top of page

HET MENSE NOU ALREEDS DIE MERKTEKEN VAN DIE DIER?

Ons moet onthou dat die merkteken van die Dier, eerstens met aanbidding te doen het. Wie aanbid ek? Wie se merkteken van gesag aanvaar ek? Die Skepper-God en sy Sabbat, of die valse god, Babilon met Satan as hoof, en sy Christelike Sondag? My dade, gedagtes en keuse, is vir God en Satan die teken van my affiliasie. Hom wie ek gehoorsaam, sy slaaf is ek. Soos Paulus dit stel: “of van die sonde (ongehoorsaamheid) tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot die geregtigheid” (Rom 6:16,17).

Jak 4:17  

Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.”

God wil Sy Waarheid in hierdie laaste dae van die wêreld se geskiedenis aan die hele wêreld verkondig (Openb 14:6,7), net soos Babilon nou met sy eie afvallige leringe doen (Openb 16:13,14).
 
Die Here openbaar sy waarhede aan ons, nie om ons in kettings te bind nie, maar dat die waarheid van die Evangelie (Joh 1:14) ons vry kan maak (Joh 8:32). Indien ons, nadat God Sy wil aan ons geopenbaar het, terugdeins vir die waarheid, is ons lewe in ons eie hande. Hy wat weet wat reg is, soos die Heilige Gees dit aan elke persoon se gewete tuisbring, en dit nie doen nie, is ongehoorsaam aan die wil van God en dit word as sonde beskou. Dienooreenkomstig, sal elkeen sy loon ontvang (2 Thess 2:10-12).

 

Ons moet egter onthou dat die wraak van God niemand sal tref tensy die waarheid aan sy verstand en gewete tuisgebring is en hy dit verwerp het nie. Baie het nog nie die geleentheid gehad om die spesiale waarhede (die ewige evangelie, die hemelse oordeel en Sabbat) vir hierdie tyd (Tyd van die Einde) gehoor nie. Die verpligting van die vierde gebod as erkenning van God se gesag in my lewe, is nog nooit in sy ware lig voor hulle gestel nie. Die finale dekreet sal nie blindelings op mense afgedwing word nie. Elkeen sal genoeg lig ontvang, net soos u, om op ‘n intelligente wyse, sy of haar eie keuse te maak.

“Die Sabbat sal die groot toets van getrouheid wees; want dit is die deel van die waarheid wat veral betwis word. Wanneer alle mense voor die finale toets te staan kom, dan sal die skeidslyn getrek word tussen diegene wat God dien en tussen diegene wat Hom nie dien nie. Terwyl die viering van die valse Sabbat [Sondag] in gehoorsaamheid aan die staatswette maar in botsing met die vierde gebod, ‘n betuiging van trou is aan ‘n mag wat in stryd is met God, sal die viering van die ware Sabbat in gehoorsaamheid aan God se wet die bewys van getrouheid aan die Skepper wees. Terwyl die een klas deur die aanvaarding van die teken van onderwerping aan aardse magte die merkteken van die dier ontvang, ontvang die ander klas deur die teken van getrouheid aan goddelike gesag te verkies, die seël van God.” E.G. White, Die Groot Stryd, Kenilworth, 1939, bl. 575.
 
Reg aan die einde, voor Jesus die genadedeur sluit vir onboetvaardige sondaars, sal die 2de Dier ‘n finale poging, deur wetgewing, aanwend om die mensdom te dwing om die merkteken van die Dier te ontvang. Dan sal dit oor ekonomie en oorlewing gaan. Die stelsels onder aanvoering van die pousdom, mag dit moontlik vind om 'n fisiese teken, bewysboek, kaart, mikroskyfie, ens. te vereis, om identifiseerbaar te wees vir die owerhede wat deel in die Sisteem van Babilon. Die ware merk van God en of Satan, sal egter in die hand (handelinge) en in die voorhoof (verstand) ingeskryf wees, want wie ons kies, die bepaal ons lotsbestemming (Rom 6:16). God ken die menslike hart, en oordeel nie volgens voorkoms nie (1 Sam 16:7).

Openb 13:18    

“Hier kom die wysheid te pas.  Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens;  en sy getal is ses-honderd-ses-en-sestig.”

