top of page

EEN VAN SATAN SE GROOTSTE MISLEIDINGS BINNE DIE CHRISTENDOM

DIE GEHEIME WEGRAPING TEORIE


Die Teorie het baie variasies, maar die basis van die teorie is dat Christus onsigbaar sal verskyn, waarna sekere gebeure sal volg:
 
1.    Gereddes verdwyn geheimsinnig en spring die 7 jaar Verdrukking vry.

2.    Ongereddes beleef chaos - motors, treine en vliegtuie bots en stort neer sonder hul bestuurders en loodse wat weggeraap word.

3.    Hierna begin 'n 7 Jaar tydperk van Verdrukking. Die tydperk word geneem uit Dan. 9:24-27 se laaste week van die 70-Weke Profesie, wat in die toekoms geplaas word. Verskeie sieninge spruit hieruit voort:

a.    óf, 3½ jaar Verdrukking en 3½ jaar Vrede.
b.    óf, die Kerk is 7 jaar in die hemel.
c.    óf, Gelowiges word vir 3½ jaar in hemel opgelei deur Christus en dan weer vir 3½ jaar as evangeliste na die aarde teruggestuur om die heidene voor te berei vir Jesus se 3de Koms (Bybelse Wederkoms).
d.    óf, 7 Wegrapings, 1 elke jaar vir 7 jaar. Die wat deel in die eerste wegraping, is die naaste aan Jesus in die hemel.
e.    Vir alle heidene sal daar 'n tweede kans wees om tot bekering te kom en Jesus te aanvaar as Verlosser.
f.    Alle inligting vir die Geheime Wegraping kom deur visioene, drome en “vreemde tale of stemme.”  

Die Geheime Wegraping bly egter 'n teorie, maar die meeste leraars wat dié teorie ondersteun, stem oor die volgende punte saam:

a.    Die Groot Verdrukking kom eers ná die Geheime Wegraping van die Kerk plaasgevind het.
b.    Daarna sal die Antichris verskyn en die wêreld oorwin.
c.    Dan eers sal die Joodse Volk tot bekering kom.
d.    Dan sal die ongereddes 'n 2de kans kry tot redding.
e.    Dan eers kom die einde en die Wederkoms.

 

(Is Jy Mislei? Kyk hierdie deeglike Bybel studie oor die Wegraping)

 

DIE GEVAAR VAN DIE GEHEIME WEGRAPING TEORIE

1.    Die Bybel staaf nie die afbreek van een week (7 jaar) van die 70-Weke Profesie nie.
2.    Daar is nie één Bybelteks wat toon dat Jesus in die geheim na die aarde sal kom nie.
3.    Nêrens sê die Bybel dat mense geheimsinnig weggeraap sal word vóór die wederkoms, nie.
4.    Nêrens verwys die Bybel na 'n Tweede Kans vir ongehoorsame Christene, Jode of Heidene, om verlos te word nie.
 
OORSPRONG EN ONTWIKKELING VAN DIE GEHEIME WEGRAPING TEORIE

1.     FUTURISME


Die Hervormers het met hul Historiese Metode van Bybelvertolking, die Pouslike Stelsel afgemaak as die Antichris. Die Rooms Katolieke Kerk moes inderhaas 'n ander teorie van Bybelvertolking ontwikkel om dié klad op die Pousdom, as Antichris, uit die weg te ruim.

Dr Francisco Ribera (1537-1591) - In 1591 ontwikkel hierdie Jesuïet die Futuristiese Metode van Bybelvertolking. Sy fyn uitgewerkte teorie van Futurisme leer:

a.    Die Antichris, Babilon en 'n herboude Tempel in Jerusalem, moet gesoek word aan die einde van die Christelike Era, net vóór die wederkoms van Jesus.
b.    Die Antichris is 'n Bonatuurlike, Enkele, Persoon. Hy is nie 'n Godsdienstige Mag, Sisteem of Koninkryk nie.
c.    Die Antichris sal Jesus Christus misken as die Messias. Terwyl hy voorgee dat hy God is, sal die Jode hom aanvaar as die Messias wat sou kom.
d.    Hy sal die tempel in Jerusalem herbou en die wêreld in slegs 3½ letterlike jare oorwin. (Oorsprong van 7 jaar "Gap"-teorie van Dan 9:24-27)
e.    Die 1000 Jaar van Openb 20 is simbolies en onbepaald en word beskou as die Christelike Era tussen die tyd van die Apostels en die Antichris wat net voor die Wederkoms van Jesus verskyn.

