

Voorwoord - 1: Teen die Berghang - 2: Die Saligsprekinge - 3: Die Geestelike Aard van die Wet - 4: Die Ware Motief vir Diens - 5: Die Modelgebed - 6: Nie Oordeel Nie, Maar Doen
3. Die Geestelike Aard van die Wet
“Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Mattheüs 5:17.
Dit was Christus wat, te midde van vuur en donder, die wet op die berg Sinai afgekondig het. Die heerlikheid van God het soos ’n verterende vuur op sy kruin gerus, en die berg het gesidder by die teenwoordigheid van die Here. Israel het op die aarde neergeval en vreesbevange geluister na die heilige voorskrifte van die wet. Watter teenstelling met die toneel op die berg van Saligsprekinge! Onder die somerhemel, met geen ander geluid as die gesang van die voëls om die stilte te verbreek nie, het Jesus die beginsels van Sy koninkryk uiteengesit. Tog was Hy wat die volk daardie dag in tone van liefde toegespreek het, besig om die beginsels van die wet wat op Sinai afgekondig is, aan hulle te verduidelik.
Die wet wat op Sinai afgekondig is, was ’n weergawe van die beginsel van die liefde, ’n openbaring aan die aarde van die hemelse wet. Dit is georden in die hand van ’n Middelaar -gespreek deur Hom deur wie se krag die harte van die mens in harmonie met sy beginsels gebring kon word. God het die doel van die wet geopenbaar toe Hy aan Israel gesê het: “Julle moet vir My heilige mense wees” (Exodus 22:31). Maar Israel het die geestelike aard van die wet nie ingesien nie, en al te dikwels was hulle sogenaamde gehoorsaamheid maar net die nakoming van vorms en seremonies, pleks daarvan dat hulle hul harte oorgegee het aan die heerskappy van die liefde. Omdat Jesus in Sy karakter en werk die heilige, weldadige en vaderlike hoedanighede van God aan die mens voorgestel het in teenstelling met die nutteloosheid van blote seremoniële gehoorsaamheid, het die Joodse leiers Sy woorde nie ontvang of verstaan nie. Hulle het gedink Hy heg te min waarde aan die vereistes van die wet; en toe Hy juis die dinge aan hulle verduide-lik wat die siel is van die diens wat die Here aan hulle opgelê het, het hulle, wat net die uiterlike kon sien, Hom daarvan beskuldig dat Hy die wet omver probeer werp. Die woorde van Christus is, hoewel hulle bedaard gespreek is, met ’n erns en krag gelewer wat die harte van die volk aange-gryp het. Tevergeefs het hulle gewag op ’n herhaling van die lewelose oorlewerings en voorskrifte van die rabbi’s. Hulle was “verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mattheüs 7:28, 29). Die Fariseërs het kennis geneem van die hemelsbreë verskil tussen hulle manier van leer en dié van Christus. Hulle het gesien hoe die majesteit en reinheid en skoonheid van die waarheid, met sy diepe en sagte invloed, baie siele vasgryp. Die Heiland se Godde-like liefde en tederheid het die hart van die mens na Hom getrek. Die rabbi’s het besef dat die hele strekking van die onderrig wat hulle aan die volk gegee het, deur Sy leer ter syde gestel word. Hy was besig om die skeidsmuur af te breek wat so vleiend vir hulle hoogmoed en afsondering was; en hulle het gevrees dat Hy die volk geheel en al van hulle af sou weglok as hulle dit sou toelaat. Daarom het hulle Hom met ’n vasberade vyandigheid agtervolg en gehoop om rede te vind om Hom by die menigtes in onguns te bring, sodat die Joodse Raad Hom tot die dood veroordeel kon kry. Op die berg het spioene Jesus noukeurig dopgehou; en waar Hy die beginsels van geregtigheid uiteengesit het, het die Fariseërs ’n fluisterveldtog op tou gesit dat Sy leer strydig is met die gebooie wat God op Sinai afgekondig het. Die Heiland het niks gesê wat hul geloof in die godsdiens en instellinge wat deur Moses aan hulle gegee is, kon ondermyn nie; want elke Godde-like ligstraal wat Israel se groot leier aan sy volk gegee het, het hy van Christus ontvang. Hoewel baie in hul harte gesê het dat Hy gekom het om die wet af te skaf, het Jesus in onmiskenbare taal Sy houding teenoor die Goddelike insettinge bekend gemaak. “Moenie dink,” het Hy gesê, “dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie.” Dit is die Skepper van die mens, die Gewer van die wet, wat verklaar dat dit nie Sy doel is om Sy insettinge ter syde te stel nie. Alles in die natuur, vanaf die stofdeeltjie in die sonstraal tot die wêrelde daarbo, is aan wette onderhewig. En die orde en har-monie van die natuurwêreld is van gehoorsaamheid aan hierdie wette afhanklik. So is daar verhewe beginsels van geregtigheid wat die lewe van alle intelligente wesens beheer, en aan die nakoming van hierdie beginsels hang die welsyn van die heelal af. Voordat hierdie aarde tot stand gekom het, het die wet van God bestaan. Engele is aan sy beginsels onderhewig, en