top of page
WhatsApp Image 2025-12-19 at 04.39.46.jpeg

6. Nie Oordeel Nie, Maar Doen


“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Mattheüs 7:1.

Om te probeer om jou saligheid deur jou eie werke te verdien, lei noodwendig tot die opstapeling van ’n muur van menslike voorskrifte teen die sonde. Sodra die mens besef dat hy die wet nie kan onderhou nie, bedink hy allerhande reëls en vereistes om hom tot gehoorsaamheid te dwing. Dit trek die aandag van God af na jouself. Liefde vir God sterf in die hart, en daarmee ook die liefde vir jou medemens. ’n Stelsel wat deur die mens bedink is, met sy eindelose reeks voorskrifte, beweeg die voorstanders daarvan om almal wat nie aan hierdie voorskrifte voldoen nie, te veroordeel. Hierdie selfsug-tige, eng kritiese houding smoor talle edelmoediger en groothart-ige gewaarwordings en maak van die mens eiegeregtige regters en kleinlike spioene.


Jesus het gesê: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Dit wil sê, moenie jouself as standaard voorhou nie. Moenie jou menings, jou idees van plig, jou vertolkings van die Skrifte, ’n standaard vir ander maak en hulle veroordeel as hulle nie aan jou ideaal beantwoord nie. Moenie ander mense kritiseer, probeer raai wat hul motiewe is, en oordeel oor hulle uitspreek nie. “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat nie verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die hart openbaar sal maak.” 1 Korinthiërs 4:5. Ons kan die hart nie beoordeel nie. Ons is self feilbaar en onbevoeg om te oordeel. Sterflinge kan net volgens die uiterlike oordeel. Net aan Hom, wat die verborge oorsprong van ons dade ken, en wat teer en medelydend optree, is dit gegee om oor die lot van elke siel te beslis. “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.” Romeine 2:1. Mense wat ander dus kritiseer of veroordeel, verklaar dat hulle self skuldig is, want hulle doen dieselfde dinge. Deur ander te veroordeel, vel hulle vonnis oor hulself, en die Here verklaar dat hierdie vonnis regverdig is. Hy aanvaar hul eie uitspraak teen hulself. 

“Met lompe voete, nog vol klei,
trap ons die tenger blomme plat;
met growwe hande sal ons aan
’n vriend se fyn hartsnare vat”

“En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder?” Mattheüs 7:3.

Selfs die sin “jy wat oordeel doen dieselfde dinge” gee nie uitdrukking aan die volle omvang van die sonde van iemand wat hom die reg aanmatig om sy broeder te veroordeel nie. Jesus het gesê: “Waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”