Dr Robert Bellermine (1542-1621) - In 1593 skryf hierdie Jesuïet 'n apologetiese werk vir Katolisisme teen die Protestante, en daarin ondersteun hy vir Ribera en voeg die volgende by:

a.    Tradisie is bokant die Bybel en is dus die maatstaf vir die vertolking van die Bybel.
b.    Die Antichris is 'n individuele Jood, en nie 'n Afvallige godsdienstige sisteem nie.
c.    Die jaar-dag beginsel van Eseg 4 en Num 34 word verwerp. Alle profetiese dae = letterlike dae. Omdat geen pous vir slegs 3½ jaar regeer het nie (volgens die nuwe beginsel), kan die pousdom nie die Antichris wees nie.
d.    Antiochus IV Epifanus is 'n simbool van die Antichris aan die einde van die wêreld se geskiedenis.
e.    Hy speel verskillende sienings van Protestante teen mekaar af en verwerp hulle dan só as valse teorieë.

PROTESTANTE WAT FUTURISME AANVAAR:

Samuel R Maitland (1792-1866) - In 1826 word hy die eerste Protestant (in Engeland), wat die Futuristiese Metode van Bybelprofesie aanvaar. Hy word gevolg deur William Burgh (1800-1866); J H Todd (1805-1869) en die meeste Fundamentaliste.

In 1830 aanvaar die Plymouth Bretheren, Futurisme. In 1903-1911 neem hulle Futurisme na die Protestante van die VSA.

2.     PRETERISME

 

Die Pousdom het gedurende hierdie tyd, nog 'n teorie die lig laat sien. Preterisme sou die minste aftrekking verkry onder vroeë Protestante, maar die eerste teorie wees wat aangeneem word onder moderne Protestante.

Luis de Alcazar (1554-1613) - In 1614 nC. het die Spaanse Jesuïet 'n teenoorgestelde siening van Futurisme, die lig laat sien, wat sê:
a.    Die Antichris is die Heidense Romeinse Ryk wat die Tempel in 70 nC vernietig het, óf
b.    Dit verteenwoordig die val van die Heidense Romeinse Ryk in 410 nC. Dit is beslis nie die Pousdom nie - die het eers later verskyn.
c.    Alle profesieë dui op die Jode, Apostels, en Heidense Romeinse Ryk.
d.    Slegs die 1000 jaar van Openb 20 (simbolies geïnterpreteer), dui op die Rooms Katolieke Kerk se heerskappy van vrede, wat vir ewig as die Nuwe Jerusalem sal heers.

PROTESTANTE WAT PRETERISME AANVAAR:

J C Eichorn (1752-1827) - In 1791 vertaal en herdruk Eichorn ('n Duitse Rasionalis) die werke van die Preteristiese Jesuïet, Alcazar. Bekende Protestante wat Preterisme aanvaar is: G H W Ewald (1803-1875); Frans Delitzch (1813-1890); Julius Wellhausen (1844-1918).

3.      WHITBYANISME - POSTMILLINIALISME

 

Omtrent 100 jaar na die verskyning van die Rooms Katolieke teorieë vind daar 'n opskudding binne Protestantisme plaas - 'n nuwe teorie, Whitbyanisme of Postmillenialisme verskyn - 'n 1000 Jaar van Vrede gaan die Wederkoms vooraf.