ook die mens moet die Goddelike insettinge gehoorsaam. Aan die mens in Eden het Christus die beginsels van die wet bekend gemaak, “toe die móresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het” (Job 38; 7). Christus se sending op aarde was nie om die wet te ontbind nie, maar om die mens deur Sy genade te help om weer aan sy voorskrifte gehoorsaam te word. Die geliefde dissipel, wat na die woorde van Jesus op die berg geluister het, het lank daarna onder die ingewing van die Heilige Gees geskryf dat die wet ’n ewige verpligting is. Hy sê dat “die sonde is wetteloosheid,” en dat “elkeen wat die sonde doen,... ook die wetteloosheid” doen (1 Johannes 3:4). Hy stel dit duide-lik dat die wet waarna hy verwys “’n ou gebod [is] wat julle van die begin af gehad het” (1 Johannes 2:7). Hy verwys na die wet wat met die skepping al bestaan het en wat weer op die berg Sinai afgekondig is. Aangaande die wet sê Jesus: “Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Die woord “vervul” hier het dieselfde betekenis as toe Hy teenoor Johannes die Doper gesê het dat dit Sy doel is “om alle geregtigheid te vervul” (Mattheüs 3:15); met ander woorde, om die maat van die wet se vereistes vol te maak, om ’n voorbeeld te gee van volkome nakoming van die wil van God. Sy sending was “om die onderwysing groot en heerlik te maak” (Jesaja 42:21). Hy sou die geestelike aard van die wet demonstreer, sy verreikende beginsels verduidelik en sy ewige verpligtinge bevestig. Die Goddelike skoonheid van die karakter van Christus, van wie die edelste en sagmoedigste mense op aarde maar ’n floue weerkaatsing is; van wie Salomo deur die Gees van ingewing geskryf het: Hy is “uitnemender as tienduisend... ja, hy is geheel en al die lieflikheid self” (Hooglied 5: 10-16); van wie Dawid in ’n profetiese visioen gesê het: “U is veel skoner as die mensekinders” (Psalm 45:3); Jesus, die afdruksel van die Vader se wese, die afskynsel van Sy heerlikheid; die selfverloënende Verlosser, was dwarsdeur Sy pelgrimstog van liefde op aarde ’n lewende voorstelling van die aard van die wet van God. In Sy lewe is geopenbaar dat hemelse liefde, Christelike beginsels, die grondslag is van die wette van ewige regskapenheid. “Voordat die hemel en die aarde verbygaan,” het Jesus gesê, “sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Met Sy eie gehoorsaamheid aan die wet het Christus getoon hoe onskendbaar dit is en het Hy bewys dat elke seun en dogter van Adam dit deur Sy genade volkome kan gehoorsaam. Op die berg het Hy verklaar dat die geringste jotatjie van die wet nie sal verbygaan voordat alles vervul is nie - alles wat met die mens te doen het, alles wat betrekking het op die verlossingsplan. Hy leer nie dat die wet ooit afgeskaf sal word nie, maar Hy vestig die oog op die mens se verste gesigseinder en verseker ons dat die wet sy gesag sal behou totdat hierdie punt bereik word, sodat niemand kan dink dat Hy gestuur is om die voorskrifte van die wet af te skaf nie. So lank as wat die hemel en aarde staan, sal die heilige beginsels van die wet van God geldig bly. Sy geregtigheid, “soos die berge van God,” (Psalm 36:7), sal ewig duur, ’n bron van seëninge wie se strome uitvloei om die aarde te verkwik. Omdat die wet van die Here volmaak is, en daarom onveranderlik, is dit vir die sondige mens self onmoontlik om aan sy vereistes te voldoen. Daarom het Jesus as ons Verlosser gekom. Dit was Sy sending om die mens by die wet van die hemel in te skakel deur hom ’n deelgenoot van die God-delike natuur te maak. As ons ons sondes aflê en Christus as ons Verlosser aanneem, word die wet verhoog. Die apostel Paulus vra: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet” (Romeine 3:31). Die belofte van die nuwe verbond is: “Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe” (Hebreërs 10:16). Hoewel die stelsel van simbole wat vooruit-gewys het na Christus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem, met Sy dood sou verby-gaan, is die beginsels van geregtigheid wat in die tien gebooie beliggaam word, net so onskendbaar soos die ewige troon. Nie ’n enkele gebod is afgeskaf nie, nie ’n jota of titteltjie is verander nie. Die beginsels wat in die Paradys aan die mens bekend gemaak is as die groot lewenswet, sal in die herstelde Paradys onveranderd voortbestaan. As Eden weer ’n lushof op aarde is, sal God se liefdeswet deur almal onder die son gehoorsaam word.
“Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele.” Mattheüs 5:19.
Met ander woorde, hy sal geen plek daarin hê nie. Want hy wat opsetlik een gebod verbreek, hou geeneen van hulle in gees en waarheid nie. “Wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.” Jakobus 2:10.