Hiermee beskryf Hy iemand wat ander se foute baie gou raaksien. Sodra hy meen hy het ’n gebrek in iemand se lewe of karakter ontdek, bring hy dit ywerig op die lappe; maar juis hierdie gesindheid om so onchristelik op te tree is, vergeleke met die fout waarop die kritiek gemik is, soos ’n balk teenoor ’n splinter. Dit is weens jou eie gebrek aan lankmoedigheid en liefde dat ’n mens van ’n atoom ’n wêreld maak. Mense wat nog nie die ne-derigheid van ’n algehele oorgawe aan Christus ken nie, lê nie die versagtende invloed van die Hei-land se liefde aan die dag nie. Hulle gee ’n verwronge voorstelling van die sagmoedige, hoflike gees van die evangelie en kwets kosbare siele vir wie Christus gesterf het. Volgens die beeld wat ons Heiland gebruik, is hy wat ’n vitterige gees aan die dag lê, aan groter sonde skuldig as die persoon wat hy beskuldig, want hy begaan nie net self daardie sonde nie, maar is boonop nog verwaand en vitterig. Christus is al ware maatstaf vir karakters, en hy wat homself as maatstaf vir andere stel, stel hom-self in die plek van Christus. En aangesien die Vader “die hele oordeel aan die Seun gegee” het (Johannes 5:22), matig hy wat ander oordeel hom die regte aan wat net die Seun van God toekom. Hierdie selfaangestelde regters en kritici skaar hulle aan die kant van die antichris, “wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4). Die sonde wat tot die grootste ongeluk lei, is die gevoellose, kritiese, onvergewensgesinde gees wat die Fariseërs gekenmerk het. As liefde in die godsdienslewe ontbreek, is Jesus nie daar nie en ontbreek ook die sonskyn van Sy teenwoordigheid. Geen drukke bedrywigheid of Christuslose ywer kan die gebrek aansuiwer nie. Andere se tekortkominge kan met groot skerpsinnigheid raakgesien word, maar aan elkeen wat hierdie gees openbaar, sê Christus: “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder te haal.” Hy wat aan die ongeregtigheid skuldig is, is die eerste om ongeregtigheid te vermoed. Sy veroordeling van ’n ander is ’n poging om die boosheid in sy eie lewe te verberg of goed te praat. Dit is deur die sonde dat die mens die kwaad geleer ken het. Pas het die eerste mensepaar gesondig, of hulle begin mekaar te beskuldig; en dit is die onvermydelike gedrag van die menslike gees wat nie deur die genade van Christus beheers word nie. Mense wat aan hierdie beskuldigende gees toegee, is nie tevrede om net op die broeder se tekortkoming te wys nie. As hulle hom nie kan oorreed om te doen wat hulle meen dat hy moet doen nie, gaan hulle tot dwang oor. Sover moontlik sal hulle mense dwing om te doen wat na hul mening reg is. Dit is wat die Jode in Christus se tyd gedoen het en wat die kerk sedertdien nog altyd gedoen het toe hy die genade van Christus kwytgeraak het. Toe die krag van die liefde hom verlaat het, het hy na die sterk arm van die staat gegryp om sy leer af te dwing en sy bevele uit te voer. Hier lê die geheim van al die godsdienstige wette wat nog ooit gemaak is en van alle vervolging sedert die tyd van Abel. Christus dwing nie, maar trek die mens na Hom. Al dwang wat Hy gebruik, is die drang van die liefde. As die kerk hom op die steun van die wêreldse gesag beroep, is dit duidelik dat hy sonder die krag van Christus is - naamlik die drang van die liefde. Maar die moeilikheid lê by die individuele lede van die kerk, en hier moet die antwoord ook gevind word. Jesus raai die beskuldiger aan om eers die balk uit sy eie oog te haal, af te sien van sy vitterige gees, sy eie sonde te bely en te los, voordat hy ander probeer hervorm. “Want dit is nie ’n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ’n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.” Lukas 6:43. Die beskuldigende gees waaraan u toegee, is slegte vrugte en toon dat die boom sleg is. Dit is vir u nutteloos om u eie geregtigheid te probeer bewerk. Wat u nodig het, is ’n verandering van hart. U moet dit eers ondervind voor u toegerus is om andere te bestraf, “want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Mattheüs 12:34). As ’n siel voor ’n krisis te staan kom en u probeer hom raad gee of vermaan, sal die goeie invloed wat u woorde uitoefen net gelyk staan aan dié van u eie voorbeeld en gesindheid. U moet goed wees voordat u goed kan doen. U kan geen invloed uitoefen wat andere sal verhef voordat u eie hart verneder en gelouter en sag gemaak is deur die genade van Christus nie. As hierdie ve-randering in u plaasgevind het, sal dit vir u net so natuurlik wees om andere tot seën te wees as vir die roosboom om sy geurige blomme te dra of vir die wynstok om sy pers trosse voor te bring. As Christus in u “die hoop van die heerlikheid” is, sal dit nie in u aard wees om andere se foute te soek en uit te basuin nie. Eerder as om te beskuldig en te veroordeel, sal u streef om te help, tot seën te wees, en te red. Wanneer u met dwalendes te doene kry, sal u ag slaan op die vermaning: Let op jouself “dat jy ook nie versoek word nie” (Galasiërs 6:1). U sal onthou hoe dikwels u self afgedwaal het en hoe moeilik dit vir u was om weer die regte pad te vind nadat u dit byster geraak het. U sal u broeder nie na groter duisternis dryf nie, maar met ’n hart vol liefde sal u hom op sy gevaar wys. Hy wat dikwels na die kruis van Golgota kyk en onthou dat sy sonde die Heiland daaraan gespyker het, sal nooit die mate van sy skuld met dié van ander probeer vergelyk nie. Hy sal nie op die regstoel klim om ’n ander te beskuldig nie. ’n Gees van kritiek en selfverheffing is onmoontlik vir diegene wat in die skaduwee van die kruis van Golgota wandel. Eers wanneer u bereid is om u eie waardigheid prys te gee en selfs u lewe neer te lê om ’n dwalende broeder te red, het u die balk uit u oog gehaal en is u in staat om u broeder te help. Dan kan u hom nader en sy hart aanraak. Niemand is nog ooit deur bestraffing en verwyt van sy dwaling gered nie; maar baie is op dié manier al van Christus weggedryf en teen oortuiging verhard. ’n Minsame gees, ’n aantreklike gesindheid kan die dwalende red en ’n menigte sondes bedek. Die openbaring van Christus in u eie karakter het verkwikkende krag op almal met wie u in aanraking kom. Laat Christus daagliks in u geopenbaar word, en Hy sal die skeppingskrag van Sy woord deur u openbaar - ’n sagmoedige, oorredende maar magtige invloed om ander siele na die skoonheid van die Here onse God te herskep. 

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Mattheüs 7:7.