Die Draak (Satan) gee voor om die plaasvervanger vir God die Vader te wees. Die Dier (Pousdom) gee voor om die plaasvervanger vir Jesus (die 2de Persoon van die Godheid) te wees. Sy assistent, die 2de Dier (Afvallige Protestantisme), gee voor om die plaasvervanger van die Heilige Gees (die 3de Persoon van die Godheid) te wees. Die merkteken of gesag van die Dier (Pousdom / Valse Christus) is die Christelike Sondag. Die Dier (Pousdom) se getal is 666 - die getal van ‘n mens. Omdat dit die getal van die Dier (Pousdom) is, behoort ons die betekenis daarvan, binne die Pousdom te gaan soek.  

“Latyn is die amptelike taal van die Katolieke Kerk. Die pous, staan in Katolieke teologie, vir die die hele kerk. Een van die pous se titels, is: Vicarius Filii Dei, ‘plaasvervanger vir die Seun van God.’  

In reaksie op ‘n leser se vraag, het die Katolieke Joernaal, Our Sunday Visitor, van 18 April 1915 as volg gereageer, ‘Die letters wat ingegraveer is in die Pous se Mitre [sy priesterlike kroon] is hierdie, “Vicarius Filii Dei,” wat die Latyn is vir “Plaasvervanger van die Seun van God.” Katolieke hou vas dat die Kerk, wat ‘n sienbare gemeenskap is, ‘n sienbare hoof moet hê.” C. Mervyn Maxwell, God Cares, Vol. 2, Pacific Press Publishing Association, Boise, 1985, bl. 413,414.

Latynse letters het in antieke tye getalwaardes gehad. Deur dié waardes te gebruik kan ons die getal van

die “plaasvervanger” van Jesus bepaal:


V    =    5        
I     =    1    
C    =    100    
A    =    0    F    =    0
R    =    0    I    =    1
I     =    1    L    =    50    D    =    500
U    =    5    I    =    1       E    =       0
S    =    0    I    =    1       I      =      1
___________________________________
          112       +      53        +     501    = 666

Die feit dat die getal van die Dier (Pousdom) gegee word, dui daarop dat enige affiliasie met die Pousdom (wat die sigbare troon van Satan is), gesien word as verraad teenoor die Skepper van die Heelal. Enigeen wat die pous erken as die hoof van die Christelike Kerk, verhef hom eerstens tot gelyke status met Jesus (as hoof van die kerk) en tweedens in die plek van die Heilige Gees (Jesus se regmatige Plaasvervanger [Joh 14:16,17,26]).

Openb 18:4    

“En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

God het aan ons die merkteken van die Dier getoon (Sondagviering), sowel as die getal van die Dier (666 - pous as plaasvervanger vir Jesus as hoof van die Kerk) en laastens die valse heilige gees (Afvallige Protestantisme wat in tale praat en wonderwerke verrig).

God se laaste oproep tot Sy kinders, is om uit die valse sisteem van Afvallige Babilon uit te kom vóór dit te laat is, want Hy gaan haar met plae bestraf. Elkeen wat haar merk, naam en getal het, sal deel in die straf wat op Babilon uitgestort gaan word.

Openb 22:16,17    

“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig.  Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.  En die Gees en die bruid sê: Kom!  En laat hom wat hoor, sê: Kom!  en laat hom wat dors het, kom;  en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Jesus het die dinge vir ons vooruit gesê, sodat ons volle vertroue in Hom sal hê. Terselfdertyd roep die Ware Heilige Gees en die Ware Bruid van Christus (Sy Oorblyfselkerk - hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar), elkeen van ons om by haar aan te sluit en deel te word van hulle wat volhard in die waarheid, in volle gehoorsaamheid aan Jesus.
 
Satan sal maak dat baie die “merk van die Dier" ontvang, a.g.v. misleiding. NIEMAND besit op dié oomblik die merk van die Dier nie, TENSY hy willens en wetens die gesag van die Dier aanvaar. Vir die meeste van die wêreld sal die merkteken van die dier toepaslik word, wanneer wette mense verbied om te koop of te verkoop, tensy hy die merk van die Dier aanvaar. Baie sal dan die merk ontvang, ten behoud van hulle lewe, familie en werksomstandighede.

 

Gaan na die volgende studie:  HOEVEEL IS JESUS WERD?

bottom of page