Dit is nie die grootheid van die ongehoorsame daad wat dit sonde maak nie, maar die afwyking van God se uitdruklike wil in die geringste besonderheid; want dit toon dat daar nog gemeenskap tussen die siel en die sonde is. Die hart is verdeel in sy diens. Dit kom neer op ’n verloëning van God, ’n verset teen die wette van Sy heerskappy. As dit die mens vrygestaan het om af te wyk van die Here se vereistes en om hul eie standaard van pligte op te rig, sou daar ’n verskeidenheid van standaarde wees om aan die smaak van verskillende mense te voldoen, en die heerskappy sou uit die Here se hande geneem word. Die wil van die mens sou dan oppermagtig wees en die hoë en heilige wil van God - die liefde wat Hy vir al Sy skepsele beoog - sou verag en in diskrediet gebring word. Telkens as die mens sy eie weg volg, kom hy in opstand teen die Here. Sulke mense sal geen plek in die koninkryk van die hemele hê nie, want hulle verkeer in stryd met die beginsels van die hemel self. Deur die wil van God te veronagsaam, skaar hulle hul aan die kant van die Satan, die vyand van God en mens. Nie deur een woord, nie deur baie woorde nie, maar elke woord wat God gespreek het, sal die mens lewe. Ons kan geen enkele woord, hoe gering dit ook al vir ons mag voorkom, met veiligheid veronagsaam nie. Daar is nie ’n enkele gebod in die wet wat nie vir die mens se beswil en geluk is nie, sowel in hierdie lewe as in die komende. Deur die wet van God te eerbiedig, word die mens soos deur ’n muur omring en veilig teen die Bose bewaar. Hy wat hierdie Goddelike skermmuur op een plek afbreek, het sy vermoë om hom te beskerm, vernietig; want hy het ’n opening gemaak waardeur die vyand kan binnekom en verwoesting kan saai. Deur dit te waag om die wil van God in een opsig te veron-agsaam, het ons aartsouers die sluise van ellende oor die wêreld oopgetrek. En elke mens wat hulle voorbeeld volg, sal ’n soortge-lyke gevolg maai. Die liefde van God spreek uit elke beginsel van Sy wet, en hy wat afwyk van die gebod, bewerk sy eie ongeluk en ondergang.
“As julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, [sal] julle nooit in die koninkryk van die hemele... ingaan nie.” Mattheüs 5:20.
Die skrifgeleerdes en Fariseërs het nie net Christus nie, maar ook Sy dissipels as sondaars bestempel omdat hulle die rites en sere-monies van die rabbi’s veronagsaam het. Dikwels is die dissipels ontstel en in die war gebring deur kritiek en beskuldigings van die kant van diegene wat hulle as godsdienstige leiers gerespekteer het. Jesus het die bedrog aan die kaak gestel. Hy het verklaar dat die geregtigheid waaraan die Fariseërs soveel waarde heg, waardeloos is.
’n Wettiese godsdiens kan die siel nie met God versoen nie. Die harde, strenge ortodoksheid van die Fariseërs, wat geen berou, deernis of liefde geken het nie, was net ’n struikelblok vir sondaars. Hulle was soos die sout wat smaakloos geword het; want hul invloed het geen krag gehad om die wêreld van verderf te bewaar nie. Die enigste ware geloof is dié “wat deur die liefde werk” (Galasiërs 5:6) om die siel te louter. Dit is soos suurdeeg wat die karakter deurtrek. Die wet van God is net so heilig as wat Hy heilig is, so volmaak as wat Hy volmaak is. Dit toon aan die mens die geregtigheid van God. Dit is vir die mens self onmoontlik om hierdie wet te onderhou; want die geaardheid van die mens is verdorwe en gebrekkig en heeltemal strydig met die karakter van God. Die werke van die selfsugtige hart is “soos ’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n besoedelde kleed.” Jesaja 64:6. Die dissipels van Christus moet ’n ander soort geregtigheid as dié van die Fariseërs verkry as hulle die koninkryk van die hemele wil binnegaan. God het hulle in Sy Seun die volkome geregtigheid van die wet aangebied. As hulle hul harte heeltemal wil oopmaak om Christus te ontvang, sal die lewe van God self, Sy liefde, in hulle woon en hulle na Sy eie beeld verander; en so, deur die vrye gawe van God, sal hulle die geregtigheid besit wat die wet vereis. Jesus het voorts aan Sy gehoor verduidelik wat dit beteken om die gebooie van God te onderhou - dat dit ’n weergawe van die karakter van Christus in hulself is. Want in Hom is God daagliks voor hulle geopenbaar.
“Elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, [moet] verantwoording... doen voor die gereg.” Mattheüs 5:22.
Deur Moses het die Here gesê: “Jy mag jou broer nie haat nie.... Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Levitikus19:17, 18. Die waarhede wat Christus verkondig het, was dieselfde as dié wat die profete verkondig het, maar deur die hardheid van die hart en die liefde vir die sonde het hulle verduister geraak.
Die Heiland het aan Sy toehoorders getoon dal hulle, terwyl hulle ander as oortreders veroordeel, self net so skuldig was; want hulle het kwaadwilligheid en haat gekoester. Aan die oorkantste meeroewer het die land Basan gestrek -’n eensame streek met ruie klowe en bebosde heuwels wat lank reeds die skuilplek van misdadigers was. Berigte van roof en moorde wat daar gepleeg is, was nog vars in die geheue van die volk, en hierdie boosdoeners is deur baie kras veroordeel. Maar hulle was self hartstogtelik en strydlustig; hulle het die bitterste haat teenoor hul Romeinse onderdrukkers gekoester en het hulle die reg toegeëien om alle ander volke te haat en te verag - selfs hul eie volksgenote wat nie in alle opsigte aan hulle idees voldoen het nie. In hierdie opsig het hulle die wet oortree wat lui: “Jy mag nie doodslaan nie.” Die gees van haat en wraaksug het sy oorsprong by die Satan, en dit het hom daartoe beweeg om die Seun van God dood te maak. Wie ook al kwaadwilligheid of onvriendelikheid koester, koester dieselfde gees, en sy vrugte lei na die dood. In die wraakgierige gedagte lê die bose daad opgesluit, soos die plant in die saad. “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.” 1 Johannes 3:15. As ons in ’n botsing met die vyande van Christus beland, moet ons niks in ’n gees van vergelding sê, of wat selfs die skyn van veroordeling of lastering wek nie. Hy wat as die mondstuk van God staan, moet geen woorde gebruik wat selfs die Majesteit van die hemele nie sal gebruik in sy stryd teen die Satan nie. Ons moet dit aan God oorlaat om te oordeel of te veroordeel.