Dr Daniel Whitby (1638 -1726) - As Protestant het hy studeer aan die Trinity Kollege te Oxford, waar hy sy B.A., M.A., en D.D. grade verwerf het. In 1703 verskyn sy Paraphrase and Commentary on the New Testament, wat teen 1760 nC. sy 7de druk sou behaal. In die laaste helfte van sy kommentaar bied hy ‘n 26 bladsy lange “nuwe hipotese” aan Protestantisme met ‘n nuwe siening oor die 1000 jaar van Openb 20. Postmillinialisme is ‘n verdere voortbouing op Futurisme en Preterisme. Dit het die volgende bydrae tot die Geheime Wegraping Teorie gelewer:

a.    Die Antichris (Pousdom) en die Turke sal omvergewerp moet word, want hulle is struikelblokke in die bekering van die Jode.
b.    Die stigting van 'n Joodse staat, en die bekering van die Jode tot die Christelike geloof, sal die Kerk 'n bloeityd van 1000 jaar laat beleef.
c.    Die 1ste Opstanding is 'n Geestelike Koms van Jesus in die vorm van die uitstorting van die Heilige Gees. Alle volke sal tot bekering kom en vrede sal op die aarde heers, voor die Wederkoms.
d.    Satan sal gedurende hierdie simboliese 1000 jaar van Kerklike voorspoed op aarde, gebind wees.
e.    Christus bly in die hemel, geskei van die Kerk vir die 1000 jaar. Daarna kom Hy terug met Sy 3de Koms (Bybelse Wederkoms) om op die aarde te regeer.

In die begin is hierdie teorie hewig deur Protestante verwerp, maar die idee dat 'n duisend jaar van vrede sou verloop voor Christus kom, was baie meer aanneemlik en baie Protestante het geestelik laks geword en eerder gewag op hul eie dood, as op die spoedige Wederkoms van Jesus.

PROTESTANTE WAT WHITBYANISME AANGENEEM HET

Campegius Vitringa (1659 - 1722) ‘n Nederlandse Professor van Teologie aan die Universiteit van Franeker by die Zuider Zee. Hy beskou die 1000 jaar as ‘n geestelike heerskappy wat deur die volkome oorwinning van die Gereformeerde Kerk, bewerkstellig sal word. In die VSA word hy gevolg deur Jonathan Edwards (1703 -1758) kampioen in Calvinisme met sy “History of ...Redemption” en Samuel Hopkins (1721-1803) met sy “Treatise on the Millenium,” asook deur Joseph Bellamy (1758 - “The Millenium”), Thomas Scott, Peter Faber (Pierre Lefèvre), John Aquila Brown en FairBairn in Britanje.

4.  SPIRITISME EN DIE MODERNE PINKSTER BEWEGING (PENTECOSTALISM)
 
4.1    Edward Irving (1792-1834) - 'n Skotse Presbiteriaanse predikant het in 1827 die Spaanse Jesuïet, Lecunza se boek "Coming of the Messiah in Glory and Majesty" vertaal. Hy word deur die Futuristiese sienings van Lecunza beïnvloed, en ook mislei deur "vreemde tale en profesieë" wat hom noop om onbybelse sieninge te handhaaf. Die Presbiteriaanse Kerk onthef hom van sy amp as leraar en hy stig die "Katolieke Apostoliese Kerk," met “tale en wonderwerke van genesing” - die oorsprong van die moderne Pinkster beweging. Alhoewel dit byna sou uitsterf, het dit in 1903 met krag herleef en is tans besig om die hele Christendom te oorspoel.

4.2    Margaret McDonald: Tydens herlewengsdienste in 1830 in Edward Irving se kerk, word die jong dame van 'n ernstige siekte genees. Sy ontvang daarna visioene en verklaar dat:
a.    Vóór die groot Verdrukking en koms van die Antichris, sal slegs dié met geestelike insig, 'n geestelike wederkoms van Jesus beleef.
b.    Die geestelike koms is 'n “Geheime Wegraping” en sal in 1844 plaasvind. Die Groot Verdrukking vind plaas sodra die Antichris verskyn.

Vir die eerste keer word die term “Geheime Wegraping“ (Secret Rapture) in godsdienstige kringe gebruik. Deur al die verskillende teorieë (Futurisme, Preterisme, Whitbyanisme, Spiritisme en 'n “tweede kans” vir die goddelose) in een pot te meng, word die beroemde teorie verkry!