Om alle moontlikhede van ongeloof, misverstand of wanvertolk-ing van Sy woorde uit die weg te ruim, herhaal die Here die drievoudige belofte. Hy wil graag hê dat almal wat na God soek, in Hom moet glo wat tot alle dinge in staat is. Daarom voeg Hy by: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”


Die Here stel geen voorwaardes nie - behalwe dat u honger moet wees vir Sy genade, Sy raad moet begeer en na Sy liefde moet verlang. “Bid.” Deur te vra, bewys u dat u u behoefte besef; en as u glo wat u vra, sal u dit ontvang. Die Here het Sy woord gegee, en dit staan vas. As u met ware berou na Hom toe kom, hoef u nie te voel dis voorbarig om te vra wat die Here belowe het nie. As u om die nodige seëninge vra sodat u ’n karakter soos dié van Christus kan ontwikkel, gee die Here u die versekering dat u volgens ’n belofte bid wat bekragtig sal word. Om te voel en te weet dat u ’n sondaar is, is genoeg rede om Hom om Sy genade en barmhartigheid te vra. Die voorwaarde waarvolgens u na die Here kan kom, is nie dat u heilig moet wees nie, maar dat u verlang dat Hy u van alle ongeregtigheid moet reinig. Die pleidooi wat ons nou en altyd kan aanvoer, is ons groot behoefte, ons algehele hulpeloosheid wat Hom en Sy reddende krag so uiters noodsaaklik maak. “Soek.” U moet nie net na Sy seën verlang nie, maar wel na Hom. “Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê.” Job 22:21. Soek, en u sal vind. God soek na u, en die begeerte wat u voel om na Hom toe te kom, is juis Sy Gees wat u aantrek. Gee u oor aan daardie roepstem. Christus pleit ten behoewe van die versoekte, die dwalende en die ontroue. Hy wil hulle ophef tot gemeenskap met Hom. “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind.” 1 Kronieke 28:9. “Klop.” Ons kom na God op uitnodiging, en Hy wag om ons in Sy binnekamer te verwelkom. Die eerste dissipels wat Jesus gevolg het, was nie tevrede met ’n verbygaande gesprekkie met Hom nie; hulle het gevra: “Rabbi... waar is U tuis?... Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was, en die dag by Hom gebly” (Johannes 1:39, 40). So het ons toegang tot die intiemste gemeenskap met God. Jesus het heengekyk oor die skare wat bymekaar gekom het om na Hom te luister, en het inniglik verlang dat die groot skare die genade en goedertierenheid van God moes verstaan. As ’n beeld van hulle behoefte en van God se gewilligheid om te gee, het Hy ’n honger kind gebruik wat sy aardse ouer om brood vra. “Watter mens is daaronder julle,” sê Hy, “wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee?” Hy beroep Hom op die tere, natuurlike liefde van ’n ouer vir sy kind, en dan sê Hy: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid?” Geen mens met ’n vaderhart sal sy rug draai op sy honger seun wat hom om brood vra nie. Dink julle hy sal dit oor sy hart kry om sy kind vir die gek te hou, of om hom te treiter deur sy verwagtinge op te wek net om hom teleur te stel? Sou hy beloof om hom goeie, voedsame kos te gee en hom dan ’n klip gee? Sal iemand die Here dan so ’n oneer aandoen om te dink dat Hy Hom nie aan Sy kinders se smeekstemme sal steur nie? As julle wat menslik en sleg is, dan “weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat hom bid?” (Lukas 11:13). Die Heilige Gees, Sy eie verteenwoordiger, is die grootste van alle gawes. Alle “goeie dinge” word in Hom saamgevat. Die Skepper self kan ons niks groters of beters gee nie. As ons die Here smeek om ons uit ons benoudheid te red, of ons deur Sy Heilige Gees te lei, sal Hy ons gebed nooit veronagsaam nie. Dit sou vir ’n ouer nog moontlik wees om sy honger kind te veronagsaam, maar die Here kan nooit die geroep van die behoeftige en verlang-ende hart verwerp nie. Hoe tederlik beskryf Hy nie Sy liefde nie! Vir mense wat in donkere tye voel dat God Hom nie aan hulle steur nie, kom hierdie boodskap uit die Vaderhart: “Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer.” Jesaja 49:14-16. Elke belofte in die Woord van God gee ons iets om voor te bid, en die woord van die Here is ons waarborg. Dit is ons voorreg om elke geestelike seën wat ons nodig het deur Jesus te eis. Met die eenvoud van ’n kind kan ons die Here vra presies wat ons nodig het. Ons kan ons stoflike behoeftes aan Hom voorlê en Hom om voedsel en klere vra, net soos ons om die brood van die lewe en die kleed van Christus se geregtigheid moet vra. U hemelse Vader weet dat u al hierdie dinge nodig het, en u word genooi om Hom daarom te vra. Deur die Naam van Jesus word elke guns ontvang. Die Here sal daardie Naam respekteer en in al u behoeftes voorsien uit die rykdom van Sy milddadigheid. Maar moenie vergeet dat u, as u tot God as Vader kom, daarmee u kindskap erken nie. U vertrou nie net op Sy goedheid nie, maar u onderwerp u in alle opsigte aan Sy wil, in die wete dat Sy liefde onveranderlik is. U wy uself aan Sy werk. Dit is aan hulle vir wie Jesus aangeraai het om eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek dat Jesus belowe het. “Bid en julle sal ontvang” (Johannes 16:24). Die gawes van Hom wat alle mag in die hemele en op aarde het, is daar vir die kinders van God. Gawes wat so kosbaar is dat ons hulle deur die duur offer van die Heiland se bloed ontvang; gawes wat die diepste verlangens van die hart sal bevredig; gawes wat so lank soos die ewigheid sal duur, sal ontvang en geniet word deur almal wat soos kindertjies tot God wil kom. Aanvaar God se beloftes as u eie, lê hulle aan Hom voor as Sy eie woorde, en u sal versadiging en vreugde vind.