“Versoen jou eers met jou broeder.” Mattheüs 5:24.
Die liefde van God is meer as net ’n ontkenning; dit is ’n posi-tiewe en aktiewe beginsel, ’n lewende fontein wat altyd uitvloei om andere tot seën te wees. As die liefde van Christus in ons woon, sal ons nie net geen haat teenoor ons medemense koester nie, maar sal ons in elke opsig liefde teenoor hulle probeer betoon.
Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” Die offerande het gespreek van geloof dat die bringer daarvan deur Christus ’n deelgenoot van die genade en liefde van God geword het. Maar om van geloof in God se vergewende liefde te spreek terwyl jy self ’n kwaadwillige gees koester, sou ’n bespotting wees. As iemand wat voorgee dat hy God dien ’n broeder ’n onreg aandoen, gee hy ’n wanvoorstelling van die karakter van God aan daardie broeder, en die wandaad moet bely word, hy moet erken dat dit sonde is, sodat hy een met God kan word. Ons broeder het ons moontlik ’n groter kwaad aangedoen as ons vir hom, maar dit verminder nie ons verantwoordelikheid nie. As ons ons tot God wend en onthou dat iemand iets teen ons het, moet ons die gawe van ons gebed, ons danksegging, of vrywillige offer-gawe eers los en na die broeder gaan met wie ons in onmin ver-keer, en nederig ons eie sonde bely en vra om vergewe te word. As ons ons broeder in enige opsig bedrieg of benadeel het, moet ons vergoed. As ons onwetend valse getuienis gelewer het, as ons sy woorde verdraai het, as ons sy invloed enigsins benadeel het, moet ons na diegene met wie ons oor hom gepraat het, gaan en al daardie skadelike bewerings terugtrek. As broeders hulle geskille ruiterlik en met Christelike liefde wou uitpraat liewer as om dit aan andere te loop en uitlap, hoeveel kwaad sou hulle nie voorkom nie! Hoeveel wortels van bitterheid waardeur baie besoedel word sal nie vernietig word nie, en hoe nou en teder kan die volgelinge van Christus nie in Sy liefde saamgebind word nie!
“... dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” Mattheüs 5:28.
Die Jode was baie trots op hul kuisheid en het die wellustige praktyke van die heidene met afsku bejeën. Die teenwoordigheid van Romeinse amptenare in Palestina was ’n steen des aanstoots vir die volk, want hierdie uitlanders het allerhande heidense gebruike, wellus en verdorwenheid met hulle saamgebring. In Kapernaum het Romeinse amptenare met hul vrolike minnaresse die parke en promenades opgesoek, en dikwels het brasserye die stilte van die meer verbreek wanneer hul plesierbote op die stil waters beweeg het. Die skare het verwag dat Jesus hierdie mense kras moes veroordeel, maar tot hul verbasing moes hulle woorde aanhoor wat die boosheid van hul eie harte ontbloot het!
As die bose gedagte innerlik gekoester word, hoe heimlik ook al, het Jesus gesê, wys dit dat die sonde nog in die hart heers. Die siel verkeer nog in galbitterheid en in die bande van die on-geregtigheid. Hy wat genot vind in onreine gedagtes of wat hom skuldig maak aan ’n wellustige blik, kan in die openlike sonde met sy las van skande en smart die ware aard van die boosheid sien wat hy in die binnekamers van die siel verberg. Die versoeking self waaronder ’n mens moontlik in ernstige sonde kan verval, skep nie die boosheid wat aan die lig gebring word nie, maar ontwikkel of openbaar slegs die begeertes wat al die tyd in die hart gesmeul het. Soos ’n mens “in sy siel bereken, so is hy;” want uit die hart “is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 23:7; 4:23).
“As jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af.” Mattheüs 5:30.
Om te voorkom dat ’n siekte na die liggaam versprei en die lewe vernietig, sal ’n mens toelaat dat selfs jou regterhand afgesit word. Veel meer behoort ons gewillig te wees om af te sien van wat die lewe van die siel in gevaar stel.