Stemme uit die lug beveel Irving om dieselfde boodskappe as Margaret McDonald te verkondig. Die beroemde teorie van die Geheime Wegraping versprei soos 'n veldbrand deur Protestantisme na die Bitter Teleurstelling van 1844, toe Jesus nie gekom het nie. Historisisme word ongelukkig verwerp!

“Ek was nie bewus dat daar enige definitiewe lering oor die Geheime Wegraping van die Kerk, tydens ‘n geheime koms, bestaan het nie, totdat dit gegee was tydens ‘n uiting (“utterance”) in mnr. Irving se kerk van wat toe ontvang was as die stem van die [Heilige] Gees. Maar of iemand ooit so iets beweer het of nie, dit was van daardie sogenaamde openbaring, dat die moderne leerstelling [Geheime Wegraping] en die moderne skryftrant daaromtrent ontstaan het.” S. P. Tregelles, The Hope of Christ’s Second Coming, bl 5, soos aangehaal uit L. E. Froom, The Prophetic Faith of our Fathers, Review and Herald Publishing. Association, Washington D.C., Vol 4, 1982, bl 1223.

PROTESTANTE EN PINKSTERGROEPE WAT FUTURISME EN DIE GEHEIME WEGRAPING TEORIE AANVAAR

Naas Edward Irving en die Plymouth Bretheren van die 1800 - 1900's, aanvaar so te sê, alle Pinkster Denominasies en -groepe wat in die toekoms sou verskyn, Futurisme en die Geheime Wegraping Teorie. Onder hulle tel hedendaagse leiers soos Dr. Francois Möller, Bennie Kleinhans, en selfs skrywers soos Tim la Hey en Hall Lindsey. Die Pinkster Beweging het die grootste invloed geword om Futurisme in Protestantisme te vestig.

5.      DISPENSASIONALISME

Die Geheime Wegraping Teorie was nog maar in sy kinderskoene, maar sou algaande meer ontwikkel soos meer en meer teoloë hul bydraes begin lewer. Dispensasionalisme is ‘n byproduk van Futurisme. Die hoofgedagte is om die geskiedenis van die plan van verlossing en gepaardgaande redding van die mens in Sewe Dispensasies (of tydperke) te verdeel. (Sien diagram)

1.    J.N. Darby (1800-1882) en William Kelly (1821-1906) - word geassosieer met die Plymouth Bretheren van Engeland. Hulle het ‘n spesifieke Premillenialisme (Kerk weggeraap voor 1000 jaar) teorie wat deel vorm van Dispensasionalisme.  

2.    C. I. Scofield (onder invloed van Malachi Taylor, lid van die Plymouth Bretheren) verklaar dat die mens in elke tydperk (sien diagram) volgens die kenmerke van daardie tydperk gered word. Bv. In die Dispensasie van die Wet, word die Jood gered deur Wetsgehoorsaamheid. In die Kerklike Tydperk word die mens deur genade gered, ens.

Dit is ‘n baie letterlike siening wat sê dat alle profesieë wat tot die Jode in die OT gemaak was, letterlik vervul móét word, want God het dit aan Dawid belowe (2 Sam 7). Die belangrikste kenmerke van Dispensasionalisme is:

a.    Die Jode het die Dawidiese koninkryk van God verwerp, wat deur Johannes die Doper, Jesus en sy dissipels verkondig is.
b.    Hulle sal, na die Kerklike Periode, ‘n tweede kans kry om die Dawidiese Koninkryk op aarde te aanvaar.
c.    Die Christelike kerk (Genade Tydperk) is ‘n tydelike stadium tussen die tydperk van die Livitiese Stelsel (Wet) en die Dawidiese koninkryk (Ewigheid).
d.    Die Kerk sal met die geheime wegraping hemel toe geneem word, vóór die groot verdrukking, sodat die Jode hul koninkryk op aarde kan ontvang.
e.    Na die Geheime Wegraping, tydens die groot verdrukking, sal die Antichris die wêreld regeer.
f.    Halfbekeerde Jode (144,000) sal die wêreld gedurende die groot verdrukking in 1260 dae evangeliseer, sonder die hulp van die Heilige Gees. (Hy het Hom van die aarde onttrek ná die Geheime Wegraping) Die Joodse Offerstelsel sal weer herstel word in Jerusalem.
g.    Na die groot verdrukking sal Jesus op die wolke verskyn, tydens die wederkoms en die 1000 jaar inlyf. Al die Jode sal Jesus aanvaar as die Messias.

