top of page

DIE DOEL VAN DIE GAWE VAN TALE

Matt 28:19    

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Die probleem met die opdrag van die verkondiging van die evangelie aan die hele wêreld, was dat die dissipels net twee, of moontlik drie tale, op die uiterste, magtig was, nl. Hebreeus / Aramees (moedertaal), Grieks (2de taal) en miskien Latyn (as Romeinse Regeringstaal). Waarom moes die dissipels dan in Jerusalem gaan wag, voordat hulle die evangelie kon gaan verkondig?

Hand 1:8      

“...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Die dissipels moes wag vir die krag (instaat stelling) van die Heilige Gees, voordat hulle Sy getuies na die wêreld kon wees.

Hoe kan hierdie manne die evangelie na die ganse mensdom neem as hulle basies net hul moedertaal vlot kon praat? Die gawe om in die uitlanders se moedertale te kon spreek, was aan die Apostels tydens Pinkster gegee. Die evangelie aan die wêreld kon hierna met rasse skrede en suksesvol oorgedra word.

1 Kor 14:22    

Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.”

Die doel van die spreek in ander tale, was vir die doel om die evangelie aan die heidene in hul eie moedertaal te bring - hoorbaar, verstaanbaar en aanneembaar. Omdat die moderne spreker en toehoorder van vandag, dieselfde moedertaal besig (verstaan/ praat), bestaan daar nie 'n behoefte aan die Gawe van Tale binne gemeentes waar dieselfde moedertaal deur beide die herder en die kudde, gebesig (verstaan/ praat) word nie.

Die gawe van Tale was deur die Heilige Gees met 'n spesifieke doel gegee. Omdat die verskeidenheid van tale in die wêreld 'n hindernis was in die verkondiging van die evangelie, het die Heilige Gees evangeliste toegerus met die vermoë om ander nasies se moedertale te besig. Sodoende kon die Evangelie aan elke persoon in sy eie moedertaal oorgedra word, hoorbaar en verstaanbaar, sodat niemand 'n verskoning teen die evangelie kan hê nie. (Ek het nie geweet, nie gehoor, of nie verstaan nie.) Die ware gawe van tale word vandag steeds deur die Heilige Gees aan evangeliedienaars gegee, waar die behoefte bestaan vir die verkondiging van die evangelie aan afgeleë volke wat nie ander tale kan besig, en ‘n tolk nie verkry kan word nie.

VALSE VUUR UIT DIE HEMEL
VALSE PINKSTER


Openb 13:13    

Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.”
 
Die Valse Profeet (valse heilige gees) is daarop uit om die mensdom te verlei met "vuur uit die hemel," wat dui op die Moses en Elia gebeurtenis (God se gesag), en wat 'n namaaksel is van die “spreek in tale” (uitstorting van die Heilige Gees) tydens Pinkster.

Die "gawe van tale," soos dit vandag waarneembaar is in die kerk, verskil hemelsbreed van die Bybelse “gawe van tale.” Die "gawe van tale" wat vandag gespreek word, word nie verstaan deur die spreker, óf die gehoor nie. Die aanhoorders kan geensins sê: "hoe hoor ons hulle dan in ons eie taal waarin ons gebore is," nie? Die "vreemde tale" wat tans in duisende gemeentes regoor die wêreld gehoor word, is dus van geen nut vir die toehoorders nie, behalwe om te bedrieg!

Op Pinksterdag, waar Petrus die hoofspreker was, het hy elke woord wat hy geuiter het, baie duidelik verstaan, want hy het op hulle aanmerking, dat hulle "dronk" was, reageer deur te sê:

Hand 2:15-18    

"Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie... Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is.... En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer"

Die moderne Taleprater verskil van Petrus, omdat hyself nie verstaan wat hy sê nie. Hy maak gebruik van interpreteerders, wat interessant genoeg, dieselfde moedertaal as hy besig!

Die groot vraag is:  Waarom sal God, wat juis moeite doen om die evangelie in ons eie moedertaal tot ons te bring, verdere stigtings-boodskappe in "vreemde tale" tot ons bring? Erger nog, omdat ons nie die "vreemde tale" verstaan nie, moet interpreteerders deur Sy Gees ingespan word om dit in ons moedertaal te herhaal. Dit is 'n omslagtige ompad, wat nie tydens Pinkster die norm was nie! Iets is nie pluis nie! Soos reeds aangedui, is Satan se metode van die gebruik van God se tekens, om net mooi die teenoorgestelde betekenis daarvan, aan die wêreld weer te gee.

Die Gawe tydens Pinkster, was werklike Tale, hoorbaar en verstaanbaar in 17 verskillende moedertale, waartydens die Woord van God as hoogste Gesag gebruik was, om die evangelie van Jesus as gekruisigde Verlosser, aan die mensdom te bring.
 