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” Mattheüs 7:12.

Nadat Jesus ons verseker het van die liefde van God vir ons, beveel Hy ons om mekaar lief te hê - in een allesomvattende beginsel wat alle menslike verhoudinge insluit.


Die norm van ons verpligtinge teenoor andere is te vind in ons eie beskouing van wat hul verpligtinge teenoor ons is. In u omgang met ander, stel u in hulle plek. Dink u in in hul gevoelens, hul moeilikhede, hul teleurstellings, hul vreugde en hul verdriet. Vereenselwig u met hulle, en behandel hulle dan soos u self behandel sou wou wees as u in hul skoene gestaan het. Dit is die ware toets van eerlikheid. Dit is ’n ander manier om te sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). In hoofsaak is dit ook wat die profete geleer het. Dit is ’n beginsel van die hemel, en almal wat hulle voorberei vir die heilige gemeenskap van die hemel, sal dit aankweek. Die gulde reël is die beginsel van ware hoflikheid, en die beste voorbeeld daarvan word in die lewe en die karakter van Jesus gesien. Hoe het die daaglikse lewe van ons Heiland gestraal van teerheid en van skoonheid! Hoe aangenaam was Sy teenwoor-digheid! Sy kinders sal dieselfde gees openbaar. Diegene in wie Christus woon, word in ’n Goddelike atmosfeer gehul. Die wit gewaad van hul reinheid sal welriekend wees met die geure van Gods tuin. Die glans van Sy aangesig sal in hulle s’n weerkaats word en dit sal die pad verlig vir die struikelende, moeë lewensreisiger. Niemand wat ’n volmaakte karakter waarlik nastreef sal nalaat om die meegevoel en teerheid van Jesus te openbaar nie. Welwil-lendheid versag die hart, verfyn en louter die gevoelens en bring ’n hemelse verfyndheid en sin vir welvoeglikheid in die lewe. Maar die gulde reël het nog ’n dieper betekenis. Elkeen wat ’n rentmeester van die veelvuldige genade van God is, moet dit met siele deel wat in onkunde en duisternis verkeer, net soos hy van hulle sou verwag. Die apostel Paulus het verklaar: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ’n skuldenaar” (Romeine 1:14). In die mate wat u die liefde van God geken het, in die mate wat u die rykdom van Sy genade, meer as die agterlikste en mees versonke siel op aarde ontvang het, in dié mate is u ’n skuldenaar teenoor daardie siel om daardie gawes met hom te deel. Dit geld ook vir die seëninge van hierdie lewe; wat jy ook al meer as jou medemens besit, plaas jou in dieselfde mate onder verpligting teenoor almal wat minder bevoorreg is. As ons rykdom of selfs die geriewe van die lewe besit, staan ons onder ernstige verpligting om te sorg vir die sieke, die weduwee en die vaderlose, presies soos ons van hulle sou verwag as hulle en ons omstandighede omgekeerd was. Onregstreeks leer die gulde reël ons dieselfde les wat elders in die Bergrede geleer word: “Met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Wat ons aan ander doen, of dit goed of kwaad is, sal sekerlik op ons self as ’n seën of vloek terugkaats. Wat ons gee, sal ons terugontvang. Die aardse seëninge wat ons aan ander meedeel, word dikwels in gelyke munt weer aan ons uitbetaal. Dikwels kry ons wat ons aan ander gegee het viervoudig terug wanneer ons dit nodig het. Maar afge-sien hiervan word alle gawes selfs in hierdie lewe terugbetaal met die oorvloed van Sy liefde, wat die volle hemelse heerlikheid en rykdom is. Die kwaad wat ’n mens ander aandoen, kom ook op jou eie hoof neer. Elkeen wat ’n ander veroordeel of ontmoedig, sal in sy eie ondervinding die paadjie moet bewandel wat hy ander laat bewandel het; hy sal voel wat hulle gely het omrede van sy gebrek aan meegevoel en teerhartigheid. Die liefde van God teenoor ons sorg daarvoor. Sy begeerte is dat ons ons eie hardheid van hart moet verafsku en ons harte moet oopstel vir die inwoning van Jesus. So baar die kwaad goed, en wat na ’n vloek gelyk het, word ’n seën. Die gulde reël is die ware maatstaf van die Christelike lewe; wat nie daaraan voldoen nie, is bedrog. ’n Geloof wat mense leer om diegene gering te skat wat vir Christus so waardevol was dat Hy Homself vir hulle gegee het; ’n geloof wat ons onverskillig maak teenoor die behoeftes, lyding en regte van ander, is ’n valse geloof. As ons die aansprake van die armes, die lydendes en die sondaar geringskat, toon ons dat ons verraaiers van Christus is. Dit is omdat mense die benaming Christen aaneem terwyl hul lewenswyse Sy karakter verloën, dat die Christelike geloof so min krag in die wêreld het. Hierdie dinge is die oorsaak dat die Naam van die Here belaster word. Van die apostoliese kerk in die dae toe die heerlikheid van die herrese Heiland op hulle geskyn het, staan geskrywe: “Nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie.” “Want nie-mand onder hulle was behoeftig nie.” “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood ge-breek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Handelinge 4:32, 34, 33; 2:46, 47. In die hemel en op aarde is geen kragtiger waarheid geopen-baar as dié wat geopenbaar word in dade van ontferming teenoor diegene wat ons meegevoel en hulp nodig het nie. Dit is die waarheid soos ons dit in Jesus vind. Wanneer diegene wat die Naam van Christus bely die beginsels van die gulde reël uitleef, sal die evangelie dieselfde krag hê as in die tyd van die apostels.