PROTESTANTE WAT DISPENSASIONALISME AANVAAR:

Die Plymouth Brethern van Engeland, die meeste Fundamentaliste, Dr C.I. Scofield het geweldige invloed, onder veral die Amerikaanse Evangelicals met sy Scofield Reference Bible, D. L. Moody en sy D L Moody Bible Institute, S. P. Tregelles, William Cunninghame, selfs die Russelliete (nou Jehova Getuies). Die meeste het elk hul eie siening oor, waar, wanneer en hoe die sewe jaar tydperk aan die einde inpas en wanneer die 1000 jaar ingelyf sal word.

Al die bogenoemde teorieë het afgewyk van die Historiese Metode, soos vertolk deur die profete van die Bybel, die dissipels van Jesus en die Vroeë Hervormers - Luther, Calvyn, Zwingli, John Knox, ens. Nie een van die Teorieë het egter enige Bybelgronde om op te staan nie, en tog word dit vandag deur die meeste Protestante gehuldig met ‘n rits Bybeltekste (buite konteks aangehaal) om dit te “ondersteun.” Wat 'n tragedie, dat die Bybel met menslike teorieë vervang sou word! Om te dink, dit het alles met die valse teorie van Futurisme begin, wat sy oorsprong in die “Teenhervorming” van die ware Antichris (Pousdom) het.

WAT SÊ DIE BYBEL, WANNEER SAL DIE WARE CHRISTUS VERSKYN?

Matt 24:21,22    
“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.  En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie;  maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”

Hierdie groot verdrukking verwys na die 1260 jaar van Pouslike oorheersing. Vervolging van die Christene het ± 60 jaar voor die einde van die Pouslike tydperk van 1798 nC. opgehou.

Matt 24:29-31   
“En dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemel sal geskud word.  En dan sal die teken van die Seun van die Mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.  En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompet geluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

Hierdie beskrywing van Jesus se Wederkoms, volg na die groot verdrukking van Pouslike heerskappy wat geëindig het in 1798 nC.

Maar eers moet die groot natuurtekens van die 6de Seël plaasvind. Die is al vervul, nl. die Lissabon Aardbewing (1 Nov 1755); die Donker Dag en Nag (19 Mei 1780) en die groot Sterrereën (13 Nov. 1833). Die vierde moet nog vervul word, nl. die kragte van die hemel moet geskud word (die hemele moet toerol soos ‘n boek, soos beskryf in die 6de seël).

Hierna, sal Jesus kom in groot krag en heerlikheid. Hy sal sy engele uitstuur met ‘n harde trompetgeluid om sy kinders in te samel. Wanneer word die harde trompetgeluid gehoor?

1 Thess 4:15,16    
“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”
 
Die trompet wat blaas in Matt 24:31, is dieselfde as die een wat in 1 Thess 4:15 en 16, tydens die Wederkoms geblaas word. Die dooie regverdiges staan dan uit die dode uit op. Die Trompet word nie tydens ‘n sogenaamde geheime wegraping geblaas nie.

Openb 11:15,18    
“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid...  En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.  En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”

Die sewende en laaste basuin kondig Jesus se heerskappy aan. Maar voor dit gebeur, moet die hemelse oordeel ‘n aanvang neem, om elkeen se loon te bepaal, die verseëling moet plaasvind en die vier winde van oorloë moet losgelaat word (Openb 7:1-4). Die verskyning van die verbondsark is ‘n aanduiding van God se standaard in die oordeel - Sy Sedewet (Morele wet) van 10 Gebooie. Hierna breek die Wederkoms aan, Jesus red sy volgelinge, wat saam sy ewige koninkryk sal beërwe (Dan 7:13,14, 22,27).

Jesuits Created The Secret Rapture & 7 Year Tribulation, & Both Are False Doctrines And Unbiblical

Gaan na die volgende studie:  DIE GROOT VERDRUKKING

bottom of page