top of page

BABILON (3)
PROTESTANTE EN TALE-PRAAT


Luister na die stem van die grootste Pinkster Beweging in Suid-Afrika:

1.    "1. Die vraag wat onwillekeurig na vore tree is: Is die AGS in sy dialoogvoering met die Roomse Katolieke Kerk nie dalk besig om hande te vat met ons vervolgers, en word ons boonop nie ook meegesleur in hierdie wêreldse begrip van versoening nie?"

"Die eerste vraag is belangrik, omdat die Roomse Katolieke Kerk nie monolities begryp kan word nie. Dit is wel een kerk met een gesagstruktuur en een Pous, maar in hierdie eenheid is daar 'n uiteenlopende verskeidenheid groeperings of ordes. Daar is diegene wat steeds vasklou aan die Maria-aanbidding en gevolglik word Jesus nie na wense eerbiedig as die sentrum van God se selfopenbaring aan die kerk nie. Tog is daar ook diegene wat totaal van hierdie teologie weggebreek het en werklik christosentries dink en aanbid.  Baie van hierdie mense is ook gedoop in die Heilige Gees en spreek in ander tale. Dit is mense wat versoen is met God en getuienis lewer van die wedergeboorte."
 
Dit is met bogenoemde mense wat die A.G.S. dialoog voer. Die voorsitter van die Rooms Katolieke groep, is Rev. Kilian Mc Donnell, 'n man wat verskeie boeke en artikels die lig laat sien het oor die doping met die Heilige Gees, wat self getuig van so 'n ervaring, alhoewel hy slegs 'n paar woorde in tale gespreek het, en daarna nie weer nie. Hy, soos baie ander van die groep, begeer opreg na die volle uitwerking van die doping in die Heilige Gees en ander van die groep het reeds in die ware sin van die woord hierdie ondervinding deelagtig geword. Dit is almal persone wat groot invloed in die kerk het in gemeentes en opleidingsentrums. Dit is byvoorbeeld so dat een van die groepslede, Rev. Raniero Cantalamessa, 'n man wat self gedoop is in die Heilige Gees en gereeld in ander tale spreek, die persoonlike pastoor van die Pous is. Dit is daarom essensieel dat daar met hierdie mense hande gevat sal word om hulle te versterk in die groot boodskap wat hulle in hul eie kerk moet indra." 'n Artikel deur Dr. Francois Möller, "Dialoog met die Roomse Gevaar," in die Pinksterboodskapper, Mei 1993, bl 16,17.   

Indien die siening in Suid-Afrika, ‘n weerspiëeling is van dit wat in ander lande, en veral die V.S.A. plaasvind, dan voorspel dit groot gevaar vir die toekoms. Die gawe om in "tale te praat," is besig om die groot versoeningsfaktor binne die Christendom te word. Wie is die bron van hierdie moderne beweging?  

2.    James. O. Beshires ‘n gewese Pinkster pastoor het in een van sy lesings gesê: "In 'n sekere sin is die Pinkster Beweging [spesifiek talepraat] net 'n ander vorm van Spiritisme.", A Pentecostal Minister’s search for truth, Praise the Lord, ‘n reeks van 13 lesings aangebied oor die Charismatiese Beweging, uitgegee deur American Cassette Ministries, Tzaneen, 1997.  

3.    Die tydskrif Life, noem dit "die Derde Mag - 'n ontwikkeling net so belangrik as die geboorte van Katolisisme en Protestantisme." Life, 9 Junie 1958, bl 113.

4.    "Onlangse statistiek (1972 / 73) bring aan die lig dat die Charismatiese Beweging stilletjies meer as vyftig verskillende Protestantse denominasies binnegedring het, en nie minder nie as 2,500 predikante van kerke wat met die Nasionale Raad van Kerke geafillieer is, beoefen die "gawe van tale, met of sonder die geestelike deelname van hul gemeentes..." Rene Noorbergen, Charisma of the Spirit, Pacific Press Publishing Association: California, 1973, bl 20.

5.    "Eens ultra-konserwatief, het die Metodiste Kerk nou ook tale-pratende lede en predikante. Die Episkopaalse [kerk] het sy [talepraat] beginsels so sterk aangeneem dat sy leiers en die ‘Assemblies of God’ (een van die oorspronklike Pinkstergroepe) die nodigheid ingesien het om saam konferensies te hou om die gesamentlike probleem wat met die groeiende ‘bediening van die Heilige Gees gepaard gaan, te bespreek.’"

"Die Baptiste spreek in tale. Die Southern Babtist Convention, en die ‘Baptist Bible Fellowship’ openbaar in hul geledere teologiese leiers wat onbeskaam hul nuutgevonde geestelike gawes uitleef. Die Presbiteriaanse Kerk is ook geaffekteer, terwyl meer as 10 % van alle Lutheraanse gemeentes in die Verenigde State, roem op aktiewe glossalalia-selle in hul midde. Selfs die eens beginselvaste en konserwatiewe Nederduits Gereformeerde- en Christen Nederduits Gereformeerde Kerke [in die V.S.A.] is met sukses geinfiltreer." Ibid., bl. 20,21.