“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei.” Mattheüs 7:14.

In Christus se tyd het die mense in Palestina in ommuurde stede gewoon wat hoofsaaklik op heuwels of berge geleë was. Die poorte is sononder gesluit, en die ingange moes langs steil, klipperige paaie bereik word. Dikwels moes die reisiger wat teen die einde van die dag op pad huis toe was, die moeisame pad haastig uitklim om die poort voor die nag te bereik. Laatkommers moes buite slaap.


Die smal opdraandepad huis toe het Jesus van ’n indruk-wekkende beeld voorsien om die Christelike weg voor te stel. Hy het gesê: Die pad wat Ek voor jou stel, is smal; dis moeilik om deur die poort te gaan, want die gulde reël sluit alle hoogmoed en selfsug uit. Daar is wel ’n breër pad, maar die einde daarvan is ondergang. As mens die weg van die geestelike lewe wil bewan-del, moet jy gedurig klim, want dit gaan opdraande. Jy moet met die minderheid saamgaan, want die meerderheid verkies die afdraandepad. Die hele mensdom met al sy wêreldsheid, al sy selfsug, hoog-moed, oneerlikheid en sedelike verval, kan die weg na die dood bewandel. Daar is ruimte vir elkeen se menings en leerstellings, en om sy eie sin te kry - om te doen wat sy eie-liefde ook al voorskryf. Om die weg van die verderf te kan bewandel, is dit nie nodig om na die pad te soek nie, want die poort is wyd en die pad is breed en die voete neig van nature na daardie pad wat na die dood lei. Maar die weg na die lewe is nou en die ingang is smal. As u aan ’n boesemsonde vaskleef, sal u ontdek dat die weg te smal vir u is om in te gaan. U eie sin, u eie wil, u bose praktyke en gewoontes moet prysgegee word as u op die weg van die Here wil wandel. Hy wat Christus wil volg, kan die wêreld se menings nie huldig en aan die wêreld se standaard nie voldoen nie. Die paadjie na die hemel is te smal vir selfgerigte ambisie, te steil en skurf vir gemaksugtiges. Arbeid, geduld, selfopoffering, verwyt, armoede, teëspraak van sondaars teen Hom - dit was Christus se lot, en dit moet ook ons lot wees as ons ooit in die Paradys van God wil ingaan. Tog moet u nie dink dat die opdraandepad moeilik en die af-draandepad maklik is nie. Orals langs die pad van die dood is pyn en boete, verdriet en teleurstellings, waarskuwings om nie verder te gaan nie. Die liefde van God het dit vir onverskilliges en hard-koppiges moeilik gemaak om hulself te vernietig. Die Satan se pad word wel aantreklik voorgestel, maar dis ’n misleiding; op die weg van sonde wag bittere berou en knaende sorge. Ons dink dis aangenaam om hoogmoed en wêreldse ambisie na te streef, maar die einde is pyn en verdriet. Selfsugtige planne hou moontlik wel vleiende beloftes in met vooruitsigte op genot, maar ons geluk word vergiftig en ons lewe verbitter deur selfsugtige verwagtinge. Die afdraandepad se poort is moontlik met blomme versier, maar die pad is met dorings besaai. Die lig van hoop wat by die ingang skyn, verflou in die duisternis van wanhoop, en die siel wat daardie pad volg, daal neer in die skaduwees van ’n eindelose nag. “Die weg van die ontroues is hard,” maar wysheid se “weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede” (Spreuke 13:15; 3:17). Elke daad waarmee ons Christus gehoorsaam, elke selfverloëning ter wille van Hom, elke beproewing wat ons verduur, elke oorwinning oor ’n versoeking, is ’n stap in die rigting van heerlikheid en uiteindelike oorwinning. As ons Christus ons gids maak, sal Hy ons veilig lei. Die grootste sondaar hoef nie te verdwaal nie. Nie een bewende soeker hoef die voorreg mis te loop om in suiwere, heilige lig te wandel nie. Al is die weg so smal, so heilig dat sonde daar nie geduld word nie, is toegang vir almal nogtans verseker, en geen twyfelende, bewende siel hoef te sê: “God steur Hom nie aan my nie.” Al is die pad ru en steil; al is daar slaggate links en regs; al is ons reis moeisaam, al moet ons maar aansukkel wanneer ons al moeg is en na rus verlang; al moet ons veg as ons swak voel; al moet ons aanhou hoop as ons mismoedig word; met Christus as ons gids sal ons die begeerde oord uiteindelik bereik. Christus het die ruwe weg self voor ons uit bewandel, en Hy het die pad vir ons voete gelykgemaak. En langs die hele ent pad na die ewige lewe is fonteine van geluk om die moeë reisiger te verkwik. Hulle wat die weg van wysheid bewandel, is selfs in verdrukking blymoedig en verheug, want Hy wat hul siele liefhet, wandel onsigbaar langs hulle. Met elke tree skyn die lig van die Onsienlike helderder op hul weg; en hul lofliedere styg al hoër totdat hulle saam met die engele voor Sy troon sing. “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die móreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Spreuke 4:18.

“Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” Lukas 13:24.

Die laat reisiger wat hom gehaas het om die stadspoort voor sononder te bereik, kon nie langs die pad vertoef ter wille van ver-maak nie. Hy het net een doel voor oë gehad - om deur die poort te kom. Net so doelgerig, het Jesus gesê, moet die Christelike lewe wees. Ek het die heerlike karakter, wat die ware heerlikheid van My koninkryk is, aan jou geopenbaar. Dit belowe jou geen aardse koninkryk nie, maar dit is jou hoogste strewe en inspan-ning werd. Ek roep jou nie om vir die wêreld se grootste ryk te kom veg nie, maar dit wil nog nie sê dat daar geen stryd te stry of geen oorwinning te behaal is nie. Ek raai jou aan om te stry en te worstel om in My geestelike koninkryk in te gaan.


Die Christelike lewe is ’n stryd en ’n skof. Maar die oorwinning word nie deur die krag van die mens behaal nie. Die hart is die slagveld. Die stryd - die grootste wat die mens nog gevoer het -is om die eie-ek aan die wil van God te onderwerp, om die hart oor te gee aan die koningskap van die liefde. Die ou geaardheid wat uit bloed en uit die wil van die vlees gebore is, kan nie die koninkryk van die hemele beërwe nie. Die oorgeërfde neiginge, die ou gewoontes, moet versaak word. Wie vasberade is om in die geestelike koninkryk in te gaan, sal ontdek dat al die mag en die hartstogte van die onwederge-bore natuur, gerugsteun deur die magte van die koninkryk van die duisternis, teen hom in die stryd gewerp word. Selfsug en trots sal hulle verset teen enigiets wat hulle sondigheid ontmasker. Ons kan nie die bose begeertes en gewoontes wat veg om die oor-hand oor ons te kry, op eie houtjie oorwin nie. Ons kan nie die magtige vyand wat ons in sy greep het, te bowe kom nie. Die Here alleen kan ons die oorwinning gee. Hy wil hê dat ons die oorwinning oor onsself, ons wil en ons weë moet behaal. Maar Hy kan nie sonder ons toestemming en medewerking in ons vaardig wees nie. Die Heilige Gees tree op deur die vermoëns wat aan die mens gegee is. Ons eie kragte moet met die Here saamwerk. Die oorwinning word nie sonder ernstige gebede behaal nie, nie sonder die onderwerping van die eie-ek met elke tree nie. Ons wil kan nie gedwing word om met God saam te werk nie; dit moet vrywillig onderwerp word. Al sou die Gees van God ’n honderd maal sterker op u afgedwing kon word, sou dit nie ’n Christen van u maak wat vir die hemel geskik is nie. Dit sou die Satan se ves-ting nog nie vernietig nie. Die wil moet hom aan die kant van Gods wil skaar. U is nie in staat om u strewe, u begeertes en neiginge in eie krag aan die wil van God te onderwerp nie; maar as u gewillig is om gewillig gemaak te word, sal God die werk vir u doen en “planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5). Dan sal u u “eie heil” “met vrees en bewing” uitwerk, “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:12, 13). Maar daar is baie wat aangetrek word deur die skoonheid van Christus en die heerlikheid van die hemel, maar wat afgeskrik word deur die voorwaardes wat nodig is om dit te verkry. Daar is baie op die breë weg wat nie heeltemal tevrede is met die weg wat hulle bewandel nie. Hulle wil graag losbreek uit die verslaw-ing van die sonde, en hulle probeer om in hul eie krag te veg teen hierdie sondige lewe. Hulle kyk na die smal weg en die enge poort, maar selfsugtige plesier, liefde vir die wêreld, hoogmoed en ongeheiligde ambisie rig ’n skeidsmuur tussen hulle en die Heiland op. Om hulle eie wil, hul eie liefde of belange prys te gee, vereis ’n opoffering wat hulle laat aarsel en terugdeins. Baie “sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Lukas 13:24). Hulle verlang na die goeie, en probeer tog om dit te verkry, maar hulle gryp dit nie aan met die hele hart nie; hulle het hulle nie voorgeneem om dit tot elke prys te verkry nie. Al hoop wat ons op oorwinning het, is om ons wil met die wil van God te verenig en om elke uur, elke dag met Hom saam te werk. Ons kan die eie-ek nie behou en nog in die koninkryk van God ingaan nie. As ons ooit heilig sou word, sal dit wees omdat ons die eie-ek afgesweer en die gesindheid van Christus ontvang het. Hoogmoed en selfgenoegsaamheid moet gekruisig word. Is ons bereid om die prys te betaal wat van ons verwag word? Is ons gewillig om ons wil volkome in ooreenstemming met die wil van God te laat bring? Totdat ons gewillig is, kan die vernuwende genade van God nie in ons geopenbaar word nie. Die stryd wat ons moet stry is die goeie stryd van die geloof. Die apostel Paulus het gesê: “Ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.” Kolossense 1:29.