Deur middel van die evangelie moet siele wat deur die Satan bederf en verslaaf is, verlos word om deel te kan hê aan die heerlike vryheid van die seuns van God. God beoog nie net om te verlos van die lyding wat die onvermydelike gevolg van die sonde is nie, maar om van die sonde self te verlos. Die verdorwe en gebreklike siel moet gereinig en verander word, sodat dit in “die lieflikheid van die Here” geklee kan word, “om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Net die ewigheid sal ons leer watter heerlike bestemming vir die mens wag wat na die beeld van God herstel is. Om hierdie hoë ideaal te kan bereik, moet enigiets wat die siel kan laat struikel, opgeoffer word. Dit is deur die wil dat die sonde steeds ’n houvas oor ons het. Die oorgawe van die wil word vergelyk met die uitpluk van die oog of die afkap van die hand. Dikwels kom dit vir ons voor dat die onderwerping van die wil aan God op dieselfde sal neerkom as om vermink deur die lewe te gaan. Maar dit is beter, sê Christus, dat die eie-ek vermink of gewond word as dit nodig is, as dit u in staat stel om in die lewe in te gaan. Wat die mens vir ’n ramp aansien, is die deur tot die hoogste goed. God is die fontein van die lewe, en ons kan die lewe alleen ontvang as ons met Hom gemeenskap het. Sonder God kan ons ’n kort rukkie voortbestaan, maar ons het nie die lewe nie. “Sy wat losbandig is, is lewendig dood.” 1 Timotheus 5:6. Net as ons die wil aan God oorlewer is dit vir Hom moontlik om ons lewe te gee. Net as ons Sy lewe deur middel van selfoorgawe ontvang, sê Jesus, is dit moontlik dat hierdie geheime sondes wat Ek aan die kaak gestel het, oorwin kan word. Julle kan dit maar in jul harte begrawe en hulle vir die oë van mense verberg, maar hoe sal julle in die teenwoordigheid van God staan? As u vaskleef aan die eie-ek en weier om u wil aan God te onderwerp, kies u die dood. Vir sonde, waar dit ook gevind mag word, is God ’n verterende vuur. As u die sonde kies en weier om daarvan geskei te word, moet die teenwoordigheid van God, wat die sonde verteer, u verteer. Dit sal opoffering vereis om u aan God te onderwerp; maar dit is die opoffering van ’n geringer ding vir iets hoërs, van die aardse vir die geestelike, die verderflike vir die ewige. God ver-wag nie dat ons wil vernietig moet word nie, want dit is net deur die beoefening daarvan dat ons kan bereik wat Hy vir ons beoog. Ons wil moet aan Hom oorgelewer word, sodat ons dit kan terug-ontvang, gelouter en gereinig, en so eendragtig met die Goddelike verbind, dat Hy deur ons die getye van Sy liefde en krag kan uitstort. Hoe bitter en pynlik hierdie oorgawe ook al vir die eiesinnige, afvallige hart skyn te wees, tog is dit “vir jou beter.”
“Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” Mattheüs 19:3.
Onder die Jode was dit ’n man geoorloof om sy vrou oor die nietigste oortredinkie te skei, en die vrou het dan die reg gehad om weer te trou. Hierdie gebruik het tot groot ellende en sonde gelei. In die Bergpredikasie het Jesus duidelik gesê dat die egbande nie verbreek kan word behalwe oor ontrouheid aan die huweliksgelofte nie. “Elkeen,” het Hy gesê, “wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreek.”
Toe die Fariseërs Hom later uitgevra het oor die wettigheid van egskeiding, het Jesus Sy toehoorders terugverwys na die huweliksinstelling met die skepping. “Weens die hardheid van julle harte,” het Hy gesê, het Moses “julle toegelaat om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie” (Mattheüs 19:8). Hy het hulle verwys na die gelukkige dae in Eden toe God alle dinge “baie goed” genoem het. Daar het die huwelik en die Sabbat hul oorsprong gehad - tweelinginstellings ter verheerliking van God in die geluk van die mens. Daar, toe die Skepper die hande van die heilige paar in die eg saamgevou het en gesê het: ’n Man sal “sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24), het Hy die huwelikswet afgekondig vir al die kinders van Adam af tot aan die einde van dae. Wat die Ewige Vader self goed genoem het, was die wet wat die hoogste seën ingehou het vir die ontwikkeling van die mens. Soos al die ander goeie gawes wat God aan die sorg van die mens toevertrou het, is die huwelik ook deur die sonde bederf; maar dit is die doel van die evangelie om dit in sy reinheid en skoonheid te herstel. In sowel die Ou as die Nuwe Testament word die huweliksverhouding as simbool gebruik vir die tedere en heilige eenheid wat tussen Christus en Sy volk bestaan - die verlostes wat Hy met die prys van Golgota gekoop het. “Wees nie bevrees nie,” sê Hy, “jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser.” “Keer terug, o afkerige kinders, spreek die Here, want Ek is heer oor julle” (Jesaja 54:4, 5; Jeremia 3:14). In die Hooglied hoor ons die bruid se stem roep: “My beminde is myne, en ek is syne.” En Hy, wat vir haar “uitnemender as tienduisend” is, spreek tot Sy uitverkorene: “Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie” (Hooglied 2:16; 5:10; 4:7). Later verklaar die apostel Paulus in ’n brief aan die Christene te Efese dat die Here die man die hoof van die vrou gemaak het om haar beskermer te wees en die lede van die gesin saam te bind, net soos Christus die hoof van die kerk en die Verlosser van die mistieke liggaam is. Daarom sê hy: “Soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Chris-tus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die manne hulle eie vroue lief te hê.” Efesiërs 5:24-28. Die genade van Christus, en dit alleen, kan van hierdie instelling maak wat God bedoel het dat dit moet wees - ’n middel tot seën en verheffing van die mens. En so kan die aardse gesinne, in hul eenheid en vrede en liefde, die hemelse gesin verteenwoordig. Nou, soos in die tyd van Christus, is die toestand van die samelewing maar ’n droewige weergawe van die hemelse ideaal vir hierdie gewyde verhouding. Tog, selfs vir diegene wat bitter-heid en teleurstelling ondervind het pleks van die kameraadskap en geluk waarop hulle gehoop het, bied die evangelie van Chris-tus nog troos. Die geduld en sagmoedigheid wat Sy Gees kan skenk, sal die bittere lot versoet. Die hart waarin die Here woon, sal so gevul wees, so bevredig met Sy liefde, dat dit nie verteer sal word deur ’n drang om simpatie en aandag te soek nie. In die siel wat hom aan God oorgee, kan Sy wysheid tot stand bring wat die menslike wysheid nie kan doen nie. Deur die openbaring van Sy genade kan harte wat eens onverskillig of vervreemd was, verenig word met bande wat sterker en duursamer is as aardse bande - die goue bande van ’n liefde wat die toets van beproewing sal deurstaan.