6.    Die "Toronto Blessing," is die nuutste "Holy Spirit Revival" vlaag van Spiritisme wat die plaaslike Pinksterkerke, vanuit Amerika, inspoel. Die aanbiddingsplegtigheid lê veral klem op "gevoelsondervinding" wat 'n persoon tydens die dienste meemaak na massa-opsweping. Sodra die "heilige gees" van die mense besit neem, rol en kruip hulle op die grond rond, onder groot toejuiging. Sommige gaan histeries aan die lag. Party dames lê met hulle rokke oor hulle gesigte en hul onderlywe word dan met sakke bedek. Daar word net verleë geglimlag en gesê: "Hulle is onder die invloed van die Gees" - alles dinge wat nie tydens Pinkster (Hand 2) gebeur het nie. Tog sien sommige die "Holy Ghost Revivals" van die "Holy Rollers van Toronto," as die "grootste gawe van alle tye."

"Hulle noem ons Holy Rollers... En dit neem ek aan is waar... Maar wanneer hulle uitvind waaroor ons rol... Kom hulle ook aangerol!!" Revival Edition, The Challenger, nuusblaadjie van die Christian Community Church, Pietersburg, 1995.

7.    In Suid-Afrika is daar tekens dat die Nederduits Gereformeerde Kerk ook besig om 'n verandering te ondergaan. Ds. Dirkie van der Spuy van die Moreletapark N.G. Gemeente, het 'n reeks Pinksterdienste gehou en van sy lidmate het in tale gepraat, terwyl andere van hul siektes genees is.  

Hy het ook gesê: "Daar was in die laaste paar jare 'n oplewing in die N G Kerk oor dié gawes, terwyl dit lank reeds in die Apostoliese Geloofsending (AGS) en ander charismatiese kerke funksioneer." Soos aangehaal in 'n Voorbladartikel, "Siekes genees in N G Kerk en lidmate 'praat in tale,' deur Nick Bezuidenhout, in die dagblad: Die Beeld, 8 Junie 1995.
 
8.    “Party mediteer. Ander klap die hande en wieg op die maat van kitaar-, trom- en klaviermusiek, of hou die hande biddend omhoog. Boeddhiste? Lidmate van ‘n charismatiese pinksterkerk? Nee, almal van die Calvinistiese Afrikaanse kerke, veral die Nederduitse Gereformeerde Kerk, maar ook reeds hier en daar van die Gereformeerde Kerk, wat binne hul kerkverband nuwe moontlikhede ontgin.

...Die wending het so tien, vyftien jaar gelede gekom toe al hoe meer lidmate van die susterkerke hulle by die pinksterkerke of die charismatiese kerke begin aansluit het. Ook Oosterse godsdienste soos die Boeddhisme, het aanloklik begin lyk.

...Onder die wat verkies het om hul kerke te bly, het sommige op verandering begin aandring, ander wou die konvensionele bediening behou. ...Eerder as om verdeeldheid in die hand te werk, het dit gelei tot veel groter verskeidenheid - tussen gemeentes, maar ook binne gemeentes - om in uiteenlopende behoeftes te voorsien.

Dis vergemaklik deur sinodale besluite wat dit vir mense moontlik gemaak het om praktiese redes buite hul vasgestelde gemeente-grense by gemeentes aan te sluit. ...Aan die anderkant van die spektrum is nuwighede wat ‘n dekade gelede nog ondenkbaar gelyk het.

Destyds, byvoorbeeld, het dr. Willem Nicol van die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria oor Christelike meditering begin dink en praat en later boeke daaroor geskryf. Dis skerp gekritiseer, tot op streek-sinodevlak, as ongereformeerd en volksvreemd.

Maar deesdae het ‘n gemeente soos Andrew Murray in Orchards, Johannesburg, selfs ‘n “retraite” -sentrum. Onder leiding van die 35-jarige proponent Herman Holtzhausen, heeltydse “retraite-meester” van die gemeente, sit mense op mediteerbankies in flikkerende kerslig en bid en mediteer, hul oë op ‘n houtkruis gerig.

Daar is ander gemeentes wat die klem laat val op diens- of barmhartigheidswerk of sendingwerk... ...soos die NG gemeente Fontainebleau, wat homself dan ook ‘n gemeenskapskerk noem.

En dan is daar die charismatiese gemeentes, wat voldoen in ‘n behoefte by mense om die klem op die werk van die Heilige Gees te laat val en wat heelwat meer ongeïnhibeer en emosioneel kerk hou as hul tradisionele geloofsgenote.  
 