“Pas op vir die valse profete.” Mattheüs 7:15.

Valse leraars sal opstaan om u weg te lok van die enge pad en die nou poort. Pas op vir hulle; hulle dra wel skaapsklere, maar van binne is hulle roofsugtige wolwe. Jesus vertel ons hoe ons die valse leraars van die wares kan onderskei. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!”


Ons word aangeraai om hulle nie aan hul mooi woorde en verhewe beroepe te oordeel nie. Hulle moet aan die Woord van God getoets word. “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dager-aad het nie.” “Hou op, my seun, om na tug te luister terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis.” Jesaja 8:20; Spreuke 19:27. Wat is die boodskap van hierdie leraars? Leer dit u om God te eer en te vrees? Beweeg dit u om u liefde vir Hom te betoon deur gehoorsaamheid aan Sy gebooie? As hulle nie besef hoe belangrik die sedewet is nie; as hulle een van die geringste van die gebooie oortree en mense so leer, het die hemel vir hulle geen agting nie. Ons kan weet dat hulle belydenis ongegrond is. Hulle doen die werk wat sy onstaan het by die vors van duisternis, die vyand van God. Nie almal wat Sy Naam bely en Sy wapen dra, behoort aan Christus nie. Jesus het gesê dat baie wat in Sy Naam geleer het, eindelik te lig bevind sal wees. “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam dui-wels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Daar is mense wat glo dat hulle reg is, wanneer hulle verkeerd is. Hoewel hulle Christus as Here aanhang en voorgee om in Sy Naam goeie werke te doen, is hulle bewerkers van die ongeregtigheid. “Hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.” Hy wat Gods woord verkondig, “is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Esegiël 33:31, 32). Om bloot te bely dat ’n mens ’n dissipel is, is waardeloos. Die reddende geloof in Christus is nie wat baie mense dink nie. Hulle sê: “Glo, glo, en u hoef die wet nie te gehoorsaam nie.” Maar geloof wat nie tot gehoorsaamheid lei nie, is aanmatigend. Die apostel Johannes sê: “Hy wat sê: Ek ken Hom - en sy gebooie nie bewaar nie, is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie.” 1 Johannes 2:4. Laat niemand hom verbeel dat merkwaardige voorsienigheid en wonderbaarlike verskynsels ’n bewys is van die egtheid van hulle werk of van die idees wat hulle verkondig nie. As mense die Woord van God geringskat en hul eie indrukke en gevoelens en gewoontes bo die Goddelike standaard verhef, kan ons weet dat hulle geen dageraad het nie. Gehoorsaamheid is die bewys van dissipelskap. Deur die ge-booie te onderhou, bewys ons die opregtheid van ons liefdesbetuiginge. As die leerstellings wat ons aanneem die sonde in die hart vernietig, die siel van besoedeling reinig en die vrugte van heiligheid dra, kan ons weet dat dit die waarheid van God is. As liefdadigheid, vriendelikheid, teerheid van hart, deernis in ons lewens te sien is; as ons die vreugde van reg doen in ons harte het; as ons Christus verhef, en nie die eie-ek nie; dan kan ons weet dat ons geloof van die regte soort is. “Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.” 1 Johannes 2:3.

“Dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.” Mattheüs 7:25.

Jesus het Sy Bergrede met ’n gelykenis afgesluit wat dit so helder soos daglig gemaak het hoe belangrik dit is om Sy woorde uit te voer. In die skare wat om Jesus saamgedrom het, was baie wat hulle lewe lank in die omgewing van die See van Galilea gewoon het. Waar hulle teen die berghang gesit en na die woorde van Jesus geluister het, kon hulle valleie en klowe sien waardeur die bergstrome na die see vloei. In die somer het hierdie stroompies soms heeltemal opgedroog. Maar wanneer die winterstorms oor die heuwels losgebars het, het die riviere wilde, woeste strome geword wat soms die valleie oorstroom en alles in hul onbeheer-bare vloed meegesleur het. Dikwels is die krotte wat die plaaswerkers op die grasvlaktes opgerig het, oënskynlik buite bereik van die stormwater, weggevoer. Maar hoog teen die heuwels was huise wat op vaste rots gebou is. In baie dele van die land was huise wat heeltemal van klip gebou was, en baie van hulle het die storms van ’n duisend jaar weerstaan. Hierdie huise is met harde arbeid en moeite opgerig. Hulle kon nie maklik bereik word nie, en die grasvlakte se ligging was aantrekliker. Maar hul fondament was op die rots, en wind en vloed en orkaan kon hulle nie skade aandoen nie.