Die waarskuwing wat Jesus deur Johannes in die boek van Openbaring aan ons wil rig, is dat daar aan die einde van die dae, "vuur uit die hemel" sal wees, m.a.w. 'n valse uitstorting van Pinkster ("vreemde tale"), wat aan die mensdom voorgehou sal word as van "goddelik in oorsprong," om sodoende Babilon se drie-voudige boodskap van misleiding tot die wêreld te bring.

 

(Kyk gerus na hierdie lesing oor wat die Bybel tesê het rondom die praat in tale. Hoe God hierdie gawe tot Sy voordeel gebruik vir 'n spesifike doel. Dit wys ook uit watter vorm van tale praat nie van God af kom nie.)

BABILON SE VALSE DRIE-GEESTE BOODSKAP AAN DIE WÊRELD IN DIE TYD VAN DIE EINDE

Openb 16:13,14    

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.  Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

Die ware drie-enige God se laaste waarskuwing aan die wêreld bestaan uit drie engele-boodskappe. Dit kom op die volgende neer:


(1)  Die ewige evangelie beteken dat die mens nie onsterflik is nie, maar deur die geloof in Christus Jesus, kan hy die ewige lewe as ‘n genadegawe van God ontvang (Rom 6:23).

(2)  Aanbid die ware God instede van die Draak. Die Here onderskei Homself van die Draak d.m.v. die sewendedag Sabbat, wat as teken dien dat Hy die Skepper van hemel en aarde en see en waterfonteine is (Openb 14:6,7).

(3) Wedergeborenes erken dat die Heilige Gees hul lewens beheer en rig volgens God se Woord -Sy hoogste gesag op aarde en waardeur Hy ons lei tot die volle waarheid van Sy geopenbaarde wil (Jes 8:20; 2 Tim 3:14-17; Joh 14, 16).

So het Babilon se valse drie-eenheid ook drie engele (onrein geeste) boodskappe wat hulle aan die wêreld stuur. Babilon se boodskap is:

(1)  Onsterflikheid van die Siel (Spiritisme), ‘n direkte ontkenning dat slegs God alléén onsterflikheid besit (1 Tim 6: 15,16). Christus het aan die kruis vir sondaars gesterf, om die mens van die straf van die ewige dood te red. Die onsterflikheid van die siel, is die eerste leuen wat sedert Eden, met groot sukses aan die mens, van geslag tot geslag, oorgedra is (Gen 3:1-5).
 
(2) Sondagviering (Pousdom), is die erkende nalatingskap van Satan aan die wêreld deur die Antichris, sonder enige Bybelse gesag en wat slegs op menslike Tradisie berus (Dan 7:25).

(3) Ongewone Tale of Klanke (Afvallige Protestantisme), word aan die wêreld voorgehou as die voorvereiste teken, dat iemand met die Heilige Gees gedoop is. As profetiese gawe en met sy uitleg, word dit beskou as van hoër gesag as die uitsprake van die Bybel, al is dit lynreg daarteen (Openb 13:13,14).  

Let op, dat Babilon in al drie sy afvallige godsdiens-sisteme, al drie boodskappe aan die wêreld verkondig. (1) Spiritisme - onsterflikheid van die siel, Sondagviering, en talepraat, (2) Pousdom - onsterflikheid van die siel, Sondagviering, en talepraat, en (3) Afvallige Protestantisme - onsterflikheid van die siel, Sondagviering, en talepraat.

Die betekenis van moderne Talepraat (Glossalalia) word as volg in die gesaghebbende Encyclopedia of Religion gedefinieer as 'n gebruik van "ongewone gespreksgedrag wat ingestel is as 'n godsdienstige ritueel in verskeie Westerse en nie-Westerse godsdienste."  

BABILON (1)
SPIRITISME EN TALEPRAAT


1.    “'n Groep navorsers het die verhouding tussen glossalalia soos deur Christene gebruik, met die glossalalia van nie-Christelike gelowe van die wêreld, vergelyk. Dit is nou bekend dat priesters van nie-Christelike gelowe, toordokters, dolosgooiers, en ander godsdienstige persone, op verskeie seremonieële en godsdienstige gebeurtenisse in hul glossalalia-uitinge, dieselfde karaktertrekke openbaar as die van die Christelike glossalalia." Gerhard F. Hasel, Speaking in Tongues, A.T.S. Publications: Berrien Springs, 1991, bl 18.