Die NG gemeente Moreletapark in Pretoria is landwyd bekend vir dié bedieningswyse. Dié gemeente het 9300 belydende en 3000 doop-lidmate. Die kerkgebou is ‘n ouditorium met ‘n verhoog pleks van ‘n preekstoel met volop ruimte vir kitaar en trom en rondbewegende prediker. Honderde mense pak die reuse gebou Sondae vol vir vier eredienste met ‘n sterk charismatiese inslag.

...Sommige gemeentes van die veel kleiner  - en teologies konserwatiewer - Gereformeerde Kerk begin ook vir die verskeidenheid behoeftes voorsiening maak. So is die Linden-gemeente se aanddiens informeel, met sang- en musiekgroepies en ligte liedjies, en gemeentelede wat handeklap of hande omhoog hou.

Talle gemeentes, soos die Lindense Gereformeerde gemeente, of die NG gemeentes Fontainebleau en Aasvoëlkop, het as’t ware “twee in een” geword. Die meer konvensionele eredienste van die oggend en die informele byeenkomste in die aand, toon weinig ooreenkomste. Dit word ook in ‘n groot mate deur twee verskillende groepe lidmate bygewoon.  

Binne talle gemeentes voldoen kleingroepe (van gewoonlik minder as twintig lidmate elk) aan ‘n groot verskeidenheid behoeftes - van ‘n sterk charismatiese belewing van die “gawes van die Gees” tot konvensionele Bybelstudie. Moreletapark se gemeente het reeds twee-honderd sulke groepe. Maar nog beantwoord die susterkerke nie aan al die behoeftes nie, soos blyk uit die bestaan van heelwat plaaslike alternatiewe kerke wat oor die jare uit die susterkerke weggebreek het. So is daar die Bet-El Christelike Sentrum op Parys in die Vrystaat wat ses jaar gelede deur 250 NG lidmate gestig is onder leiding van ds. Johan Marais, ná kritiek op sy pinksterdienste.” Soos aangehaal in ‘n voorbladartikel met die hoofopskrif, “Daar’s ‘n kerk vir elke smaak. Vaste patrone van bediening verbreek.” deur Mariechen Waldner en Anne-Marie Mischke, in die bylaag Perspektief, van die Sondagkoerant Rapport, Sondag, 8 Oktober 2000, bl 1.

Openb 16:13,14    

“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.  Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”


Die valse drie-eenheid sal as 'n eenheid saamwerk. Uit al drie se monde kom dieselfde geeste soos paddas te voorskyn. Die padda-plaag was dan ook die derde en laaste plaag wat deur die towenaars van Farao in Egipt namaak kon word. Hierna sou Moses nog sewe plae op Egipte uitstort, soos deur God aan hom gegee.

Die Padda-boodskappe is niks anders as geeste van duiwels wat uitgaan om die wêreld te verlei nie. Johannes vestig ons aandag dus daarop, dat hierdie, die laaste vervalsing is wat deur Babilon gemaak sal word, voor God Babilon gaan vernietig met Sy eie sewe laaste plae.  

Dit is ook insiggewend om daarop te let dat paddas hul prooi met hul tonge vang. Jesus, deur Johannes, wil ons daarop wys dat die valse boodskappe van die Draak, die 1ste- en 2de Diere, juis 'n strik met die tong (talepraat) sou wees. Die meeste tekens (wondergenesings en duiweluitdrywing) vind ook plaas by gemeentes waar tale-praat ‘n essensiële deel van gemeentelike aanbidding uitmaak.

Joh 14:16,17,26    

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie;  maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.  Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Die Ware Heilige Gees, is die Gees van die Waarheid. Hy sal Jesus se volgelinge lei in alles wat Christus geleer het, soos dit aan ons deur die Skrifte van Waarheid (Joh 17:17) weergegee is.

Joh 16:13    

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei;  want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Die Heilige Gees sal nie mense “doop” en hulle in die dwaling van Babilon los nie! Sy taak is juis om ons in die hele waarheid te lei, soos dit in Jesus is, en nie in die tradisies van mense en duiwels nie! Een belangrike aspek van die Charismatiese beweging is juis dat dit die mens weglok van die duidelike “daar staan geskrywe!” na ‘n ekstatiese gevoelsondervinding deur sintuiglike waarneming, wat nie sommer net so, weggeredeneer kan word nie.  

Die “pinkster gees” lei die mense onder valse voorwendsels, weg van waarheid, weg van die beginsels van God se Woord, na onbybelse, pouslike en spiritistiese dwalinge toe. Voorbeelde van sommige dwalings is: Futurisme, Die Geheime Wegraping, die Pous is nie die Antichris nie, die Ou Testamentiese profesiëe sal deur letterlike Israel vervul word aan die einde van tyd, die onsterflikheid van die siel, die ewigbrandende hel, gawes van die gees (visioene en openbarings deur profete, talepraters en uitlêers van tale), wat bots met die Bybel en bo die gesag van die Woord van God, aanvaar word.

 

Gaan na die volgende studie:  BEELD TER ERE VAN DIE 1ste DIER (POUSDOM)

bottom of page