“Sweer hoegenaamd nie.” Mattheüs 5:34.
Die rede vir hierdie opdrag word verstrek: Ons moet nie sweer “by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.”
Alle dinge kom van God. Ons het niks wat ons nie ontvang het nie; en, wat meer is, ons het niks wat nie vir ons gekoop is deur die bloed van Christus nie. Alles wat ons besit, kom na ons met die stempel van die kruis daarop, gekoop met die bloed wat on-berekenbaar duur is, omdat dit die lewe van God is. Daarom het ons niks wat ons die reg het om as pand te gee, asof dit ons eie is, vir die vervulling van ons woord nie. Ons Heiland het egter nie die gebruik van die geregtelike eed verbied waarin God plegtig geroep word om te getuig dat wat gesê word die waarheid en niks anders as die waarheid is nie. Jesus het self, toe Hy voor die Joodse Raad verhoor is, nie geweier om onder eed te getuig nie. Die hoëpriester het vir Hom gesê: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “U het dit gesê” (Mattheüs 26:63, 64). As Christus die geregtelike eed in Sy Bergpredikasie veroordeel het, sou Hy die hoëpriester tydens Sy verhoor tereggewys het en sodoende ter wille van Sy volgelinge uitvoering aan Sy eie leer gegee het. Daar is baie wat nie aarsel om hul medemens te bedrieg nie, maar hulle is geleer, en word deur die Gees van God beïndruk, dat dit ’n vreeslike ding is om vir hul Maker te lieg. Wanneer hulle onder eed gestel word, voel hulle dat hulle nie sommer net voor mense getuig nie, maar voor God; dat as hulle valse getuienis lewer, dit aan Hom is wat die hart kan lees en die waarheid ken. Die wete van die verskriklike oordele wat al op hierdie sonde gevolg het, het ’n beteuelende invloed op hulle. Maar as daar iemand is wat konsekwent onder eed kan getuig, is dit die Christen. Hy verkeer voortdurend in die teenwoordigheid van God, wetende dat elke gedagte oop en bloot is voor die oë van Hom met wie ons te doen het; en wanneer van hom wettiglik verwag word om dit te doen, is dit reg dat hy God roep om te getuig dat wat hy sê die waarheid is en niks anders as die waarheid nie. Hierna het Jesus ’n beginsel neergelê wat die neem van ede onnodig maak. Hy leer dat die reine waarheid die beginsel van spraak moet wees. “Laat julle woorde wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” Hierdie woorde veroordeel al die onbeduidende sinne en kragterme wat aan vloektaal grens. Hulle veroordeel onbedoelde pluimpies, die ontwyking van die waarheid, vleitaal, oordrywings, wanvoorstellings in die handel wat so alledaags in die samele-wing en sakewêreld voorkom. Hulle leer dat niemand wat probeer voorgee om te wees wat hy nie is nie, of wie se woord nie die werklike bedoeling van sy hart weergee nie, as opreg kan deurgaan nie. As ag op hierdie woorde van Christus geslaan sou word, sou hulle as remskoen dien op die uitspreek van bose vermoedens en onvriendelike kritiek; want wie kan seker wees dat hy die reine waarheid praat as hy kommentaar lewer op die dade en motiewe van ander? Hoe dikwels gee hoogmoed, hartstog, persoonlike afkeur kleur aan die indruk wat geskep word! ’n Sydelingse blik, ’n woord, selfs ’n stembuiging kan vol valsheid wees. Selfs feite kan so gestel word dat hulle ’n wanindruk skep. En alles “wat meer as” die waarheid is, “is uit die Bose.” Alles wat Christene doen, behoort so deursigtig soos die daglig te wees. Die waarheid is van God; bedrog in al sy tallose vorms is van die Satan; en wie ook al in enige opsig afwyk van die waarheid se reguit pad, lewer homself uit aan die mag van die Bose. Maar dit is nie ’n maklike ding om die reine waarheid te praat nie. Ons kan die waarheid nie praat tensy ons die waarheid ken nie; en hoe dikwels belet vooropgesette menings, vooroor-deel, gebrekkige kennis, oordeelsfoute, ’n behoorlike begrip van die dinge waarmee ons te doen het! Ons kan nie die waarheid praat tensy ons gedagtes gedurig deur Hom gelei word wat die waarheid is nie. Deur die apostel Paulus sê Christus vir ons: “Laat julle woord altyd aangenaam wees.” “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” Kolossense 4:6; Efesiërs 4:29. In die lig van hierdie Skriftuurplase blyk dit dat Christus se woorde op die berg ook grappe, ligsin-nigheid en onkuise gesprekke veroordeel. Hulle vereis dat ons woorde nie net waar moet wees nie, maar rein. Wie van Christus geleer het, sal “nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis” hou nie (Efesiërs 5:11). In hul spraak, soos in hul lewe, sal hulle eenvoudig, reguit en opreg wees; want hulle berei hulle voor vir die geselskap van die heiliges in wie se monde “geen bedrog gevind is nie” (Openbaring 14; 5).
“... dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.” Mattheüs 5:39.
