid nie; het jy nie daardie bose dinge begaan nie? Het jy nie teen God gesondig en jou gewete verkrag nie?” Maar ons kan vir die vyand sê dat die bloed van Jesus Christus ons van alle sonde reinig. (1 Johannes 1:7.) Wanneer ons voel ons is sondaars en ons kan nie bid nie, is dit juis die tyd om te bid. Ons voel moontlik skaam en verneder, maar ons moet bid en glo. “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” 1 Timotheus 1:15. Vergifnis, versoening met God, is nie beloning vir ons werke nie, dit word nie toegeken weens die verdienste van sondige mense nie, maar is ’n geskenk aan ons met die vlekkelose geregtigheid van Christus as grondslag vir sy toekenning. Ons moet nie ons skuldlas probeer verlig deur die sonde te verdedig nie. Ons moet God se taksering van die sonde aanvaar -en dit is inderdaad ernstig. Net Golgota kan die ontsaglikheid van die sonde aan die lig bring. Om self die las te moet dra sou ons verpletter. Maar die Sondelose het ons plek ingeneem; al verdien ons dit nie, het Hy ons sonde gedra. “As ons ons sondes bely,” God “is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Heerlike waarheid! - regverdig teenoor Sy eie wet, maar Regverdigmaker van almal wat in Jesus glo. “Wie is ’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid.” Miga 7:18.
“Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Mattheüs 6:13.
Versoeking is die uitlokking tot sonde. Dit kom nie van God nie, maar van die Satan en die boosheid van ons eie harte. “God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus 1:13.
Die Satan wil ons in versoeking bring, sodat die boosheid van ons karakters voor mense en engele ontbloot kan word en hy ons as syne kan opeis. In die simboliese profesie van Sagaria staan die Satan aan die regterkant van die Engel van die Here en beskuldig hy Josua, die hoëpriester, wat vuil klere aan het, en hy weerstaan die werk wat die Engel vir Josua wil doen. Dit is die houding van die Satan teenoor elke siel wat Christus na Homself trek. Die vyand verlei ons tot sonde en beskuldig ons voor die heelal dat ons Gods liefde nie waardig is nie. Maar, “toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ’n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” En aan Josua het Hy gesê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” Sagaria 3:1-4. God streef in Sy groot liefde daarna om die deugde van Sy Gees in ons te ontwikkel. Hy laat toe dat ons struikelblokke, moeilikhede en vervolging teëkom - nie as ’n vloek nie, maar as die grootste seën van ons lewe. Elke versoeking wat ons weerstaan, elke beproewing wat ons verduur, bring ’n nuwe ondervinding mee en bevorder die ontwikkeling van ons karakters. Die siel wat versoekings in die krag van God kan weerstaan, toon aan die wêreld en aan die hemele hoe doeltreffend die genade van Christus is. Maar hoewel ons nie moet toelaat dat beproewinge, hoe bitter ook al, ons moet ontmoedig nie, moet ons bid dat die Here nie sal toelaat dat ons na ’n punt gelei sal word waar ons deur die begeertes van ons eie bose harte weggevoer sal word nie. Deur hierdie gebed van Christus te bid, onderwerp ons ons aan die leiding van God en vra ons Hom om ons langs veilige weë te lei. Ons kan die gebed nie opreg bid en tog nog ons eie weg bewan-del nie. Ons sal wag dat Sy hand ons lei, ons sal na Sy stem luis-ter as Hy sê: “Dit is die weg, wandel daarop!” (Jesaja 30:21). Dit is onveilig om stil te staan en te bereken watter voordele ons kan ontvang as ons aan die Satan se versoekings toegee. Die sonde bring oneer en rampspoed oor elkeen wat hom daaraan skuldig maak; maar dit is oëverblindend en verleidelik van aard en lok ons met vleiende voorstellings. Waag ons ons op die Satan se terrein, het ons geen waarborg van beskerming teen sy mag nie. So ver moontlik moet ons elke opening toestop waardeur die verleier toegang tot ons kan kry. Die gebed: “Lei ons nie in versoeking nie,” is ook ’n belofte. As ons ons aan God toevertrou, het ons die versekering dat Hy “nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Al beskerming teen die bose is die inwoning van Christus in die hart deur die geloof in Sy geregtigheid. Dit is die bestaan van selfsug in ons harte wat maak dat die versoeking mag oor ons het. Maar as ons die liefde van God aanskou, besef ons hoe afstootlik en laakbaar selfsug is, en verlang ons dat dit uit die siel verdryf moet word. Terwyl die Heilige Gees Christus in ons ver-heerlik, word ons harte week en onderdanig, verloor die versoek-ing sy krag, en verander die genade van Christus die karakter. Christus laat geen siel vir wie Hy gesterf het in die steek nie. Die siel kan Hom verlaat en deur ’n versoeking oorweldig word, maar Christus draai nooit die rug op een wat Hy met Sy eie lewe losgekoop het nie. As ons geestelike oë kon oopgaan, sou ons siele sien wat onder verdrukking en droefheid gebuk gaan soos ’n wa onder gerwe, gereed om in wanhoop te sterwe. Ons sal ook sien hoe engele hierdie versoekte siele te hulp snel waar hulle op die rand van ’n afgrond staan. Die engele van die hemel dryf die bose magte terug en lei die verdrukte siel terug na vaste grond. Die stryd tussen die twee leërs is so werklik soos dié wat tussen die leërs van die wêreld gevoer word, en die lotsbestemming van mense hang van die uitslag van hierdie geestelike stryd af. Tot ons, soos tot Petrus, kom die woord: “Die Satan het vurig begeer om jou soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:31, 32). Dank God ons staan nie alleen nie. Hy wat die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy eie Seun gegee het, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16), sal ons in die stryd met die teenstander van God en mens nie verlaat nie. “Kyk,” sê Hy, “Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Lukas 10:19. Bly in voeling met die lewende Christus, en Hy sal u hand altyd vashou. Ken en glo die liefde wat God vir ons het, en u is veilig; daardie liefde is ’n ondeurdringbare vesting vir die misleid-ings en aanslae van die Satan. “Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Spreuke 18:10.