Net soos die bouers van hierdie huise op die rots, het Jesus gesê, is hy wat die woorde ontvang wat Ek tot julle gespreek het, en wat sy lewe en karakter daarop bou. Eeue tevore het die pro-feet Jesaja geskrywe: “Die woord van onse God hou stand in ewigheid.” Jesaja 40:8. Petrus het hierdie woorde van Jesaja lank na die Bergrede aangehaal en bygevoeg: “En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” 1 Petrus 1:25. Die Woord van God is al onwrikbare ding wat hierdie wêreld ken. Dit is die vaste fonda-ment. “Die hemel en die aarde sal verbygaan,” het Jesus gesê, “maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mattheüs 24:35). Die groot beginsels van die wet, ja, die aard van God self, blyk uit die woorde van Christus op die berg. Wie op hulle bou, bou op Christus, die Ewige Rots. Deur die woord te ontvang, ontvang ons Christus. En net hulle wat Sy woorde ontvang, bou op Hom. “Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Korinthiërs 3:11. “Daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Handelinge 4:12. Christus, die Woord, die openbaring van God - die openbaring van Sy karakter, Sy wet, Sy liefde, Sy lewe - is die enigste fondament waarop ons ’n standhoudende karakter kan bou. Ons bou op Christus deur Sy woord te gehoorsaam. Nie net hy wat die geregtigheid geniet, is regverdig nie, maar hy wat die geregtigheid doen. Heiligheid is nie ekstase of vervoering nie; dit is dis gevolg van algehele oorgawe aan God; dit is om die wil van onse hemelse Vader te doen. Toe die kinders van Israel op die grense van die Beloofde Land gestaan het, was dit vir hulle nie genoeg om net ’n kennis van Kanaan te hê of om Kanaanliedere te sing nie. Dit sou hulle nog nie in besit van die wingerde en olyfboorde van die Beloofde Land gestel het nie. Hulle kon dit net in besit neem deur dit te beset, deur te voldoen aan die voorwaardes, deur ’n lewende geloof in God te hê, deur Sy beloftes te glo en Sy opdrag te gehoorsaam. Godsdiens is om Christus se woorde te doen; nie om God se guns te verdien nie, maar omdat ons onverdiend die gawe van Sy liefde ontvang het. Christus vestig die verlossing van die mens nie op ’n blote geloofsbelydenis nie, maar op geloof wat in werke van geregtigheid geopenbaar word. Nie om net te sê nie, maar om te doen, word van die volgelinge van Christus verwag. Dit is dade wat die karakter bou. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God.” Romeine 8:14. Nie hulle wie se harte deur die Gees van God aangeraak is nie, nie hulle wat hulle af en toe aan die krag van die Gees onderwerp nie, maar hulle wat deur die Gees gelei word, is die seuns van God. Wil u graag ’n volgeling van Christus word, maar weet u nie hoe om te begin nie? Is u in die duisternis en weet u nie hoe om die lig te vind nie? Volg die lig wat u het. Lê u daarop toe om wat u wel van die woord van God weet, te gehoorsaam. Ontvang die woord in die geloof, en dit sal u krag gee om te gehoorsaam. Namate u ag gee op die lig wat u het, sal u groter lig ontvang. U bou op die woord van God, en u karakter sal gebou word na die ewebeeld van die karakter van Christus. Christus, die ware fondament, is ’n lewende steen; Sy lewe word aan almal oorgedra wat op Hom gebou het. “Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis.” “In wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here.” 1 Petrus 2:5; Efesiërs 2:21. Die boustene vorm ’n eenheid met die fondament, want ’n gemeenskaplike lewe vul hulle almal. Geen storm kan daardie gebou laat neerstort nie. Maar elke gebou wat op ’n ander fondament as die woord van God gebou is, sal val. Hy wat, soos die Jode in Christus se dae, bou op die fondament van menslike idees en menings, op vorms en seremonies van menslike oorsprong, of op enige werke wat hy onafhanklik van die genade van Christus kan verrig, bou sy karakter op dryfsand. Die woeste storms van versoeking sal sy sandfondament wegspoel en sy huis ’n wrak op die oewers van die tyd maak. “Daarom, so sê die Here Here:... Ek sal die reg tot ’n riglyn maak, en die geregtigheid tot ’n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.” Jesaja 28:16, 17. Vandag pleit die genade nog by die sondaar. “So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe?” Esegiël 33:11, Die stem wat vandag by die onboetvaardige pleit, is die stem van Hom wat in die foltering van sy hart uitgeroep het toe Hy op Sy geliefde Stad neergekyk het: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete dood-maak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaargemaak, soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat.” Lukas 13:34. 35. In Jerusalem het Jesus ’n simbool gesien van die wêreld wat Sy genade verwerp en verag het. Vir jou, o hard-vogtige hart, het Hy geween! Selfs toe Jesus Sy trane op die berg gestort het, kon Jerusalem hom nog bekeer het en aan sy ver-doemenis ontkom het. Nog ’n klein rukkie het die hemelse Gawe gewag om aanvaar te word. So, o hart, spreek Christus nog tot u met liefderyke toon: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en met hom maaltyd hou, en hy met My.” “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” Openbaring 3:20; 2 Korinthiërs 6:2.​

Gaan na: Meer oor One Here Jesus Christus

bottom of page