2.    Volgens dr. Sunkler “het die eertydse heidense Zoeloe-waarsêers alreeds in vreemde tale gepraat nog vóór die eerste Pinkster leraars, Zoeloeland in 1903 bereik het." Dr. B. C. Sunkler, Bantu Prophets of South Africa, bl. 233-249
 
In die boek The Strife of Tongues, deur Dr. Kurt Koch, bl 24, skryf hy hoe veertig Protestantse leraars die pastoor van 'n groot Pinksterkerk gevra het, hoe 'n mens moet maak om in tale te praat.  Sy advies was as volg: "Dink net aan 'n skietgebed soos 'Here help my.' Herhaal dit 5 tot 800 keer en u sal skielik in 'n taal praat."

BABILON (2)
KATOLISISME EN TALE-PRAAT


Vir baie Charismate is die feit dat Katolieke in tale praat, 'n teken dat hulle die “salwing (doping) van die Heilige Gees" ontvang het.  

1.    "Alhoewel baie faktore betrokke is by die idee van Evangeliese Katolisisme, is 'n prominente faktor, dié van die Charismatiese beweging onder Rooms Katolieke. Oor die afgelope paar dekades het die wêreldwye invloei van 60 miljoen Katolieke na die Charismatiese beweging, meer skeidsmure afgebreek as enige ander faktor sedert Vatikaan II. 'Wie gee om of hulle die Rosekransgebede bid, belydenis van sonde tot die priesters doen en of hulle glo dat die pous onfeilbaar is - indien hulle in 'tale' praat en ander 'gawes' toon, dan moet Jesus mos in hulle lewens werksaam wees. Hulle het die 'doping van die Heilige Gees,' en dis al wat belangrik is.'" Clifford Goldstein, DAY OF THE DRAGON, Pacific Press Publishing Association: Ontario, 1993, bl 46.

2.    "Die Katolieke Charismate word deur die Vatikaan aanvaar met die volle seën van pous Johannes Paulus II. Die Internasionale Charismatiese Hernuwingsbeweging het ook 'n spesiale kantoor ín die Vatikaan."

"Charismatiese konferensies word regoor die wêreld gehou, met Katolieke wat verklaar dat hul Charismatiese gawes hul ondervinding in die rosekransgebede, in die Misoffer en hul toewyding aan Maria, verdiep het. Priesters, nonne, selfs monnike, lig die hande op, praat in 'tale' en uiter 'profesieë.' Tydens 'n Charismatiese byeenkoms te New Orleans in 1987, was die helfte van die aanbidders, sowel as baie van die sprekers, Rooms-Katoliek. Die Charismatiese leier, Vison Synan, noem hierdie konferensies 'die enigste groot samekoms van sy soort in die wêreld waar Katolieke en Protestante saam verkeer.'"  Ibid., bl. 46,47.
 
Indien die "Heilige Gees" die valse leringe van die Rooms- Katolieke Kerk (Antichris) bevestig (bv. Die Pous is die hoof van die Christelike Kerk en plaasvervanger vir Christus in die plek van Homself, Tradisie is bokant die Bybel, Maria- en dooie heiliges-aanbidding, onsterflikheid van die siel, werke as verlossingsmiddel, die Mis-offer in die plek van Christus se voldoende soenoffer aan die kruis, Sondagviering is die uitsluitlike teken van Pouslike Gesag, ens.), dan kan dit net die gees van dwaling wees, waarvan 2 Thess 2:11,12 spreek, wat na diegene (kerke) gestuur sal word wat die waarheid nie lief gehad het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

3.    "Deur hierdie twee groot dwalings, naamlik die leer van die onsterflikheid van die siel en die leer van die heiligheid van die Sondag, sal Satan die mense onder die krag van die dwaling bring. Terwyl eersgenoemde die grondslag vir Spiritisme lê, vorm laasgenoemde die band van samewerking met Rome. Die Protestante van die Verenigde State sal eerste wees om hande oor die golf na Spiritisme [onsterflikheid van die siel leerstelling] uit te reik; hulle sal oor die kloof met Rome hande vat [Sondagviering]; en onder die invloed van die drievoudige vereniging, sal hierdie land [Protestantse Amerika] in die voetstappe van Rome volg om die reg van die gewete te vertrap." E. G. White, Die Groot Stryd, Pacific Press Publishing Association: Ontario, 1950, bl 588.

Sien hoe Evangeliste (Evangelicals), Charismate en Protestante hul hand uitsteek na Rome, tesame met alle ander wêreld gelowe, in 'n gebaar van "vrede" en "liefde"...

 

Amos 3:3

"Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?"

2 Kor 6:14

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?"

Voorbeeld 1:

 

Voorbeeld 2:

Voorbeeld 3:

 

Gaan na die volgende studie:  PROTESTANTE EN TALE-PRAAT

Vrede Misleiding
bottom of page