“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid.” Mattheüs 6:13.
Soos die aanvangsin van die modelgebed, leer die slotsin ons dat onse Vader verhewe is bo alle mag en gesag en elke naam wat genoem word. Die Heiland het ’n toekomsblik gewerp op die jare wat vir Sy dissipels voorgelê het, en hulle anders gesien as wat Sy dissipels gedroom het - nie in die sonlig van wêreldse voor-spoed en eer gehul nie, maar donker van die storms van mense-haat en sataniese toorn. Die voetstappe van die dissipels, omring deur die volk se stryd en ondergang, sou hulle deur baie gevare lei, en dikwels sou vrees hul harte beklem. Hulle sou Jerusalem in puin sien, die tempel verwoes, om nooit weer vir aanbidding gebruik te word nie, met Israel deur alle lande verstrooi, soos wrakke op ’n woestynkus. Jesus het gesê: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.” “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal honger-snode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” Mattheüs 24:6-8. Tog moes Christus se volgelinge nie vrees dat hulle geen hoop meer het of dat God die aarde verlaat het nie. Die krag en die heerlikheid behoort aan Hom wie se planne ongehin-derd verwesenlik sal word. In die gebed wat hul daaglikse behoeftes te kenne gee, is die dissipels aangesê om bo al die krag en heerskappy van die Bose heen te kyk na die Here hulle God, wie se koninkryk oor almal heers en wat hul Vader en ewige Vriend is.
Die verwoesting van Jerusalem was simbolies van die uitein-delike verwoesting wat oor die wêreld sal kom. Die profesieë, wat gedeeltelik vervul is in die omverwerping van Jerusalem, is meer regstreeks van toepassing op die laaste dae. Ons staan op die vooraand van grootse en gewigtige gebeurtenisse. ’n Krisis lê voor ons soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie. En die-selfde soete versekering wat aan die eerste dissipels gegee is, word aan ons gegee, dat die koninkryk van God oor alles heers. Die program van gebeurtenisse berus in die hande van ons Maker. Die hemelse Majesteit het die bestemming van die volke, asook die belange van Sy kerk, in Sy eie hande. Die Goddelike Leermeester sê vir elke werktuig in die vervulling van Sy planne, soos Hy vir Kores gesê het: “Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie” (Jesaja 45:5). In die gesig van die profeet Esegiël verskyn daar ’n hand onder die vlerke van die gerubs. Dit is ’n les aan Sy dienaars dat dit die krag van God is wat hulle sukses besorg. Diegene wat God as Sy boodskappers gebruik, moet nie dink dat Sy werk van hulle afhang nie. Dit word nie aan sterflinge oorgelaat om die verant-woordelikheid te dra nie. Hy wat nooit sluimer nie, wat gedurig aan die werk is om Sy planne uit te voer, sal Sy werk voortsit. Hy sal die planne van goddelose mense verydel en verwarring bring onder diegene wat saamsweer om Sy volk kwaad aan te doen. Hy wat die Koning is, die Here van die leërskare, sit tussen die gerubs, en te midde van die stryd en beroering onder die nasies beskerm Hy steeds Sy kinders. Hy wat in die hemele regeer, is ons Verlosser. Hy meet elke beproewing, Hy waak oor die vuuroond wat elke siel louter. Wanneer konings se vestings val, wanneer die pyle van woede Sy vyande se harte tref, sal Sy volk veilig in Sy hande wees.
