top of page

HOEVEEL IS JESUS WERD?

Hoeveel is Jesus vir u werd? Dit is ‘n relevante vraag, want volgens die drie engele-boodskappe, is die eintlike saak in die groot stryd tussen God en Satan, ‘n saak van aanbidding. Aanbid ek vir God en die Lam, of aanbid ek die Dier en die Draak. “Aanbidding,” is ons reaksie op dit wat ons dink ons Verlosser vir ons werd is.

Openb 4:11    

“U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

Die hemelse wesens aanbid die Skepper-God omdat Hy aan alles die lewe skenk en hulle lewens deur Hom onderhou word.

Openb 5:9    

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”

Die vier en twintig oudelinge, sing as die verteenwoordigers van die losgekooptes, ‘n lied ter ere van Jesus wat gesterf het om ons los te koop van die mag van Satan. Wat is ons Hemelse Vader en Sy Seun, vir u werd? Die waarde wat u aan u Skepper en Verlosser heg, sal bepaal watter keuse u sal maak. Jesus kan ons help om staande te bly teen die aanslae van die Draak, die Dier, die Valse Profeet.  

Wanneer die rekeninge hoog is, ons besighede op die spel is, die baas hoë eise stel, ons huweliksmaats, ouers, kinders of vriende onuithoubare druk op ons plaas, moet ons onthou, dat Jesus alreeds die wêreld oorwin het (Joh 16:33).

Nehemia 8:11    

“...Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here - dit is julle beskutting.”
 
Jesus is ons Beskerming in die donker uur van hierdie wêreld se geskiedenis. Dit is nie meer lank nie, dan kom Hy ons haal, na die stad wat Hy vir ons voorberei het.

 

BESKOU U GOD SE WOORD NOG AS HOOGSTE GESAG?

 

IS U BEREID OM JESUS DIE HELE WEG TE VOLG?


Gaan na die volgende afdeling:  22. Draers van die Heilige Voorwerpe

bottom of page