Die Jode se aanraking met die Romeinse soldate het gedurig tot onaangenaamhede gelei. Afdelings troepe is op verskillende plekke deur die hele Judea en Galilea gestasioneer, en hul teen-woordigheid het die volk herinner aan hul eie vernedering. Met bitterheid van gees het hulle die harde geskal van die trompette gehoor en gesien hoe die troepe hulle om die Romeinse vlag op-stel en eerbiedig buig voor die simbool van sy mag. Daar was dikwels insidente tussen die soldate en die volk, en dit het die volk se haat net meer aangeblaas. Dikwels het ’n Romeinse beampte met sy wag van die een plek na ’n ander getrek en Joodse plaaswerkers wat êrens in ’n land gewerk het, gedwing om dragte teen die berg uit te dra of om ander nodige werk te verrig. Dit was Romeinse wet en gebruik, en verset teen so ’n opdrag het net tot vernedering en wreedheid gelei. Elke dag het die drang feller in die harte van die volk gebrand om die Romeinse juk af te skud. Veral die moedige, geharde Galileërs was ryp vir opstand. Kapernaum, ’n grensdorp, was die setel van ’n Romeinse garnisoen, en terwyl Jesus nog gepraat het, het die opwagting van ’n afdeling soldate Sy gehoor herinner aan Israel se bittere vernedering. Die volk het gretig na Christus opgesien en gehoop dat Hy die Een sou wees wat die trots van Rome tot in die stof sou verneder.
Jesus aanskou die gesigte voor Hom met droefheid. Hy sien die gees van wraak wat sy bose stempel op hulle afgedruk het, en Hy weet hoe bitter die volk verlang na die mag om hul onder-drukkers te vernietig. Bedroef sê Hy vir hulle: “Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.” Om die brood van die lewe vir Sy vyande te bring, het ons Heiland Sy verblyf in die hemele verlaat. Hoewel Hy van die wieg tot in die graf belaster en vervolg is, het Hy net met vergewende liefde gereageer. Deur die profeet Jesaja sê Hy: “Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.” “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders - ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.” Jesaja 50:6; 53:7. En deur die eeue, van die kruis van Golgota af, weerklink Sy gebed vir Sy moordenaars en Sy boodskap van hoop aan die sterwende misdadiger. Die Vader se teenwoordigheid het Christus omring, en niks het Hom oorgekom nie behalwe wat die oneindige liefde toegelaat het tot seën van die wêreld. Dit was Sy bron van sterkte, en is ook ons s’n. Hy wat met die Gees van Christus besiel is, bly in Chris-tus. Die hou wat na hom gemik word, val op die Heiland wat hom met Sy teenwoordigheid omring. Wat hom ook al oorkom, kom van Christus af. Hy het nie nodig om hom teen die Bose te ver-weer nie, want Christus is sy verdediging. Niks kan hom aanraak nie behalwe met die vergunning van onse Here, wat toelaat dat “alles ten goede meewerk” “vir hulle vir wie God liefhet” (Romeine 8:28). “En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.” Jesus het Sy dissipels aangesê om, pleks van hulle te verset teen die eise van gesagdraers, selfs meer te doen as wat van hulle verwag word. En, sover moontlik, moet hulle elke verpligting nakom, selfs al is dit meer as wat die landswette vereis. Die wet, soos deur Moses gegee, het ’n baie tedere sorg vir die armes vereis. As ’n arm man sy kledingstuk as pand gegee het, of as sekuriteit vir skuld, was dit die skuldeiser nie geoorloof om die huis binne te gaan om dit te gaan haal nie; hy moes in die straat wag dat dit na hom toe gebring word. En afgesien van om-standighede, moet die pand in die aand aan die eienaar terugbe-sorg word (Deuteronomium 24:10-13). In Christus se tyd het die mense hulle nie veel aan hierdie genadebepaling gesteur nie; maar Jesus het Sy dissipels geleer om hulle neer te lê by die beslissinge van die hof, selfs al sou dit meer eis as wat die wet van Moses gemagtig het. Al sou dit deel van hul kleding eis, moes hulle dit gee. Meer nog, hulle moes aan die skuldeiser gee wat hom toekom, indien nodig meer as wat selfs die hof hom die reg gegee het om beslag op te lê. “Hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom die bo-kleed ook kry.” En as die koeriers wil hê u moet ’n myl met hulle saamgaan, gaan met hulle twee myl saam. Jesus het bygevoeg: “Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.” Dieselfde les is deur Moses gegee: “Moet... jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.” Deuteronomium 15:7, 8. Hierdie skrifgedeelte verduidelik die Heiland se woorde. Christus sê nie ons moet onoordeelkundig gee vir almal wat om aalmoes vra nie; maar Hy sê: “Jy moet... aan hom leen, genoegsaam vir sy be-hoefte.” En dit moet eerder ’n geskenk as ’n lening wees, want ons moet “leen sonder om iets terug te verwag” (Lukas 6:35). “Wie homself met sy aalmoes gee, voed drie: homself, sy honger naaste, en vir My.”
“Julle moet julle vyande liefhê.” Mattheüs 5:44.
“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is.”
God is begaan oor elke verlore siel. “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” Psalm 103:13. So ’n begrip van God is nog nooit deur enige ander geloof as dié van die Bybel aan die wêreld gegee nie. Die heidense gelowe leer die mense om die Opperwese te beskou as een wat gevrees moet word eerder as om lief te hê - ’n kwaad-willige godheid wat met offerandes gepaai moet word, eerder as ’n Vader wat die gawe van Sy liefde oor Sy kinders uitstort. Selfs die volk van Israel het so verblind geraak vir die kosbare dinge wat die profete aangaande God geleer het, dat hierdie openbaring van Sy vaderliefde na iets oorspronkliks geklink het, ’n nuwe gawe aan die wêreld. Die Jode het geglo dat die Here dié liefhet wat Hom dien - na hul mening, diegene wat voldoen het aan die vereistes van die rabbi’s - en dat die res van die wêreld onder Sy kwaadwil en vloek verkeer het. Nee, het Jesus gesê, die hele wêreld, goed en kwaad, geniet die sonskyn van Sy liefde. Hierdie waarheid moes julle uit die natuur self geleer het; want “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” Dit is nie ’n inherente krag wat die aarde jaar vir jaar sy oorvloed laat gee of hom klokslag om die son laat draai nie. Die hand van God rig die planete en hou hulle in hul bane in ’n ordelike optog deur die hemele. Dit is Sy mag wat somer en winter, saaityd en oestyd, dag en nag mekaar onfeilbaar laat opvolg. Dit is deur Sy woord dat plante groei, dat die blare uitkom en die blomme oopgaan. Elke goeie gawe wat ons geniet, elke sonstraal en reënbui, elke brokkie kos, elke lewensoomblik, is ’n gawe van die liefde. Terwyl ons nog onminsaam en onbeminlik van aard was “haatlik [was] en mekaar gehaat het,” het ons hemelse Vader ons genade betoon. “Toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het - nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered” (Titus 3:3-5). Ontvang ons Sy liefde, maak dit ons ook vriendelik en teer, nie net teenoor diegene wat ons behaag nie, maar teenoor die gebrekkigste, mees dwalende en sondigste. Die kinders van God is hulle wat deelgenote is aan Sy natuur. Dit is nie aardse rang, geboorte, nasionaliteit of godsdienstige voorreg wat bewys dat ons lede van die gesin van God is nie; dit is liefde, ’n liefde wat die hele mensdom omhels. Selfs sondaars wie se harte nog nie heeltemal vir die Gees van God gesluit is nie, sal reageer op vriendelikheid; hoewel hulle haat met haat sal beantwoord, sal hulle ook liefde met liefde beantwoord. Maar net die Gees van God gee liefde vir haat. Om vriendelik teenoor die ondankbare en die bose te wees, om goed te doen sonder om iets terug te verwag, is die kenteken van die hemelse vorstehuis, die gewisse teken waardeur die kinders van die Allerhoogste hul hoë roeping kan openbaar.
“Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Mattheüs 5:48.
Die woord “dan” dui op ’n gevolgtrekking, ’n afleiding van die voorafgaande. Jesus het die onfeilbare genade en liefde van God aan Sy gehoor verduidelik, en daarom, sê Hy, moet hulle volmaak wees. Omdat julle hemelse Vader self “goedertieren oor die ondankbares en slegtes” is (Lukas 6:35), omdat Hy Hom neergebuig het om jou op te hef, daarom, sê Jesus, moet jy in karakter soos Hy word en foutloos in die teenwoordigheid van die mense en engele staan.
Die voorwaardes vir die ewige lewe, onder die genade, is pre-sies wat hulle in Eden was - volkome geregtigheid, een wees met God, volkome ooreenstemming met die beginsels van Sy wet. Die karakterstandaard wat in die Ou Testament aangegee word, is dieselfde as in die Nuwe Testament. Dit is nie ’n standaard wat ons nie kan bereik nie. In elke bevel of opdrag wat God ons gee, is daar ’n belofte, die mees positiewe, om krag aan die bevel te gee. Die Here het voorsiening daarvoor gemaak dat ons soos Hy kan word, en dit sal Hy bewerkstellig vir almal wie se wil nie dwars in Sy pad staan om Sy genade te dwarsboom nie. God het ons liefgehad met ’n onuitspreeklike liefde, en ons liefde teenoor Hom ontwaak namate ons iets van die lengte en breedte en diepte en hoogte van hierdie liefde wat alle kennis te bowe gaan, begin besef. Deur die openbaring van die boeiende lieflikheid van Christus, deur die kennis van Sy liefde wat aan ons betoon is terwyl ons nog sondaars was, word die weerbarstige hart versag en onderwerp, en word die sondaar verander en ’n kind van die hemel gemaak. Die Here gebruik nie dwang nie; liefde is die middel wat Hy gebruik om die sonde uit die hart te verdryf. Daardeur verander hy hoogmoed in ootmoed, en vyandskap en ongeloof in liefde, en geloof. Die Jode het hulle vermoei in hul poging om volmaaktheid met hul eie pogings te bereik, en het misluk. Christus het hulle alreeds meegedeel dat hul geregtigheid nooit die koninkryk van die hemele sou sien nie. Nou wys Hy hulle op die aard van die geregtigheid wat almal sal hê wat die hemel sal binnegaan. Deur die hele Berg-predikasie beskryf Hy die vrugte daarvan, en nou, in een sin, dui Hy sy bron en sy aard aan: Wees volmaak soos God volmaak is. Die wet is maar ’n weergawe van die karakter van God. Sien in jou hemelse Vader ’n volmaakte openbaring van die beginsels wat die grondslag van Sy heerskappy vorm. God is liefde. Soos ligstrale van die son af, vloei liefde en lig en blydskap uit Hom na al Sy skepsele. Dit is in Sy aard om te gee. Sy lewe self is die uitvloeisel van onbaatsugtige liefde. “Sy heerlikheid is Sy kind se deug; Sy tere Vaderskap Sy vreug.” Hy sê ons moet volmaak wees soos Hy is, op dieselfde wyse. Ons moet bronne van lig en seën vir ons kringetjie wees, net soos Hy vir die heelal is. Ons besit niks wat ons eie is nie, maar die lig van Sy liefde skyn oor ons, en ons moet Sy helderheid weerkaats. “Goed in Sy geleende goedheid,” kan ons volmaak in ons sfeer wees, net soos God in Syne volmaak is.
